Die Pers Papegaai

Mossieman was uitgevat in sy beste pak klere om met die Bloutrein van Stellenbosch af Kaapstad toe te ry.  Mossieman en sy boesemvriend, Geronkie die Donkie, het nie baie met vakansie gegaan nie, maar een keer ‘n jaar het hulle in die Bloutrein geklim en die hele Suid-Afrika platgery, op soek na lekker stories om met hul maats in die Vrystaat te deel.

“Sien jy daardie berg, Geronkie?” vra Mossieman terwyl hulle in die trein se eetkompartement ‘n lekker koppie boeretroos drink.  Mossieman en Geronkie was stoere Vrystaters, en hulle het baie boeretroos gedrink sodat hulle al die stories beter kon onthou.

“Ja,” antwoord Geronkie ingedagte, terwyl hy deur die venster van die Bloutrein na die berg in die verte kyk.  “Dit is ʼn pragtige berg, met sy kleure van pers en blou en grys.  En daar is ‘n stralekrans om die randjie van die berg!  Te pragtig.”

“Dis die Papegaaiberg,” sê Mossieman.  “Ek het dit in Stellenbosch se toeristegids gelees.”

“Papegaaiberg?  Hoekom Papegaaiberg?” wil Geronkie weet.  Hy loer nuuskierig na die pers en grys en blou hange van die berg, wat luierig in die son lê en blink.

“Wel,” begin Mossieman met ‘n lang liegstorie, “dit was alles Simon van der Stel se skuld.”

“Simon van der Stel?”

“Ja, Simon.  Jy sal hom uit jou geskiedenislesse op skool onthou.  Hy was die goewerneur van die Kaap.”

“Goewerneur?  Wanneer was Simon die goewerneur?”

“Lank, lank gelede, toe jy nog in jou doeke rondgehardloop het.”

“Donkies dra nie doeke nie man!” sê Geronkie vies.

“Reg so, in jou kortbroek.  In elk geval, dit was in die 17de eeu en die Hollanders het die Kaap regeer.”

“Wat het dit met die Papegaaiberg te doen, Mossieman?’ Geronkie loer weer by die trein se venster uit, effens verveeld met Mossieman se geskiedenisles.

“Wel,” sê Mossieman, “iemand moes vir die berge en dale en riviere en damme name uitdink, want nie een van hulle het toe al name gehad nie.”

“En die goewerneur moes dit doen?” vra Geronkie agterdogtig.

“Ja, dit was die goewerneur se werk om die name te gee.”

“En hoe het hy op die naam ‘Papegaaiberg’ afgekom?”

“Dit was somer gewees,” vertel Mossieman ernstig, “toe Goewerneur Simon van der Stel met sy perdekar en lyfwagte daar by Stellenbosch verbykom.  Soos hy gery het, het hy name aan die riviere en damme en berge gegee.  Sy skriba het langs hom gesit, met sy lei en griffeltjie, en al die name wat die goewerneur uitgedink het, neergeskryf.”

“Watse soort name, Mossieman?”

“Wel, hy het by ‘n rivier met baie kuiltjies verbygery en dit toe Kuilsrivier genoem.  En toe hy ‘n muis sien wat lekker in die see branderplank ry, toe noem hy die dorpie Muizenberg.  En so aan.”

“En toe hy by Stellenbosch kom met sy perdekar, wat het hy eerste daar gesien?  ʼn Bos?”

“’Nee man, ʼn rivier.”

“En watter naam gee die goewerneur toe vir die rivier?”

Mossieman blaai so bietjie deur sy toeristegids en dink kliphard.  “Dis was die eerste rivier wat hy gesien het, toe noem hy hom Eersteriver!”

‘Wat gebeur toe, Mossieman?”

“Net toe die Goewerneur so tussen die Eersterivier en Stellenbosch se meent deurry, kom daar ewe skielik die mooiste papegaai in die wêreld karplaks bo-op sy koets sit.”

“Ek dog jy sê dit was ‘n perdekar.”

“Nee, ek onthou nou net, dit was ‘n goue koets.  In elk geval, die papegaai het die mooiste pers en grys en blou vere gehad en stertvere wat soos ‘n mantel om sy rug gepronk het.”

“’n Pers papegaai?” vra Geronkie onseker, want hy ken Mossieman se stories.

“Ja, die mooiste pers papegaai wat jy in jou lewe gesien het.”

“En hy kom sit karplaks op die goewerneur se koets?”

“Ja, die Goewerneur was baie in sy noppies met die mooi pers papegaai.  Net toe hy weer opkyk, is die groot berg hier reg voor hom, net langs die Eersterivier.”

“Ai Mossieman, is jy nou seker van jou feite?”

 “Ja, Geronkie.  Toe sê Goewerneur Simon van der Stel vir sy skriba: “die papegaai het bo van daardie berg af gevlieg en karplaks hier bo-op my koets kom sit.  Van nou af noem ons daardie berg die Papegaaiberg.”

Die skriba skryf toe ewe gedienstig op sy lei met sy griffel: Muizenberg, Kuilsrivier, Eersterivier, Tweederivier, Papegaaiberg.

“Mossieman, is jy seker dit was Goewerneur Simon van der Stel wat die pers papegaai gesien het?”

“Ja, ek is doodseker, Geronkie.  Maar miskien kon dit Goewerneur Jan van Riebeeck ook gewees het.

“Wie was Jan van Riebeeck?”

“Jan van Riebeeck was die vliëende Hollander wat die Kaap in die sewentiede eeu ontdek het, in 1652.”

“Ai, Mossieman, jok jy nie nou alweer vir my nie?  En hoe kan 1652 in die sewentiende eeu wees?”

“Nee, regtig Geronkie, gaan kyk maar in jou geskiedenisboek,” lag Mossieman.  “Jan van Riebeeck was regtig ‘n vliëende Hollander.”

Geronkie sit die hele tyd groot-oog en luister, heel beïndruk met Mossieman se wye kennis van die Kaap.  Hy kyk weer na die mooie Papegaaiberg, met sy pragtige kleure van pers en grys en blou.  Geronkie drink tevrede sy boeretroos, want nou weet hy hoe die Papegaaiberg sy naam gekry het. En hy bêre ‘n lekker storie in sy knapsak, om vir sy maters in die Vrystaat te gaan vertel.

*