Japie

Japie die Apie se tien geel piesangs

Eendag kom daar ʼn oulike apie by Mossieman en Geronkie die Donkie se konsultasiekantoor diep in die Bloembos van die Vrystaat aan. Mossieman en Geronkie het die apie geken en hulle het ook sy ma en pa geken, almal was deel van die grootste aapfamilie wat nog ooit in die Vrystaat gewoon het. Die apie se naam was Japie die Apie en op hierdie dag het hy tien geel piesangs by hom gehad.

“Waarom dra jy so swaar aan al daardie piesangs, Japie?” vra Mossieman verwonderd,  terwyl hy die piesangs op sy een voorpoot weeg. Die piesangs is groot en geel en lyk lekker om te eet.

“Ek kom my skuld by jou betaal, Mossieman,” laat Japie die aap uit die mou en oorhandig plegtig die tien geel piesangs. “Ek skuld jou mos tien piesangs omdat jy vir my raad gegee het oor al my probleme.”

“Maar Japie, jy skuld my nie tien piesangs nie! Jy skuld my tien rand.”

“Dit is waar, Mossieman,” bieg Japie die Apie. “Maar sien nou, die tien piesangs is baie meer werd as tien rand!”

“Nou goed Japie, gee maar die piesangs, dan is jou skuld by my afbetaal.” Japie oorhandig formeel al tien sy piesangs aan Mossieman en stap tevrede daar weg, op soek na nòg tien piesangs om sy ander skuld af te betaal.

Mossieman kyk na sy tien nuwe piesangs en peins met ʼn fronsie tussen sy oë. Hy skuld juis vir Geronkie ʼn bietjie geld, ook so tien rand. Miskien kan hy die tien piesangs gebruik om sy skuld aan Geronkie af te betaal.

“Geronkie, onthou jy die tien rand wat ek jou skuld?”

“Ja, Mossieman,” antwoord Geronkie lomerig waar hy onder die lekker koel blare van die Bloembos lê en dut .

“Nou ja, ek het nie tien rand nie, maar sal jy tien piesangs in die plek daarvan aanvaar?  As afbetaling van my skuld?”

“Wel, miskien, Mossieman,” sug Geronkie onoortuig. “Donkies eet baie meer mieliestronke as piesangs. Maar nou ja, as jy tien piesangs in plaas van tien rand wil betaal, is dit reg so.”

Mossieman betaal sy skuld af met die tien piesangs en Geronkie stap daar weg met piesangs op sy rug. ‘Ek is ʼn donkie,” dink hy vieserig, “ek eet mos nie eintlik piesangs nie. Maar ek skuld vir Krokkie Krokodil tien rand, miskien sal hy die piesangs neem as betaling.’ Geronkie stap af na die rivier toe waar Krokkie Krokodil heerlik in die son lê en bak, sy bek wawyd oop sodat jy net rye en rye tande sien.

“Krokkie,” verneem Geronkie die Donkie versigtig terwyl hy so skeef-skeef nader staan, “onthou jy die tien rand wat ek jou skuld?”

“Ja,” grom Krokkie, “en as jy dit nie betaal nie, eet ek jou op!”

“Nee, wag nou, Krokkie,” pleit Geronkie. “Ek het vir jou iets beter as tien rand gebring.  Tien piesangs!”

Stadig vou Krokkie sy een ooglid bo-oor die ander een terwyl hy vir Geronkie op en af betrag. “ʼn Bietjie donkievleis sal darem lekker wees,” dink hy, “baie lekkerder as al die  slymerige groen paddas wat ek elke dag moet eet.’”

“Hoeveel is die tien piesangs werd, Geronkie?” vra Krokkie en hy lek sy lippe af terwyl hy so na Geronkie se boudjies loer. Hulle lyk vir hom baie lekkerder as hoenderboudjies of piesangs.

“Twintig rand,” antwoord Geronkie manhaftig. “Die tien piesangs is twintig rand werd.”

“So jy betaal jou tien rand skuld met twintig rand se piesangs af, Geronkie?”

“Jaaaa… mens kan maar so sê, Krokkie. Ons is diere, nie mense nie, so twintig piesangs is definitief meer werd as tien rand.”

“Dis waar ja, Geronkie,” gaap Krokkie en hy bak verder in die son. “Sit maar die piesangs daar neer.”

Tjoef-tjaf skud Geronkie sy pote af en daar trek hy, verlig dat hy sy skuld by Krokkie Krokodil afbetaal het.

Krokkie Krokodil slaap nog bietjie in die son en toe hy wakker word, sien hy die piesangs wat Geronkie daar gelos het.

‘Tien piesangs,’ wonder hy, ‘wat moet ek met tien piesangs maak, krokodille eet mos nie piesangs nie. Ons eet likkewane en groen paddas en visse, nie geel piesangs nie.’

Net daar onthou Krokkie Krokodil dat hy vir Japie die Apie tien rand skuld. Japie is ʼn slim apie en hy het vir Krokkie Krokodil gehelp toe hy eenkeer in ʼn boomtak vasgesit het. Krokkie laai die tien piesangs op sy rug en swem kronkel-kronkel met die rivier af totdat hy by Japie die Apie se wilgeboomtak kom.

“Japie,” roep Krokkie Krokodil. “Jou nuuskierige agie! Kom hiernatoe! Ek wil my skuld by jou afbetaal.”

Japie die Apie bons nader en hang onderstebo aan ʼn tak terwyl hy Krokkie Krokodil op en af betrag. “Jy skuld my tien rand, Krokkie,” laat hy braaf hoor. “Waar is my geld?”

“Wel, Japie my ou apie, ek het nou wel nie die tein rand wat ek jou skuld gebring nie.  Maar ek het iets baie beter – tien groot ryp sappige geel piesangs!”

Japie se oë rek twee keer so groot soos sy maag toe hy die tien piesangs sien. Apies eet baie piesangs en Japie kan nie wag om sy pote op die piesangs te kry nie. “Baie dankie vir die piesangs Krokkie, baie dankie. Jou skuld by my is afbetaal, jy skuld my niks meer geld nie, baie dankie vir die piesangs!” Japie trek die hele bos geel piesangs nader en begin gulsig eet, die aan ná die ander. Kort voor lank boep sy magie van al die piesangs en orals sien jy net die skille lê.

Agter Japie sit Mossieman en Geronkie die Donkie diè petalje só en kyk.  Japie die Apie lê lekker versadig op die naat van sy rug, magie vol van die lekker piesangs.

“Japie,” vra Mossieman onnutsig, “daardie piesangs wat jy nou net opgeëet het; was dit dieselfde piesangs waarmee jy vanoggend jou skuld by my kom afbetaal het? Onthou jy?”

“Jaa…” sug Japie genoeglik op sy rug en hy droom van nog piesangs.

“Jy het in plaas van tien rand vir my die tien piesangs gegee,” korswil Mossieman. “Toe betaal ek die piesangs vir Geronkie, en Geronkie betaal sy skuld by Krokkie Krokodil met die piesangs. Toe betaal Krokkie weer sy skuld by jou af met dieselfde piesangs. En toe eet jy dieselfde piesangs op!”

Japie die Apie kyk verwonderd na Mossieman. “Dit is waar ja Mossieman,” sug hy uiteindelik, “maar dit is ʼn goeie ding. Jou skuld is afbetaal, en Geronkie se skuld is afbetaal, èn Krokkie die Krokodil se skuld. Almal se skuld is afbetaal. En weet jy wat, Mossieman?”

Mossieman lag net en skud sy kop. “Nee, wat Japie?”

“My magie is vol omdat ek my eie tros piesangs opgeëet het. En almal is gelukkig en tevrede en niemand skuld iemand meer geld nie. Dit was die beste tros piesangs ooit, en hulle was nog lekker ook!”

*

  • 101 Slaaptydstories
  • Henning van Aswegen