Son

Mossieman en Geronkie sit onder ‘n wilgerboom langs die magtige Sandrivier in die pragtige Vrystaat en bewonder die liewe maan wat helder oor al die dorpies en goudmyne en boere se mielielande skyn. Dit is vroeg-aand en daar is nie wolke in die hemel nie, net ’n kwart-maan wat soos ’n sekeltjie lyk, met ’n silwerrandjie rondom.

“Mossieman,” wonder Geronkie die donkie terwyl hy die maan sit en bestudeer, “watter kant van die aarde kom die son op?”

“Aan die bokant.”

“Van die moederaarde?”

“Ja natuurlik,” sê Mossieman lakonies, “as die son aan die onderkant van die aarde opgekom het, sou ons hom mos nooit gesien nie. Daarom kom hy aan die bokant op.”

“Maar Mossieman,” tug Geronkie, “die aarde draai mos in die rondte om sy as! Waar is onder en waar is nou bo as die aarde nie stilstaan nie?”

Mossieman peins ’n bietjie en ’n fronsie krul tussen sy oë. “Miskien kom die son in die Ooste op. Ek is nie heeltemal seker nie, maar ek vermoed die son kom eerste oor Japan en tweede oor Sjina op en derde oor Afrika.”

“Ooste?” vra Geronkie verstom, “dit kan nie waar wees nie. Ons weet nie eers watter kant die Verre Ooste is nie. Of die Wilde Weste nie. Ek weet net hulle is aan teenoorgestelde kante van mekaar.”

“Dis maklik,” sê Mossieman slim.  “Ooste is waar die son opkom, die Weste is aan die anderkant, daar waar hy sak.”

“Dit kan nie waar wees nie.  Sê nou net jy draai om en jy kyk in die ander rigting?  Sê nou ek is rigtingloos?”

“Dan is die Ooste agter jou.”

“En die Weste aan jou voorkant?”

“Ja,” sê Mossieman besadig, “en die Noorde aan jou linkerkant en die Suide aan jou regterkant.”

“Dis reg, maar jy moet net so bly stilstaan. Wanneer jy rondomtalie draai, is alles aan die verkeerde kant. Dan kom die son in die Weste op en sak in die Ooste, en alles aan jou Noordekant is dan aan jou Suidekant.  Dan is alles onderstebo!”

“So, mens moet maar net stilstaan en nie rondspring nie?”

“As jy die son wil sien opkom, ja.”

Geronkie krap sy lang ore en dink so ʼn bietjie, want hy is nie altyd seker of hy Mossieman se stories moet glo nie.

“Wat daarvan as dit reën en daar baie wolke is sodat jy nie die son kan sien nie, waar kom die son dan op?”

“Gedorie Geronkie, nou vra jy darem baie vrae. Ek dink oorkant die horison.”

“Ek kan nie help nie, Mossieman,” sê Geronkie mismoedig. “Die son en die maan en die sterre fassineer my nog altyd.  Ek weet nie eens waar die sterrestelsel en die melkweg en die planete vandaan kom nie.”

“Dan praat ons nie eers van die Noordweste en Suidooste nie,” maak Mossieman moedswillig vir Geronkie nog verder deurmekaar. “Partykeer kom die son nie heeltemal in die Ooste op nie, want die aarde draai mos in die rondte. Partykeer kom die son sommer in die Noordooste op, veral in die winter as dit sneeu.”

“Noordooste! Mossieman, jy maak my nou baie deurmekaar. Waarom Noordooste?”

‘Wel, dit is amper soos Verre Ooste, maar net bietjie Noord daarvan. Jy moet reg verstaan, Geronkie, al verduidelik ek verkeerd. Die son kom in die winter in die Noordooste op, omdat hy baie koud kry en die Noordwestewind sy hare deurmekaar waai.”

“So, die son kry koud in die winter?” vra Geronkie ongelowig en loer onderlangs na Mossieman.

“Ja, net soos die res van ons Geronkie, almal kry koud.”

“Dan sak die son seker in die Suidweste, nè Mossieman? In die winter bedoel ek.”

“Natuurlik, hoe vroeër die son in die winter kan gaan slaap, hoe beter vir almal vir ons.”

“Waarom, Mossieman?”

“Wel,” filosofeer Mossieman so bietjie, “hoe vroeër hy gaan slaap, hoe vroeër staan hy weer die volgende oggend op om te skyn. Sodat ons vroeër in die dag al warm kan kry.”

“Regtig, Mossieman? Is dit rêrig soos dit werk?”

“Ja natuurlik, Geronkie. Het jy dan nog nooit van die wintersonnetjie gehoor nie? Hy skyn helder in die somer en nog beter in die winter.”

“En die liewe maan?”

“Die liewe maan slaap sommer die hele tyd. Hy gaap en slaap altyd. Net nou en dan knipoog die maan vir ons hier op moederaarde.”

“Ja,’ sug Geronkie gemoedelik en maak sy oë toe om die slaap. “Die lewe is nie net maanskyn en rose nie, nè Mossieman.”

“Jip,” beaam Mossieman.  “Oos Wes, Tuis Bes.”

*

Henning van Aswegen