GOGGO

Kakkerlakkie het in Virginia in die Vrystaat gebly en, in sy eie opinie, was hy nogal ‘n aantreklike klein kakkerlakkie.  Kakkerlakkie was ‘n oulike kakkerlakkie, maar hy het nie geweet dat hy een van die lelikste goggas in die hele wêreld is nie.  Mense in die Vrystaat is oor die algemeen nogal bang vir kakkerlakke en hulle gil en skree en spring op stoele en tafels as hulle kakkerlakke sien, veral kakkerlakke wat so groot is soos streepmuise.

Klein Kakkerlakkie het nie geweet dat hy lelik en vol swart hare is nie, sy voorkoms was nog nooit vir hom baie belangrik nie.  Vir hom was ander kakkerlakke oulike goggas, met mooi rooi ogies wat vir jou loer, groot vet harige pote en grillerige voelers wat in alle rigtings gelyk rondbeweeg.

“Hoekom raas mense altyd met ons kakkerlakke?” wou klein Kakkerlakkie eendag by sy ma weet.  “Hoekom skree die mense so op ons, veral tannies in hulle kombuise?”  Kakkerlakkie se ma was besig om kersliggies aan hul kersboom te sit, met versierings en rimpelpapier om die kersboom mooi te laat lyk.

Kakkerlakkie se ma verkneuter haar aan Kakkerlakkie se opmerkings oor mense.  “Ek dink nie hulle skree op ons nie, Kakkerlakkie – dit is meer soos gil.  Mense gil op ons omdat hulle beangs en benoud is.  Ek dink hulle is nogal bangerig vir ons kakkerlakke.”

“Maar hoekom, Mamma?” wou Kakkerlakkie onskuldig weet.  “Ons is dan so oulik en vriendelik.  Hoekom gil die mense vir ons?”

‘Omdat hulle bang en senuweeagtig is, Kakkerlakkie.  Die mense, veral huisvrouens met krullers in hulle hare en besems in hulle hande, is baie bang vir ons kakkerlakke.  Help my gou, dan sit ons nog ‘n kersliggie aan die boom.”

“Maar weet mense dan nie dat ons doof word as hulle so op ons gil nie?” wil Kakkerlakkie verbaas weet.  “Ons ore tuit en word baie seer en ons kan niks meer hoor nie.”

“Dit is waar, Kakkerlakkie,” sê sy ma.  “Hoe harder hulle gil, hoe dower word ons.”

“Maar Ma,” vra Kakkerlakkie besorg, “wat kan ek doen sodat mense, en veral die huisvrouens wat so skree, meer van my kan hou?  Ek is dan so oulik.”

”Jy sal wel aan ‘n plan dink, Kakkerlakkie,” sê sy ma.  “Sit vir my daardie karmosyn rimpelpapier hier bo-op die tak van die boom, en nog ‘n kersliggie daar langs die kant.”

Later die aand, nadat Kakkerlakkie se ma vir hom klaar sy slaaptydstorie gelees het en hy snoesig in sy warm bedjie lê, dink hy weer aan die huisvrouens en hoekom hulle nie van kakkerlakkies hou nie.  ‘Ek dink ek weet, wonder hy, ek dink ek weet waarom hulle nie van ons hou nie.  Dit is omdat ons nie so mooi is soos hulle nie.  Ons kakkerlakke sal iets moet doen sodat ons mooier kan lyk.  Wanneer die mense ons dan sien, moet ons mooi en fraai wees, en ons moet lekker ruik.’  Toe raak Kakkerlakkie rustig aan die slaap.

Die volgende oggend spring Kakkerlakkie douvoordag uit die bed, net voor die son opkom.  Hy eet sy krummelpap-ontbyt, spuit hy bietjie reukwater onder sy pote en skarrel vinnig na die kersboom toe om te kyk of al die liggies en versierings en rimpelpapier nog daar is.  Versigtig kyk hy rond en toe hy niemand sien nie, gaps hy ‘n klein blou kersfeesliggie van die kersboom af.  En gou-gou gaps hy ‘n stukkie geel rimpelpapier en ‘n groen versierinkie.  Kakkerlakkie skarrel met sy buit terug na sy kamer toe, en soek rond vir ‘n stukkie kleeflint om sy plan mee uit te voer.

Versigtig, met die kleeflint in sy linkerpoot en skêrtjie in sy regter, plak Kakkerlakkie die blou kersfeesliggie op sy rug vas.  Toe vat hy die geel rimpelpapier en ryg dit noukeurig deur sy grillerige voelers, totdat hulle stewig vas sit.  En die groen versierinkie plak Kakkerlakkie deeglik met die kleeflint op sy eie stert vas.  So ja, die werk is gedoen!  Kakkerlakkie draai bewonderend voor die spieël rond en al moet hy dit self sê, lyk hy vir homself baie aanvallig.  “Aitsa, jou mooi ding,” fluister Kakkerlakkie vir homself en hy glip onderdeur sy deur om vir die mense daarbuite te gaan wys hoe mooi hy lyk.  Kakkerlakkie skarrel reguit na die tante langsaan se kombuis toe.  Hy gaan sit karplaks in die middel van die kombuisvloer sodat sy moet sien hoe fraai hy lyk met die blou liggie op sy rug, sy geel rimpelpapier op sy voelers en groen versierinkie om sy stert.  Skamerig wikkel hy sy voelertjies en fladder sy rooi ogies om haar aandag te trek.

Kakkerlakkie se ma sit nog so haar tee en drink, met haar pinkie in die lug, toe sy ‘n vreeslike onderaardse gegil hoor wat bokant die berge uitstyg.  Dit klink kompleet of die weerlig die huisvrou langsaan se stembande raakgeslaan het, want sy skree so hard dat mense in Kakemas haar kan hoor.

Kakkerlakkie loer verbaas met sy rooi ogies deur die rimpelpapier na die huisvrou wat so in haar kombuis ronddans en skreeu dat die berge antwoord gee.  “Waar’s my besem, waar’s my besem!  Slaat hom dood, slaat hom dood, dit is ‘n tokkolossie!  Help my! skree sy, “Help!”

Kakkerlakkie se ore tuit behoorlik en hy kan voel hoe doof hy word.  Hoe harder die huisvrou gil, hoe dower word Kakkerlakkie.  Hy kan glad nie verstaan hoekom sy so histeries is nie en hy skarrel bietjie nader om te verduidelik.  Die huisvroutjie spring bo-op ‘n stoel en swaai haar besem woes in Kakkerlakkie se rigting.  “Help!  Help!  Die gogga wil my vang!  Die gogga wil my vang!”

“Toemaar tannie, dit is net ek, Kakkerlakkie.  Moenie bang wees nie, dit is net ek,” sê Kakkerlakkie onskuldig.

Naderhand bedaar die tannie en staar, besem in die hand, na Kakkerlakkie.

“Kakkerlakkie hoekom sê jy nie vir my dat dit jy is wat daar sit nie?  Ek het deksels groot geskrik!  Sies vir jou, man!”

“Maar hoekom dan, tannie?” vra Kakkerlakkie en hy knip sy rooi ogies onskuldig. ”Ek is jammer.”

“Wel Kakkerlakkie, met daardie blou kersfeesliggie op jou rug, en die geel krinkelpapier in jou hare, en die groen versierinkie aan jou stert, het ek gedink jy is ‘n gogga.  Ek het jou glad nie herken nie.  Ek is baie bang vir goggas.”

“Banger as vir kakkerlakke?” vra Kakkerlakkie onnutsig vir die tannie.

“Ja Kakkerlakkie, jou stouterd,” sug die tannie verlig en klim van haar stoel af.  “Ek is baie banger vir goggas as vir kakkerlakke.  Goggas maak vir babas en tannies bang.  My senuwees was nou heeltemal gedaan.”

“Ek is jammer, tannie.  Ek wou net mooi lyk,” sê Kakkerlakkie.

“Reg so, Kakkerlakkie.  Jou rakker.  Kom sit hier langs my, dan maak ek vir ons ‘n lekker koppie tee.”

*

Henning van Aswegen