Bottervliegie
‘n Gogga-la-botter, of is dit ‘n bottervliegie?

“Geronkie, wat noem mense ‘n ‘butterfly’ in Afrikaans?”

Geronkie krap sy lang donkie-ore met ‘n krom voorpoot en dink diep oor Mossieman se onnutsige vraag.  Hy het al baie van ‘butterflies’ gehoor wat saggies en geluidloos deur diep donker bosse in die Vrystaat vlieg, maar nog nooit gedink dat jy ‘n Afrikaanse ‘butterfly’ kry nie.

“Ek weet nie eintlik nie, Mossieman, maar as ek nou moet sê, dan is dit ‘n bottervliegie of ‘n gogga-la-botter.  ‘Butter’ is mos botter in Afrikaans, en ‘n ‘fly’ is ‘n vlieg.  En bottervlieg klink nie so lekker nie, daarom dink ek ons moet hulle sommer bottervliegies noem.  Of miskien fladderbye.  Of ‘n gogga-la-botter.”

“Wat? Waarvan praat jy Geronkie?  Gogga-la-botter?  Wat is dit?”

Geronkie dink diep en hy frons dat die byle huil.  “Wel,” verduidelik hy stadig sodat Mossieman kan verstaan, “botter is botter en ‘n vlieg is mos ‘n gogga.  Daar’s hy, gogga-la-botter.  Soos ‘n gogga wat in die botter geval het.”

Mossieman lag te lekker.  “Ja, seker met sy agterkant!”

Geronkie grinnik en balk van die lag.  “Dan is daai gogga in die botter ‘n vlieg in die salf!”  Ga-ga-gàààaa, lag hy.

Vinnig vlieg Mossieman op na sy boomtopnessie toe en blaai deur sy HAT om navorsing oor bottervliegies te doen, want hy is nie oortuig dat Geronkie reg is met die naam nie.  ‘n HAT is nie ‘n hoed in Engels nie, lees maar ‘n handwerkboek van die Afrikaanse taal wat mense (en diere) gebruik as hulle nie ‘n woord ken nie.  Die HAT is ‘n baie handige boek en dit is waarom Mossieman altyd die HAT in sy nessie het.

“Hoekom wil jy weet, Mossieman, waarom soek jy die regte woord?” vra Geronkie nuuskierig terwyl hy oor Mossieman se skouer probeer loer om te sien wat in die groot woordeboek staan.

Mossieman is verdiep in sy HAT en hy het ‘n akademiese fronsie tussen sy twee mossie-oë.  “Omdat Geronkie… omdat ek vir ‘n kompetisie wil inskryf op Viva Afrikaans waar mense en diere nuwe Afrikaanse woorde kan uitdink.  As jy met ‘n oorspronklike Afrikaanse woord vorendag kom, kan jy ‘n nuwe selfoon wen.”

“Wat sal jy tog met ‘n selfoon maak, Mossieman?” lag Geronkie.  “Mossies gebruik mos nie selfone nie, julle kwetter net.”

“Wag maar en sien Geronkie, wag maar.  Ek dink in elk geval nie bottevliegie is ‘n regte Afrikaanse woord nie,” mor Mossieman ernstig terwyl hy deur die bladsye van die HAT snuffelsoek.  “Ek dink nie daar is so ‘n woord in Afrikaans nie.”

“Wel,” sê Geronkie nadenkend, “as ons ‘n botterbulletjie in Afrikaans kan kry, kan ons seker ‘n bottervliegie ook kry.  Die doel van die kompetisie is juis om met ‘n nuwe Afrikaanse woord vorendag te kom –  jy moet hom uitdink.”

“Wat is ‘n botterbulletjie, Geronkie?” frons Mossieman terwyl hy stadig, bladsy vir bladsy, deur die HAT blaai.  Hy verstom hom aan al die pragtige Afrikaanse woorde en idiome wat oor die bladsye dans en so dankbaar teenoor al die taalstryderomies wat die woorde uitgedink het.

“Die teenoorgestelde van ‘n bakvissie, Mossieman.  Bakvissies is meisies wat giggel.  Seuns wat giggel, noem ons botterbulletjies.”

Mossieman is nog nie tevrede nie.  “Ek weet darem nie Geronkie, ek dink nie daar is so ‘n ding soos ‘n bottervliegie nie.  Miskien ‘n vuurvliegie, maar nie ‘n bottervliegie nie.”

“Ai tog, Mossieman,” sug Geronkie en hy gaan lê op die naat van sy rug in die koelte van ‘n groot moerbeiboom in die middel van die bos.  Die blare is groen en sag en keer die sonstrale se hitte sodat dit lekker koel in die skaduwee is.  “Ek weet nie hoekom jy nie die halwe waarhede wat ek kwytraak, glo nie.  Daardie pragtige vlieënde goggas met die mooiste vlerke met kolletjies en strepies en helder kleure op, is beslis bottervliegies.  Hulle fladder oral in die bos rond op soek na soet nectar in die blommetjies en dan dra hulle die blomme se stuifmeel van een blommetjie na al die ander blommetjies oor.  Die stuifmeel aan hulle pootjies is geel en sag, net soos botter.  Dit is hoekom ons hulle bottervliegies noem.”

“Miskien in die Oos-Vrystaat waar jy vandaan kom, Geronkie,” glimlag  Mossieman en hy soek verder in sy HAT, “maar beslis nie in die Wes-Vrystaat waar ek vandaan kom nie.”

“Sies Mossieman, nou diskrimineer jy mos teen ons Oos-Vrystaters,” sê Geronkie vies en hy sit versigtig ‘n koel asynlappie op sy voorkop om behoorlik in die skaduwee te ontspan.  Spoedig raak Geronkie aan die slaap en hy snork liggies terwyl hy van bakvissies en bottelbulletjies droom.

Mossieman soek verder in die HAT en uiteindelik kry hy die regte woord.  Hy haal sy lei uit sy knapsak en maak versigtig ‘n nota met sy griffel.  S-k-o-e-n-l-a-p-p-e-r skryf hy versigtig, skoenlapper.  ‘n ‘Butterfly’ in Engels is ‘n skoenlapper in Afrikaans.  Skoenlappers fladder en flap mos hulle vlerke as hulle vlieg, dink hy, miskien moes hulle skoenflappers gewees het.  En hoekom moet hulle skoene dra?  Hmm… wonder hy, ‘skoenlappers.’  Klink beter as botterflappers.  Wat daarvan as die skoenlappers baie groot is, noem ons hulle dan stewellappers?  En as hulle klein is, ‘plakkielappers?’  Of ‘tekkielappers’ as hulle baie fiks is en rondhardloop?

Mossieman skud aan Geronkie se skouer en nà ‘n rukkie word hy stadig wakker uit sy diep slaap onder die moerbeiboom. “Geronkie,” sê Mossieman opgewonde, “word wakker.  Ek het die regte woord vir ‘butterfly’ in die HAT gekry, dit is ‘n skoenlapper.  Nie ‘n vuurvliegie of ‘n bottervliegie nie, maar ‘n skoenlapper!”

Geronkie vee die slaap uit sy oë en grom vir Mossieman.  “Los my uit Mossieman, jou lieplapper, ek wil slaap, man.”

“Nee Geronkie, jou niksnuts word wakker. Kom kyk, hier is ‘n skoenlappertjie wat hier om ons rondfladder.”

Geronkie is nou wawyd wakker en hy kyk soekend rond om die skoenlapper te sien.  Uiteindelik sien hy die skoenlapper op ‘n mooi rooi blom in die middel van die woud sit.

“Ek sien hom, Mossieman,” balk Geronkie toe hy die skoenlappertjie sien.  “Maar weet jy wat, hy het nie skoene aan nie.  Ons kan hom nie ‘n gogga-la-botter noem nie, ook nie ‘n fladderlapper nie.”

“Dan noem ons hom maar net ‘n skoenlapper, Geronkie, sonder sy skoene.  Kyk hoe mooi sit daardie pragtige skoenlapper op die mooiste blom.”  Mossieman glimlag tevrede, maak sy HAT saggies toe en bêre hom veilig saam met sy kosbare boeke in sy nes.

Geronkie die Donkie sit behaaglik agteroor en loer na die mooi skoenlapper.  ‘Die Hemelse Vader het darem vir ons die mooiste goggas en diertjies na die Vrystaat toe gestuur om hierdie aarde met ons te deel,’ sug hy tevrede.

*

  • Henning van Aswegen