Skaapappeltjies

My skaapappeltjies is lekkerder as joune!

Mossieman en sy boesemvriend Geronkie die Donkie was iewers in die pragtige Vrystaat op reis toe hulle hoor van ‘n boer naby Zastron wat die lekkerste skaapappeltjies in die wêreld produseer.  Geronkie die Donkie was daardie jare Mossieman se handlanger, sy kameraad, sy boesemvriend en sommer net sy beste maat.  Die twee van hulle was ook  beroemde filosowe en hulle het orals in die pragtige Vrystaat rondgereis om hul halwe wyshede met die niksvermoedende bevolking te deel.

“Kom ons bak daai boer met die lekker skaapappeltjies ‘n lekker poets, Geronkie,” korswil Mossieman.  “Ek hoor hy spog net ‘n bietjie té veel met sy mooi skaapappeltjies.”

“Wat is spog in mooi Afrikaans, Mossieman?”

“Ek dink dit is ‘brêg’ Geronkie, maar ons praat nie Frengels nie, ons praat Afrikaans en ons spog in Afrikaans.”

Terstond klop Mossieman en Geronkie aan die Skaapappeltjieboer se voordeur.

“Ons hoor jou plaas het die beste skaapappeltjies in die hele wêreld,” sê Mossieman, toe die fris boer sy deur oopmaak.  “Ons dink weer ons skaapappeltjies is die beste in die hele wêreld.”  Daardie dae was al die boere in die Vrystaat groot, fris en sterk, en nog slim en aantreklik daarby ook.

“Dis waar ja,” antwoord die fris boer, “ek het die mooiste, geelste, smaaklikste skaapappeltjies in die hele wêreld.  Maar wie is julle twee nou eintlik?”

“Ek is Mossieman en my handlanger is Geronkie die Donkie.  Ons is twee filosowe en ons is opregte Vrystaters.  En ons is skaapappeltjieboere, daar langs die magtige Sandrivier naby Virginia.”

“En julle dink julle skaapappeltjies is beter as myne?  En geler?  En lekkerder?  Dit sal die dag wees,” daag die fris boer hulle uit.

“Wel, daar is net een manier om uit te vind,” knoop Mossieman sy geselsie verder met die boer aan.  “Kom ons vergelyk jou skaapappeltjies met ons skaapappeltjies en dan besluit ons wie se skaapappeltjies die lekkerste is.”

“Meeste van die tyd skiet ons maar net kettie met die skaapappeltjies saam met ons groot vriend Leon,” peins Geronkie en hy maak so ‘n paar skietbewegings met sy pote.  “Man met die grootste hart in die hele Vrystaat.”

“Nou goed,” stem die boer in, “ek gaan haal sommer dadelik ‘n hele streepsak van my skaapappeltjies, dan proe ons hulle.”

“Reg so Meneer die boer, bring sommer die hele sak saam.”

‘Nou moet ons slim wees, Geronkie,” beplan Mossieman toe die boer die appeltjies gaan haal.  ‘Kom sit hier op die bankie, dan laat ons die boer tussen ons sit.  Jy sit aan sy regterkant en ek aan sy linkerkant.”

Een-twee-drie is die boer terug met ‘n hele streepsak vol lekker geel skaapappeltjies.  Daar is so baie appeltjies dat die boer nie eens die streepsak bo kan toekry nie.

“Jitte, Meneer die boer, daai skaapappeltjies lyk darem baie lekker, onverbeterlik sou ek sê!”

“Ek dink ook so,” spog die boer. “My appeltjies is die lekkerste geel  skaapappeltjies in die hele wêreld!  Maar sê my nou eers, waar is julle appeltjies?”

“Kom sit hier tussen ons op die bankie, dan vertel ons jou.  Ons begin eers aan jou skaapappeltjies proe, en daarná proe jy aan ons skaapappeltjies, dan besluit ons watter skaapappeltjies is die lekkerste is.”

“Ons hoef eintlik nie eers te proe nie,” sê die groot fris boer selfvoldaan, “my appeltjies is die heel beste wat daar is.”

“Reg so Meneer die boer, gee die eerste skaapappeltjie aan, dat ek proe.”  Die boer buk vooroor en soek die grootste, lekkerste, geelste skaapappeltjie onder uit sy streepsak uit en gee hom vir Mossieman om te eet.  Elke keer as Mossieman die lekker skaapappeltjie vat, gaps Geronkie agter se rug een van die skaapappeltjies uit sy streepsak en gee hom agterom vir Mossieman aan.

“Baie lekker, Meneer die boer,” smeer Geronkie hom heuning om die mond.  “Voortreflike tekstuur, kleur en smaak.  Onverbeterlik!”

“Goed, laat ek nou julle skaapappeltjie proe.”

“Hier is hy,” sê Mossieman vroom en gee vir die boer een van sy eie skaapappeltjies aan.  “Proe maar goed, Meneer die boer, vat jou tyd.  Jou skaapappeltjies is baie sappig, maar ons is seker ons appeltjies is lekkerder as joune.”

Die boer se oë rek effens ten aanskoue van die mooi groot goudgeel skaapappeltjie wat Mossieman vir hom aangee.  Onder Mossieman en Geronkie se belangstelling begin die boer stadig aan die skaapappeltjie proe-proe.

Salig onbewus hap die boer aan sy eie skaapappeltjie en trek sy twee oë skrefies soos wat hy konsentreer.  “Hmmm…” sê die boer en hy vat weer ‘n lekker groot hap.  “Hmmm… die skaapappeltjie is lekker, en goudgeel, en rond en sappig.  Maar hy is nie so lekker soos my skaapappeltjies nie, my skaapappeltjies is onverbeterlik en baie lekkerder.”

Mossieman en Geronkie die Donkie glimlag vir mekaar en Geronkie gaps agterom nog ‘n skaapappeltjie uit die boer se sak.  “Hierso meneer die boer, proe nog een van ons skaapappeltjies, net om seker te maak dat jou skaapappeltjies lekkerder is as ons skaapappeltjies.”  Geronkie gee weer een van die boer se eie appeltjies vir hom aan en die boer eet te lekker.

“Kort bietjie meer water, en kraalmis, sou ek sê,” mymer hy.  Die boer krap sy kop en Geronkie knipoog vir Mossieman. “Manne, ek is baie jammer,” kondig die groot fris boer aan.  “Julle skaapappeltjies is lekker, maar myne is baie groter en mooier en geler en lekkerder as julle sin.”

“Dit lyk vir ons ook so, Meneer die boer,” glimlag Mossieman skalks en Geronkie en help die boer fluks om sy eie skaapappeltjies te eet.  Geronkie eet so heerlik dat die skaapappeltjiesappies sommer so langs sy lang ken afloop.  Maar Geronkie is ‘n netjiese donkie en so nou en dan vee hy die sappies netjies met ‘n snoetpoetsertjie af.

“Waar het julle manne gesê kom julle vandaan?” vra die boer toe hulle al drie knuppeldik geëet is.

“Ons het ‘n groot skaapappeltjieplaas daar op die walle van die magtige Sandrivier naby Virginia. En ons boer ook met mieliestronke, en turksvye en krummelpap, maar meeste van die tyd met skaapappeltjies.”

“Nou ja, ek gaan vir julle ‘n groot guns bewys.  Vat hierdie hele sak van my lekker skaapappeltjies saam met julle terug na julle plaas toe, dan wys julle vir al die plaaswerkers hoe die beste skaapappeltjies in die hele wêreld lyk en proe.  Dé, vat die sak saam en dan vertel julle vir almal wat julle teëkom dat ek die lekkerste skaapappeltjies in die hele wêreld produseer.”

Mossieman laai die hele sak skaapappeltjies op Geronkie die Donkie se breë rug en hulle groet die boer hartlik.

“Baie dankie vir jou gasvryheid, Meneer die boer, en vir die sak lekkerste skaapappeltjies in hele wêreld!  Ons gaan beslis ons plaaswerkers wys hoe lyk en proe die mooiste en lekkerste skaapappeltjies in die hele Vrystaat!  Totsiens, mooi loop!”

“Tjaa…” mymer Mossieman en Geronkie genoegsaam terwyl hulle wegstap en lekker aan die boer se skaapappeltjies smul.

As jy baie lus is vir skaapappeltjies, moet jy slim wees.

*