Screen shot 2018-08-06 at 8 52 25 AM (2)

Mys die muis se mooi geel reënjas

Toe Mossieman nog ‘n jong mossie was, het hy in ‘n groot nes in Bethlehem in die Oos-Vrystaat gebly, tussen die Rooiberge en die Maluti-berge, net langs die Loch Athlone-dam.  Bethlehem in die Vrystaat is na Bethlehem in Israel vernoem en die Hebreeuse naam beteken ‘huis waar daar brood is.’  Mossieman se nes en tuin was so groot dat hy elke dag ‘n tuinier nodig gehad om die tuin nat te maak omdat daar baie blomme en bome was.  Hy het eenkeer vir Geronkie die Donkie gevra om die tuin nat te maak, maar dié was te lui en Mossieman moes toe maar ‘n ander plan maak.

Mossieman moes mooi dink en beplan voordat hy ‘n behoorlike tuinier vir sy tuin kon aanstel om die plante water te gee, die blomme mooi te snoei, die beddings skoon te maak en die gras te sny.

“Geronkie,” vra Mossieman, “ek het iemand nodig om my tuin nat te maak, jy weet, soos ‘n tuinier.”

Geronkie eet sy vet Vrystaatse geelmielie en hy dink so ‘n bietjie.  “Moet hy net tuin natmaak, of moet hy grassny ook?”

“Grassny ook, maar die belangrikste is dat hy die tuin water moet gee.”

“En wie sou dit wees?” vra Mossieman nuuskierig, gewoond aan Geronkie se streke.  Hy wil eers presies weet wie die tuinier is, voordat hy so ‘n belangrike aanstelling maak.  Tuin-natmaak sit nie in enigiemand se broek nie, ‘n onopgeleide tuinier kan maklik droogmaak.

“Mys die Muis,” sug Geronkie behaaglik en skil nog ‘n geelmielie af om te eet.  Daar is darem niks so lekker soos Vrystaatse mielies nie, dink hy.

“Geronkie, dink jy nie Mys die Muis is te klein om die grassnyer rond te stoot nie?  Sy bene is so kort en so dun soos tandestokkies, hy kan mos nie grassny nie?”

“Miskien,” mompel Geronkie, “maar jy het dan een van daardie grassnyers met ‘n motor in, soos ‘n golfkarretjie.  Jy ry mos net rond op die ding, al is jou bene kort.”

“Dis waar, Mys die muis kan net rondry en die gras sny.”

Mossieman tel die telefoon op en bel vir Mys die Muis om hom die blye nuus mee te deel.  “Mys, jy is my nuwe tuinier aangestel, sorg dat jy môre by die werk is, douvoordag.”

Die volgende dag is Mys die muis vroeg by die werk en Mossieman verduidelik aan hom dat hy die gras moet sny en die tuin moet water gee.  Dit reën verskriklik en Mossieman skud sy vere af om nie natter te word nie.

“Verstaan jy wat jy moet doen Mys?”

“Ja,” sê Mys, “grassny en die tuin water gee.”

“Goed, spring aan die werk, ek sien jou vanmiddag.”  Mossieman gryp sy sambreel en vlieg tot in die volgende boom waar hy ‘n rukkie kwetter voordat hy werk toe gaan.

Die middag laat is Mossieman terug en hy sien vir Mys die Muis rustig onder ‘n boom sit.  Die gras is nie gesny nie, maar die tuin is papnat van al die reën.

“Mys,” sê Mossieman kwaai, “hoekom het jy nie die gras gesny nie?”

“Wel Mossieman,” antwoord Mys, dit reën en dit is papnat, ek kon nie in die rëen gras sny nie.”

“Wel, wat het jy dan gedoen?  Ek gaan jou nie betaal as jy die hele dag niks gedoen het nie.”

“Maar ek het baie gedoen,” protesteer Mys.  “Ek het die hele tyd die tuin natgemaak.”

Mossieman haal sy beursie uit en betaal vir Mys die muis sy dagloon.  Mys tel sy loon en steek dit behaaglik in sy knapsak.

“Dankie Mossieman.”

Mossieman dink so ‘n bietjie nà en krap sy kop swierlik met sy geveerde regterpoot.

“Wag ‘n bietjie Mys, jy jok mos nou vir my.  Dit het dan die hele dag gereën.  Hoe weet ek jy het die tuin natgemaak?”

“Rêrig Mossieman, ek het die hele dag met die tuinslang gestaan en tuin natgemaak.”

“Maar Mys, hoekom maak jy dan die hele dag die tuin nat as jy sien dit reën?  Jy is dan nie eers nat nie.”

“Haai Mossieman,” grinnik Mys die muis terwyl hy so wegstap, “ek het nie gedink jy gee soveel vir my om nie, dankie dat jy vra.  Jy moet nie oor my bekommerd wees nie, ek het die hele dag wat ek so in die reën gestaan het en tuin natmaak, my mooi geel reënjas aangehad.”

Mossieman is nie heeltemal oortuig van Mys se antwoord nie, maar hy kan ook nie die teendeel bewys nie en besluit om vir Mys te glo.  “Mys, weet jy waar die reën vandaan kom?’

“Ja,’ antwoord Mys gretig, “dit kom uit die Hemel uit!”

“Miskien.  Hoekom sê jy so, Mys?” vra Mossieman verwonderd.

Mys trek sy ogies op ‘n skrefie en pyns so ‘n bietjie.  “In die Bybel staan daar God het die hemel en die aarde geskape en alles wat daarin is.”

“Ja?”

“Wel, as alles wat op aarde en in die hemel deur God geskape is, is die reën mos deel van die alles.”

“Dis reg, Mys, dit is waar.”

“Kom Mossieman,” sê Mys die muis en hy beduie vir Mossieman om langs hom te kniel.  “Kom ons sê dankie vir Liewe Jesus vir my mooi geel reënjas en omdat hy vir ons die reën gestuur het.”

Toe kniel Mossieman en Mys die muis op hulle knieë en sê dankie vir Liewe Jesus omdat hy die reën na die aarde toe gestuur het en vir Muis die Mys se mooi geel reënjas.

*