Haan

Daar’s ‘n hoender wat ‘n eier nie kan lê ..

“Hoendereiers is snaakse dinge,” vertel Mossieman eendag vir sy boesemvriend Geronkie die Donkie onder ‘n groot ou populierboom op die walle van die magtige Sandrivier in die pragtige Vrystaat.  Hulle was iewers op reis oor die uitgestrekte vlaktes van die asemrowende Vrystaat en het besluit om bietjie langs die Sandrivier uit te span en ‘n lekker beker boeretroos te drink.

“Hoendereiers kom in baie verskillende en snaakse vorme, Geronkie. Groot hoendereiers, klein hoendereiers, plat hoendereiers, roereiers, gebakte hoendereiers, gaar of rou hoendereiers, ronde en vierkantige eiers en hardgekookte eiers vir ontbyt.  En omelét-eiers.”

“Ek wonder hoeveel hoenders in die Vrystaat bly,” wonder Geronkie terwyl hy ‘n groot stuk boerbeskuit uithaal om saam met sy boeretroos te geniet.  “Daar moet seker baie hoenders wees om elke dag soveel hoendereiers te lê.  Dink jy daar is meer as ‘n honderd hoenders in die Vrytaat, Mossieman?”

Mossieman is ‘n diep denker, eintlik ‘n filosoof en hy oorweeg Geronkie se vraag versigtig voordat hy antwoord.  Maar net voordat hy antwoord, vra die onnutsige Geronkie nog ‘n vraag.

“Is dit waar dat net henne hoendereiers kan lê, Mossieman?”

“Ek dink nie so nie, Geronkie,” antwoord Mossieman filosofies, “ek dink dit is net ‘n gerug dat nèt hoenderhenne eiers lê.  Niemand kon dit nog ooit bewys nie.  En as dit net henne is wat hoendereiers kan lê, sou hulle dit mos henne-eiers genoem het, nie hoendereiers nie.”

“Dit maak sin ja,” sug Geronkie gelate, “maar ek wonder hoe kry die hoenders dit reg om sulke verskillende soorte eiers te lê.  Soos roereiers. Of omelétte .”

“Dis maklik om te verklaar Geronkie,” sê Mossieman ernstig.  “Ek het bietjie ondervinding van hoenderboerdery en ek het gesien wat die Vrystaatse boere doen om die hoenders roereiers te laat lê.  Jy weet mos Vrystaatse boere is die beste boere in die hele wêreld.”

“Ja, almal weet dit.  Wat doen die boere Mossieman?” vra Geronkie nuuskierig en hy kyk  bietjie rond of hy êrens ‘n voorbeeld van ‘n hoender kan sien.

Mossieman suig aan sy boerbeskuit, drink nog ‘n slukkie boeretroos en dink sò diep dat sy ogies met ‘n boog kromtrek.  “Wel Geronkie, die boer vind eers by die hoender uit of hy reg is om die eier te lê.  Of sy reg is.  Want ons is nie honderd persent seker of dit henne of hane of hoenders is wat die eiers lê nie.  As die hoender dan gereed is om die  eier te lê, hou die boer hom in die lug en skud hom so bietjie rond sodat die eier lekker kan skommel.  En as daardie hoender eers goed gewikkel is, kom daar ‘n roereier aan die anderkant uit.  Die boer moet altyd net versigtig wees om die hoendertjie nie te veel te skud nie, anders word daardie roereier ‘n omelét.”

Geronkie is nie seker of hy vir Mossieman moet glo nie.  “En wat van plat gebakte roereiers Mossieman?  Hoe oortuig die boer daardie hoender om ‘n gebakte eier te lê?’ wil hy skepties weet.

Mossieman bestudeer die boerbeskuit in sy poot en drink nog ‘n slukkie boeretroos.  “Wel, dit is nou ‘n ander storie daai Geronkie, en ek moet bieg dat ek nie heeltemal weet van die gebakte gedeelte nie.  Ek weet net  hoe die boer en die hoender die eier so plat-gebak kry.”

Geronkie is nou baie nuuskierig en hy spits sy lang donkie-ore.  “Wat doen hulle Mossieman?”

“Dit is nogal belangrik dat die boer en die hoender moet saamwerk om so ‘n plat roereier te lê.  Onthou, die hoender moet die eier lê, nie die boer nie.  Dit is belangrik dat die hoender nie staan terwyl die eier gelê word nie, hy moet plat sit.”

“Die boer?”

“Nee, Geronkie man, die hoender.”

‘Hy of sy,’ merk Geronkie onseker op, want hy is nog nie heeltemal seker of dit ‘n haaneier, ‘n heneier of ‘n hoendereier is nie.

‘Ja, hy of sy,” stem Mossieman ondeund saam.  In elk geval, die hoender moet plat sit om die eier te lê en so plat bly sit nadat die eier gebore is.  Dit beteken dat die eier nie tyd kry op groot te word nie, hy bly net so plat omdat die hoenders op hulle hurke sit.”

“Ek sien.  Reg so Mossieman,” sê Geronkie die Donkie effe wantrouig, “maar wat van ‘n ronde gekookte eier vir ontbyt?”

“Dit is die maklikste een om te verduidelik Geronkie,’ peins Mossieman met ‘n ligte fronsie tussen sy mossie-oë en teug aan sy boeretroos.  “Dit is eintlik heel eenvoudig.  ‘n Ontbyt-eier is gewoonlik gekook – die hoender gaan sit binne in ‘n sauna net voor die eier die lig sin.”

“Nee man Mossieman, nou jok jy mos, hier in Vrystaat is nie saunas nie.  Watse ding is ‘n sauna in elk geval?”

“Dis waar ja, in die Vrystaat het ons nie baie saunas nie, dit is te warm hier.  Ons het eenkeer, lank lank gelede toe Barry Hertzog nog Eerste Minister was, ‘n sauna vanuit Swede af ingevoer, net om te kyk hoe hy lyk.  Sauna’s is in elk geval ‘n volksvreemde goeters wat nie lekker werk nie.  Hier in die Vrystaat gaan staan ons net onder enige sinkdak op ‘n plaas, dan voel dit net soos ‘n sauna.”

“Reg so Mossieman,” sê Geronkie, “maar hoe kry die hoender die eier so koëlrond?”

Mossieman krap sy ken met sy veerpoot en dink weer diep terwyl hy nog ‘n stuk boerbeskuit eet.  “Ons weet nou dat hoendereiers plat word as hulle op die grond val, Geronkie, en dat hulle roer as jy die hoender bietjie skud voor die eier gebore word.  Om ‘n ronde eier te produseer is effens moeiliker, want die hoender moet op sy rug lê.  Die hoender nê, nie die boer nie.”

“Op sy rug Mossieman?” vra Geronkie verbaas en hy loer ondersoekend na Mossieman om te sien of hy nie jok nie.

“Ja, op sy rug, of haar rug, sodat die eier boöntoe gebore word sonder om op die grond te val.  Die eier is dan mooi koëlrond as hy die lig sien.  En hy is sommer klaar gebak as die hoender nog onder die sinkdak-sauna ook gelê het.  En sò kry jy mooi ronde hardgekookte hoendereiers vir ontbyt,” sluit Mossieman selfvoldaan af.

“Hoenders is darem maar indrukwekkende diere Mossieman,” merk Geronkie beïndruk op.  “Mens beledig hulle eintlik deur hulle pluimvee te noem.  En dit is ‘n indrukwekkende prestasie om sulke verruklike eiers te produseer.”

Mossieman en Geronkie het klaar hulle boeretroos gedrink en begin aanstaltes te maak om so al langs die magtige Sandrivier terug te stap huistoe.  “Maar weet jy Geronkie, daar is verseker een hoender wat dit nog nooit kon regkry om ‘n regte mooi eier te lê nie.  Maak nie saak of dit roereiers of gebakte eiers of  of hardgekookte eiers is nie.”

“Nou watter hoender is dit dan, Mossieman,” vra Geronkie verwonderd.

“Wel Geronkie, dit is eintlik nie ‘n hoender nie, dit is ‘n haan.  As jy so daar na Virginia se kerktoring se kant toe kyk, kan jy hom duidelik daarbo sien, dit is die haan wat op die kerktoring staan.”

“Ek sien hom ja,” sê Geronkie peinsend.  “Weet jy Mossieman, ek hoop die kinders wat elke dag ‘n eier vir ontbyt eet, ook ‘n bietjie aan die hoendertjies se bydrae dink.  Net soos ons donkies, is ‘n hoender darem maar ‘n wonderlike ding.”

*

  • Henning van Aswegen
Advertisements