Wolf

Jakkals knoop Wolf se stert

Jakkals en Wolf was boesemvriende, maar het nie geskroom om mekaar poetse te bak nie.  Niks het die een blyer gemaak as hy die ander een ‘n streep kon trek nie.

Eendag op ‘n reëndag slaap Wolf lekker in die skaduwee van die grootste populierboom langs die magtige Sandrivier in die Vrystaat.  Die groot ou populierboom was wolf se gunsteling lê-plek – die gras was sag en snoesig en daar was nie baie miere of likkewane wat sy stert kon byt nie.  Wolf het sy dae verby geslaap – hy kon elke dag ure lank onder die populierboom lê en snork.

Die ander diere in die bos, veral die slange, akkedisse en muise was al gewoond aan Wolf en het sommer bo-oor hom geloop, al lê hy so en slaap.  Wolf was salig aan die droom en hy het nie eers wakker geword as die diere op hom trap nie.  Jakkals het die spulletjie sò sit en kyk en besluit toe om vir Wolf ‘n lekker poets te bak.

Jakkals maak ‘n slim plan en stuur sy twee gesante en trawante, Kees Kanaalaap en Bobby Bobbejaan, om vir hom ‘n lààng tou te gaan haal.

“Maak seker die tou is lank genoeg,” skree hy hulle agterna vir sy twee gesante en trawante.  “En dik genoeg om vir Wolf vas te bind!  En hy moet groen wees, bring ‘n groen tou!”

Na ‘n rukkie kom Kees Kanaalaap en Bobby Bobbejaan terug met die lààng groen tou.

“Reg,” sê Jakkals, “help my gou.  En wees suutjies, ons moet nie vir Wolf wakker maak nie.”

Jakkals, Kees Kanaalaap en Bobby Bobbejaan knoop die tou saggies en bind Wolf se stert aan die wortels van die populierboom vas.  Wolf snork te lekker en kom nie eers agter dat die drie karnallies die tou om sy bene en sy stert draai nie.

“Suutjies!  Maak vas die knoop,” sê Jakkals ondeund vir die ander twee.  “Lekker styf,  sodat Wolf nie kan beweeg nie.”

Eers knoop Jakkals Wolf se linkerbeen vas, toe sy regterbeen en daarnà sy stert.  Hy trek die knope lekker styf om die wortels van die boom en daar lê Wolf, vasgebind sodat hy hom nie kan roer nie.

‘Reg so, gaan kry nou takke en blare sodat ons Wolf se bene daarmee kan bedek.”

Kees en Boggom giggel en gaan pluk takke en blare en die ander diere van die bos help sommer fluks daarmee.  Almal help en dra sommer ‘n hele hoop takke en blare aan.

“Pak die takke en blare op Wolf se bene en maak die tou daarmee toe.  Saggies, saggies, hy moet nie wakker word nie.”  Hulle loer na Wolf, maar die ou slaap rustig en snork lustig.

Jakkals se handlangers pak Wolf heeltemal toe onder die takke en blare – net Wolf se neus steek naderhand uit.  Toe hulle klaar is, staan al die diere tevrede terug om hul handewerk te bewonder.

“Gaan kruip almal weg,” fluister Jakkals vir Kees Kanaalaap en Bobby Bobbejaan en al die diere.  “Dan maak ons hom wakker !”

Al die diere kruip agter die bome weg en loer vir Wolf.  Toe almal mooi weggekruip is, skree Jakkals kliphard vir Wolf.

“Wolf, Wolf! word wakker!  Word wakker!  Hier kom Leeu!”

Wolf is bietjie deur die blare en word stadig wakker – dit vat so ‘n rukkie voordat Wolf se oë behoorlik fokus.  Hy loer bangerig onder die blare uit en sien Jakkals hier langs hom staan en skree.

“Wolf, Wolf!” skree Jakkals weer vir Wolf, “word wakker! Word wakker! Hier kom Leeu!  Hardloop!”

Wolf probeer opspring, maar sy bene is vasgebind en hy kan nie beweeg nie.

“Help my Jakkals, ek kan nie beweeg nie.  Wat het gebeur?  Help!”

“Wolf,” sê Jakkals, ‘jy het so lank onder die boom lê en slaap dat die boom se wortels bo-oor jou gegroei het.”

Wolf ruk en pluk paniekerig, maar hy kom nie los nie.

“Help my Jakkals, ek kan nie beweeg nie en Leeu kom en hy gaan my opeet.  Help my om los te kom!  Help!”

“Ek kan nie help nie Wolf, jy het te lank onder die boom geslaap, al die wortels het jou toegegroei.  Jy moet nou maar vir die res van jou lewe hier onder die boom bly, jy is nou deel van die boomwortels.”

“Ag asseblief Jakkals, help my om los te kom.  Leeu gaan my opeet!” huil Wolf benoud.

“Jammer Wolf,” sê Jakkals, “ ons moet ook wegkruip, ons hoor vir Leeu aankom.  As hy ons sien, gaan hy ons ook opeet!”

“Help my, help my,” skree Wolf.  Leeu gaan my eet!  Wees my tog genadig!”

Jakkals en sy trawante is dik van die lag en hulle loer vir Wolf deur die bome se blare.

Wolf sit die hele dag vasgeknoop onder die boom tussen die takke, die ene bewerasie, te bang om te beweeg.  Wolf is bang om iets te sê want hy is bang Leeu vreet hom op, hy miaau nie eers nie.  Net Wolf se twee bang ogies steek onder die takke en blare uit.

Teen die middag is Jakkals en sy maters klaar gelag en uitgekuier met Wolf se penarie en hulle besluit om hom genadig te wees.

“Bring ‘n mes,” sê Jakkals vir Kees en Bobby Bobbejaan. “Ons gaan vir Wolf los sny.”

“Ai tog Jakkals, ek is so bly om jou te sien,” sê Wolf verlig toe hy vir Jakkals sien.  “Dankie tog dat julle my kom red.  Ek was die hele dag bang Leeu kom eet my op.”

“Ja, jy is baie gelukkig om te oorleef,” sê Jakkals stout.  “Maak toe jou oë terwyl ons die boom se wortels los sny.”

“Dankie tog,” kerm Wolf en vryf sy stert.  “Dankie tog, ek gaan vir julle almal lekker middagete koop omdat julle so barmhartig is en my so mooi help.  Dankie, dankie.”

Jakkals sny die tou los en steek hom gou-gou agter die boom weg.  “Reg, maak oop jou oë Wolf, jy is gered, staan op, jy is vry.”

Wolf is sò bly en verlig dat hy sommer vir Jakkals omhels en ‘n klapsoen gee.

“Dankie, dankie!  Kom julle, kom Jakkals, ek gaan sommer vir julle almal lekker middagete koop.”

Wolf en Jakkals en Kees en Bobby Bobbejaan stap hand om die lyf weg, almal kamtig verlig dat Leeu nie vir Wolf opgeëet het nie.

‘So ja,’ dink Jakkals onnutsig en lek sy lippe af.

‘As jy slim genoeg is, koop Wolf vir jou middagete.’

+