Capture

Mossieman vang amper ʼn dief

Die was winter in die Vrystaat en Mossieman het ʼn lang baadjie en sy kort rooi winterkouse aangehad. Sy beste maat, Geronkie die donkie, het spesiaal twee wolkouse oor sy ore getrek om die koue uit te hou en die sneeu af te keer. Dié twee ou vriende het elke aand om die kaggelvuur in Mossieman se snoesige nes gesit en dan het hulle stories vertel tot laat in die nag. Mossieman het nie net stories vertel nie, maar in sy vrye tyd ook boeke geskryf en prentjies geteken, meesal om kinders te laat lag.

“Maar Mossieman,” sê-vra Geronkie een aand so terwyl hulle lekker warm blikbekers melkkos eet, “het jy nie ʼn boek geskryf oor hoe om ʼn dief te vang nie?”

“Ek het, Geronkie,” erken Mossieman met ʼn effens skugter kuggie. “Ek het ʼn boek geskryf oor die beste manier om ʼn dief te vang. ʼn Soort internasionale handleiding hoe om diewe te vang en misdadigers vas te trek.”

“Verduidelik jy in die boek vir die mense hoe om dit te doen?” vra Geronkie nuuskierig.

“Jààà.., ek skryf op die laaste bladsy van die boek hoe jy eintlik te werk moet gaan om ʼn  dief te vang.”

“Metodes en tegnieke om diewe vang te vang?” wil Geronkie skepties weet.

‘Jààà. .. maar dit is eintlik ʼn geheim,” sug Mossieman en hy teug aan sy lekker warm melkkos. Nou en dan loer hy om hom rond om te kyk of iemand hulle nie afluister nie. “Op die laaste bladsy deel ek my geheim met almal, sodat almal in die hele Vrystaaat en die hele wêreld kan weet hoe om ʼn dief behoorlik te vang.”

“Ek is nou baie nuuskierig, Mossieman,” sê Geronkie entoesiasties. “Wys my jou boek, veral die laaste bladsy, sodat ek ook kan sien hoe om ʼn dief te vang.”

“Ek sal netnou,” paai Mossieman. “Ek drink nou eers my lekker warm melkkos. “Dit hang buitendien af van watter soort dief jy wil vang.”

“Soort dief? Wat bedoel jy Mossieman? Is daar dan kategoriëe diewe?”

“Daar is baie soorte diewe, Geronkie.”

“Bedoel jy soos ʼn handsakdief, Mossieman?”

“Jààà.., mens kry baie soorte diewe en die metode om elke soort dief te vang is anders.”

“Soos ʼn motordief? Of ʼn perskedief? Soos jy? Jy het mos daardie een keer die dominee se perskes uit sy tuin gesteel.”

“Nee, wag nou,” sê Mossieman verleë, “ons praat nie daarvan nie.”

“Maar die dominee het làànk na sy gesteelde perskes gesoek, selfs by die polisiestasie.”

‘Vergeet nou van die perskes Geronkie! Ek praat van allerhande ander diewe, soos hoenderdiewe en skaapdiewe en melkdiewe.”

“Wat van grypdiewe?”

“Hulle ook. Dit hang af wie of wat hulle gryp. Byvoorbeeld, as hulle ʼn ouma wil gryp, dan los jy hulle.”

“Sê nou maar hulle gryp boeke? Dan is hulle dan boekediewe.”

‘Ja, maar dit is ʼn groot sonde om boeke te steel. Mense en diere kan boeke weggee, maar niemand mag ooit ʼn boek steel nie.”

Geronkie dink so bietjie na oor Mossieman se storie en sluk weer van sy lekker warm melkkos uit sy blikbeker. Hy weet nie altyd of hy vir Mossieman moet glo nie, veral nie as dit by slaaptydstories kom nie. Hy het al agtergekom dat Mossieman se oggend en aandpraatjies nie altyd ooreenstem nie.

“Mossieman, gaan haal nou jou boek, sodat ek op die laaste bladsy kan lees hoe mens ʼn dief moet vang.”

“Reg so, ek gaan nou,” antwoord Mossieman langsaam en hy stap traag weg om die boek te gaan haal. “Daar is net een ding wat jy moet onthou Geronkie, ons is nie mense nie, ons is diere. Die storie gaan oor hoe mens ʼn dief te vang. Maar diere soos ons kan ook diewe vang, veral in die Vrystaat.”

“Ek weet Mossieman,” gaap Geronkie ongeduldig. “Gaan haal nou die boek, ek wil op die laaste bladsy sien hoe om ʼn dief te vang.”

Nà ʼn lang ruk kom Mossieman terug met die boek wat hy geskryf het en hy gee die boek vir Geronkie. Geronkie blaai angstig deur die boek en uiteindelik kom hy by die laaste bladsy uit. Hy is baie nuuskierig om te lees hoe mens ʼn dief vang en met ʼn dief se gal werk. Geronkie blaai en blaai en soek en soek na die laaste bladsy van die boek.

“Maar Mossieman,” roep Geronkie verbaas uit, “hier is dan glad nie ʼn laaste bladsy in die boek nie. Die laaste bladsy het verdwyn, hy is heeltemal weg. Hier is nie ʼn laaste bladsy nie!”

“Ek weet, Geronkie” antwoord Mossieman lomerig en sluk die laaste bietjie mellkos in sy blikbeker weg, net voordat sy oë toegaan.

“Ek dink ʼn dief het die laaste bladsy gesteel.”

*