Muisreenjas

Mys die muis, koning van die diere

Mys die muis, die dapperste muis in die hele Vrystaat, daag eendag by koning Leeu se lệ-plek op en bekyk ou Leeu op en af waar hy lekker onder die boom lê en snork. Die meeste diere is effens bang vir Leeu en hulle hou hom die hele tyd dop waar hy slaap.  “Moenie bang wees nie,” sê Mys stouterig vir die ander diere, “ek wed julle ek kan op Leeu se stert spoeg en dat hy niks daaraan sal doen nie.”

Versigtig trek Mys die muis aan een van Leeu se lang swart snorbaarde. “Word wakker, koning Leeu,” sê Mys onnutsig, “ek wil jou iets wys.”

Vies maak Leeu een van sy oë oop en loer vererg na Mys die muis. “Wat wil jy hê, man?  Kan jy nie sien ek slaap nie? Ek het my middagslapie nodig, anders kry ek plooie.”

Mys die muis is al ʼn bietjie oud, maar nog nie koud nie en is daarby ʼn baie slim muis.

“Sê my Leeu, is jy regtig koning van die diere?”

“Definitief. Miskien definitief,” sug Leeu  verveeld en maak sy een oog toe.

“Maar Leeu,” trek Mys die muis Leeu se siel uit, “jy vertel dan vir al die diere in die Vrystaat dat jy die koning van die diere is. Daarom gaan ek, Mys die magtige muis, vir jou ʼn dure les te leer.”

‘Hmmm…” snork Leeu wantrouig, “daarvoor is jy te lig in die broek. Jy is net ʼn muis met kort beentjies. En jy is nog lelik daarby.”

“Leeu,” sê Mys onnutsig, “ek wed jou tien duisend rand dat ek my eie oog kan byt.”

Leeu sit ewe skielik kiertsregop, baie nuuskierig. “Mys, jy moenie met my kom nonsens praat nie! Niemand in die wêreld kan sy eie oog byt nie. Ek vryf sommer jou ore warm as jy so jok, wat nog van jou tienduisend rand gee.”

“O ja, ek kan my eie oog byt,” sê Mys die muis heldhaftig. “Hou my net dop.”

Stadig en versigtig haal Mys die muis sy glasoog uit sy oogkas en gee hom ʼn allemintige hap.

Leeu skrik homself heeltemal wakker. “Mys,” sê Leeu, “jy kierang en kul mos nou! Jy het nie vir my vertel dat jy ʼn glasoog het nie!”

Mys die muis lag te lekker, terwyl hy sy glasoog terugsit in sy oogkassie. “Leeu, jy skuld my tien duisend rand. En ek wed jou nog tien duisend rand dat ek my ander oog ook kan byt.”

Leeu is dom, maar nie sò dom nie. Hy weet Mys die muis is nie blind nie en dat hy sekerlik net een glasoog het. Hy kan nie twee keer dieselfde oog byt nie. “Reg so,” sê Leeu vol selfvertroue. “As jy dit nie kan regkry nie, dan geen jy my tien duisend rand terug en ek eet jou sommer op. Reg so?”

“Ja,” stem Mys in, “maar as ek dit regkry skuld jy my twintig duisend rand.”

Stadig en versigtig haal Mys die muis sy valstande uit sy mond. Al die diere van die bos se oë word so groot soos pierings. Mys hou sy  valstande met sy poot vas en gee sy ander oog ʼn allemintige byt.

Leeu se bek vol tande hang oop van verbasing. “Ha-ha,” lag Mys en hy sit sy vals tande terug is sy mond. “Nou skuld my jy twintig duisend rand, Leeu!”

Leeu is baie mismoedig. Waar moet hy nou twintig duisend rand vandaan kry om Mys die Muis te betaal? Hy het tot onlangs toe ʼn spaarvarkie gehad, maar dié het hy lankal opgeët. Mys lag te lekker vir Leeu se penarie en besluit om hom nog ʼn streep te trek.

“Leeu, nou gaan ek jou ʼn kans om jou twintig duisend rand terug te wen.”

“Goed,” sê Leeu effens mismoedig, “ek sal enigiets doen. Ek het die geld nodig, want ek moet vleis by Virginia se slaghuis gaan koop vir middagete.”

“Kyk Leeu,” sê Mys die muis en hy wys na ‘n groot ou vyeboom wat oorkant die rivier staan. “Sien jy die boom wat daar anderkant die goot rivier staan?”

“Ja, ek sien hom.”

“Ek wed jou ek kan tot by daardie boom spoeg!”

Leeu kyk na die groot ou vyeboom oorkant die rivier. Daar is geen manier dat Mys die muis so vêr kan spoeg nie, al staan hy ook op ‘n boomstomp met sy stert in die lug. Die rivier is baie breed en wyd en die boom staan maklik twee honderd meter weg.

“Wat!” sê Leeu onthuts. “Daar is geen manier dat jy oor die rivier kan spoeg nie. Mys, daardie boom is gans te vêr.”

“Ek dink ek kan, Leeu,” sê Mys vol selfvertroue.

“Goed, die weddenskap is aan. As jy twee honderd meter oor die rivier tot by die vyeboom kan spoeg, dan gee ek jou nog twintig duisend rand! Dit is sommer veertig duisend rand altesame.”

“Reg,” beduie Mys die muis vir Leeu en al die ander diere van die bos, wat nuuskierig nader staan om te sien wat gaan gebeur. “Staan terug! As as ek mis spoeg, dan hou ek my twintig duisend rand, maar ek gee jou ander twintig duisend rand terug.”

“Reg so, grom Leeu wat nog nooit juis in Wiskunde uitgeblink het nie. Hy is doodseker dat Muis nie oor die rivier kan spoeg nie.

Mys die Muis gaan staan reg agter Leeu en trek sy longe diep vol Vrystaatse suurstof. Hy wikkel sy stert ‘n paar keer en spoeg vir al wat hy werd is. Die spoegie trek met so ‘n trietsige bogie en land op Leeu hier langs hom se stert.

“Ha! Dis mis! Sien jy!” brul Leeu uitbundig. “Ek het jou gesê jy kan nie twee honderd meter vêr spoeg nie!”

“Nee, jy is seker reg, Koning Leeu,” sê Mys die muis gemaak-mismoedig. “Nou skuld ek jou twintig duisend rand. Ons is nou kiets.”

Leeu brul ʼn paar keer belangrik vir die diere in die gehoor en maak hom reg om weer in die sonnetjie te gaan slaap. Al die diere van die bos kyk na Leeu met Mys se spoeg op sy stert en giggel skelm sodat Leeu hulle nie raaksien nie. Leeu gaan slaap lekker en kom niks agter nie – hy is salig onbewus dat Mys op sy stert gespoeg het.

Net anderkant die boom gaan sit Mys die muis lekker op sy blaker in die sonnetjie en lag uit sy magie uit.

“Sien julle,” sê Mys aan die res van die diere wat lekker saam skaterlag. “Ek het vir julle gesê ek kan op Leeu se stert spoeg en dat hy niks daaraan sal doen nie.”

Van toe af is Mys die muis baie gewild onder die diere van die bos. Elke keer as Leeu grom en brom en brul en maak asof hy die koning van die diere is, lag al die diere vir hom en vertel weer die storie van die dag toe Mys die muis op Leeu se stert gespoeg het.

Van daardie dag af, is Mys die muis die rêrige koning van al die diere in die Vrystaat.

*

 

 

– – – – – – –