Dominee

Mint Imperials in die ronde kerk

Jare vanmelewe in die jare ‘72/73 moes koshuiskinders in die Vrystaat elke Sondag en elke Pinkster kerk toe gaan, Calvinisties lojaal en dogmaties getrou, elke liewe diens. As daar ‘n kerkdiens, biduur, belydenis, besnydenis, busdiens, pinkster-diens, doop, troue, katkesasie, katagèse, kinderkrans-dans, broederkring, kerkraadsvergadering òf begrafnis was, moes daar na Welkom se ronde kerk toe gestap word om die kerkbanke vol te maak. En bewaar jou kindersielietjie as jy nie opdaag nie, òf ‘n verskoning probeer fabriseer of nog erger, nie kollekte in jou broeksakke het om op die roepende groen bordjie te gooi nie.

Die swartdas-diakens by die ronde kerk was nogal benepe-streng en het die kerkdeure beter bewaak as daai glaskas by die Vrystaat-stadion waarin die Curriebeker (amper) elke jaar in staan. Die kwaai diakens het net die kinders wat genoeg kollekte gehad het, by die gewyde deure laat ingaan. Hulle kon jou net een kyk gee en wèèt hoeveel kollektegeld jy in jou sak het. Die res van die Goutie-koshuisbrakke moes op die trappe staan en diens doen as sakkerollers. Eers as hulle genoeg geld gehad het, kon hulle ingaan en vollebors begin saamsing aan al die Pinkster psalms en gesange.

Die moelikheid het daardie 1973 Pinkster-aand lank voor die diens begin, toe Danie en Makou so agter in die rye stap omdat Makou haar enkel geswik het en hulle stadiger as die res van die kinders moes loop. Plàtjie wat hy is, kon Leon hom nie weerhou om Makou se siel uit te trek nie. “Jy loop dan met die verkeerde been kruppel Makou” en daar lag die hele lotjie koshuiskinders onbedaarlik nog vòòrdat die kerkdiens begin het.

Die ronde kerk hou sommer twee kollektes gedurende die Pinkster-dienste, een keer vir boetedoening en die tweede keer om paaiemente op die dominee se Mercedes Benz af te betaal. Elke klipharde houtbankie kon so twintig boude huisves, almal kiertsregop om na die dominee te luister, gereed om hulle swaarverdiende kollekte te oorhandig. Die kerkdienste destyds in die Vrystaat was almal so uur en ‘n half lank, vir ‘n aandag-afleibare koshuiskind ‘n ewigheid, ‘n vervelige, uitgestrekte nimmereindigende verbale marteling. Jy moes hare op jou tande hê om wakker te bly en ‘n goeie Christen te wees.

Gàtjieponders in die Vrystaat weet goed dat dit byna-met-die-dood strafbaar is om te loer hoeveel geld die gelowige langs jou in die groen kollektebordjie gooi. Maar koshuiskinders is slim en kreatief en het later die kuns ontwikkel om een oog reguit vorentoe op die dominee te hou, terwyl die ander oog lateraal draai om te kyk hoeveel geld die ou langs jou op die groen bordjie deponeer.

Een van die koshuismeisietjies aan die begin van die lang ry het seker maar nie kollekte gehad om daardie aand in die groen bordjie te gooi nie, wel ‘n paar Mint Imperials waaraan sy al sedert verlede semester holwang geproe het. Die groen kollektebordjie het onverbiddelik, sonder brieke, in haar rigting beweeg, en haar moed het haar begewe. Sonder kollekte deponeer sy toe maar met ‘n benoude handjie haar laaste verhandelbare aardse besittings op die roepende groen bordjie, drie waardevolle Mint Imperials. Een was nog mooi rond, maar die ander twee al so effe ovaalvormig gesuig.

Giggel in die kerk is soos die stem van die atletiek-aankondiger by Goudveld Hoërskool – hy kom en gaan oor die wind, partykeer verloor jy hom en ander kere bou hy momentum op soos ‘n verdwaalde crescendo. In die kerk daardie aand het die giggelry so saam met die kollektebordjie en die half-gesuigde Mint Imperials in die ry afgekom.  Nes die een konshuiskind ophou giggel, steek die volgende een soos ‘n melaatse aan.  Almal skud en proes onbedaarlik van die lag toe die bordjie Mint Imperials verbykom.

‘n Verdwaalde weeskind en ‘n honger koshuiskind is dieselfde ding. Toe die kollektebordjie aan die einde van die ry kom, was daar net een Mint Imperial oor, die mooi ronde een.

Die dominee word pers-gesig smoorkwaad oor die gegiggel en verloor sy sin van humor net daar, sy Bybelboodskap van liefde vir jou medemens verlore. Hy was ook ‘n Vrystater – sy een oog het reguit vorentoe die gemeente aangegluur en aanhou preek, terwyl sy ander oog die kollektebordjie se kronkelroete deur die rye op en af gevolg het. Die koshuiskinders giggel in sulke chaotiese sarsies, die hele lotjie buite beheer. Die diakens was vir mekaar vies omdat die Mint Imperials deur hul polisie-kordon by die kerkdeur gesmokkel is en die bejaarde ouderlinge verward-verdwaas omdat hulle nie verstaan het waaroor die hele bohaai gaan nie.

Gelukkig was die Ronde Kerk in Welkom daardie jare rond en nie vierkantig nie. Die dominee en die kerkraad kon jou nie stuur om in ‘n hoekie te gaan sit vir jou sondes nie.

*