New new ghost

Spookstorie in die Goutie-koshuis

Leon, Danie, Vlooi en JP het altyd vir almal in Goudveld Hoërskool na vier gawe Vrystaatse boerseuns gelyk, jy sou nooit sulke stoutighede van hulle verwag nie. Mens kan maar die Goutie-koshuis in die myndorpie Welkom vir hulle onnutsigheid blameer, òf die Afrikaanse voorgeskrewe eksamenvraestel van 1973, òf ʼn nuwe onderwysertjie wat nie juis van kinders gehou het nie. 1972-1973 was die jare toe Goudveld se koshuis-seuns nog in rugby-pajamabroeke sonder hemde geslaap het en ‘n teelepel teen-vriesmiddel gedrink het om in winter warm te bly.

Ewenwel, dit was die laaste Vrydagaand van bloktyd in die koshuis en ons dapper viermanskap wou ʼn gees se hulp inroep om te help ‘spot’ vir die voorgeskrewe eksamen Maandag-oggend. Ligte-uit tyd in die koshuis, winter en somer, was nege-dertig, en bewaar jou kindersielietjie as jy of een van jou koshuismaters daarnà nog in die gange gevang word. Jy moes dogmaties nege-dertig in die bed wees, gebede klaar hemel toe gestuur, kussing oor die kop, hande bo-op die kombers.

Frans Kock was daardie jare koshuisvader, ‘n strenge man wat die bamboesroede lekker kon inlê, maar altyd met ‘n sagte hart en ‘n skewe glimlaggie wat saam met die rokie van sy pyp boëntoe kon krul. Van die koshuiskinders het hom die bynaam Stofstrepie gegee – hy het sò vinnig gestap dat daar altyd so ‘n stofwolkie agter hom aangewarrel het.

Een van die jong onderwysers wat in die koshuis gewoon het, was algemeen bekend onder die koshuisbrakke as Onderwysertjie. Hy het so ‘n hardlywige stappie aan hom gehad en nie baie geglimlag nie, wat nog van grappies met die kinders maak. Onderwysertjie het in ‘n kamer op die grondvloer van die koshuis gebly – elke onnie in die koshuis moes naweekdiens doen en dit was Onderwysertjie voorreg om die naweek van die spookstorie op diens te wees. Miskien het die gode en die duiwel van die kinderbybel daardie aand se koshuiskaskenades saam beplan.

Daar was ‘n oop kamer bokant die koshuiskamer waarin Leon, Danie, Vlooi en JP gebly het – dit was daar waar ons vier makkers die besproke Vrydag-aand die gees beroep het.  Naweke nà ligte-uit was die koshuis doodstil – die meeste kinders weg huistoe en net ‘n paar verdwaalde honger brakke het oorgebly. Jy kon letterlik ‘n speld in daardie gange hoor val.

In die donker kamer sit ons vier maters met ʼn glasie, ‘n spieël, poeier en al die letters van die alfabet op stukkies papier in die rondte gepak. Ons hou kywie en kyk senuagtig na die deur, bang dat ʼn onnie ons gaan vang.

Terwyl die glasie onder vier paar angstige pare oë oor die poeier op die spieël tussen die letters rondbeweeg, is daar ewe skielik ‘n hengse lawaai in ‘n ander deel van die koshuis, naby die onderwysers se kamers op die grondvloer. Ons loer bangerig deur die vensters, maar sien niks. Nà ‘n rukkie is die geraas weer stil en ons angstige vier vriende, wat is vrees en bewing in die donkerte sit, kry weer rigting met die gees op die spieël.

Die volgende oomblik bars Onderwysertjie die kamer in met hare wat bontstaan van die skrik en pajamas wat windskeef aan sy woedende geraamte hang.

“Warrehel doen julle!” raas hy toe hy die lig aanskakel, hard genoeg om die res van die koshuis wakker te maak en die domastrante gees op die spieël heeltemal te verwilder.  Onderwysertjie het daardie glasie en poeierletters op die spieël net een kyk gegee en sy humorsin heeltemal verloor. Miskien het hy gedink die gees op die spieël en ʼn spook is dieselfde ding.

Danie kom eerste tot verhaal, omdat hy onmiddellik geweet het ons is op heter daad betrap is met die gees-soekery. “Nee meneer,” stamel Danie verbroureerd terwyl Leon, Vlooi en JP van groot tot klein agter sy rug probeer wegkruip, “ons roep net bietjie die geeste om ons te help met spotvrae vir Maandag se vraestel.”

“Is julle van julle sinne beroof – watse geeste?”

“Meneer weet,” gooi Leon ‘n stuiwer in die armbeurs, “met ʼn glasie op die spieëltjie.”

“Kom, kantoor toe met julle, vanaand gaan julle agterente brand.”

“Meneer sien,  help Danie ongevraag ons verder die afgrond in, “die gees het mooi saamgewerk totdat meneertjie daar by die deur ingekom het, toe gaan staan die glasie stil.”

Vlooi en Leon begin lag en die onnie, pers in die gesig van woede, gaan amper vir Danie te lyf. JP, wat reeds in Standard Nege heelwat groter as Onderwysertjie was, tree tussenbeide om ‘n kindermoord te voorkom. Ons was onder arres, en kon niks daaraan doen nie, vanaànd gaan ons stêrre brand.

Toe ons by die koshuishoof se kantoor die trappies in ons pajamas oploop, giggel ons steeds, niemand kan ophou nie. JP het so ‘n benoude-boude uitdrukking op sy gesig, Leon kielie Vlooi se ribbes om hom nog meer te laat lag en Danie agter maak Onderwysertjie se manier van stap na. “Gaan sit daar,” snou die smoorkwaad onnie ons toe, “ek gaan meneer Kock wakker maak.

Nou kyk, jy maak nie ‘n Vrystaatse onderwyser laat op ʼn Vrydagaand wakker sonder ‘n baie goeie verskoning nie. Frans Kock was ‘n ou skrumskakel en hulle is bekend vir manne met kort lonte. Daai lontjie ontbrand blitsvinning as ‘n ander onderwyser jou wakkermaak met die nuus dat die koshuiskinders laat in die aand besig is om kuttels aan te jaag.

Nogal snaaks – twee beneukte onderwysers en vier koshuiskinders net voor middernag in een kantoortjie, amal in hulle pajamas. Kock is briesend omdat hy wakker gemaak is, Onderwysertjie verontwaardig-kwaad en rooi in die gesig. Ons vier weet dat ons kniediep in die ghano is en dat die bamboes-rottang ons voorland is.

Koshuisvader Kock staar ons vier aan asof hy nie kan besluit wie om eerste tereg te stel nie. “Verduidelik!” kras hy dit uit. Sy pyp was nie eers naby nie, maar daardie aand het daar ‘n blou-rookwalm van kwaadgeit by sy ore uitgekom.

Danie en Leon is senuagtige segsmanne en altwee praat gelyk. “Meneer sien, ons het met die gees probeer gesels om te help met Maandag se voorgeskrewe vraestel, toe kom meneertjie  by die deur in en toe gaan staan die glasie sommer stil.  En toe jaag hy ons na ons kamer toe, en toe klim ons in die bed maar die lig was nog aan en toe kom meneertjie weer die kamer in en toe skakel die lig homself af! Dis waar meneer, die glasie het ophou beweeg, die gees het verdwyn en die lig het sommer homself aan en af gegaan.”

Koshuisvader Kock se gesigsuitdrukking van stomme verbasing bly my tot vandag nog by – ek kon sien dat hy nie ‘n dooie woord van ons betoog glo nie.

‘n Koshuiskind het ‘n snaakse manier om te lag terwyl hy huil. So tussen die rottanghoue deur en met brandende boude is ons vier makkers kruppel daar by Kock se trappe af.  Verby onderwysertjie se kamerdeur, terug na ons kamers toe. Leon sê “kom ons maak hom weer skrik” en ons begin van voor af weer giggel, al vryf ons nog oor ons brandende boude.

Nie eers die gees kon help om die ons blou-groen boude die week daarnà te versorg en help herstel nie. Almal in die koshuis wou sien hoe die skade lyk en ons moes gereeld vir belangstellendes wys wat Kock se bamboes-rottang aan ‘n man se boude doen.

‘n Paar dae later het koshuisvader Kock en Danie lekker op die trappe van die koshuis gesit en gesels, weer ou vriende nà die spookstorie en die pakslae. Teen hierdie tyd het al die ander kinders en onderwysers die storie daar in die gange van die koshuis gehoor en lekker saamgelag en met ons gespot.

Ons het eers later uitgevind wat die aand van die spookstorie die helse lawaai in die koshuis veroorsaak het. Een van die koshuisbrakke, Fanie Voorry Griesel, het vir een of ander rede ‘n groot gly in die meneer op die grondvloer gevang (Voorry was ‘n formidabele skrumwerker en hy het daar van Bothaville se wêreld af gekom). Voorry het niks van die onnie gehou nie en wou hom die Vrydag-aand, op eie houtjie en onwetend aan ons ander klomp, bietjie skrikmaak. In die donkerte van die koshuis het Voorry homself soos ‘n mummie vermom – hy het êrens ʼn wit ‘overall’ in die hande gekry en en wit lappe om sy kop gedraai, soos ‘n wafferse Tuareg uit die Sahara.

Wat ou Voorry besiel het om juis dààrdie aand te kies om vir Onderwysertjie skrik te maak, sal niemand op aarde ooit weet nie. In sy wit ‘overall’ en met die vreemde wit tooisel om sy kop het hy het deur die grafstil vierkant gesluip en in die donkerte dreigend by die onnie se kamervenster ingeloer. Toe Onderwysertjie se asemhaling op sy rustigste was, het Voorry kliphard aan die venster geklop en soos ‘n leeu gebrul.

Mense, julle ken die uitdrukking dat ‘n ou sy wind uitskrik. Nou ja, daardie aand in die koshuis het die hardlywige meneertjie sy melk weggeskrik. Hy het soos ‘n babatjie begin skree toe hy die skrikwekkende gedaante met sy wit tooisel hier bokant sy kop sien. Hy het sò hard geskree dat sy hardlywigheid vir maande daarnà nie meer ‘n probleem was nie.

Fanie Voorry, self witgeskrik deur die onnie se terugskeeuery, hardloop terug kamer toe en duik op sy bed om onder die komberse weg te kruip. Voorry was ‘n ernstige voorry en het die skaal maiklik oor die 110 kilogram getrek – die bed kon eenvoudig nie die slag vat nie en het met ‘n knal inmekaar getuimel.

Dàài slag en het dàài aand in 1973 in dàài Goudveld-koshuis vir Onderwysertjie wakker gemaak en dis toe dat hy daar in die gange en kamers begin rondsoek het vir sy skrikmaker(s). Ons vier makkers was maar bloot onskuldige slagoffers van omstandighede. As dit nie vir Fanie Voorry Tuareg Griesel was nie, sou Onderwysertjie ons nooit-aste-never gevang het nie.

Fanie Voorry, Danie, Leon, Vlooe en JP het baie gehelp om destyds die meeste geeste en spoke uit die Vrystaat en die Goutie-koshuis te jaag.

Maar nie almal nie…

Ek het jàre daarna eendag op pad Kaap toe weer by ons ou Goutie-koshuis ʼn draai gemaak. Dit was per ongelukkig vakansie en die koshuis was leeg. ʼn Vriendelike onnie het my rondgewys, die verlate saal, die kombuis waar die kombuistannies altyde sulke lekker kos gemaak het, koshuisvaders Kock en Ludick se kantoor, die voorportaal en die kamers en die leë gange. Die plek het my na al die jare dieselfde gevoel en geruik en ek kon hoor hoe lag en gesels die kinders, al was daar niemand daar nie.

Salig-nostalgies klim ek in my motor, vol mooi gedagtes en soete herinneringe aan ons ou Goudveld-dae. En ek jok nou nie vir julle nie – met Welkom in my tru-spieëltjie, nèt so anderkant Virginia duskant Brandfort, oppad Bloemfontein toe…. toe kry ek weer so ‘n effense brandgevoel hier oor my boude rond …

*

  • Henning van Aswegen