Dead HorsePerd van ‘n ander kleur

Dit was laat-winter in die pragtige Vrystaat en ‘n paar mismoedige wolkies hang laag oor die horison, net bokant Mossieman se kop en Geronkie die Donkie se twee groot ore.  Die twee oū vriende sit onder ‘n melankoliese wilgeboom langs die magtige Sandrivier en treur oor Mossieman se perd wat dood en tans oorlede is.

“Wat het met jou perd gebeur?” vra Geronkie simpatiek en sit sy donkiepoot sag om Mossieman se vlerkie.  Mossieman kyk half bedruk af grond toe en pink so nou en dan ‘n traan met sy pienk sneesdoekie weg.

“Ag Geronkie, my perd het doodgegaan, lepel in die dak gesteek, lang bome toe.  Ek dink hy is van ouderdom dood.”

“Hoe weet jy dit?” wil Geronkie weet.  “Ek bedoel van die ouderdom, nie dat jou perd dood is nie?”

“Hy het vreeslik baie plooie en kreukels gehad,” snik Mossieman.  “Ek moes hom amper begrawe.”

“Hoeveel kos dit om so ‘n dooie perd te begrawe, Mossieman ?”

“So vyftig rand,” antwoord Mossieman bewoë.

“Dis nou ‘n perd van ‘n ander kleur,” dink Geronkie verlig.  “Ek is baie bly ek is ‘n donkie en nie ‘n perd nie.”

“Hoekom ?”

“Nee, ek dink dit is goedkoper om ‘n oorlede donkie te begrawe as ‘n dooie perd.”

“Ja, dis waar,” sê Mossieman.  “Mens moenie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie.”

“Hoe het jy die geld bymekaargemaak vir jou perd se begrafnis, Mossieman ?”

Mossieman skuif sy mus oor sy oë en bêre sy pienk sneesdoekie in sy knapsak.  “Ek het ‘n plan gemaak, soos ‘n Vrystaatse boer.”

“Mossieman,” maan Geronkie agterdogtig, “jy kan nie tè slim planne maak met ‘n dooie perd nie.  Wat het jy aangevang?”

“Ek het hom verkoop.”

“Het jy jou dooie perd verkoop ?”

“Ja,” sê Mossieman, “teen vyf rand ‘n kaartjie.”

“Vyf rand!  Soos ‘n lotery by ‘n kerkbasaar?”

“Amper so iets,” mompel Mossieman en hy vryf met sy linkerpoot oor sy regterwang.

“Wat het jy gedoen?”

“Ek het my perd uitgeloot en kaartjies aan almal verkoop.  Teen vyf rand ‘n kaartjie.”

“Vir ‘n dooie perd?”

“Ja.”

“Maar mense gaan baie kwaad vir jou wees as hulle uitvind dat jy lotery-kaartjies verkoop om ‘n dooie perd te wen.”

“Maar die mense wat die kaartjies koop, weet mos nie die perd is dood nie.”

“Eish,” se Geronkie en kyk so skuinsweg na Mossieman, vol bewondering vir sy slimmigheid.  “Dis waar.”

“En hoeveel kaartjies het jy nogal aan die mense verkoop, Mossieman ?”

“So duisend rand s’n,” sê Mossieman en hy sit selfvoldaan agteroor.

“Jô!  Nou het jy ‘n duisend rand in jou sak!” sê Geronkie bewonderend.  “Jy het ‘n duisand rand wins gemaak.”

“Nee, net R 995.”

“Hoekom ?”

“Een ou het sy geld kom terugvra en ek het hom sy vyf rand teruggegee.”

“Net een ou?” vra Geronkie agterdogtig en lekker nuuskierig.  “Watter ou?”

Mossieman lag te lekker.  “Die ou wat die perd gewen het.  Hy was bietjie ongelukkig omdat die perd dood was.  Toe gee ek vir hom sy vyf rand terug en sê hy kan maar die perd hou.  Hy moet net vir die perd ‘n ordentlike begrafnis gee.”

  • Henning van Aswegen