Professor en die dowe Kakkerlakkie
Professor en die dowe kakkerlakkie

ʼn Kakkerlak is ʼn eienaardige bruin-swart goggatjiewat wat vir baie mense bietjie grillerig is. Hy hou van donker plekke, hardloop vinnig oor die kombuis se vloer en kan vir ʼn hele maand sonder kos en water klaarkom! ʼn Kakkerlak se brein sit nie in sy kop nie, maar in sy lyf en hy is ‘n baie goeie swemmer omdat hy sy asem langer as dertig minute onder die water kan ophou. Regtig.

Eendag, in die onlangse verlede, kyk ʼn geleerde professor in sy laboratorium by Kovsies (ʼn beroemde Afrikaanse universiteit net Noord van die magtige Oranjerivier in die pragtige Vrystaat), na ʼn kakkerlak wat op sy tafel sit. Die professor het rooi-grys hare, ʼn ronde knypbrilletjie wat op die punt van neus sit en ʼn belangrike groot wit jas. Om sy nek dra die professor ʼn stetoskoop, wat hom baie vernaam laat lyk en hom help om sy studente en die proefdiere in sy laboratorium beter te kan hoor.

“Nou ja,” sê die professor vir sy assistant wat ʼn groot swart bril dra, “kom ons kyk hoe intelligent hierdie kakkerlak is.” Die Professor het êrens gehoor dat kakkerlakke baie slim is, selfs slimmer as springkane en muise en studente.  Hy loer vir kakkerlak deur sy vergrootglas en die kakkerlak loer met sy groot oë terug.

“Hierdie kakkelakkie is darem baie lelik, professor,” gooi die assistent, wat self bietjie na  ʼn kakkerlak sonder ʼn bril lyk, ʼn stuiwer in die armbeurs.

Die kakkerlakkie het sulke groot ogies wat beide kante toe gelyk kan kyk en hy bekyk die professor nuuskierig. As ʼn mens of ʼn geleerde professor of ʼn kakkerlak deur ʼn vergrootglas kyk, lyk alles aan die ander kant groter en belangriker.

“Reg,” sê die professor, “ons is gereed vir die eksperiment!” Versigtig trek hy een van kakkerlak se bene af en gooi hom in die asblik. “Spring!” beveel hy.

Die kakkerlak het vyf van sy ses bene oor, maar hy spring sommer hoog die lug in toe die professor die bevel gee.

“Sjoe,” sê die professor beindruk, “dit is darem nou ʼn slim kakkerlak! Selfs met vyf bene spring hy lekker hoog die lug in.” Die professor ʼn aantekening met sy griffel op sy lei.  “Sonder een been is kakkerlak nog steeds ʼn baie gehoorsame en slim insek.”

Die professor loer weer deur die vergrootglas na die kakkerlak en sit sy stetoskoop op die kakkerlak se hart. Kakkerlakkie se hart klop woes van al die moeite en inspanning om so hoog in die lug in te spring.

“Reg, volgende stap” sê die professor en hy trek nog een van die kakkerlak se bene af en gooi hom in die asblik. “Spring!” beveel hy weer.

Kakkerlak het nou net vier bene oor, maar hy spring sommer weer hoog in die lug, net soos ʼn  Olimpiese hoogspringer.

Die professor is baie beïndruk. “Dit is ‘n baie slim kakkerlak hierdie. Twee van sy bene is in die asblik, maar hy spring sommer nog hoog in die lug in.”

Weer maak die professor ʼn aantekening met sy griffel op sy lei. “Sonder twee van sy bene, is die kakkerlak nog steeds ʼn baie slim en gehoorsame insek.”

Die professor se assistant loer na die kakkerlak wat op die tafel sit. Hy weet darem nie so mooi nie – dit lyk nie vir hom of die kakkerlak so hoog spring nie. Trouens, vir hom lyk die kakkerlakkie bietjie vodde.

Kakkerlakkie loer terug na die professor en sy assistent, vir hom lyk hulle sommer kleiner as die vergrootglas nie naby is nie.

“Reg, volgende stap” sê die professor en hy trek sommer nog twee van die kakkerlak se bene af en gooi hulle in die asblik, “Spring!”

Kakkerlak het nou net twee van sy ses bene oor, maar hy spring weer, hoog in die lug.

“Gedorie,” sê die professor verbaas, “die kakkerlak is so slim dat hy met net twee bene oor, nog na my luister. Kyk net hoe hoog spring hy met sy twee oorblywende bene.” Die assistant is net so beïndruk, hy het ook nog nooit so ʼn  slim kakkerlak gesien nie.

Die professor griffel weer op sy lei: “Al het ʼn kakkerlak nog net twee bene oor, is hy steeds  ʼn gehoorsame en slim insek. Hy spring sommer baie hoog, elke keer as ʼn opdrag aan hom uitgereik word.”

Versigtig staan die professor weer nader. “Reg,” sê hy, “kom ons kyk wat gebeur” en hy trek die kakkerlak se laaste twee bene af en gooi hulle in die asblik.

“Spring!” sê die professor vir die been-af kakkerlak. “Spring!”

Maar die kakkerlak doen niks nie. Hy sit net op die tafel, sonder enige van sy bene en hy loer vir die professor in sy wit jas en die assistant met sy groot swart bril.

Moeisaam haal die professor sy stetoskoop uit en luister na die kakkerlak se hart.  “Nee-wat,” merk die professor op, “sy hart klop nog steeds lekker hard en vinnig, hy is glad nie dood nie.”

Kakkerlakkie sit doodstil op die tafel. Hy het nie meer bene nie, maar sy groot oë kyk die hele tyd vir die Professor met sy wit jas.

“Spring!” probeer die professor weer vir die kakkerlak sonder enige bene, “Spring!”

Niks gebeur nie. Die kakkerlak sit doodstil op die tafel en loer vir die professor. Die professor loer radeloos terug en toe geen hy maar vir kakkerlakkie bietjie kos om te eet.

“Aha!” sê die professor vir sy assistant, “nou weet ek, nou weet ek!”

Versigtig maak die professor sy griffeltjie skerp om ʼn aantekening op sy lei te maak.

‘Gevolgtrekking,’ skryf hy noukeurig, ‘as jy al ses ʼn kakkerlak se bene aftrek, word hy doof.”

*