Boots

Liewe Pa en Ma

Ek verlang so ‘n bietjie hier in die Army na julle en skryf maar vir julle ‘n briefie.  Ek hoop dinge gaan goed op die plaas en dat my troetel-bulkalf, Groskopf, nog gesond is.  En hoe gaan dit met my boerboel Goebels ?  Wanneer laas het hy iemand gebyt?  Onthou asseblief om hom nie meer lewendige hoenders te voer nie, hy is nie meer ‘n babatjie nie, julle moet nou vir hom ganse gee.

Dis ‘n baie lekker lewe dié in die Army; ons mag elke oggend tot ses-uur in die bed bly en ek hoef nie drie-uur  op te staan om die koeie te melk soos op ons plasie in die Vrystaat nie.  Ek slaap baie lekker en warm hier, maar hier is baie sulke sagte mannetjies van Johannesburg af wat nog nooit van strooikussings gehoor nie.  Ek hoef ook nie elke oggend vroeg vuur te maak om die kamer warm te hou nie.  Voor brêkfis moet jy net jou kooi opmaak, jy hoef nie die varke kos te gee en die kraalmis in sakke te gooi nie.  Ek moet sê, partykeer kry my tone koud in die oggende, hier is nie juis vars warm kraalmis om hulle in te wikkel nie.

Ons moet elke oggend skeer (Weermag-reëls), maar dis nie so sleg nie, want hier is baie warm water en ek hoef nie eers ’n donkie te stook nie.  Die kos is baie snaaks, hulle gee vir jou goed soos vrugtesap, roosterbrood, eiers en spek, maar niks vetkoek, melktert of koeksisters nie.  Ons gaan stap lekker en gesellig en gesels die hele tyd.  Die sersant (wat maar bietjie meisie-agtig is), sê dit is om ons sterk te maak, maar dit is meer soos ‘n agtermiddag-wandeling.  Die roetemarse is nie so vêr nie, net so vyftig kilometer op slag. Die ander troepe hier se voete word gou seer, dan ry ons maar in trokke terug kamp toe en dan hulle gee vir ons nog gekookte kos vir aandete ook.

Hulle gee die hele tyd hier vir my medaljes vir skyfskiet, weet nie eintlik hoekom nie.  Die kolskoot is so groot, mens kan dit nie mis nie.  Dit is nie asof dit ‘n meerkat se kop op 300 meter is nie – die ding beweeg nie eers nie!   Jy hoef ook nie jou eie patrone te slaan nie, hulle gee sommer hier vir jou patrone in bokse.  Die teikens skiet ook nie met lewendige patrone terug soos daai stout Venter-seuntjies op die plaas langsaan nie.  Die gewere wat ons hier kry, is sulke klein-kaliber goedjies, ‘n R-enetjies of so iets.  Nie naastenby so lekker en akkuraat as die bazookas op die plaas waarmee ons die bobbejane deur die mielielande jaag nie.

Ons doen ook gevegte (hand-to-hand combat) en stoei om ons voor te berei vir oorlog. Ek is maar versigtig met hoe ek hierdie dorpsoutjies hanteer – ek het nou-die-ander-dag een se arm gebreek.  Hy was nou nie juis so taai soos ou Duiwel, daardie norse bul in die Bo-kamp op die plaas nie.  Ek onthou nog goed hoe ek hom verlede winter moes platdruk vir sy klem-in-die-kaak inspuiting.

Die sersant hier is ook maar n bietjie van ’n sissie, hy het niks daarvan gehou toe ek n paar wheelies met die Saracen-tank gegooi het nie.  Het pa geweet daai tank se kanonloop kan 360˚ grade in die rondte swaai?  Pa moes sien hoe hardloop hierdie klomp troepe om skuiling te soek as ek dit doen.

Nou ja, stuur groete vir daai boeties van my asseblief.  Moet asseblief nie dat hulle uitvind hoe lekker die Army is nie, anders wil hulle ook hiernatoe kom.

Liefde en groete aan almal op die plaas.

Jul verlangende dogter

Hestertjie

*