Vlerrie
Vlerrie Vlermuis – die vlieënier

In die pragtige Vrystaat is daar baie magtige riviere en beeldskone mere en blou waterstrome en loweryke wilgebome en geil mielielande waar baie veldmuise bly. Die veldmuise hardloop almal in die mielielande rond en eet ou mieliestronke en mieliepitte wat agtergebly het nà die oes. Partykeer los van die boere selfs die mieliestronke in die lande nà, net sodat die veldmuise en vlermuise kos het om te eet.

Nie so lank gelede nie, sit daar eendag twee aanvallige meisie-veldmuise langs die Aldam en eet hul  sappige mieliestronke. Die Aldam is naby Bethlehem in die Oos Vrystaat en sò mooi dat mense van heinde en verre gekom het om na die blou water te kyk. Die twee meisie-veldmuise was jonk en pragtig, met linte in hulle hare en die mooiste rokkies, pienk en rooi. Die een veldmuis-meisie se naam was Meisie en die ander een se naam Muisie.

“Ag, die Vrystaat is darem sò mooi nà die reën,” sug Meisie.

“Die Vrystaat moet darem die mooiste plek op aarde wees wat deur Liewe Jesus geskape is,’ beaam Meisie. “Die Vrystaat is selfs mooier as ʼn mieliestronk wat nog al sy pitte het.”

“Die Vrystaat is mooi,” stem Muisie saam terwyl sy ‘n mieliepit middeldeur byt, “maar my nuwe kêrel is mooier.”

“Rêrig? Spog jy nie maar nou net nie? Het jy dan ʼn kêrel? Het jy dalk ‘n foto van hom?”

“Ja, regtig,” beaam Muisie, “my kêrel is baie mooi.  Mooier as mooi. Te aantreklik vir woorde.”

Skamerig haal Muisie ‘n foto van haar muiskêrel uit haar beursie uit en wys dit vir Meisie die prentjie.

Op die foto is ‘n forse seuntjie-muis met donker-swart strepe oor sy breë bruin skouers. Oor sy skouers is ‘n elegante manèl. Lank en statig en deftig staan hy daar.

“Sjoe, maar hy is nogal aantreklik!” bloos Meisie. “Kyk sy mooi winterjas!”

“Dit is nie ʼn winterjas nie, Meisie,” sê Muisie verontwaardig, “dit is sy vliegpak en sy valskerm. My kêrel se vliegpakkie is swart en bruin en die strepe loop van bo tot onder, amper net soos ʼn regte valskerm.”

Die twee meisiemuise kyk stip na die foto en bewonder die mooi kêrel van hoek tot kant.

“Maar Muisie, weet jy wat? roep Meisie verbaas uit. “Dis nie ʼn seuntjie-muis nie! Dit is ʼn vlermuis!”

“ʼn Vlermuis?”

“Ja man, Muisie! Vlermuise het mos sulke strepe oor hulle rue!”

Geskok gryp Muisie die foto terug en kyk stip daarna. Dit is waarlik ʼn foto van ʼn vlermuis.

“Die klein karnallie!  roep sy onthuts uit. Hy vertel my die hele tyd hy is ʼn vlieënier! En ek het hom geglo. Die stouterd!”

“Ag, shame, Muisie,” troos Meisie en sit haar pootjie om Muisie se nek. “Moenie stres nie.  ‘n Vlermuis is ook ʼn soort muis, net soos ons. Hy het net vlerkies aan.”

*