Vrystaatse plaas
Die pragtige Vrystaat, waar die tafste manne in die wêreld vandaan kom (Belinda van Aswegen)

Vrystaters is die tafste manne in die hele wêreld

“Pa,” vra klein Benno, “is dit waar dat Vrystaters die tafste ouens in die hele wêreld is ?”

“Ja, dis waar ja,” sê Benno se pa Calla, terwyl hy sy geelperske met ‘n sekel afskil. “Ek kom self van die Vrystaat af.”

“Vertel, Pa, vertel die storie, net voordat ek gaan slaap!” Benno knip sy ogies ‘n paar keer en hy gee ‘n làààng gaap, maar hy wil eers sy storie hoor voordat hy droomland toe gaan.

“Nou ja,’ vertel Benno se pa, “in die ou dae in die winter voor skool het ons nie warm water gehad om te bad nie. Ons het sommer so in die koue yswater gebad, voor ons skool toe is.”

“Maar Pa, is dit nie baie koud in die ysbad nie ?”

“Nee wat, daardie dae was daar nog nie baddens in die Vrystaat nie, ons het voor skool in Virginia se plaasdam gebad.”

“In die plaasdam ?”

“Ja, die dam was net so vyf kilometer van ons plaashuis af en ons het sommer gou elke oggend voor skool soentoe gedraf. Dan is ‘n man lekker warm as jy daar by die dam aankom.”

“Maar Pa, dit klink vir my baie koud,” bibber klein Benno.

“Nee ag, dit was nie so koud nie, ons het net eers gou die ys op die water van die plaasdam met ons elmboëe gebreek. Dan het ons gebad en ‘n paar lengtes vlinderslag gedoen om op te warm vir die dag wat voorlê.”

“En het pa-hulle gewas met seep ?”

“Nee, daardie dae was daar nog nie seep in die Vrystaat nie, ons het sommer mieliestronke gebruik om die vuilgoed af te skrop, net so voor ontbyt. Dan het ons so bietjie bokvet aangesmeer sodat ons lyfies mooi kon blink.”

“Wat het pa-hulle vir ontbyt geëet ?” vra Benno groot-oog.

“In die ou dae in die Vrystaat was daar nog nie poustousties en raaiskripsies nie.  Ons het sommer skaapappeltjies, untjies en biltong vir ontbyt geëet. En ons het koffie gedrink, sommer baie koffie. Ons Vrystaters het koffie uitgevind.”

“Ai Pa, regtig?”

“Ja, natuurlik, het jy nog nooit van koffiebone gehoor nie? Ons het sommer boontjies ook uitgevind.”

‘Dis darem baie indrukwekkend, Pa,’ sê Benno, verstom met die Vrystaters se vernuftigheid.

“Ja, en voordat iemand die naam koffie uitgedink het, het ons koffie in die Vrystaat boeretroos genoem.’

“En as pa-hulle klaar in die ysdam geswem het en klaar boeretroos gedrink het, gaan pa dan skool toe ?

“Ja, ons het baie vinnig aangetrek, klere en kouse en skoene alles saam.”

“Het al die kinders dan al skoene gehad ?”

“Nie almal nie, “ sê Benno se pa en vryf met sy hand oor sy kuif, “net die kinders met duimdrukkers.”

”Duimdrukkers? Hoekom duimdrukkers Pa, wat is duimdrukkers ?”

“Dit is daai goedtjies wat mense gebruik om papiere teen die bord vas te speld. So ‘n ronde dingetjie met ‘n skerp puntjie.”

“Duimdrukkers ?”

“Ja, daardie dae was daar nie rekke om ons kouse bo te hou nie. Ons het sommer die kouse met duimdrukkers aan ons bene vasgespyker vir die dag. Dan val hulle nie af nie.  Maar meeste kinders het nie skoene of duimdrukkers gehad nie.”

“Was dit nie seer nie Pa?” vra Benno benoud.

“Nie so seer soos dryfings speel nie.”

“Dryfings ?”

“Ja, dryfings. Jy skop die bal van die een kant van die rugbyveld tot by die ander kant.  Die ou wat die verste skop wen.”

“Met ‘n rugbybal ?”

“Nee. Daardie jare was daar nie rugbyballe in die Vrystaat nie, ons het dryfings met golfballe gespeel. Ons het hulle so oor die huise se dakke vir mekaar geskop.”

“Eina!” sê Benno en hy hou sy kaal voete onder die kombers vas. “Was dit nie baie seer nie ?”

“Nèèè-wat,” sê pa Calla,” die manne in die Vrystaat is taai en jou kaal voete raak gou aan die golfballe gewoond.”

“Ag nou jok Pa,” sê-vra Benno slaperig.

“Nee, dis ‘n ware liegstorie. Nadat ons klaar dryfings gespeel het, het ons gou ‘n paar slange gaan vang.”

“Watse slange Pa?”

“Palings, geelslange, anacondas en luislange, ʼn paar pofaddertjies. Die luislange was die beste.”

“Omdat hulle lui is?”

“Ja, sê pa Calla en vryf  Benno se hare deurmekaar. “Sien, jy is ʼn regte slim Vrystaatse seun. Ons het nie leer-gordels gehad om ons broeke bo te hou nie, toe gebruik ons die luislange as gordels.”

“Luislange ?”

“Ja, want hulle het lekker stil gelê en nie baie beweeg nie. Jou broek het die hele dag bo gebly. Dit was effens moeilik as die luislange wakker geword het en honger was, want hulle begin kos soek.”

“Wat het pa-hulle dan gedoen ?”

“Ag, Benno my seun, dit was maar net Vrystaatse luislange. Ons het vir hulle bietjie melktert gegee om te eet en dan het hulle die res van die dag stil en tevrede gelê. In die middag as ons by die huis kom, het ons die slange weer in die bos gaan gooi sodat hulle bietjie kan rondseil en dan vang ons hulle weer die volgende dag.”

“Ai Pa,’ sug Benno vakerig, “ek weet Vrystaters is taai, maar nie sò taai nie. Maar ek weet nie of ek al Pa se stories moet glo nie.”

“Nee, net die helfte is liegstories, my seun,” sê Calla. “En die ander helfte van die stories is nie waar nie. Lekker slaap, my seun.”

˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚˚

– Henning van Aswegen

*