Print
Saalsak, Meelsak en Appeltjie-een-oog

Saalsak, Meelsak en Appeltjie-een-oog

Eendag, lank lank gelede, sit dominee Pikkewyn met al die kinders van die kinderkrans en gesels, onder ‘n groot ou groen-doringboom in die middel van die pragtige Vrystaat.  Dominee Pikkewyn skud sy deftige swart en wit manelpak reg, trek so ‘n paar keer aan sy geel strikdas en begin dan vir die kinders lees uit die Bybel, die stukkie van Daniël se vriende, Sadrag, Mèsag en Abednègo.

Die name is baie moeilik en dominee Pikkewyn sukkel bietjie om hulle uit te spreek.  Elke keer as hy praat, sit sy tong aan sy verhemelte vas en dan kom die woorde sommer krom by sy mond uit.

“Daar was vier Jode wat in vir koning Nebukadneser gewerk het en hulle name was Daniël, Gananja, Misael en Asarja,” vertel dominee Pikkewyn besadig. Die kinders kyk hom grootoog aan en van hulle probeer self die name verstaan, maar hulle sukkel so bietjie.

“Toe koning Nebukadneser vir Daniël en sy vriende aanstel om vir hom te werk, besluit die koning om vir hulle nuwe name te gee.”

“Maar hoekom moet hulle nuwe name kry, dominee Pikkewyn?” vra die kinders verwonderd. “Is hulle ou name nie goed genoeg nie? Het hulle te oud vir hulle name geword?”

“Nee, hulle name was maar net moeilik om te sê, toe kry hulle nuwe name by die koning.”

“Wat was hulle nuwe name, dominee Pikkewyn?” vra die kinders nuuskierig en hulle leun almal vorentoe om te hoor.

“Wel, Daniël se nuwe naam was Beltsasar, en Genanja se nuwe naam was Sadrag.”

“Sadra.., Sadra..” probeer die kinders sê, maar hulle sukkel om die name uit te spreek.  dominee Pikkewyn kan sien dat die kinders sukkel met die name en die uitspraak, want hulle tongetjies is nog klein.

“Ek sê julle wat!” Dominee skud sy vere reg en trek so effens aan sy geel strikdas.  ‘Kom ons speel ‘n speletjie en noem hom sommer Saalsak!”

“Saalsak, Saalsak!” lag die kinders. “Dit is sommer maklik om te sê en te onthou!”

Dominee Pikkewyn skud net sy kop en loer weer in sy Bybel. “Koning Nebukadneseer het Daniël se tweede vriend, sy naam was Misael, ook ‘n nuwe naam gegee.”

“Wat was sy nuwe naam dominee?” vra die kinders nuuskierig en hulle loer oor dominee Pikkewyn om ook in die die Bybel te lees.

“Mesag!”

“Meeesag, Mesag!” probeer al die kinders die nuwe naam uitspreek, maar hul tongetjies knoop en hulle sukkel om te sê.

“Ek sê julle wat,” sê dominee Pikkewyn en wikkel weer so effens met sy stert en aan sy geel strikdas. “Kom ons noem hom sommer Meelsak!”

“Meelsak! Meelsak!” jil die kinders van lekkerkry. “Nou ken ons twee van Daniël se vriende se nuwe name. Saalsak en Meelsak!”

Dominee Pikkewyn glimlag en lees verder in die Bybel. “En koning Nebukadneser het ook aan Daniël se derde vriend Asarja ‘n nuwe naam gegee.”

“Wat was sy nuwe naam, dominee?” vra die kinders. “Ons het nou al van Saalsak en Meelsak gehoor, was Asarja se nuwe naam ook ‘n sak?”

“Nee,” skud dominee Pikkewyn sy kop en sy swart manel gelyk en hy trek sy geel strikdas reg. “Sy nuwe naam was Abednègo.”

“Abed.. Abed.. nege..” sukkel die kinders met die nuwe naam. “Ag dominee,” smeek hulle, “ons sukkel so met die naam, kom ons gee hom ook ‘n mooi nuwe naam.”

Dominee Pikkewyn skud sy kop op en af. “Goed,’ stem hy in, “wat sal ons Abednègo se nuwe naam noem?”

“Appeltjie!” jil die kinders almal gelyk. “‘Appeltjie-een-oog!”

Dominee Pikkewyn lag te lekker, uit sy magie uit. “Goed kinders, ons noem vir Abednego van nou af Appeltjie, Appeljtie-een-oog.”

Dominee Pikkewyn kyk in sy Bybel en hy lees verder. “Terwyl Daniël in die paleis van die koning gebly het, het hy vir Sadrag, Mesag….. ag ek bedoel Saalsak, Meelsak en Appeltjie-een-oog, in beheer van die provinsie Babel geplaas. Maar, daar was een groot probleem, nie een van die mense wat in Babel gebly het, het dieselfde taal gepraat nie.”

“Is dit waar die Babelse verwarring begin het, Dominee?” vra die kinders vewonderd.

‘Nee, hulle het maar net vir die koning gewerk. Maar toe bou die koning ‘n standbeeld van klip en hy sê vir al die mense op die klip te aanbid. Saalsak, Meelsak en Appeltjie-een-oog het geweier om voor die standbeeld klip te buig en toe sê die koning dat hulle in ‘n groot vuur gegooi moet word.”

Bangerig kyk al die kinders na dominee Pikkewyn. “Waar was die vuur, dominee?”

“Die vuur was binne-in ‘n groot oond. Saalsak, Meelsak en Appeltjie-een-oog het vir die koning gesê hulle in is kinders van die Here en hulle gaan nie voor ‘n klip standbeeld buig nie.  Hulle buig net voor Liewe Jesus.”

“Wat gebeur toe, dominee?”

“Die vuur was baie warm en toe gooi die soldate vir Daniël se drie vriende binne-in die vuur.”

Al die kinders snak na hulle asem. “En wat het met hulle in die vuur gebeur?”

“Niks nie!”

“Het niks met hulle gebeur nie?”

“Nee, die vuur het hulle nie eers gebrand nie, want Liewe Jesus het hulle beskerm!”

“Hoe het Liewe Jesus dit reggekry, dominee? vra die kinders angstig. Hulle wil so graag meer van die storie van Jesus hoor en wat met Saalsak, Meelsak en Appeltjie-een-oog in die groot vuur gebeur het, dat hulle almal sommer gelyk vorentoe leun.

Dominee Pikkewyn trek sy geel strikdas reg en fluister saggies vir die kinders. “Daar was ‘n Engel wat deur Jesus gestuur is, in die vuur. Die skare mense wat om die vuur gestaan het, het gesien hoe die Engel binne-in die vuur rondbeweeg om die vlamme van Daniel se vriende weg te hou.”

“En die soldate van koning Nebukadneser?”

“Hulle het verbrand, want die vuur en die vlamme en die hitte het hulle oorweldig.”

“En koning Nebukadneser?”

“Toe hy sien wat gebeur, was hy baie beïndruk met Saalsak, Meelsak en Appeltjie-een-oog. Hy het hulle onmiddellik vrygespreek. Daarnà het hy hulle as beamptes aangestel en hulle het die res van hulle dae in vrede gewoon.”

“Net omdat hulle kinders van Jesus was?” vra die kinders verwonderd en kyk met groot oë na Dominee Pikkewyn.’

“Nee,” sê dominee Pikkewyn en trek sy geel strikdas reguit, ‘ nie net omdat hulle kinders van Jesus was nie.”

“Hulle is uit die vuur gered, juis omdat hulle kinders van Jesus was.”

Die kinders was baie bly dat Saalsak, Meelsak en Appeltjie-een-oog nie in die groot vuur verbrand het nie en hulle het sommer, net daar onder die groot ou groen-doringboom in die middel van die Vrystaat, vir dominee Pikkewyn hande geklap.

*