Israel – die beloofde land

  • Henning & Belinda van Aswegen

Die indrukwekkende, ultra-moderne David Ben Gurion-lughawe[i] is ongeveer halfpad tussen Tel Aviv en Jerusalem en dit is waar die meeste Suid-Afrikaners se besoek aan Israel begin. Ons vlug op El Al vertrek laat die aand, so een uur, uit Johannesburg en ons land Dinsdagoggend 13 Maart 2017 so 7:30 vroeg-oggend. Ná ‘n bietjie soek kry ons ʼn trem na Tel Aviv se Ha’Haganah stasie waar ons ‘n lekker Israeli-koffie en baguet geniet. Ons spring op die bus na Tiberias langs die See van Galilea en kyk opgewonde na al die tonele om ons – ons is in die Beloofde Land!

  IMG_0770 IMG_0774

Verstommend om te sien hoe modern en ontwikkel Israel en veral Tel Aviv is, met duisende hoë woonstel- en besigheidsgeboue al langs die Middelandse See. Maar tussen-in is ook ou geboue wat mens die indruk gee dat Tel Aviv-Yafo eens ‘n Arabiese dorp was. Ons ry rigting Libanon en die Golan hoogtes[ii] – dorpie na dorpie het moskees met minorettes, wat wys dat daar totale godsdiensvryheid in Israel is. Hoeveel sinagoges word in Mekka, Aman of Demaskus toegelaat?).

Die Jordaan-rivier, wat basies Noord-Suid vloei, se oorsprong is in die Hermon berge, op die grens van Libanon en Sirië vanwaar hy Suid vloei na die Huleh-meer, daarna oor die grens  na Israel en Galilea.  Die Jordan-rivier loop deur die See van Galilea en dan Suid (so 250 km) waar hy in die Dooie See invloei, en ook daar ‘doodgaan’. Israel en die Wes Bank is op die Westelike oewer van die Jordaan, terwyl Sirië, die Golan- hoogtes en Jordanië onderskeidelik Noord en Oos lê.

Noord-Suid, Oos-Wes

Israel is geografies maar ‘n klein landjie, slegs 425 kilometer lank en 115 kilometer in deursnee.  Mens moet nog die Gaza-strook en die Wes Bank, wat deur die Palestyne beheer word, van hierdie grondgebied aftrek om ‘n idee te kry van hoe klein en kwesbaar Israel is.  Die land word omring deur vyandiggesinde Arabiere wat nie die wetstatus en staat van Israel wil erken nie.  Gaza, op Israel se Wesgrens en teen die Middelandse See, verleen huisvesting aan die terroristegroep Hamas, en net Noord van Gaza is Libanon, wat weer die Iran-gesteunde Hezbollah-groep insluit. Ek was al in Libanon en Malta in die jare wat ek in Frankryk gewoon het – die politiek, godsdiens, lewensbeskouing en kultuur daar verskil reëlreg en drasties met Israel op Libanon se Suidelike grens.  Mens vergeet gou-gou dat Israel die enigste konstitusionele demokrasie in die Midde Ooste is.

  • Israel, Gaza, Egipte in die Suid-Ooste, Libanon, Sirië en Jordanië is geografies baie, baie naby aan mekaar.  Met ons reis in Israel het ons agtergekom dat dit baie maklik is om die hele land in een dag per motor van Noord na Suid te deurkruis.  Van Oos na Wes ongeveer ‘n halwe dag.

Tiberias / See van Galilea

In Terberias reën dit bietjie, maar ons stap sommer van die bushalte na ons blyplek by die Bridge for Peace.  Ons gooi tasse neer en verken die dorp wat baie groter is as wat mens dink.  Ons koop vis en groente en goeters om te eet, lieflike tamaties en rosyne en brood.  Die Jode en Palestyne woon deurmekaar in Tiberias, in vrede en ons sukkel om tussen Joodse en Palestynse winkels te onderskei.  Vervaardigde produkte uit Europa is baie duur, maar vrugte en groente, en veral vis uit die See van Galilea, heel bekostigbaar.

 IMG_0787 IMG_0790

Maart-maand is veronderstel om winter in Israel te wees (Noordelike halfrond), maar dit is heerlike buite, 25˚, en die son skyn sag op die antieke heuwels waar Jesus gepreek en met sy dissipels geloop het.  Ons stap af na die See van Galilea toe, langs duisende klein Joodse en Arabiese winkeltjies, stegies en markies verby en klim noodgedwonge oor ‘n reëling, en ons hou nagmaal met ons eie wyn en brood langs die water.  God se rustigheid en wysheid en teenwoordigheid spoel saggies oor jou uit die mistigheid wat op die See lê[iii] – die lae spierwit wolke laat jou besef dat dit ‘n spesiale en godsdienstige plek is, ‘n spirituele oase.  Dit is ook ‘n antieke en gewyde plek – indrukwekkend en histories en dit lyk bloot of Jesus en sy dissipels enige oomblik oor die groen heuwels af na die water toe kan stap.  Die heuwels om die See van Galilea is hoog, spits, nie maklik om te klim nie en dit lyk of van die heuwels nogal gevaarlik kan wees as jy van die onderkant (Tiberias) na bo klim.

See van Galilea

Die ou stad van Tiberias is deels omring deur ‘n antieke muur, tempels en kerke wat stuk-stuk deur die Romeine, Grieke, Ortodokse Russe en die Kruisvaarders van die 18de eeu gebou is.  Die Jode bou eenvoudig nuwe en ander geboue rondom die ou mure en alles vloei soomloos in mekaar.  In die ou stad van Tiberias is daar ‘n gemengde Joodse en Palestynse markie met ‘n oorvloed van vrugte en groente en ‘halva’, ‘n lekkerny wat net in die Israeliese winter gemaak word.  Ons eet ‘croissants’  en koffie vir ontbyt by ‘n straatkafee naby die markie en verkyk ons aan al die voetgangers waarvan die meerderheid maar redelik lelik is.  Belinda eet ‘n lemoen wat sò vars is, die blare is nog aan die takkie.

 IMG_0795 IMG_0798

Die aand eet ons by ‘n Arabierse restaurant die beroemde St Peter’s Fish met wyn en pita-brode, dieselfe vis wat Jesus en sy dissipels aan die skare-menigde gegee het toe Hy die broodjies en visse verdeel het.  Die ete is verskriklik duur, 146 shekkels sonder fooitjie, wat min of meer R 480 is.  Ná ons ete stap ons deur Teberias se nuwe deel en sien ‘n kanon wat in 1948 gebruik is met die totstandkoming van Israel as ‘n soewereine staat.  Diè kanon is gebruik om Tiberias van die Arabiere te bevry en deel van Israel te maak.  Vandag is Tiberias, net soos Jerusalem, ‘n gemengde, geïntegreerde stad met sy eie reuke, unieke kultuur, geraas, gevoel, eetkos, gewoontes en eetplekke.  Tiberias is ‘n mengelmoes van teenstrydige kulture, gebare en tale – en tog lyk dit of die hele lotjie vandag in vrede met mekaar saamleef.

IMG_0801 IMG_0814

IMG_0838 IMG_0839

Donderdag 16 Maart 2017, Belinda se verjaardag

Belinda word 60, die hele doel vir ons besoek aan Israel (haar verjaardaggeskenk) en ons ry drie ure in die bus, verby die Golan-hoogtes op die grens met Sirië en al langs die Jordaan rivier aan die Suidekant van die See van Galilea.  Oral klim jong, swaar gewapende Isreali soldate op en af, mans en vrouens, party meisietjies lyk op hulle in Standard 6 is, maar elkeen het ‘n gelaaide Uzzi en ‘n Glock-pistool.  Verby Jericho en Bethlehem (vorige keer besoek) en verby die Dooie See, kom ons vroeg-middag in Jerusalem aan.  Jerusalem is ‘n reuse stad en ons kry regoorkant die bushalte ‘n trem al met Jaffa Road af.  Die Jode verwys na Yafo, maar Jaffa Road is die ou, antieke pad tussen Jaffa en Jerusalem.

 IMG_0856 IMG_0860

Ons eerste indrukke van Jerusalem is hoe groot die plek is, definitief nie ‘n dorpie nie.  Die mense en geraas is oorweligend, dit is ‘n moderne metropool rondom al die ou geskiedkundige plekke soos die Ou Stad.  Ons bly in die Abraham Hostel – daar is ‘n gesegde teen die muur geverf – ‘Abraham – the World’s First Backpacker.’ Oulik. Selfs Vladimir Putin blyk ‘n kroeg in Jerusalem te besit, nogal ‘n vreemde gesig, so ook van die tekens (in Engels) binne-in.

IMG_0864 IMG_0808

In ‘n wynwinkel aan die bopunt van Jaffa Road naby Ha’Davidka koop ons ‘n bottel Alon wyn en drink ‘n glasie op Belinda se 60ste verjaardag in Jerusalem. Ons sit sommer binne-in die drankwinkel en drink uit plastiek-glasies uit wat die eienaar, ‘n Jood van Marokkaanse oorsprong, vir ons gee.  Hy is, soos die meeste Israeli’s, Engels magtig.  Jerusalem is geensins ‘n homogene stad nie, maar ‘n smeltkroes van mense en tale en religiëe en godsdienste en gelowe – wel die oorsprong van alle gelowe, maar daarna vertak en verdeel die wat glo (in God en of gode of Jesus of nie), in duisend verskillende rigtings, elkeen met sy eie idee van wat reg of verkeerd is.

IMG_0848 IMG_0850

Belinda se verjaarsdagpartytjie bestaan net uit ons twee, in ‘n oulike restaurantjie in Jaffa Road, Hamotzi, met die mooiste eksotiese Marokkaanse musiek ooit. Die kelnerin praat Engels (haar pa ‘n Amerikaner, haar ma Persies) en vertel ons dit is ‘n Libanese-Joodse-Marokkaanse restaurant, wat dit ook al beteken, maar ons eet baie lekker en drink Alon wyn – Belinda blom op haar 60ste verjaardag in Jerusalem. Ons eet sampioene gevul met lamsvleis, rys met speserye en neute, ‘n varsgebakte witbroodjie met humus en Israeli slaai van komkommer, tamatie en fyngekapte soetwortels.

Net langs Hamotzi kry ons ‘n antieke boekwinkel, Holzer Books en die eienaar praat Engels, sê hy was al in Suid-Afrika.  Die gange is sò nou dat jy teen jou eie boude vasloop en daar is een Joodjie wat teen die krakende houtrap uit met sy voete in sy eie broeksakke trap.  Almal wat ons in Jerusalem teekom is vriendelik en ‘n vrou – Yada – van New York af, help ons met tremkaartjies koop.  In ‘n winkel wat Joodse religieuse artifakte (tallid’s/gebedserpe) verkoop, praat die eienaar oor Suid-Afrika se geskiedenis asof hy dit self geskryf het.

IMG_0865 IMG_0866

Vrydagoggend 17 Maart is daar ‘n kop-aan-kop botsing tussen ons en die Jerusalem marathon. Wie sou kon raai dat die hele Jerusalem se strate afgesluit word, insluitende die trem van Davidka Square na Jaffa Gate wat ons wou neem. Ons slaan voet, rigting Suid-Oos, al met Jaffa Road langs totdat ons by die Ou Stad van Jerusalem uitkom.  ‘n Veiligheidswag beduie ons moet deur Jaffa Gate stap in die Joodse kwartier in, rigting van die Kerk van Jesus die Verlosser (Church of Christ the Redeemer).

IMG_0875 IMG_0877

Reg langs diè kerk is die heelwat groter Rooms Katolieke Kerk (Church of the Holy Sepulchre), op die Villa de la Rosa roete en baie heilig vir Katolieke omdat hulle glo dit is waar Jesus begrawe is.[iv]

 IMG_0868 IMG_0873

Daar is 1000de winkeltjies, gehuggies, eetplekke, doolhowe, gangetjies, bakkerye en haarsallone wat deur Arabiese Jode, Palestyne, Druze Arabiere, Libanese, Grieke, Turke, Ethiopiërs en Armyne beman word.  Alles en almal is deurmekaar, vervleg, ineengestrengel en naeltjie-string vasgeketting aan mekaar.  Almal verkoop vrugte en groente, vasgedrukte grenaat-sap en brode, radyse so groot soos tennisballe, wortels groter as komkommers.

 

IMG_0867 IMG_0879

Langs mekaar, inmekaar – die musieke en klanke en reuke vermeng tot ‘n oorweldigende geraas van mense.  Daar is geen manier hoe jy kan onderskei tussen wie is wie nie, almal praat en beduie gelyk – dit is soos om die bestandele van koffie uitmekaar te haal.

Jesus se Tuingraf en Golgota

Ná baie stappery kry ons die Demaskus-hek en stap daaruit, onder oog van swaargewapende Israeliese soldate, rigting Sultan Suleiman-weg.  Ná ‘n soektog kry ons die ingang na die tuingraf in Shekhem-Nabulus Road, omring deur duisende Palestyne wat openlik onvriendelik en vyandig is.

                                Belinda by die Dung-hek, Ou Stad van Jerusalem

Die Ou Stad is verdeel in vier gelyke kwadrante of kwartiere – Joods, Armene, Moslems en Christene binne ‘n omtrek van omtrent een vierkante kilometer.  Daar is nege hekke wat oop is en daagliks gebruik word, maar ook ‘n aantal hekke wat permanent gesluit is.  Die maklikste hek om by die Tuingraf uit te kom, is die Demaskus-hek en die Olyfberg / Tuin van Gethsemain (Joodse spelling) is naby die Golden Gate / hek geleë.  Die trem ry egter net tot naby die Jaffa-hek en die Demaskus-hek – vernoem na die paaie wat eens na daardie twee stede gelei het.

Die Tuingraf

Die tuingraf van Jesus is in ‘n pragtige tuin geleë, asemrowend-mooi, ‘n oáse.  Ons loop eerste na Golgota waar Jesus aan die kruis gesterf het, daar is ‘n plek (‘dek’) om na Golgota te kyk, maar die Palestyne het ‘n busstop op ‘n deel van die steengroef gebou, aspris, gemeen en definitief daarop gemik om Jesus se voetspore uit te wis. Golgota is sigbaar, strak, lelik – ‘n plek van haat en onverdraagsaamheid.[v]

IMG_0882

Golgota (plek van die skedel)

Jesus se graf en die graftuin daarteenoor, is pragtig, mooi onderhou, slim uitgelê.  Daar is ook ‘n antieke put vir water en ‘n wynpars wat in die tyd van Jesus gebruik is – volgens die Bybel het die tuin en die graf aan ‘n ryk man, Josef van Arimatea, behoort en hy het vir Pilatus om Jesus se lyk gevra om te begrawe.  Die klip wat Jesus uit die mond van sy graf gerol het, staan langsaan, so swaar dat geen mens (met ‘n klein ‘m’), dit kan doen nie.

IMG_0883 IMG_0899

IMG_0896 IMG_0893

Die graf self is ‘n grot, in die muur en ons klim deur ‘n deur om daar te kom.  Die graf is agter tralies en ons neem baie fotos. Ek raak aangedaan en bid ‘n gebedjie, mens voel so klein en magteloos – maar Jesus se graf en die swaar grafsteen, wat reg langs die graf staan, is nie ‘n treurige plek nie. Reg bokant die graf is ‘n teken, ‘n Bizantynse kruis wat lyk of dit in bloed geskryf is, nie ek of Belinda weet wat dit beteken nie. Tussen die twee grafte ( dit lyk of daar ‘n dieper uitgrawing links is) is daar ‘n plat gedeelte en dan ‘n 2de holte regs.  Die graf self is laag en mens kan skaars regop staan. Ons vind later by ‘n kantoor van die Bybelgenootskap uit dat die C op die kruis bokant Jesus se graf Savior beteken (Redder, in die oorspronklike Grieks), die XC staan vir Christos, die plus of kruis vir Alpha en die W vir Omega.[vi]

Tuingraf

IMG_0884 IMG_0890

IMG_0889 IMG_0887

IMG_0891

Ons koop olyfkruise vir ons kinders en stap stil en bewoë van die graf weg, nie een van ons sê ‘n woord nie.  Ons is moeg en stap maar stadig, eers deur die Demaskus-hek, dan deur die Moslem-kwartier, toe deur die Joodse en Armeniese kwartiere om uiteindelik weer by Jaffa hek uit te kom.  Met die trem ry ons terug na Davidka Square en die Abraham hostel waar ons tuisgaan.

*Mense vra my baie hoe dit voel om Israel te besoek, die plek waar ons Verlosser aan die Kruis gesterf het, van so naby te beskou, die Tuingraf van Jesus te sien, in sy graf te staan ….. my antwoord maar altyd dieselfde.  Isreal verander jou gees – geen mens kom dieselfde daaruit as wat hy of sy daar ingestap het nie.

*

Laatmiddag stap on na die Mehaneh Yehuda-suq in Sentraal Jerusalem – ‘n reuse ope-lug mark net langs Jaffa Road, op die hoek van Kiach.  Dit is Vrydagmiddag vier uur, een uur voordat die Joodse Shabbat begin en die mark is chaoties.  Mens word oorweldig deur ‘n mengelmoes van mense en kulture en handelaars wat kliphard in allerhande tale, met gepaste bykomende gebare, skree, meesal op mekaar.

 IMG_0902 IMG_0906

  Ons koop kos vir Saterdag en ‘n Arabier verneuk ons die soveelste keer met ‘n stuk kaas se prys.  Die kaas-prys sê twaalf (12) shekkels, maar hy gryp ongeduldig en woedend ‘n ander stuk en skree negentien (19), maal drie is R 60, baie vir so ‘n klein blokkie cheddar.  ‘n Ander Arabier probeer ‘n koerant, die New York Times, vir amper R 50 aan ons te verkoop en die ou is lekker vies toe ek hom nie wou betaal nie.  Tydens ons besoek aan die Kerk van die Verlosser vra ons ‘n Arabier waar die toilette is, hy wil terstond $ 50 hê om ons te wys.  In die Ou Stad stop ‘n Arabier ‘n kaart in ons hande, ongevraag, en dring toe luid in Engels op een dollar aan.  Hoekom probeer die Palestyne jou die hele tyd verkul en verneuk?  Vir Suid-Afrikaners is Israel duur, met inbegrip van ons swak rand danksy ons korropsie-regering en mens moet mooi dink voordat jy iets koop.  Die formule 3.5 teen 1 werk nogal, m.a.w. as ‘n item tien shekkels kos, gee jy R 35 uit.

Saterdag 18 Maart: Shàbbat

Die stad is doodstil want Saterdag is die Jode se Shabbat en ons eet vinnig ontbyt voordat ons van die Abraham Hostel oortrek na die Little Jerusalem Hostel toe.  Aan ons tafel sit pelgrims van regoor die wêreld, van Moorse Christene wat in Spaans praat en Italiaans bid en ‘n Franse groep wat aanhoudend kwetter. Tipies Franse dink hulle dat niemand anders Frans verstaan nie en ek luistervink lekker hoe hulle kla oor die koue gekookte eiers en slegte koffie. Later stap ons stadig met Jaffa Road af na die Ou Stad toe, vandag gaan ons die klaagmuur besoek (die Westerse muur/’wailing wall’).

Olyfberg  Westerse muur  Temple Mount

Vanaf die Yaffa hek stap ons reguit met David Street (Koning David), deur die Armeniese kwartier met Suq El Razar straat.  Die hele pad van die Arabiere jou lastig, koop dit, koop dat en alhoewel dit vroeg-oggend is, kom ons baie Jode in hulle tradisionele drag tee wat terugkom van die klaagmuur af. Baie pa’s en seuns, maar min vroue. By die ingang van die klaagmuur is daar swaar sekuriteit en hulle konfiskeer ons bottel Alon wyn wat ons saamgebring het om by die klaagmuur nagmaal te hou (maar gee dit ná die tyd terug).  Interessant genoeg gebruik die Jode self nie die term klaagmuur nie, maar Westerse muur om die muur se konneksie aan die oorspronklike twee Joodse tempels aan te dui.  Klaagmuur is ‘n term wat sou aandui dat dit die plek is waar die Jode ‘huil’ of ‘kla’ oor die vernietiging van die twee tempels, maar die Jode self beskou die beskrywing klaagmuur as beledigend.

IMG_0914 IMG_0918

Ons stap af ondertoe na een van die heiligste plek in beide die Jode- en Christendom.  Die Moslem Temple Mount / Al Aqsa moskee is reg langsaan die klaagmuur en is duidelik sigbaar, albeit verbode vir Christene en Jode om binne te gaan.  Daarteenoor kan enige persoon die klaagmuur besoek, al wat die sekuriteit verwag is dat die mans ‘n ‘kippaˊ moet opsit, en die vroue kopdoeke. Daar is ware godsdiensvryheid by die klaagmuur en in Israel en almal is by die klaagmuur welkom.  Ons sien baie Jode van elke denominasie denkbaar, Ortodoks, Ashkenazi[vii], Sephardies en Messiaans, baie Amerikaners, Kanadese, Japanese christene, Indonesiërs, twee Christene uit Fiji – mense van die wêreld oor.

IMG_0919 IMG_0924

  Mans en vrouens word geskei, mans aanbid aan die linkerkant van die klaagmuur en dames regs.  Geen fotos word toegelaat nie en ook geen skrywery nie. Ons skryf skelm ons briefies en druk dit saam met miljoene ander in die klein gleufies in die muur. Die muur self is koud ten spyte van die son – ek sê ‘n gebed met my voorkop teen die yskoue, gladde muur.  Orals langs die klaagmuur is uitgrawings aan die gang na nog mure en verbindingstonnels tussen die Eerste en Tweede Tempels, langsaan en as’t ware the klaagmuur en die Al Aqsa moskeer verdeel.  Ná die tyd stap ons stil terug deur die Ou Stad terug na Jaffa Gate.

IMG_0924 IMG_0925

IMG_0926 IMG_0932

Ons stap elke dag by ‘n straat verby met die naam Raoul Wallenburg, naby die munisipale kantore van Jerusalem. Nie baie mense kyk boëntoe om te besef dat Wallenburg die Sweedse diplomaat was wat die Joodse volksmoord deur die Nazi’s onder die aandag van die Sweedse en Britse regerings, en die Verenigde Volke Organisasie (VVO, nou VN) gebring het nie. Wallenburg het herhaalde boodskappe aan sy eie regering en Westerse moondhede gestuur om hulle te waarsku waarmee die Duitsers besig was en dat massamoord van die Jode besig is om plaas te vind.

IMG_0935

Laatmiddag, sowat twee ure voordat die Shabbat eindig, stap ons Noord in Yaffa Road en hoor ‘n hengse geraas in een van die systrate. Ons stap nuuskierig nader – daar is ‘n hengse-luidrugtige betoging deur Ortodokse Jode, in volle Shabbat-drag, kinders ingesluit. Die polisie probeer vergeefs die woedende lotjie onder beheer bring, maar hulle gooi waterbottels en waterhouers na verbygaande motoriste en veral toeriste-busse en huurmotors.  Blykbaar mag jy (volgens hulle) nie op die Shabbat jou motor bestuur of enige werk doen nie. Die Joodse seuns is die mees aggressiewe en militant en val letterlik die motors aan – hulle sleep versperrings nader en gooi dit onder die wiele van die busse. Die polisie probeer keer, maar dit is duidelik dat die Ortodokse Jode nie enige verbreking of ontheiliging van die Shabbat in of naby hul woonbuurt toelaat nie.

Ons wag nuuskierig aan die einde van die Joodse Shabbat vir die sirenes om te loei, soos Vrydag toe hulle die Shabbat aangekondig het, maar niks gebeur nie. Die winkels bly toe, maar duisende mense en kinders dwaal laat-aand in die strate rond. Selfs die trem begin weer op en af ry.

Sondag-oggend, die Joodse Maandag en die stad is weer besig. Ons eet ontbyt op die daktuin van ons hostel, koue eiers, koffie, roosterbrood, en vrugte vir Belinda. Ons gesels met Franse, Australiese en Walliese Christene wat almal in Jerusalem is om die heilige plekke te besoek. Hier moet jy sommer jou eie skottelgoed was en pasop om nie die ‘Black coffee’  te drink nie, die goed is honderd keer sterker as Expresso en twee honderd keer so sleg.

Ons stap die nou bekende paadjie na die Tempel van Koning David op die Berg Sion (dit is ‘n koppie, gladnie ‘n berg nie) en die dame by die Bybelvereniging (wat ons gehelp het om die betekenis van die skrif bokant Jesus se graf te verstaan), gee vir ons ‘n pragtige teks uit die bekende Dooie See rolle (Dead Sea scrolls), wat 700 jaar voor die geboorte van Christus geskryf is.  Verstommend praat die teks van die koms van Jesus.

IMG_0945 IMG_0932

Die Tempel van Koning David is rigting Suid op die Berg Sion, net langs die Ou Stad en ons stap via Israel se nasionale park waar ‘n groot silwer bal die wêreld en al sy nasies voorstel.

IMG_0946 IMG_0948

Die park is vernoem na Teddy Kollek, eertydse Joodse vryheidsvegter en burgermeester van Jerusalem, wat die bekende boek oor die geskiedenis van Jerusalem saam met Moshè Perlman geskryf het.  Kollek, as voormalige Haganah en later Mossad-lid, is een van my eertydse helde, ‘n intelligensie-man duisend en ‘n skrywer daarby. In sy boek (ek het ‘n kopie in my biblioteek), lees jy dat die eerste klip van die stad Jerusalem reeds 4000 jaar voor die geboorte van Christus neergelê is.

IMG_0949 IMG_0950

Die graf van Koning David

By die graf van Koning David en sy Tempel is daar ‘n mal Marokkaan wat op almal skree en deur die Israeliese polisie weggelei word.  Reg langs Koning David se graf is sy tempel met ‘n plek vir aanbidding en sy beeld langsaan toon hom met ‘n harp in sy hande wat die digkuns en die skryf van die Psalms uitbeeld.

 IMG_0951 IMG_0952

IMG_0953 IMG_0956

Die laaste avondmaal

Direk langsaan is die bokamer waar die laaste avondmaal en nagmaal van Jesus en sy dissipels plaasgevind het. Die bokamer is besonder netjies en ruim en ons mag fotos neem.  Die bokamer is effens moeilik om te bereik en jy moet trappies klim, maar beslis die moeite werd om te besoek omdat dit nie ‘n treurige plek is nie, maar mooi en lig en pragtig.

 

Ons stap deur die Armeense-kwartier en eet ‘n ‘swarma’  en fallafel-bolletjies by ‘n eetplek wat letterlik in ‘n grot is.  Die tannie wat daar werk is baie vriendelik en sy verduidelik in geradbraakte Engels en gebaretaal dat sy van Siriese ortodokse katolieke afkoms is. Ek dag ons gaan voedselvergifteging kry, maar die kos en koffie is heerlik en stap met warm magies deur die effense koue van laat-Maartmaand terug Little Jerusalem hotel toe.

Die aand is dit nogal koud en ons koop Israeli Alon-wyn en kos vir aandete.  Die skaarste goed in Israel is badproppe en kaas.  Vir ‘n land met waterskaarste is dit snaaks dat hulle nie bad- of wasbakproppe het nie en die meeste van die water spoel weg.  Kaas is nog skaarser en peperduur, sommer R 50 vir ‘n klein ou blokkie.  Ons soek op en af in Jaffa Road maar kry niks kaas nie, wel ‘n ‘busker’  wat in die koue viool speel.  Haar mandjie is vol geld, meesal buitelandse geld, euro’s en dollars – sy speel te pragtig en die treurige klanke vol ons tot bo-in ons hotelkamer.

Die tuin van Gethsemani

Maandagoggend 20 Maart neem ons die trem vanaf Jaffa Central na Demascus Gate, die tremstasie naaste aan die Olyfberg en die Tuin van Gethsemani (korrekte spelling). Die Demascus Gate is in die Arabiese gedeelte van Jerusalem en ons vind dit vreemd dat die Rockefellar Museum in hierdie gedeelte oorkant die Herodus Hek, langs die Ou Stad, is.  Orals is daar gewapende Israeliese soldate aan die buitekand van die muur wat die Ou Stad omring en na Jericho Road lei.  Die Tuin van Ghetsemani is langs ‘n ou kerkie, die Gethsemani Basilica of Agony en daar is ‘n ou geskrif bokant die deur, Hortus Gethsemani.

Die tuin self is pragtig, vol olyfbome wat duisende jare oud is (Lukas 22).  Dit is hier waar Jesus saam met sy dissipels gekniel en gebid het: ‘Vader as u wil, neem hierdie lydsbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied.’ In die Tuin van Gethsemani het ‘n engel aan Jesus verskyn en Jesus se sweet het bloeddruppels geword en op die grond geval. Die klip waar Jesus gekniel en gebid het, is duidelik sigbaar en ons raak daaraan.

Judas en Jesus

Reg langs die tuin van Gethsemani (by die kerk van Maria), is daar ‘n lang gang wat lei na die grot waarin Judas vir Jesus verraai het.

Daar is ‘n klein kerke binne in die grot, inskripsies teen die mure met ‘n aanhaling uit Matheűs 25:28 : ‘Sustinete Hic et Vigilate Mecum’  – die woorde van Jesus soos vertaal, “Bly hier, en wag saam met my.”

Die grot en inskripsies dui duidelik aan dat Jesus in die grot deur Judas veraai is, en nie in die Tuin van Gethsemani soos wat baie mense glo nie.  Die Bybel sê egter dat die veraad in die Tuin plaasgevind het en dat die grot waarskynlik die plek is waar Jesus en die dissipels later daardie aand geslaap het.  Binne in die grot is daar ook ‘n put waaruit Jesus en sy dissipels water gedrink het.  Ek kyk daarin, die put is baie diep en die water daaronder kan slegs met ‘n emmertjie bereik word.

Langs die Tuin van Gethsemani en die Judas-grot is die kerkie van Maria, die moeder van Jesus, ‘n baie heilige plek vir Rooms Katolieke.

Ons stap deur Lion’s Gate in die Ou Stad, al met die Via de la Rosa deur die Moslem kwartier (die roete van Jesus en die kruis).

Op die Via de la Rosa is die Bethesda-poele – die Jode glo dat ‘n engel elke oggend die waters van die poele geroer het sodat die eerste persoon wat die water ingaan, genesing ontvang.  Jesus en sy dissipels het hier die verlamde man teëgekom wat agtien jaar vergeefs gewag het vir ‘n kans om die poele in te gaan.  Die verlamde man is deur Jesus genees en aangesê om sy beddegoed op te tel en te loop, nadat die man 38 jaar verlam was. Hiervoor het Ortodokse Jose vir Jesus gekritiseer omdat hy op die Shabbat wonderwerke sou verrig.[viii]

Jesus en Pilatus

Verder langs die Via de la Rosa is daar ‘n ingang na ‘n kerkie met die inskripsie: ‘Locus in Quo, Apprehendit Pilatus Jesum et Flagellavit’ – letterlik die plek waar Pilatus vir Jesus verhoor het en laat gesel het.  Die saaltjie is daar en ons neem fotos.

Langsaan is die gevangenis waar Pilatus vir Jesus laat aanhou het, saam met Bãrabas wat ‘n bekende krimineel en moeilikheidmaker was. Bãrabas se sel is heelwat groter en gemakliker as Jesus sin.  Dit kan wees dat daar baie ander gevangenes saam met Bãrabas toegesluit is, maar Jesus is alleen toegesluit. Twee gate waarin Jesus se bene geplaas is, met enkelboeie onder, is duidelik sigbaar, hoewel dit nie iets is wat in die Bybel genoem word nie. Daar is orals waarskuwings dat jy nie in Jesus se sel mag fotos neem nie, hoekom weet ek nie want fotos is aan die ander kant van die tronkselle toelaatbaar.  Jesus se sel is onaardig, lelik en die dak is laag.  Die sel is klein en dit moes ‘n versmorende ondervinding gewees het op hierde vasgeketting te wees. Ek neem nietemin ‘n steelfoto, hoewel daar orals sekuritietskameras is, maar hulle wys bo-oor besoekers se koppe.

*

Dit is verstommend om te sien hoe leergierig die Jode is, hulle lees en leer die hele tyd.  By die graf van Koning David sit daar ‘n dosyn omies, Jode wat uit hul Torah’s lees en bid.  By die plek waar Pilatus vir Jesus verhoor het, sien ons ‘n ou tantetjie van 90 wat aandagtig luister na haar toergids en alles om haar inneem en indrink.  ‘n Les vir ons(?), jy is nooit te oud om iets te leer nie.  Vier Amerikaners uit Arizona gesels met ons, die omie sê hulle is almal 80 jaar oud en ouer.  Een van die ooms was in 1956 op ‘n Amerikaanse boot in die Suez-kanaal toe Egipte, met die onderduimse hulp van die Britte, die kanaal geannekseer het.  Die oom sê dat daardie oneerlike optrede van die Egiptenare en die Britte van hom ‘n lewenslange ondersteuner van Sionisme gemaak het.

*

Ons koop die aand vir Renè en vir Dirk Terry Pratchard boeke by ‘n duur boekwinkel en eet aandete rustig bo-op ons daktuin by die hostel.  Die klok van die trem en vioolklanke sweef oor die dakke en strate na ons kan toe, te heerlik.

*

Donderdag 21 Maart stap ons rigting Suid na die Jaffa hek op soek na die kerk van Johannes die Doper.  Die kerkie is moeilik om te kry, ons stap met David straat / Omar Ben El-Hatab) en links in die ‘Christian Quarter Road’ en loop ‘n paar keer by die deur verby.  As Belinda nie die afbeelding van Johannes die Doper se kop bokant ‘n deurtjie in die muur (letterlik ‘n gat want ons moes buk om daardeur te kom) gesien het nie, sou ons dit nie gekry het nie.  Die kerkie is heeltemal weggesteek en ons loop soekend in die voorhof rond totdat ons ‘n deur kry en binnegaan –  dit is net ons daarbinne.

Dit is ‘n wonderlike kerkie, vol grafieka en afbeeldings en skilderye van Herodus se dansende dogter Salomè en Johannes se kop op die skingbord. ‘n Kwaai non wys ons die deur en sluit hom agter ons. Waarom die kerkie so weggesteek word, weet nugter alleen.

By Jaffa hek sien ons ‘n foto-uitstalling en daar is ‘n foto van ‘n rugbywedstryd wat in 1933 tussen die Jerusalem Polisie Sentrale Tak en die polisie van die Noordelike Distrik gespeel is. Rugby in Israel – wie sou dit kon droom?

 

Op pad terug sien ons ‘n groot Russiese Ortodokse Kerk langs die polisiehoofkantoor van Jerusalem en ons neem fotos.

IMG_1108

Pasop maar in Jerusalem wat jy koop en by wie jy dit koop – almal, Jode en Palestyne, probeer jou ‘n rat voor die oë draai en mislei.  Ons koop twee lemoene vir R 45 (15 shekkels), die prys is verregaande en dit is jammer.  Die algemene gevoel wat mens kry is dat niemand enige respek vir toeriste of pelgrims of Christene het nie – hulle probeeer almal maar net geld uit jou maak.  Die hele ou stad van Jerusalem is maar net ‘n outydse winkelsentrum, ‘n mall  uit ‘n vorige era met hier en daar ‘n kerkie, ‘n standbeeld, ‘n herinnering, ‘n religieuse artifak of gedenkteken, ‘n terloopse verwysing na Jesus en God en religie en geloof.  Godsdiens word genadeloos uitgebuit om geld te maak, bv. kippas met die name van sokkerspanne op, of Formule I renjaers, of Amerikaanse basketbalspanne (Chicago Bears, San Francisco 49’ners).

 

*

Trekklavier- klanke sweef deur die lug na jou toe, tesame met die kap van hamers en bouers en sement.  Die Jode bou en bou en bou…  Ons koop by ‘n sypaadjie-kafee hoender en sit sommer daar en eet.  Almal haas by jou verby, duisende mense en ek wonder hoekom is daar nie meer koetantstalletjies in Israel nie – alles is nou maar elektronies en digitaal.  Ses uur kry ons vir Jason Bourne, die seun van Joodse vriende, wie vir een jaar in Israel bly en dan teruggaan Ikeys toe vir universiteit.  Sy ma het tjokkelade en shampoo gestuur.

Vrydag, ons laaste dag in Jerusalem en stap vir ‘n tweede keer na die klaagmuur.[ix]  Daar is baie minder mense as op die Shabbat en hierdie keer kan ons fotos neem.  Aan die linkerkant van die muur is daar ‘n kerkie van Ortodokse Jode – die muur loop in die kerkie in, maar mens kan dit nie op fotos sien nie.

By die uitgang van die Westerse muur, na die Tweede Tempel en die Temple Mount / Al Aqsa moskee se kant toe, gaan ons weer deur streng sekuriteit en stap langs die muur van die Tweede Tempel af.

Die muur van hierdie tempel is 2000 jaar gelede vir die eerste keer deur die Romeine vernietig en toe weer in 1948 deur die Jordaniërs. Die Jode is nou besig om die muur van die Tweede Tempel vir die derde keer te herbou.

Ons soek deur die strate van Jerusalem na snaakse goed, gallerye, boekwinkels, keramiek en juwele en duisende skoenwinkels. Ons kry ‘n omie wat die mooiste kunswerke uit papier sny, die mooiste beeldhouwerk, ‘n musiek-museum waar jy niks kan koop nie omdat alles so duur is. In ‘n daktuin boekwinkel en restaurant kos ‘n glas wyn 32 shekkels (R 96), maar die plek is besonders en baie mooi.  Ek neem ‘n foto van ‘n keramiekwinkel en die buurman wil terstond weet waarom ek nie ‘n foto van sy winkel ook neem nie. Sy winkel is dan net so mooi.

Ons laaste ete in Jerusalem eet ons by die Jerusalem Kitchen, die lekkerste lensiesop en groentesop.  Die kelner vertel ons dat die kok daar ‘n besondere soort stew maak, hulle noem dit ‘n potjie.  Wat? Potjiekos? Die restourantier is heel verbaas toe ons hom vertel die naam kom uit Suid-Afrika uit en dat potjiekos ‘n gewilde eetgereg is. Ons neem ‘n laaste paar fotos van die son wat saggies oor Jerusalem sak, van die trem en die stad se liggies.

Donderdag 23 Maart, my oorlede sussie Anri se verjaardag, ry ons met die trem tot by die Sentrale Bushalte en soek na die Nr 41 bus na Tel Aviv. Die dame by die Inligtingstoonbank help vriendelik met inligting oor die Nr 83 bus op Vlak 4. Ná ‘n hengse soektog, poer in ons kanon in, kry ons die regte bus, ten spyte van die verkeerde advies en ons ry rustig ‘n uur lank na Tel Aviv. Die paaie en infrastruktuur is besonder modern en gevorderd en ons van ‘n koppelbus van die bushalte af na Amiad in Tel Aviv waar ons hotel is. Die Old Jaffa-hotel is naby die goot suq (mark) geleë waar ‘n bondel swendelaars, verkopers, handelaars en skelms met gebare en onverstaanbare tale enigiets aan jou probeer verkoop, van plastiek poppies tot interkontinentale ballistiese missiele.

 

Ons eet ‘n Israeliese turkey-hotdog en ‘n swarma met Tuborg-bier en ons soek na ‘n plek om halva te koop, ‘n soetigheid wat net in die winter gemaak word.

Ons vra ‘n Jood by ‘n bakkery waar ons halva kan koop en hy beduie everywhere, everywhere !  Op ‘n vraag of hy vir ons so ‘n winkel kan wys, skud hy verward sy kop.  “I don’t know,” sê hy en ons lag – dit is duidelik dat hierdie ou nie ‘n woord Engels verstaan nie.  Ons kry uiteindelik ‘n vriendelike Jood en ons koop die halva by hom en hy gee sommer vir ons ‘n skep rafekeh by, ‘n rooi soethappie, soos melktert of vla.  En ons kry ‘n winkeltjie waar hulle twee Belinky’s verkoop om een Belinda te kry..

Ons koop peperduur aandete en bespreek ‘n huurmotor lughawe toe, oplaaityd 2:30 om op Ben Gurion te wees vir die El Al-vlug om ses uur (drie ure voor die tyd).  Ons neem fotos van Tel Aviv in die aand, die Moslem moskee en die restaurante.  Die Moslems begin later sing en skree en dit beaam dat dat godsdiensvryheid in Israel is – geen Moslem land sal ‘n Joodse tempel of sinagoge in die middel van sy hoofstad toelaat nie.  Ons sien orals kerke met die vreemdste name, self ‘n groot Church of Scientology in die middel van Jerusalem.  In Tel Aviv is daar honderde kerke van enige soort en denominasie en daar is selfs bordele en X-films in die gebou waar die bushalte in Tel Aviv is.  Israel is essensieël ‘n liberalie en pluristiese demokrasie midde-in ‘n swetterjoel Arabiese autokrasië en patriargale diktatorskappe.

*

Ons vlieg die hele dag deur en kom redelik vodde maar dankbaar in Johannesburg aan vir ons aansluitingsvlug Kaap toe. Oos Wes, Tuis Bes, fluit fluit, ons storie oor Israel en ons vakansie van ‘n leeftyd is pootuit.[x]

*

Notas

1 David Ben Gurion (David Green van Pole), is die vader van moderne Israel en die onafhanklike Israel se eerste staatshoof.  Ben Gurion het baklei vir ‘n onafhanklike, soewereine Joodse staat, ‘n wens wat in 1948 werklikheid geword het a.g.v. ‘n besluit van die VVO en toe onmiddellik ‘n oorlog tussen die Jode en Arabiere in die Midde Ooste tot gevolg gehad het.  Lees gerus die boekie 12 years of Zionism om te verstaan hoe hard die Jode, spesifiek Theodor Herzl en David Ben Gurion, baklei het om ‘n soewereine Joodse staat tot stand te bring. Om ʼn basiese begrip te vorm van die konflik tussen Israel (die Jode) en sy bure (die Arabiere), moet onthou word dat daar sowat veertien miljoen Jode in die wêreld is, waarvan net veertig persent in Israel self woon. Tel Aviv is die stad met die meeste Jode in die wêreld (ongeveer 2.5 miljoen), gevolg deur New York, Haifa, Los Angeles en dan eers Jerusalem met sowat 600 000 Joodse inwoners.

2 Die Golan-hoogtes tussen Israel en Sirië was al baie male die toneel van hewige oorlogvoering, in 1948 met Israel se onafhanklikheidswording, in 1956 net ná die Suez-krisis, in 1967 met die Sesdaagse oorlog en 1973, Yom Kippur.

[iii] Die See van Galilea is agt myl wyd (sowat 13 kilometer).  Toe Jesus en sy dissipels dus die aand nádat hy die menigte toegespreek het, na die ‘oorkant’ van Galilea gevaar het, het dit ‘n tydjie geneem om die heen en weer rit (in skuite), te voltooi.

3  Rooms Katolieke glo Jesus se graf is in hierdie kerk en daar is ‘n swaar graniet grafsteen wat die plek aandui (foto bo van die lampe, kruise en knielende vrou).

4  Protestantse Christene en Messiaanse Jode glo dat die tuingraf, langsaan Golgota op die Demaskus-pad (vanuit Demascus gate), die werklike graf van Jesus is, vanwaar hy op die 3de dag opgestaan het en opgevaar het na die hemel. Golgota is ‘n Aramese woord wat kopbeen beteken. Die tuingraf van Jesus is in 1867 ontdek – daarteenoor glo Rooms Katolieke Christene, reeds vanaf die 4de eeu, dat Jesus se laaste rusplek in die ‘Church of the Holy Sepulchre’ is.

5  Die Byzantynse kruis staan ook bekend as die Ortodokse kruis, of Byzantynse Russiese Ortodokse kruis, of the Suppendameaanse kruis, of die Christelike kruis – hierdie kruis en sy afbeeldings kom algemeen onder die Oosterse Ortodokse kerke voor.

6 Die Jode wat mens oral in Jerusalem sien met swart klere, wit hemde en die swart hoedens, is Hasidiese Jode of Sephardiese Jode. Hasidiese Judaïsme is aanhangers van ortodokse piëteit, ‘n vorm van godsdienstige toegewydheid wat deur party analiste as religieus van aard, maar deur kritici as sosiiologies van aard beskou word.  Hasidiese Judaïsme het sy oorsprong in die Ukraïene gehad en deur Europe onder die Jode versprei – die grootste groepe aanhangers is in Amerika, Engeland en natuurlik Israel. In kort is Hasidiese Judaïsme dus ‘n ekstreme toegewydheid aan die Torah deur ‘n ietwat geslote groep wat nie maklik vermenging en integrasie met nie-Hasidiese Jode aanmoedig nie.

7 Lees meer hieroor in Johannes 5:2-9 waar hierdie wonderwerk van Jesus in detail vertel word. Die verlamde man het aan Jesus gesê dat hy nooit vinning genoeg in die poel kon kom nie – ander mense het hom altyd voorgespring.

[ix] Die Westerse Muur word ook die Kotel genoem en die struktuur word terugdateer na 516 V.C.  Die muur wat ons vandag sien is die enigste oorblywende struktuur of deel van die Tweede Tempel wat in die jaar 70 N.C. deur die Romeinse heerser Titus vernietig is.  Die swaarste klip in die Muur weeg 570 ton – dit gaan waarlik die verstand te bowe hoe die Jode, met geen masjinerie of meganika nie, sò ‘n swaar klip kon beweeg en op-hys.  Titus en sy Romeinse soldate het ná die dood van Jesus die Heilige Stad vernietig – daar word bereken dat Titus verantwoordelik was vir die dood van meer as een miljoen Jode wat tydens hierdie beleg en vernietiging omgekom het. Die oorblywende Jode, sowat 100 000 van hulle, is deur die Romeinse soldate na Rome weggevoer.  Vandaar die naam ‘Klaagmuur’ – die roubeklaag van die Jode oor die vernietiging van hul beskawing, hulle stad, hul tempel en hulle volk.  Voorwaar ‘n volksmoord van die Romeine teenoor die Jode.  (Die Colisseum wat ons vandag in Rome sien, is deur hierdie Joodse slawe gebou.)

8 Laat Maart-maand is die beste tyd om Israel te besoek in terme van weer en temperature, dit daagliks so 25˚, nie tè warm of koud nie, met bietjie rëen.  Dit is ook die “af-seisoen” in Israel, ‘n paar weke voor Paasfees, met die gevolg dat daar nie oorvloedig baie toeriste en pelgrims in Jerusalem is nie.  Dit gesê, daar is steeds baie mense en veral toeriste-groepe wat by veral plekke soos die Tuingraf en die Church of the Holy Sepulchre saamdrom.

Eindnotas: Die Arabiere of dan Palestyne wat in Israel woon, is hoogsaaklik Sunni Moslems wat ons (Christene) as “infedels” beskou. Wêreldwyd, maar meesal in Libanon, Sirië, Jordanië, die Wesbank en Gaza, is daar ongeveer tien miljoen Arabiere wat hulself Palestyne noem. Die Palestyne het meerendeels net een doel voor oë – die vernietiging van die Jode en Israel om grondgebied te bekom. Hul rasionaal of motivering is dat die Jode die grondgebied (Israel) by hulle gesteel het; ʼn aanspraak wat nie op feite berus nie, maar as rede aangvoer word waarom hulle dink dat “Palestina” deur die Jode beset word. Feit bly staan dat die grongebied of land “Palestina” nog nooit aan die Arabiere of Palestyne behoort het nie, dit is ʼn arbitrere naam wat in 130 NC. deur die Romeinse heerser Hadrian aan die streek gegee is. Daar was nog nooit ʼn land met die naam “Palestina” nie. Voor 1948 (Israel se beslaglegging as staat), was die grondgebied wat ons vandag as Isreal ken en erken, ʼn Britse protektoraat, nie ʼn onafhanklike land of soewereine staat nie. Baie van die Arabiere wat vandag in Gaza en die Wesbank bly, het voor 1948 oorsponklik uit Tunisië, Egipte, Irag, Libanon en Sirië na “Palestina”/Israel  toe gekom, op soek na ʼn beter lewe onder Britse beheer. Om Israel dus ʼn besette of geökkupeerde gebied te noem, is bloot anti-Semitiese propaganda. Slegs die Jode is sedert Bybelse tye permanent as ʼn volk in Israel teenwoordig.