Cheetah
ʼn Gevaarlike Vrystaatse Cheetah

Die Cheetahs van die Vrystaat is ‘n wêreldberoemde rugbyspan wat die Curriebeker al ontelbaar-baie kere gewen het. Die Cheetahs is so beroemd dat mense en rugby-ondersteuners van buite die Vrystaat al van hulle gehoor het, selfs mense aan die oorkant van die magtige Sandrivier en duskant die Oranjerivier.

Een van die redes hoekom die Cheetahs sulke goeie rugby speel, is die geheime oefeninge wat hulle doen.  Niemand weet egter watter geheime oefeninge die Cheetahs gebruik om so sterk en slim te word nie, veral nie die spelers nie. Al wat die mense aan die oorkant van die Sandrivier en duskant die Oranjerivier gehoor het, is dat die Cheetahs die beste balvaardighede van al die rugbyspelers in die wêreld het.

‘Ek ken die Cheetahs se geheime, Geronkie,” vertel Mossieman eendag terwyl die twee rustig in die loweryke boomlaning langs die Vrystaat-stadion stap. “Ek weet waarom hulle so goed rugby speel.”

“Vertel Mossieman, vertel jou storie, ek wil graag weet. Baie ander mense wil ook weet wat die Cheetahs se geheime rugby-resep is. Hulle speel nie net goeie rugby nie, maar sommer slim en aantreklike rugby ook.”

“Reg so, Geronkie, ek sal vertel, maar jy mag nie die Cheetahs se geheime met enige iemand deel nie.”

“Ek belowe,” antwoord Mossieman gemaak-ernstig, “ek sal vir niemand vertel nie.”

“Veral nie vir ouens wat die Blou Bulle ondersteun nie.”

“Reg, ek sal nie vir Blou Bul ondersteuners vertel nie.”

“Ook nie Stormers nie, Geronkie.”

Geronkie sug.  “Goed, ook nie vir die Stormers van Kaap nie.”

“En wat van die Saaks?”

“Die Saaks?  Waar kom die Saaks vandaan?”

“Van Durban af, daardie volksvreemde half-Britse kolonie aan die Ooskus van Suid-Afrika. Jy mag ook nie vir die Saaks vertel hoekom die Cheetahs sullke uitblinkers is nie.”

“Reg so, Mossieman, ek sal veral nie vir die Saaks vertel nie.”

Mossieman is tevrede dat Geronkie ʼn geheim kan hou en dat hy nooit die Cheetahs se geheime sal verklap nie.

“Reg Geronkie,” fluister Mossieman sag, “dit gaan oor aartappels.”

“Aartappels?” vra Geronkie.  “Hoekom fluister jy Mossieman?”

“Omdat dit ʼn groot geheim is Geronkie, nie baie mense mag daarvan weet nie. Die klein Cheetahtjies eet van hul geboorte af aartappels.”

“Waarom aartappels?”

“Omdat hulle op plase grootword, Geronkie. Daar is baie aartappels op die plase in die Vrystaat en die kleintjies eet sommer so van baba se tyd af aartappels.”

“Maar waarom aartappels,” wil Geronkie nuuskierig weet.

“Want aartappels het koolhidrate man, dit maak jou sterk en vinnig.  En slim.”

“So, die baba Cheetahtjies eet baie aartappels?”

“Ja Geronkie, en hulle drink baie melk.”

“Aartappels en melk?”

“Beide,” antwoord Mossieman tevrede terwyl hy en Geronkie ʼn tweede keer om die Vrystaat-stadion stap.

“En wat doen die Cheetahs nog?”

“Opstote,” vertel Mossieman.

“Push-ups?”

“Geronkie, ons praat nie Frengels nie,” sê Mossieman vieserig. Mossieman is in sy vrye tyd nogal ʼn taalpuris en hy hou daarvan dat Geronkie Afrikaanse en Engels met mekaar meng nie. “Push-ups is nie Afrikaans nie,  Geronkie, dis Frengels. Hier in die Vrystaat praat ons Afrikaans.”

“Is dit waar dat die Cheetahs net een-arm opstote doen, Mossieman,” vra Geronkie. “Ek hoor hulle laat hul ander arm dan bietjie rus.  Wat doen die Cheetahs nog, Mossieman?”

“Hulle jaag skape.”

“Skape?”

“In die Vrystaat is daar baie skape en die jong Cheetahtjies leer sommer vroeg-vroeg hoe om skape te jaag. Naderhand hardloop daai Cheetahtjies sò vinnig dat hulle amper daardie skape vang.”

“Het een van die Cheetahtjies al ooit een van die skape gevang, Mossieman?” vra Geronkie wantrouig.

“Nog nooit nie! Weet jy hoe vinnig daardie skape in die Vrystaat kan hardloop? Niemand kon hulle nog ooit vang nie.”

“Reg so, Mossieman, ons weet nou hoekom die Cheetahs so sterk en so vinning is, maar waarom is hulle so slim?”

“Wel,” antwoord Mossieman geheimsinnig, bang dat van die Blou Bulle of Stormers of Saaks hom sal hoor. “Ons weet dat die Cheetahs slim genoeg is om nooit hulle eie baas te vang nie en dat slim Jan beter is as dooie Jan.”

“En dat jy liewer slim moet wees as sterk,” merk Geronkie slim op. “Maar hoe sterk is die Cheetahs regtig, Mossieman?”

“Wel Geronkie, weet jy hoe lyk ‘n beer?”

“Ja, ek weet Mossieman,” antwoord Geronkie verontwaardig, “maar hier is mos nie baie bruin bere in die Vrystaat nie.”

“Dit is waar,” merk Mossieman lakonies op. “Maar weet jy waarom, Geronkie?” vra Mossieman ondeund.“

“Nee.”

Mossieman lag lekker uit sy magie uit. “Die Cheetahs hulle almal gevang en opgeët!”  Geronkie glimlag maar saam met Mossieman, maar hy is nog nie tevrede met al die antwoorde wat Mossieman hom gee nie.

“Maar hoekom is die Cheetahs so slim?”

Mossieman kyk om hom rond om seker te maak niemand luister af nie. “Stories,” Geronkie, “die Cheetahs is so slim omdat hulle stories lees.”

“Stories lees?”

“Vandat die Cheetahs babatjies is, lees hulle stories.  En hulle luister na stories. Dan vertel hulle daai stories vir die ander babas en kinders in die Vrystaat.”

“Ek sou dit nooit gedink het nie, Mossieman.  Wat leer die klein Cheetahtjies uit die stories?”

Mossieman glimlag geheimsinnig. “Die Cheetahtjies leer dat elke vraag helfte van die antwoord bevat, dat die tien gebooie al die ander gebooie insluit, dat dit beter is om te luister as om te praat, en dat wysheid nie saam met grysheid kom nie, maar van kinders af.”

Geronkie skud sy kop van verwondering en bewondering. “Jitte Mossieman, maar nou praat jy altemit diep dinge!  Ek verstaan nou alles. Ek kan amper nie glo dat ek net ʼn  donkie is nie, so slim is ek.”

“Dit is so, Geronkie,” lag Mossieman uitbundig.  “Jy weet mos ‘n donkie is ‘n wonderlike ding.

“Jaa…. amper so wonderlik soos ʼn Vrystaatse Cheetah.”

*