Zeeebie

“Mossieman,” sê Geronkie terwyl hy vir homself in die spieël kyk en sy lang swart ooghare met ‘n pikante skertjie mooi maak, “ek dink ek is verlief.”

“Ag, Geronkie, op wie sal jy nou verlief wees, jy is gans te lelik,” lag Mossieman.  “En jou bene is krom en jou ore is flenters.”

“Nee, regtig Mossieman, ek het gister die mooiste meisie-donkie in die hele wereld gesien. Sy is pragtig! En elegant, met die mooiste wimpers wat jy nog ooit gesien het.”

“Waar het jy nogal hierdie mooi meisie-donkie gesien?  Waarom is sy so pragtig?”

“In die dieretuin, sy bly in Virgnia se dieretuin. Sy bly saam met baie ander donkies, in so in ʼn kampie en hulle het almal dieselfde soort pajamas aan.”

“Dra die donkies in die dieretuin klere?” vra Mossieman nuuskierig.

“Mossieman, jy sal dit nie glo nie. Al daardie donkies dra sulke wit en swart pajamas. Maar daai meisie-donkie is die mooiste donkie van almal.”

“Wit en swart pajamas?”

“Ja man,” sê Geronkie alwetend. “Pajamas, met strepe. Helfte van die strepe was swart en die ander helfte wit, party is vertikaal en ander horisontaal.”

“Klink nie vir my reg nie,” sê Mossieman en hy krap sy kop. “Ek wonder of hulle die pajamas by iemand gekoop het?”

“Ek weet nie regtig nie,” peins Geronkie en hy kry so ʼn verlangende uitdrukking in sy oë. “Dit het vir my gelyk of iemand vir hulle die pajamas aangeverf het.”

“Met verf?”

“Met verf ja,” sê Geronkie, “met verf.”

“Of miskien was dit wit donkies en toe het iemand swart strepe op hulle geverf?”

“Kan wees, of miskien was hulle swart donkies en iemand het wit strepe op hulle geverf. Ek dink hulle binnekant en buitekant lyk dieselfde.”

“Geronkie,” sê Mossieman, “ek dink ons moet na Virginia se dieretuin toe gaan om te gaan ondersoek instel. Ek wil baie graag sien hoe daardie pragtige meisie-donkie lyk op wie jy so been-af is.”

“Sy is baie mooi,” sê Geronkie verlief. “Ek dink ek gaan haar vra om met my te trou.”

“Nee man,” jy is te haastig, Geronkie. “Jy moet haar eers goed leer ken en vir haar roomys koop.”

“Reg so,” sê Geronkie, kom ons ry.” Mossieman en Geronkie spring net daar op Geronkie se bromponie en daar trek hulle dieretuin toe, met so ʼn Vrystaatse stofstrepie wat al agter die uitlaatpypie aan warrel.

“Daar is sy, daar is sy,” roep Geronkie opgewonde toe hulle die kampie in die dieretuin sien met al die gestreepte donkies in.

“Watter een, watter een? vra Mossieman nuuskierig. Hy kyk vir die vale om te sien watter gestreepte donkie Geronkie bedoel.”

“Uh, uh,” stamel Geronkie en hy kyk met altwee sy oë gelyk om te sien of hy dieselfde donkie weer kan sien. Skielik lyk al die donkies vir hom soos eseltjies, almal lyk presies dieselfde  

“Nou weet ek nie, hulle lyk nou vir my almal eenders.”

“Geronkie,” sê Mossieman, “dis mos nie donkies hierdie nie man, dit is zebras!”

“Wat bedoel jy?” stotter Geronkie benoud.

“Dit is zebras daardie, nie donkies nie en hulle het ook nie pajamas aan nie. Zebras lyk maar so.”

“Maar wie het hulle wit en swart geverf?” vra Geronkie en hy loer skamerig vir die zebras.

“Ek weet regtig nie,” sê Mossieman peinsend, “maar hulle lyk almal dieselfde en hulle is definitief nie donkies nie.”

“Mossieman,” sê Geronkie vies, “waarom het jy my nie van zebras vertel voordat ons na die dieretuin toe gekom het nie?”

“Ag, Geronkie,” sê Mossieman, “jy was so opgewonde en so verlief op die mooi zebratjie, ek wou graag sien hoe sy lyk.  Ek het so gehoop julle twee trou eendag en ek wou so graag sien hoe julle kinders gaan lyk.”

“Ons kinders?”

“Ja, Geronkie,” lag Mossieman guitig, “afstammelinge. Ek sou graag wou sien hoe lyk julle kindertjies.”

“Wel,” sê Geronkie vies toe hy wegstap en op sy bromponie klim, “nou sal ons seker nooit weet nie. Ek dink ons kinders sou soos foxterriers gelyk het, helfte donkie en helfte zebratjie.”

 *

    

*