hair-4110166_1280

Koshuis-kaskenades – draai die kam om

*Goudveld Hoërskool in die middel-Vrystaat was en is bekend as ‘n ‘groot’ skool, waar meer as ‘n duisend plaas-, myn- en dorpskinders in die middel-sewentigjare verbete probeer het om die stremmende kloue van onkunde, oningeligdheid en blote domheid te ontsnap. Die koshuisouers meneer Ludick en die aanvallige Gusta en die onderwysers ʼn motlike samestelling van briljant slim en begaafde menere en juffrouens wat daarin geslaag het om aan die kinders van die Vrystaat ‘n besonderse opvoeding te verskaf.

Leon, Danie en Vlooi was drie stouterige koshuiskinders in Gouties se wit en blou koshuis, net langs diè beroemde skool in Welkom se sportvelde en tennisbaan. Ten spyte daarvan dat die koshuis règ langs die skoolgronde geleë is, het Danie min of meer elke oggend met ʼn agterstand teen beide die koshuisklok en die skool se doodsklok begin. Die ander koshuiskinders was lankal opgestaan en aangetrek, kiertsregop in ʼn ry voor die eetsaal vir ontbyt, dan trek Danie nog in die kamer aan, met baadjies, dasse, skoene en onderbroeke wat in alle rigtings trek.

“Nee- wat, Danie,” adviseer Leon een oggend, “met jou sal ons ʼn plan moet maak. Jy kan mos nie elke oggend van jou lewe laat wees vir skool nie. Selfs meneer Ludick en die tannies in die kombuis moes al kom hand bysit om jou betyds by die skool te kry.”

“Maar wat kan ek doen?” kla Danie tragerig. “Ek kan nie vinniger aantrek nie en ek kan ook nie vroeër in die oggend opstaan nie. Die hoenderhane in die Vrystaat is geleer om eers van half-sewe af in die oggende te kraai. Ek weet nie wat om te doen nie.”

“Ons sal ʼn plan moet maak. Vrystaatse boere maak ʼn plan.”

“Kom ons pak Danie se klere die vorige aand uit, dan hoef hy nie in die oggend so na die goed te soek nie,” sê Vlooi, die kleinste outjie in die koshuis.

“Vlooi, jou kerjakker!  Dis nou ʼn slim plan,” sê Leon en klop Vlooi op sy kop. “Selfs die domste kop kry nou en dan ʼn briljante idee.”

“Ons moet sy goeters in die regte volgorde uitpak,” sê Vlooi entoesiasties, “anders trek Danie sy onderbroek bo-oor sy broek aan en sy kouse bo-oor sy skoene.

“Of sy skoene bo-oor sy kouse!” Leon en Vlooi lag dat die stof so staan en Danie trek vieserig aan sy das. “Julle ouens wil my kamstig help, nou spot julle vir my.”

“Reg so, manne,” sê Leon, “kom ons beraam ons plan. Hoe klim jy uit die bed, Danie?”

Danie dink so ʼn bietjie na en verval amper in ʼn bepeinsing. “Eers sit ek my kleintoontjie op die vloer langs my bed, dan my ander tone, dan my hele voet en dan my been. Met ander woorde, voetjie vir voetjie, soos ʼn trapsoetjies.”

“Watter been eerste?” vra Vlooi onnutsig.

“Maak dit saak? kla Danie, “ek klim amper elke oggend van my lewe met die verkeerde voet uit die bed.”

“Reg, Danie,” help wyse Leon met ongevraagde advies, “nou is jy uit die bed uit en jy moet badkamer toe om jou gesig te was en jou tande te borsel. So, ons pak eers jou tandeborsel op die vloer, gevolg deur jou tandepaste, dan seep en jou handoek en shampoo. Alles in ‘n ry.”

“Jy kan ook sommer die vorige aand jou hare natmaak,” help Vlooi met nuttelose raad. Daardie jare in die koshuis het Danie en Leon se bestrawwende kyke het baie gehelp om Vlooi se verbale onsinnighede in toom te hou.

“Danie,” verduidelik Leon verder, “wanneer van die badkamer af terughardloop kamer toe, gaan sy as volg te werk. Tel al jou klere in volgorde op om tyd te spaar. Eers jou swart skoene, dan jou grys kouse, gevolg deur jou rooi onderbroek, dan jou grys hemp en jou blou Goutie-das.”

“So, ek trek my klere so in sekwensie aan,” merk Danie verwonderd op, baie beïdruk met Leon en Vlooi se slim plan.

“Nee,” meng Vlooi in, “in volgorde, nie sekwensie nie, man. Sekwensie is Frengels – in die Vrystaat praat ons Afrikaans.”

“Sharrap, Vlooi!  Daar is nou vir jou ʼn mooi oorspronklike Afrikaanse woord.”

“Reg,” sê Leon, “eers word jou gesig gewas, dan was jy jou hare en jou lyfie is blinkskoon. Dan trek jy net jou skoene en jou broek aan en jy is reg vir skool.  Voor die klok lui, nie ná die klok soos wat jy gewoonlik daar by die skool aankom nie.

“Maar wat van my skooltas en my boeke?”

“Ons sit hom daar langs die tennisbaan,” adviseer Leon hulpvaardig, “dan gryp jy hom sommer so in die verbygaan op pad skool toe. Ons sal een van die standerd sessies kry om jou skooltas aan te gee soos jy verbykom. Soos ʼn aflos.

Naomie en Renè en die ander meisie-koshuisbrakke het gou van Leon en Vlooi se briljante plan gehoor en hulle drom by die eetsaal saam om die gebeure stap vir stap te volg. Party van die meisies het sommer oor die muur langs die eetsaal geklim, nuuskierig om te hoor wat aangaan.

“Manne,’ sê Danie uiteindelik nadat hy hard en diep oor die saak gedink het, “dit is ‘n briljante plan. Takties en strategies is die plan uitstekend en kreatief en goed bedink.”

“Ons dink ook so, Danie,” antwoord Leon en Vlooi genoegdoenig en hulle skud mekaar die blad. Daardie jare was daar nog nie ʼn ding soos ʼn ‘High 5’ in die Vrystaat nie.

“Maar daar is net een probleem, manne.  My hare.”

“Jou hare?”

“Ja. Deur al die stappe wat ons geneem het, moet ek nog voor skool my hare kam. My hare is vir my belangrik.”

Wyse Leon dink vir ʼn oomblik diep na en laat draai sy blik stadig so oor die Vrystaatse vlaktes en mynhope. Op ʼn mooi skoon dag sonder wolke kon jy maklik van Welkom af tot in Bothaville sien.

“Ek weet .. die kosyn!”

“Hoe nou? “ wil Vlooi en al die ander koshuiskinders verwondered weet.

“Ons kam Danie se hare deur sy kam aan die onderkant van die deurkosyn vas te gom!”

“Maar ek het net lym, niks gom nie,” kla Danie. “Net houtlym.”

“Dis reg so, Danie,” antwoord Leon slim, “jy het mos ʼn houtkam. Ons lym jou kam aan die onderkant van die kosyn vas, dan hardloop jy net onderdeur en die houtkam kam jou hare, met ʼn middelpaadjie aan die kant. Dit gaan vir jou nog baie addisionele tyd bespaar.”

“Maar,” protesteer Danie, “as ek onderdeur die kosyn hardloop, gaan die kam mos al my hare agtertoe kam! Ek kam my hare vorentoe.”

“Dis nie ʼn probleem nie, ou Danie,” help Leon hom van die wal af in die sloot.

“Ons draai net die kam om.”

*

*

(Hierdie storie het regtig gebeur, toe ons in Standerd 9 in die Goudveld Koshuis was.  Nodeloos om te sê, Leon se kwinkslag het ons laat lag tot die trane later geloop het, ons kon net nie ophou nie en koshuis-meneer moes ons later kom stil maak. Ek dink nou nog, 45 jaar later, aan die grappie en hy kielie elke keer my kiewe).