VingertjieGeronkie die donkie se vreeslike seer vinger

“Mossieman, ek het vreeslik pyn,” kerm Geronkie die donkie en hy wys met sy vinger na sy voet. “Ek dink ek het ʼn verskriklike pyn in my roer.”

“Haai, Geronkie, waar sit jou roer?”

“Nee, ek weet nie, Mossieman, maar elke keer as ek roer, dan pyn dit.”

“Ag foeitog, Geronkie, is dit baie seer?” Mossieman is Geronkie se boesemvriend en hy is al gewoond aan Geronkie se fiemies en ipekonders. Mossieman hou daarvan om Geronkie se siel uit te trek en hy besluit om hom ʼn poets te bak.

“Ja, dit is baie seer, Mossieman. Dit pyn sommer oral. My voet is seer en ek dink ek moet

ʼn bietjie salf aansmeer, of dokter goe gaan.”

“Moenie laf wees nie Geronkie,” antwoord Mossieman streng, “manne van die Vrystaat soos ons smeer nie salf aan ons nie, veral nie aan ons voete nie. Manne van die Vrystaat is taaier as taai en ons huil nie oor ʼn bietjie pyn nie.”

“Maar ek pyn erg, Mossieman,” kla Geronkie en wys met sy vinger na hakskeen. “Dit pyn in my voet en dit pyn in my been. En in my arms ook.”

“Nonsens man, Geronkie, jy kan nie in jou voet en in jou been gelyk pyn nie.”

“Dit pyn ook in my maag,” sê Geronkie huilerig en sy ore gaan lê sommer plat op sy kop.  “Kyk hier, Mossieman, hier waar ek met my vinger wys. Dit pyn hier in die middel van my maag, net bokant my naeltjie.”

“So jy het pyn in jou voet, pyn in jou been en in die middel van jou maag?”

“Ja Mossieman,’ sê Geronkie mismoedig en pink ʼn traan met sy sneesdoekie weg.

“Is dit al?”

“Nee, Mossieman, dit pyn ook in my skouer, net hierso.” Geronkie wys met sy vinger na sy skouer en loer of Mossieman kan sien hoe seer dit is.

“Geronkie, jy kom mos van die Vrystaat af, man! Vrystaters is sterk en en manhaftig en ons huil nie vir enige ding nie. Hou op om aan te sit en hou op tjank!”

“Nee, rêrig. Mossieman, ek het baie pyn, sommer in my nek ook.” Geronkie wys met sy vinger na sy nek en rek sommer bietjie langer uit om te beklemtoon hoe seer sy nek is.

“Geronkie,” lag Mossieman, “al wat jy het, is ipekonders. Wys my nou orals waar jy seer het, voordat ek jou dokter te neem om alles wat jou pla te amputeer.”

“Asseblief Mossieman, moenie dat die dokter my amputeer nie. Ek sal jou wys, maar ek wil nie dokter toe gaan nie, dokters maak mens net siek.” Geronkie loer senuweeagtig na Mossieman, want vir dokters is hy baie bang.

Geronkie sit sy vinger op sy voet, “My pyn begin in my voet en dan in my been en dan in my maag.” Geronkie trek elke keer sy vinger so langs sy lyfie op soos hy beduie waar die pyn is. “Dan pyn my skouer en my nek ook nog.”

“Geronkie,” sê Mossieman skepties, “ek dink ons moet hierdie storie nou nek omdraai.  Die pyn is nie in jou voet of jou been of jou maag of jou skouer of jou nek nie, man. Dit is net aansittery.”

 “Wat dan, Mossieman, wat is verkeerd met my?” snik Geronkie.

“Dis jou vinger wat pyn Geronkie, jou vinger!”

Geronkie staar verwonderd na sy vingers aan die einde van sy arm en hy dink diep. “Jy is reg, Mossieman! Dit is nie my voet of my been of my maag of my skouer of my nek wat pyn nie, dit is my vinger!”

“Reg,” sê Mossieman. “Nou gaan ons reguit dokter toe, sodat hy jou vinger kan afsny! Dan is jou probleem opgelos!”

“Nee, eina Mossieman!” Vinnig steek Geronkie sy pote in sy broeksakke weg om sy vingers te beskerm.

“Weet jy wat, Mossieman? My vinger is ewe skielik nie meer so seer nie. Hy het sommer vanself herstel, dit is amper ʼn wonderwerk. Ek dink ons moet net ʼn hoofpynpilletjie by die apteek kry, dan is my vinger sommer weer piekfyn!”

*