Jakob Regop Poster Foto

JAKOB REGOP EN DIE WOESTYNROSIES

‘n Verhoogspel in drie bedrywe

Henning van Aswegen

  • Jakob Regop en die woestynrosies is ‘n komedie, tenger toegevou in die beskermende hande van bytende politieke satire ..

Spelers (7): Jakob Regop, Koeks, Sue, Missus Cunningham, Penelope Fortuin, Monsieur de la Fontaine & Gideon

Spelers

  • Jakob Regop is ‘n Afrikaner in hart en siel en sy tuin weerspieël sy streng politieke oortuigings (hy dink die AWB is links-liberaal). Hy plant net Afrikanertjies, Jakobregops, aalwyne, proteas en eg-Afrikaanse struike, nie volksvreemde of Engelse blomme nie en hy glo dat ‘n Afrikaanse tuin enige ordentlike tuinkompetisie behoort te wen.  Jakob dra ‘n safaripak, lang kouse en snor en is (natuurlik) in Bloemfontein gebore.
  • Koeks is ‘n stewige vrou so vroeg-veertig, gehard deur die stampe van die lewe, lakonies, argumenteririg, slim soos ‘n oneerlike prokureur, ‘n lekker skindergat. Sy het ‘n slap ogie op stoere-Afrikaner Jakob, maar nie seker oor sy politieke rugraat of seksuele oriëntasie nie.
  • Sue is Koeks se sidekick, haar alter ego, sy beaam alles wat Koeks kwytraak, maar nie altyd nie.  Sy is so 38 jaar oud, kan veertig wees, ‘n oujongnooi musiek-onderwyseres wat deeglik daarvan bewus is dat haar tyd min raak om ma te wees.  Haar rokkies skiet net te kort, soos haar intellek, haar naels net te lank en helder rooi en haar blonde hare doen niks om haar dumb blonde’ beeld te temper nie.
  • Missus Cunningham dink sy is van Britse adelike afkoms, ‘n aarts-imperialis wat vas glo dat Suid-Afrika nog ‘n kolonie is, of behoort te wees. Sy hou nie van Afrikaners nie en plant net eg-Engelse plante en blomme in haar tuin; lavender, rose, peonies, wisterias en violets.  Sy is so 43 jaar oud, net-net nie te oud om kinders te hê nie en sy dink Gideon moet die pa van al haar kinders wees.
  • Penelope Fortuin is ‘n vredeliewende sewentig-jarige uit Distrik 6 en kom met al haar bure oor die weg.  Sy is Christen en glo aan vryheid, gelykheid en broederskap, behalwe as dit by Virginia se jaarlikse tuinkompetisie kom, dan kroek sy saam met die bestes.
  • Gideon is ‘n semi-eerlike fant, ‘n gladde ou met ‘n gladde mond (hy drink net gladdejantjies), wat dink dat hy die Hemelse Vader se skenking aan die vroulike geslag van die Vrystaat is. Hy is beoordeelaar van Virginia se die mooiste tuintjie kompetisie wat spesiale toestemming van die Beheerliggaam gekry het om sy eie tuintjie vir die kompetisie in te skryf.  Gideon is ‘n tweegatjakkals wat lieg soos ‘n tandetrekker.
  • Monsieur De la Fontaine, Franse omie, is horende doof. Hy loop snaaks omdat hy aan paddaboudjies ly en hy vertel vir almal dat hy tydens die Tweede Wereldoorlog in die Franse Resistance was.  Die rêrige rede hoekom hy so skeef loop is omdat hy homself, tydens een of ander abortiewe skermutseling, met sy eie handgrenaat in die agterstewe geskiet het.

*

Musiek : God save the queen, My seun mieliepap (Johrnè), Star Spangeled Banner, Hitler, O hoor jy die magtige dreuning (Stem), en Stem, Three Blind Mice, YMCA (Village People), Marseillaise (Franse volkslied).

*

Aanwysings

Dit  is Vrydagaand in die somer in Virginia, ‘n asemrowende Vrystaatse myndorpie langs die magtige Sandrivier.  Dit is nog net-net lig genoeg om die eerste half-jêkkie uit te haal.  Ons kyk na ‘n common property in ‘n deeltitel kompleks, maar nie almal wat hul lewens daar deurbring is so common as wat dit lyk nie.  ‘n Transistor radiotjie op die tafel blêr om die beurt liedjies uit.

Daar is ‘n deur met ‘n effens afgeskilferde bordjie op links (Wassery), en ‘n aanwysing regs wat sê Swembad / Common Property.  Daar is ‘n bankie met twee sitplekke en ‘n stoel met ‘n tafeltjie naby, waarop ‘n transistor radio staan, soos in die ou dae.  Die musiek wat speel pas aan by die karakter van die karakters, byvoorbeeld Jakob en My Seun Mieliepap, YMCA vir Gideon.

Eerste Bedryf

Openingstoneel : Koeks en Sue op die bankie, hulle luister na golden oldies op die radio.  Koeks is aangetrek om huis skoon te maak, kopdoek en ‘n lap.  Langs haar op die tafel is ‘n potjie tee en twee koppies, en ‘n half-weggesteekte botteltjie obey.

KOEKS. Ek hoor daai Penelope Fortuin is alweer besig om haar daffodils borrie in te gee.

SUE. So what?

KOEKS.  Sy kroek

SUE.  Hoekom sê jy so Koeks?

KOEKS.  Die borrie laat haar daffodils geler lyk as myne.

SUE.  Dis nie kroek nie, dis kreatiwiteit.

KOEKS.  Dis nie fair nie, Sue.  Daffodils moet geel wees, nie oranje nie.

SUE.  Jy’s net jaloers Koeks (suig aan sigaret)

KOEKS.  Issie.  Sy’t verlede jaar ook gekroek, dis hoekom sy die biltong-hamper gewen het.  Mens kan ook nie die Indiane met enigiets vertrou nie.

SUE.  (kyk skrefies-oë na Koeks).  Dis Indiërs, nie Indiane nie.  En sy is nie ‘n Indiër nie.

KOEKS.  Dis dieselfde ding.

MYTE.  Dit is nie.  Indiane is die mense wat deur die Amerikaners onderdruk word, Indiërs is soos ons locals.

KOEKS.  Maak nie saak nie, sy kroek.

SUE.  Mens kan hierdie jaar ‘n duisend rand met die mooiste tuintjie kompetisie wen.  Tweede prys is ‘n biltong-hamper.

KOEKS.  Het jy gehoor wie die judges is hierdie jaar?

SUE.  Daar is net een. (Vryf oor haar maag).

KOEKS.  (Agterdogtig).  Wie?  Wat het jy gehoor?

SUE.  Gideon.

KOEKS.  Daardie soetjiespoep!  Daardie man is soos ‘n splinter in my oog, ‘n doring in my sy.

SUE.  Haai Koeksie, dit is darem profetiese woorde, waar het jy dit gehoor?

KOEKS.  By Numeri.

SUE.  (dom-verwondered).  Numeri?  In watter nommer bly hy?

KOEKS.  Numeri, Sue.  Van die Bybel.  Daardie boek wat voor apartheid nog belangrik vir die Afrikaner was.  Numeri, Deutrenomium, Josua, Rigters, Rut.

SUE.  (suigie aan sigaret).  Ken hulle nie.  Gideon is miskien ‘n skwêr, maar hy is nie ‘n soetjiespoep nie.  Party vrouens hier rond dink hy’s nogal aantreklik.

KOEKS.  Hy’s glad nie my tipe nie.

SUE.  Ek dink hy is sexy KOEKS, net soos jy dink oor Jakob.

KOEKS. Ga!  En sit uit daai siegret, jy gaan kanker kry.

SUE.  (dromerig).  Gideon is nogal aantreklik.  En hy het baie mooi kuite.

KOEKS.  Hy lyk vir my na ‘n mannetjie wat sy mantel maar na die wind draai.

SUE.  Hy’t nie winde nie, Koeks, sy maag is net partykeer bietjie omgekrap.

MISSUS CUNNINGHAM.  (Op).  Good afternoon ladies.

SUE.  (nie oorvriendelik nie).  Hello Missus Cunningham. (Sit die radio bietjie harder, eerste strofes van die Britse volkslied God save the queen speel).

MISSUS CUNNINGHAM.  I hear you ladies have entered the beautiful garden competition.

KOEKS (brommend).  Waar hoor jy dit?

MISSUS CUNNINGHAM.  From Gideon.  He is the chief judge, you know.

SUE.  Yes Missus Cunningham, we have entered, altwee van ons.

MISSUS CUNNINGHAM.  Never mind.  You know I will win this year.

KOEKS.  Dit sal die dag wees.

SUE.  (Vryf oor haar magie).  Why?

MISSUS CUNNINGHAM.  Because I have only the best English plants and flowers in my garden, you know.  It’s an English country garden.  (loer na teepot).

KOEKS.  Dink jy miskien ander country’s het nie gardens nie?

MISSUS CUNNINGHAM.  And why don’t you have any Earl Grey tea?  Why do you only drink only Afrikaner tea?

KOEKS (brommend, agteraf).  Blêddie Kakie…

MISSUS CUNNINGHAM.  (hoogdrawend).   I have English roses, lavendar, peonies, a wisteria and violets in my garden.  It’s an English country garden. I have impeccable imperial taste.

KOEKS.  Sy is ‘n imperialis.

SUE.  Bleddie kolonialis.

KOEKS.  En ‘n snob.

MISSUS CUNNINGHAM.  I heard that.  I don’t mind living in one of her majesty’s colonies and making friends with some of her subjects.

KOEKS.  Suid-Afrika is lankal nie meer ‘n kolonie nie ou girl, dit is nou ‘n soewereine staat.

SUE.  Mens sou nie so sê as jy na Zuma en die Guptas kyk nie.

KOEKS.  Ons kaap nie meer vliegtuie hier rond nie, ons kaap sommer die hele staat in Afrika.

JAKOB. (op, Koeks se houding/blik versag merkbaar toe sy hom sien).  Middag dames. (Sue sit die radio effens harder, My seun Mieliepap van Johrnè speel, Jakob staar vir ‘n oomblik na die radio, maar snap nie die konneksie tussen homself en Mieliepap nie).

KOEKS.  Hallo Jakob.  Kom sit hier langs my.  (Jakob sit, Koeks se hand op sy bobeen).  Haai Jakoppie, skeer jy jou beenhare?

JAKOB.  (ongemaklik, hy probeer wegskuif).  Uh ..

KOEKS.  (kokketerig).  Jou bene is nogal glad, net soos ‘n fietsryer.

JAKOB.  Nie so glad nie ..

KOEKS.  Jakoppie, het jy jou beenhare geskeer?

JAKOB.  (huiwerig, lieg).  Nee.

MISSUS CUNNINGHAM. (hoogdrawend, snobisties).  Why do you invite him to sit down, and not me?  (kyk na teepot).  I would also like to have a cup of tea.

JAKOB.  Dis Suid-Afrika diè ou sussie, hier drink ons koffie.  (aan Koeks).  Bied haar maar tog ‘n koppie Afrika-koffie aan.

MISSUS CUNNINGHAM. (hoogdrawend).  No thank you, coffee is not my cup of tea.  Why can’t I sit down?

KOEKS.  (sag, sodat Missus Cunningham haar nie kan hoor nie).  Want jy is Engels.

SUE.  Missus Cunningham sê sy gaan die mooiste tuintjie kompetisie wen, Jakob.  Met haar English country garden.

JAKOB.  (vieserig).  Dis ‘n kompetisie vir Afrika, nie Engeland nie.  Dis vir Afrikaner plante en tuine.  En sy drink nie eers koffie nie.

MISSUS CUNNINGHAM. What on earth do you mean?

JAKOB. (Effens vererg).  My pa het altyd gesê Afrikaanse plante is beter as Engelse plante.  En hy het gesê dis òns land hierdie, nie ‘n Engelse land vir Engelse plante nie.

KOEKS (sit weer haar hand op Jakob se gladde bobeen, maar hy skuif effens weg).  Sê haar Jakoppie, sê haar.

MISSUS CUNNINGHAM.  Plants and shrubs and flowers are plants and shrubs and flowers, Jay-cob, they don’t have different nationalities.

SUE.  Dis nie wat Verwoerd gedink het nie.

KOEKS.  Verwoerd het gedink almal het verskillende identiteite.

SUE.  Ja, en ons ly nou nog aan ‘n hangover van die politieke drank wat ons in Verwoerd se tyd gedrink het.

JAKOB.  (aan Cunningham).  Hoekom skryf jy nie daai Engelse blomme van jou in vir die Chelsea flower show nie?

MISSUS CUNNINGHAM.   I just happen to think that lavendar and peonies and pansies are better than your Afrikanertjies and aalwyne.  Especially the pansies.

JAKOB (met ‘n effense glimlag).  Ja, almal weet die Engelse is ‘n klomp blomme.  Kyk maar daardie klomp Engelse van Cambridge wat ons kernbom-geheime aan die KGB verkoop het, almal van hulle was pansies.

MISSUS CUNNINGHAM.  (Verward, verwonderd).  Pansies?  They’re wonderful to look at, and they bloom in die summertime.

JAKOB.  (Effens nadenkend, skamerig).  Party van hulle was nogal mooi seuns.

KOEKS.  (skuinsweg na Jakob).  Mooi seuns?

SUE.  (aan Koeks.)  Ek dink Jakoppie hou van mooi Afrikaner seuns.

KOEKS.  Moenie vergeet van aalwyne en jakobregops nie, Jakob, en fynbos.  Ek het baie Kaapse fynbos in my tuintjie, dis ook eg-Afrikaans.

MISSUS CUNNINGHAM.  (Vraend).  ‘What is a Jaa-Kop-Reg- Op?’

JACOB.  In Engeland noem julle dit ‘n ‘Jaykob Straight Up.’

KOEKS.  Elke Afrikaanse tuintjie moet fynbos in hê.

SUE.  Afrikaanse tuintjies is die beste tuintjies om in te kuier Jakob.

KOEKS.  Sê hom bietjie Sue, sê hom.

SUE.  Watter soort Afrikaner plante het jy in jou tuintjie, Jakob?

JAKOB.  Ek het Afrikanertjies, pragtig geel en mooi, en aalwyne natuurlik, en baie vetplante uit die Karoo – hulle is die beste.  En proteas, en ‘n roomysboom, en gesiggies.  Eerlike, opregte plante, net soos die Afrikaner self (kyk na Missus Cunningham).

MISSUS CUNNINGHAM.  Well I never! It sounds like discrimination to me.

JAKOB.  Julle Engelse het nie ‘n kat se kans nie.  Ek gaan die mooiste tuintjie kompetisie wen.  My tuintjie lyk baie mooi, ons het juis gisternag lekker reën gehad.

KOEKS.  (drogerig).  Ja, gister was Gordonsbaai se slaggate veertig persent vol water, vanoggend tagtig persent.

MISSUS CUNNINGHAM. (Verontwaardig).  Well, I would’nt be so sure of that.  I know people too.

SUE (agterdogtig, aan KOEKS).  Wat bedoel sy?

MISSUS CUNNINGHAM.  People who know me and care for me and feel sorry for me.

KOEKS.  Vra haar.  Al wat ek weet is – hier kom ‘n lelike ding.

SUE.  Dit klink vir my soos ‘n dreigement.

KOEKS.   Ek dink nie so nie, sy klink vir my na ‘n regte Sannie Martelgat.

SUE.  Wat bedoel jy Missus Cunningham?

MISSUS CUNNINGHAM.  (giggel).  ‘Oh, don’t worry darlings, I did’nt mean anything by that.  I have the best English country garden and I am going to win the most beautiful garden competition.’

KOEKS.  Dit sal die dag wees.

MISSUS CUNNINGHAM.  (begin sing, saam met radio)Rule Brittania ……..

JAKOB (botteljie old brown cherrie, hou dit vir Koeks, gooi by haar tee).  Jy sal nie daardie kompetisie wen solank ek in die omtrek is nie girlie.  Julle Engelse het ons genoeg uitgebuit, jy gaan nie nog die kompetisie ook wen nie.

SUE.  Wat bedoel hy Koeks?

KOEKS.  (slukkie old brown tee).  Ek weet nie eintlik nie.  Wat bedoel jy Jakob?

MISSUS CUNNINGHAM.  (giggel)(af).  I have to run off now, I have a date tonight.  Bye-bye dahlings!

KOEKS.  Sy sal haar wat verbeel.

SUE.  Ek is lus en klap daai Engelse vrou so hard dat haar kinders se ore tuit.

KOEKS.  Pasop Sue-tjie, dis mos aanranding.  En ek dink nie sy het kinders nie.

JAKOB.  Ek dink nie dis aanranding as jy ‘n kolonialis klap nie.

SUE.  Wat bedoel jy die Engelse ons uitgebuit, Jakob?

JAKOB. (slukkie obey).  My pa het altyd gesê die Kakies het die Boere nie net vermoor nie, maar ons ook uitgebuit.  Hulle wou die goud en diamante van die Vrystaat en die Zuid-Afrikaanse Republiek hê, toe stuur hulle daai vuilgoed Jameson om ons aan te val.

KOEKS.  Sê haar Jakoppie, sê haar.

JAKOB.  Dit was in die jaar 1895.

SUE.  My hemel Jakob!

JAKOB (neem nog ‘n slukkie obey en gee vir Koeks, gooi nog by haar tee).  Maar die Boere se Geheime Dienst was te slim, toe vang ons vir Jameson en sy gespuis en ons sit hom in die tronk.  Dit was maar Cecil John Rhodes se abortiewe poging tot staatskaping.

KOEKS.  (slukkie).  Sê haar Jakoppie, sê haar.

JAKOB.  Jameson en die Engelse kon dit nie regkry nie, maar die Zuptas het.

KOEKS.  Sê hulle Jakoppie, sê hulle.

JAKOB.  Maar toe kom die Engelse weer en hulle maak Boere-oorlog teen ons, daar in 1899.  En hulle pleeg volksmoord.

SUE.  Ek het daarvan gehoor, ja .. 26 000 duisend Boere vroue en kinders is vermoor.

JAKOB.   Meer soos 29 000 Sue, die Erfenistigting sê 29 000.  Uitgemoor deur die Engelse.

KOEKS.  Net die Duitsers het ons bietjie gehelp.  Die Engelse het volksmoord gepleeg en dit is ‘n skande – ons moet dit nie vergeet nie.

SUE.  Nie net ons nie Koeks, ons kinders ook.

JAKOB. (mymerend, voggies help).  Dis waar ja.. en ons kinders se kinders.  Dit is hoekom ons nie moet toelaat dat daai Engelse vrou ons mooiste tuintjie kompetisie wen nie.  (Jakob af).

KOEKS.  (Koeks & Sue sit verder verder met die botteltjie, gooi in die tee). Tja .. die Jakoppie darem.

SUE.  Jy hou van hom nê?

KOEKS.  Ja, maar Frik is net soos ‘n selfoon.

SUE.  ‘n Selfoon?

KOEKS.  As jy hom soek is hy weg, het jy hom is hy lastig en as jy hom wil gebruik, is hy pap.  En het jy geweet hy eet net Afrikaanse kos?

SUE.  Afrikaner kos?  Soos wat?

KOEKS.  Krummelpap, melktert, bobotie en rys met rosyntjies, nou en dan ‘n koeksister as die Cheetahs ‘n rugbywedstryd wen.  Jakoppie kom mos van die Vrystaat af, pure Afrikaner man.  (Koeks ril so bietjie van plesier).

SUE.  Afrikaanse kos smaak so lekker.

KOEKS.  Afrikaanse drank nog beter.

SUE.  Wat is Afrikaanse drank?

KOEKS.  Brannewyn en coke.  Met eish, soos Jakoppie altyd sê.

SUE.  En het jy al Jakob se voorhuis gesien?

KOEKS.  (bloos).  Nee Sue, ek dink nie sy familie glo aan besnydenis nie.

SUE.  Huis Koeks, huis.

KOEKS.  Hys?

SUE.  Net mense van Brakpan af praat van ‘n hys wanneer hulle huis bedoel.

KOEKS.   O!  Nee, ek dink nie ek het al sy voorhuis gesien nie, hoekom?

SUE.  Daar is ‘n foto van PW Botha bokant sy kaggel.

KOEKS.  Saam met al die ander kaggelkakkies?

SUE.  Ja, maar ek dink nie dit is so erg nie, party mense het deesdae ‘n foto van Zuma in hulle huise.

KOEKS.  Ja, maar dit is ‘n afskrikmiddel teen inbrake.

SUE.  Lyk nie juis of dit werk nie.

KOEKS.  En misdaad.

SUE.  Jy hou van Jakoppie, nê?

KOEKS.  Hy kan maar enige tyd sy paar army boots onder my bedjie inskuif.

SUE.  Dra hy nog daardie boots?

KOEKS.  Ja, net soos in die Army.  Jy kan Jakob uit die Army kry, maar nie die Army uit Jakob nie.

PENELOPE (op, effens hardhorend).  Haai Koeks, is dit nie wat hulle van Brittany gesê het nie?  Sy is mos in ‘n caravan gebore.

KOEKS (slukkie).  Wat sê hulle Penelope?

SUE.  You can take the girl out of the caravan park, but you can’t take the caravan park out of the girl.

KOEKS (lag).  Ek het in elk geval nog nooit vir Amerikaanse kultuur omgegee nie, ek dink hulle is ‘n klomp rednecks.  Ek dink Brittany is ‘n Trump ondersteuner.

Transistor radio speel eerste paar strofes van Amerikaanse volkslied, Star Spangled Banner.

PENELOPE.  Trump is ‘n redneck.

KOEKS.  Meer soos ‘n orange face.  Ek dink die man is ‘n fascis, soos Mussolini.

SUE. (chip in van die kant af).  ‘Orange is the new black.’

PENELOPE.  Haai Koeks, ek het nie geweet jy ken sulke groot woorde nie.

KOEKS.  Soos wat?

PENELOPE.  Soos Mussolini.  Is dit soos fettechini en ravioli?

KOEKS (kyk Penelope aan asof sy van die maan af kom).  Ja Penelope, Mussolini is ‘n soort Italiaanse pasta, net soos jy sê.

SUE (lag).  Mussolini, Adolf Hitler,  Maarskalk Tito, Franco van Spanje, Donald Trump – die fascistiese elite.

Penelope vroetel met die transistor radio, speel klanke van een van Hitler se toesprake, stem weergalm.

KOEKS.  Soos ons Broederbond.

SUE.  Nie heeltemal nie.  Die Broederbond was die Nasionale Party se ‘think-tank.’

KOEKS.  Praat Afrikaans Sue, nie Frengels nie.

SUE.  Okey dan, dink-tênk.

KOEKS.  Is dit nie dink-skrum nie?

SUE.  Nee, ek dink nie dit het iets met rugby te doen nie.

KOEKS.  Ek kyk nie eers meer rugby nie.

SUE.  Hoekom nie Koeks?  Jakob kyk rugby, hy hou van die spelers se geel skoene en pienk truitjies.

PENELOPE.  Een van die dae speel hulle met sonbrille op.

KOEKS.  Ek kyk nie na ‘n spul rasgedrewe kwotaspanne nie.  SARU hou ons rugby kunsmatig aan die lewe – mens kan nie aan sport deelneem as die regering jou spanne vir jou kies nie.

PENELOPE.  Waarvan praat julle?

KOEKS.  Die Broederbond Penelope, die Broederbond.  Die Ossewa Brandwag, die Redderbond, die Moederbond – al die bonde wat in die ou dae saak gemaak het.

SUE.  En nou nie meer saakmaak nie?

KOEKS.  Nee, al wat nou meer saakmaak is Zuma se korrupsie-regering en ons klomp Afrikaners wat soos ‘n klomp reddelose hoenders al in die rondte hardloop.  Die derde ontgogeling van ons ou Afrikaanse volkie.

PENELOPE.  Eers die Britte en die Groot Trek, toe  weer die Britte met die Boere-oorloë, nou die korrupsie regering…

SUE. (slukkie obey tee).  Sê hulle Koeks, sê hulle.

KOEKS.  Ek wonder nou nog oor die Broederbond, veral as ek vir Jakob sien.  Ek dink Jakob was ‘n broeder.

PENELOPE.  (mymerend).  Stil broers, daar gaan ‘n man verby.

SUE.  Wat?

PENELOPE.  (kyk na Koeks).  Stil broers, daar gaan ‘n man verby.

KOEKS.  Jan F.E. Cilliers.  Maar hy het van boere-generaal Christiaan de Wet gepraat, nie van die Broeders nie.

PENELOPE.  Stil manne, daar gaan ‘n broer verby.

KOEKS.  Ek weet nie altyd of Jakob so ‘n man is nie.

PENELOPE.  (moedswillig).  Stil parlement, daar gaan ‘n Zupta-dief verby.

SUE.  Hou no op Penelope!

PENELOPE.  (lag stuitig).  Stil belastingbetalers, daar gaan ‘n kurrupsie-regering verby.

SUE.  Penelope!

PENELOPE.  Jakoppie is darem nie tè lelik nie, Koeks.

KOEKS.  Ek dink Jakob is ‘n spesie-voorbeeld van ‘n behoudende Arikaner.  Of miskien is hy net ‘n Afrikaanse man.  Hy kan nog sy hare met brilcream en weet jy wat, hy polish sy boots met spoeg en brasso om hulle beter te laat blink.

PENELOPE.  (verwonderd).  Net soos in die Army.

KOEKS.  Ek dink sy politiek het ook in die Army vasgehak.

SUE.   Tjaa.. baie Afrikaners is sò Koeks, baie van hulle.

KOEKS.  Hulle Sue, hulle?  Is hulle nie ons nie?

SUE.  Dis waar ja, ons is maar hulle ook.

PENELOPE.  Ek is ook deel van ons, Sue, al lyk ek anders as jy.

KOEKS.  Ons Afrikaners het maar in die apartheid-era vasgehak Penelope, ons dink nog soos in 1980.

SUE.  Dis waar ja, dis ‘n skande.

PENELOPE.  Moenie so ‘n Marie Martelgat wees nie Sue.  Dit is tyd dat julle Afrikaners opstaan uit julle routydperk, die verlede is verby man.

KOEKS.  Ten spyte van wat Jeanne Goosen sê, ons is (klem) almal sòo..

PENELOPE.  Nee, julle was almal sò, of ten minste, die meeste van julle.  Maar nie almal nie.

KOEKS.  Ons het almal aan die groot apartheidsdroom geglo Penelope, eens op ‘n tyd.  Verwoerd, John Balthazar Vorster, PW Botha, Pik Botha, die hele tootie.

Transistor radio speel Uit die Blou van Onse Hemel.

SUE.  Maar dis nou verby – ek vir een gaan nie die volgende honderd jaar nog daai apartheidskruis dra nie.

PENELOPE.  (vermanend).  Julle moet nou ophou met julle selfbejammering.

KOEKS.  Ons was daar, ons het deelgeneem, ons het boetedoening gedoen en dis nou verby.

SUE.  Out of the frying pan, into the fire.  Uit die apartheids-era, in die korrupsie-era in.

KOEKS.  Sê hulle Sue-tjie, sê hulle.

PENELOPE.  Behalwe Jakoppie, of hoe sê ek Koeks?

KOEKS.  Tja, Jakob het bietjie vasgehak, sy politiek is nog in die geskiedenis vasgemessel.  Sy kop is in sy alie, hy dink nog PW Botha is die president.

SUE.  Hy’t nogal baie slegte gewoontes.

KOEKS.  (stouterig).  Dis sy slegte gewoontes wat my die meeste van hom laat hou.

PENELOPE.  Ek het hom en Gideon nou-die-ander-dag by die nursery gesien, toe groet hy my nie eers nie.  Te opstêrs, die twee van hulle.

KOEKS. (argumenteririg).  Was Jakob en Gideon saam by die nursery?  Hy’t niks vir my gesê nie.

PENELOPE.  (verkneuter haar aan Koeks se ongemaklikheid).  Tjà.. die twee was so dik soos diewe, hand-om-die-blaas, mens sou sweer hulle is lovers.

KOEKS.  Lovers?

PENELOPE.  Gemaak of hulle my glad nie raaksien nie.

SUE.  Miskien is hulle jaloers op jou vetplant-tuintjie, Penelope.  ‘n Vetplant-tuintjie het nog nooit die kompetisie gewen nie – maar joune lyk te pragtig.  Miskien wen jy hierdie jaar.

PENELOPE.  (veinserig).  Ag ek weet nie, dink jy regtig so?

SUE.  Ja, en jou tuintjie lyk beter as Jakob sin, en ook daai Engelse feeks wat dink as sy die Queen se Engels praat sy sommer gaan wen!

PENELOPE.  Sjoe, Sue, wat het oor jou lewer geloop met die Engelse vrou?

SUE.  Sy moenie dink omdat sy ‘n afstammeling van die Queen van Engeland is dat sy sommer hier gaan instap en die mooiste tuintjie kompetisie gaan wen nie.

PENELOPE.  Dônnerse kolonialis.  Sy is deesdae gans te danig met Gideon, ek kyk haar so.

KOEKS.  Sy en Gideon?

PENELOPE.   Ek kan sien sy voer iets in die mou.

KOEKS. (kop ruk op).  Wat is dit nou van die Engelse vrou en Gideon?

PENELOPE.  Tjaa.. die twee was te danig met mekaar.

KOEKS.  Ek dog jy sê jy het vir Jakob en Gideon by die nursery gesien?

PENLOPE.  Ek het.  Maar ek sien ou Gideon kuier so nou en dan in daardie Engelse tuintjie.

SUE. (onmiddellik jaloers).  Wat bedoel jy?

PENELOPE.  Ek bedoel hy slaap oor.  Ek kan hulle lekker sien as hulle besig is, uit my badkamer se venster.  Ek kan haar sien, sy weet dit net nie.

KOEKS. (verwonderd).  Kan jy haar sien?

PENELOPE.  Ja.

KOEKS.  Uit jou badkamer se venster?  Maar jou venster is te hoog Penelope, jy kan mos nie deursien tot in haar huis nie.

PENELOPE.  Ek kan.  Veral as ek op my badkamer-bankie staan, en my nek so ‘n bietjie rek, dan sien ek haar beter.

SUE (brommend).  Engelse feeks.

PENELOPE.  Ek het boude gesien.

SUE.  Benoude boude.

KOEKS.  Hoe weet jy wie se boude dit was?

PENELOPE.   (verleë).  Ek sal nou nie weet nie Koeks, dis nie asof ek eerstehandse kennis van Missus Cunningham se boude het nie.

SUE.  Ek dink sy het nogal mooi boude.

PENELOPE.  Engelse boude lyk anders as Afrikaanse boude.

KOEKS.  Kan jy dan mense se boude herken?

PENELOPE.  Van my badkamer se venster af lyk dit of hulle mooi ronde boude kan wees.

KOEKS.  Tja.. jy moet jou oog op Missus Cunningham hou, Sue.  Net-nou net-nou vry sy Gideon by jou af.

PENELOPE.  Ek het drie bene gesien.

KOEKS.  Maar jy weet nie wie se bene dit is nie?

PENELOPE.  Ek is nie seker nie, ek dink ek het een van die drie bene herken.

SUE.  (jaloers).  Ek dink Gideon slaap oor Koeks – ek dink sy’t Gideon klaar by my afgevry.

KOEKS.  Tja.. lyk my Gideon slat sommer twee vliëe met een klap.

PENELOPE.  Hy is so glad, hy drink net gladdejantjies.

SUE.  Wat?

PENELOPE.  Smoothys, smoothys.

SUE.  Daai Engelse vrou lyk vir my nogal na twee vliëe met haar swart hare en spinnekop-bene.

KOEKS.  Sy lyk vir my meer na ‘n stokkies-insek, soos ‘n praying mantis.  Sy het sulke ronde-knieknoppe soos ‘n Karoo kalbassie.

SUE.  Wat praat jy nou van bid?  Sy beter bid ek kry haar nie alleen in die hande nie, ek draai haar hoêner-nekkie vir haar om.

PENELOPE.  Ek sal nogal graag sien hoe lyk die Engelse as hulle bid.

KOEKS.   Ons moenie sommer so oor godsdiens praat nie, kyk wat het met die Afrikaner en sy godsdiens gebeur.

PENELOPE.  Wat het gebeur, Koeks?

KOEKS.  Mao Tsetung het altyd gesê godsdiens is die proletaraat se opium.  Of was dit nou Lenin?

PENELOPE.  Wat is ‘n proletariaat?

KOEKS.  Dit is ons, Penelope, die werkersklas, die gepeupel, die mense van die aarde.  Zuma en die ANC is die bourgeoisie in Suid-Afrika, die staatsamptenare mense met geld en motors en gesubsidiëerde mediese skemas.  Ons is die proletariaat, die armgatte wat belasting betaal sodat ons vier miljoen staatsamptenare en ons korrupsie-regering in luuksheid kan lewe.

SUE.  Wie is Lenin?  John Lennon?

KOEKS.  Nee, hy het net dagga gerook terwyl hy sing en saam met Yoko in die bed karfoefel.  Ek praat van Vladimir Lenin, leier van die Bolshevistiese revolusie in Rusland in 1917.

SUE.  Wat het Lenin en die Bolsheviste met die Afrikaanse godsdiens te doen?

KOEKS.  Ek dink dis hulle skuld dat die Afrikaners nie kan saamstaan nie.  Ons het tien verskillende politieke partye, agt vakbonde en drie susterkerke.  En honderde ander klein gemeentetjies, kerkgroepies, bidgroepies, huiskerke, charismate, geloofsendings en wie weet wat nog.

PENELOPE.  Tjaa… vir die Afrikaner maak eendrag nie mag nie.  Elkeen doen sy eie ding, elkeen trek in sy eie rigting.

SUE.  Net soos vanmelewe se Voortrekkers.  Ons leer maar nooit ons lesse nie.

KOEKS.  (laggend).  So Sue-tjie, wanneer gaan jy daai stokkies-insek se hoener-nek omdraai?

PENELOPE.  (giggel saam, hits Sue aan).  Ek kan nie wag om dit te sien nie, daarvan moet ons moet ‘n video vir You-Tube maak.

*

JAKOB. (terug).  Wie se nek wil jy nou omdraai Sue? (Sue draai die transistor harder, My seun Mieliepap speel, Jakob luister aandagtig).  Jitte, dis darem ‘n mooi liedjie.

KOEKS. (namens Sue).  Sy wil daai Engelse stokkies-insek se nek omdraai.

JAKOB.  Stokkies-insek?

KOEKS.  Missus Cunningham.

JAKOB.  Ek sal nie omgee as jy enige Engelsman se nek omdraai nie.

KOEKS.  Sê haar Jakoppie, sê haar.

SUE.  Is dit nie geweld teen vroue nie?

KOEKS.  Nie as ‘n ander vrou dit doen nie.

JAKOB.  Ek dink nek-omdraai is nog toelaatbaar, mens moet net nie aan vrouens slaan nie.

SUE.  (lekker boos).  Slaan aan vrouens is nie reg nie, maar niemand het iets gesê van skop nie.

JAKOB.  Maar hoekom nou Sue, wat het sy aan jou gedoen?

KOEKS.  (namens Sue).  Sy krap in Sue se slaai.

SUE(vryf oor haar eie magie, beskuldigend).  Sy en Gideon het saam geslaap.

KOEKS.  Sy’t vir my gesê sy lei aan slaaploosheid, dit is diè dat sy so in die aande rondloop hier in die kompleks.

JAKOB.  Ek het gedink dit is ‘n spook, ‘n wandelende gees.

SUE.  Sy’t vir my gesê sy lei nie aan slaaploosheid nie, sy slaap net sleg en haar maag werk.

KOEKS.  Ek dink sy slaap heel goed rond.  Dis nie die saamslaap wat die probleem is nie, Sue.

SUE.  Wat dan?

KOEKS.  Dit is die saam wakkerbly.  As jy slaap gebeur daar niks.  (Kyk beskuldigend,uitlokkend na Jakob).

JAKOB.  Jy kan haar nek maar omdraai Sue, moet net nie vir Gideontjie iets aandoen nie.

SUE. (verbaas).  Maar ek sal hom mos nooit so iets aandoen nie.

KOEKS. (kyk agterdogtig na Jakob).  En hoekom is jy so bekommerd oor Gidoen se vermoëns, JAKOB?

JAKOB. (ongemaklik).  Nee, ek is maar net bekommerd oor Gidoen in die algemeen.

KOEKS.  (vat aan Jakob se boud).  Wel, moenie tè bekommerd oor hom raak nie Jakob, ek en jy het nog ongedane sake.

JAKOB.  (effens verskrik, Sue lag).  Hoe bedoel jy nou Koeks?

KOEKS.  Onafgehandelde besigheid Jakob.

SUE. (aspris, giggel).  Ongedane sake het geen keer nie ..

JAKOB.  (keer vir sy wickets).  Koeks, jy moet nou nie te bronsterig raak nie.

KOEKS.  Hoekom nie, Jakoppie, dink jy nie ek en jy moet iets vir die nageslag doen nie?

JAKOB.  Nageslag?

KOEKS.  (skalks).  Ja Jakob, kom ons skep een.

*

Tweede bedryf

SUE.  Iemand het slakke in my tuintjie gegooi Koeks, ek sê jou, iemand het tuinslakke in my tuintjie gegooi.  Ek het nooit so baie slakke in my tuintjie nie, nie eers in die winter nie.

KOEKS.  Dit kan net daai Engelse vrou wees, dit is net sy wat sulke dinge sal doen.

SUE.  Verdomp.  Die slakke eet my blommetjies.

KOEKS.  Dis sy, ek sê jou.

SUE.  Maar hoekom sy, Koeks?

KOEKS.  Wànt sy is jaloers op jou.

SUE (verbaas).  Maar hoekom?  Ons tuintjies is mos maar ewe mooi.  Enige een van ons twee kan die kompetisie wen.

KOEKS. (vermy Sue se oë).  Ek is nie so seker nie.  Gideon is mos die beoordeelaar en ek is nie so seker hy weet watter tuintjie is die mooiste nie.  Dis nou te sê, tussen jou tuintjie en Missus Cunningham se tuintjie.

SUE.  Haai Koeks, hoe kan jy so iets sê?

KOEKS.  Wel, hy kuier nooit in my tuintjie nie.

SUE.  Wie kan so gemeen wees om slakke in my tuintjie te gooi?

KOEKS.  Missus Cunningham is jaloers genoeg om haar slakke in jou tuintjie te gooi.  Oor die muur, as die donker is, sodat jy nie kan sien dit is sy nie.

SUE.  Hoe kan jy so seker wees, Koeks?

KOEKS.  (kyk so na Sue se magie).  Oor Gideon.

SUE.  (bloos)  Oor Gideon?

KOEKS.  Sue, luister jy nou mooi vir my.  Ek is nie onnosel nie en ek is ook nie blind nie.  Ek het gesien hoe jy en Gideon by die Krismispaartie vir mekaar kyk.  En ek weet hy het in jou tuintjie gekuier en dis hoekom jou maag so staan.

SUE (verbaas, bly biejtie stil).  Ja, oukei Koeks, maar hoe weet jy Missus Cunnigham het slakke?

KOEKS.  Ek het haar nou-die-ander-dag by die nursery gesien, daar by Mountain Streams Kwekery, sy was besig om kunsmis te koop.

JAKOB. (op).  Kunsmis?  Waaroor praat julle nou oor kunsmis?

KOEKS.  Ons praat oor Missus Cunnigham.  Sy’t kunsmis daar by die nursery gekoop, ek het haar gesien.

JAKOB. (vieserig).  Sy kan sommer die goed wat by haar mond uit kom, as kunsmis gebruik.

SUE. (lag).  Sies Jakob!

JAKOB.  Ek vertrou daardie Engelse vroumens glad nie.  Trouens, ek het sommer nou-die-ander-aand vir haar so gesê, maar toe keer Gideon my mos.

SUE.  Gideon.  Hoe bedoel jy my Gideon?

KOEKS.  Die beoordeelaar Sue – Gideon.

SUE.  Ek weet wie dit is, Koeks.

JAKOB.  Wel, ek het hulle by die Sleazy Oyster gesien, toe is daar ‘n argument oor die mooiste tuintjie kompetisie.

SUE.  Wàààt?  Het jy vir Gideon en daai Engelse vrou saam by die Sleazy Oyster gesien?

KOEKS (bestrawwende blik in Jakob se rigting).  Jakop, hoekom argumenteer jy met die vrou?

JAKOB.  Ek sê maar net.  Ek dink sy gaan kroek met die kompetisie, ek dink sy probeer die beoordeelaar beïnvloed en toe sê ek so.

SUE. (word kwater). Jakob, moet nou nie met my nèuk nie.  Het jy vir Gideon en Missus Cunningham saam by die Sleezy Oyster gesien?

JAKOB.  Ja.

KOEKS.  En nou dink jy sy gaan kroek?

JAKOB.  Ja, sy probeer vir Gideon om haar pinkie draai.  En sy dink sy gaan daarmee wegkom.

SUE. JAKOB!  Was Gideon en daai Engelse feeks saam by die Sleazy Oyster?

JAKOB.  Ja oukei Sue, hulle was daar.  Maar jy moenie so lelik van Gideon praat nie.

SUE (vies).  Ek praat nie lelik van Gideon nie, Jakob.  Ek praat net lelik van daai Engelse volksmoordenaar.

KOEKS.  Sue, jy praat nou amper nes Jakob.

SUE.  As sy by Gideon aanlê net om die mooiste tuintjie kompetisie te wen, gaan ek haar hoener-nek omdraai!

KOEKS.  Sê haar Sue, sê haar.

JAKOB.  Ja, sê haar, maar los vir Gideontjie uit die ding uit.

PENELOPE.  Ek het hulle twee ook al saam gesien.

SUE.  Saam gesien?  Gideon en Jakob? Waar nogal?

PENELOPE.  By Chekahs.

SUE.  By Chekahs?

PENELOPE.  Ja, net om die hoek.

SUE.  Wat het hulle gedoen?

PENELOPE.  Hulle was besig om hoenders te koop, three-range hoenders.

SUE.  Three range?

PENELOPE.  Ja, jy weet, daardie hoendertjies wat net gesonde kos eet.  Dan smaak hulle lekkerder as ons hulle eet.

KOEKS.  Dis nie three range nie Penelope, dit is free ranch.

PENELOPE.  Free ranch hoenders, soos ‘n plaas, waar vrylopende hoenders eiers produseer.

KOEKS.  (lag).  Jy moet jou ore laat toets, Penelope.

PENELOPE.  Ek hardhorend Koeks, nie doof nie.

SUE.  Horende doof.

PENELOPE.  My een oor hoor beter as my ander oor.

KOEKS.  ‘n Goeie begryper het net ‘n halwe woord nodig.

SUE.  Nee, ‘n goeie woord het net ‘n halwe begryper nodig.

KOEKS.  Ai Sue-tjie, nou praat jy diep dinge, mens kan jou amper ‘n Afrikaner filosoof noem.

PENELOPE.  Ek hoor meer met my een oor as ander mense met twee ore.

KOEKS.  (lag).  Penelope, jy is net so kwarteldoof soos daai Franse omie met sy loopraam.

PENELOPE.  Ons is albei bietjie doof.

KOEKS.  Net bietjie?  Hy loop hier rond en dan praat ek met hom en hy hoor niks nie.

SUE.  Praat jy dan Frans?

KOEKS.  Nie juis nie, hy praat oor kos, dan herken ek die woorde.  Hy eet net ‘foie gras’ en padaboudjies.

PENELOPE.  Het die Franse oom paddaboudjies?  Is dit hoekom hy so met daardie loopraam sukkel?

KOEKS.  Nee Penelope, hy eet net …..

PENELOPE.  Ek het gedink hy loop so omdat hy oud is, nie omdat hy paddaboudjies het nie.

KOEKS.  Ek lag myself ‘n ertjie met ‘n boggeltjie elke keer as ek daai paddaboudjies van hom sien.

*

SUE.  Kom jy saam met my Koeks?

KOEKS (kyk skrefies-oë na Jakob).  Waarnatoe nou?

SUE.  Nursery toe, ek gaan slakkegif koop.

KOEKS.  Jy kan nie nou gaan nie Sue, moet jy nie vanmiddig ‘n  musiekles aanbied nie?

PENELOPE.  (bakhand agter haar oor).  Wat sê jy?  Wat doen sy?

KOEKS.  Sy is ‘n musiekonderwyseres Penelope.  Sy bied musieklesse aan vir blinde kinders.

(Agtergrond musiek op radio : 3 blind mice)

PENELOPE.  Wat?  Sekslesse vir blinde kinders?

KOEKS.  (lag).  Hulle gaan jou sensor Penelope.

JAKOB.  Nee, in hierdie land is dit net die regering en die SABC wat jou sensor as jy nie met hulle sosialistiese rubbish saamstem nie.

KOEKS.  Sê hulle Jakob, sê hulle.

JAKOB.  Waarvoor het jy die slakkegif nodig Sue?

SUE.  Julle sal sien.

JAKOB.  Vir die slakke wat die Engelse vrou oor jou tuinmuur gegooi het?

SUE.  Nee JAKOB, ek gaan die slakkegif koop en dan gaan ek dit in daai Missus Cunnigham se keel afdruk.  Of nee, nog beter, ek gaan dit in haar Old Grey tee gooi dat sy dit sommer insluk.

KOEKS.  (af). Maar dit is mos moord, Sue!

SUE. (af). Moord!  Moord!  Nee, dit is geregtigheid.  En ek neem sommer wraak vir al daai vrouens en kindertjies wat in die konsentrasiekampe dood is.

KOEKS.  Nee Sue, jy sal ‘n beter plan moet maak.

SUE.  (nog effens kwaard)Okei.  Ek het ‘n beter plan.

KOEKS  (agterdogtig).  Wat?

SUE.  Jy’t mos al in haar tuin gesien, sy het ‘n groot water future daarbinne.

KOEKS.  ‘n Wat?

SUE.  ‘n Water future.

KOEKS.  Wat is ‘n water future?

SUE.  ‘n Fontyntjie, in jou tyntjie.

KOEKS.  (lag)Water feature, Sue.

SUE.  (brommend).  Wat ookal.  Ek gaan Omo in haar water future gooi.

KOEKS.  Hoekom?

SUE.  Dan kan die Omo borrels maak, en al haar visse en Engelse plante kan vrek, net voor die mooiste tuintjie kompetisie.

KOEKS.  Ek dink nie sy het visse in haar water future (aspris) nie, Sue.

SUE.  Ek dink sy het.  Koi-koi’s.

KOEKS.  Nee man, daar’s nie visse in nie.

SUE.  (dreigend).  Dan vrek haar plante maar van al die seepborrels.

KOEKS.  Sy gaan bubbles blaas ..

*

JAKOB.  (op bankie, neem ‘n slukkie, skuif om vir Gideon plek te maak, tik met sy hand).

GIDEON.  (op). Hallo Jakoppie.

Transistor radio speel YMCA, Village People.

JAKOB. (gee die halwe botteljie obey aan).  Ons moet praat oor die mooiste tuintjie kompetisie.  Ek gaan wragtag nie weer hierdie jaar verloor nie Gideontjie, ek moèt hierdie keer wen.

GIDEON. (neem ‘n slukkie obey, gee botteltjie terug).  Die kompetisie is sterk hierdie jaar JAKOBkie, daar is baie mense wat wil wen.

JAKOB.  Ek weet, maar my tuintjie is ‘n Afrikaner tuintjie.

GIDEON.  Hoeveelste was jy verlede jaar?

JAKOB.  (mismoedig).  Derde.  Daar’s nie pryse vir derde kom nie.

GIDEON.  Die eerste perd was derde.

JAKOB.  Moenie my met ‘n perd vergelyk nie, Gideon.

GIDEON.  Jy sal maar jou Afrikaanse tuintjie moet inskryf, net soos al die ander.  Ek is die beoordeelaar, en my leuse is vryheid, gelykheid en broederskap.

JAKOB.  Soos Jean Jacques Russouw.

GIDEON.  Moenie nou filosofies raak nie Jakoppie, jy maak my depressief.

JAKOB.  Ek weet, maar ek wil wen.  Ek sal enigiets doen om te wen.

GIDEON. (vryf oor sy ken, skelm).  Enigiets?

JAKOB.  Ja Gideontjie, jy weet mos.

GIDEON.  Daar is baie mense wat wil wen … Penelope Fortuin se vetplant-tuintjie lyk vanjaar baie mooi, dan is daar nog Koeks en Sue, en die Franse omie met sy loopraam wat daar in die hoek bly, en Missus Cunningham.

JAKOB.  Die Franse omie is in sy genadejare, hy en sy tuintjie is ewe oud.  En helfte van sy blomme is dood.

GIDEON.  Dit is ‘n genade om in jou genadejare te wees, al is jy Frans.

Agtergrond-musiek op radio : Marseillaise (Franse volkslied)

GIDEON.  Elke keer as ek met hom praat, bied hy my ‘n glas wyn aan.

JAKOB.  Hoe kommunikeer julle?  Die oom praat dan net Frans.

GIDEON.  Die wyn help.

JAKOB.   Maar die man is dower as ‘n hardlywige kwartel.

GIDEON.  Hardhorende kwartel, Jakoppie.

JAKOB.  ‘n Hardlywige hardhorende kwartel.

GIDEON.  Ek is nie eintlik ‘n dierekenner nie.

JAKOB.  Wat gaan aan met jou en daai Engelse vrou?

GIDEON.  (dromerig).  Missus Cunningham is nie sò oud nie.

JAKOB.  Sy lyk vir my vol plooie.

GIDEON.  Hier en daar is sy nogal ferm.

JAKOB.  Ek hoor juis jy en sy was nou-die-ander-aand  by die Sleazy Oyster Gidoen.  Wat het julle twee daar gemaak?

GIDEON.  (effe ongemaklik).  Ons het net gepraat.  Dis sy wat vir my uitgenooi het, Jakob, nie ek vir haar nie.

JAKOB.  En wat het julle geëet?

GIDEON.  By die Sleazy Oyster?  Oysters natuurlik.

JAKOB.  Oesters Gideon, oesters.  Praat Afrikaans, nie Frengels nie.

GIDEON.  Frengels?

JAKOB.  Dink jy dit is toevallig – die oesters?

GIDEON.  Ek hou van oesters, hulle laat my goed voel, sommer tot so in my lendemate.

JAKOB.  Jy bedoel seker ledemate?

GIDEON (sug van genoegdoening).  Nee, ek behoort nie aan ‘n kerk nie.

JAKOB. (verbaas).  Jou lendene?  Jou lendene?  Soos in die Bybel, jou lendene omgord?

GIDEON.  Oesters doen snaakse dinge aan my Jakob, instede van my lendene omgord het daai oestertjies my lendene bietjie losgewikkel.

JAKOB.  Losgewikkel?

GIDEON.  Ja, en toe ons weer by die huis kom, was my lendene heeltemal losgetorring.  Toe doen ons dinge wat ons nie moes nie.

JAKOB. (geskok, seergemaak).  Soos wat Gideon?

GIDEON.  (sluk benoud).  Ek moet eers nog sjerrie drink.

JAKOB.  En toe?

GIDEON.  (gee obey vir Jakob).  En sommer jy ook.

JAKOB.  En toe?

GIDEON.  Toe vang ek en die Engelse vrou ‘n skande aan.

JAKOB.  Skande?

GIDEON.  My ma het my altyd gewaarsku oor skande.

JAKOB.  Jy moes na jou ma geluister het.

GIDEON.  Sy het altyd gesê ek sal ‘n groot skande oor ons huis bring as ‘n meisie by my in my eie bed kom slaap.

JAKOB.  Hemel man Gideon, wat het julle aangevang?

GIDEON.  My vlees was swak.

JAKOB.  Jou gees ook, sy is dan Engels.

GIDEON.  Missus Cunningham het nie in my huis in my bed kom slaap nie, Jakoppie.

JAKOB.  Waar het julle toe geslaap?

GIDEON.  Ons het by haar huis geslaap.

JAKOB.  Agge-nee Gideon, regtig?

GIDEON.  Toe bring ons maar die skande oor haar huis.

JAKOB.  Julle het oor die tou getrap.

GIDOEN.  Ons het baie wyn gedrink.  As jy baie wyn drink, kan mens nie daai tou so lekker sien nie.  En dit was donker.

JAKOB.  Jy’t ‘n plooi gelooi.

GIDEON.  (mismoedig).  Nou skinder die mense ek het ‘n vlooi in elke kooi.

*

MISSUS CUNNINGHAM.  (voel oor haar maag).   I think I am pregnant.

PENELOPE.  You think?  You think!  Jy weet mos as jy pregnant is.

MISSUS CUNNINGHAM.  Why do you say so Penelope?

PENELOPE.  Want jy moet mos iets doen om pregnant te word.

MISSUS CUNNINGHAM.  What on earth do you mean, my dear?

PENELOPE.  Pregnancy is nie oorerflik nie Missus Cunningham.  Dis nie ‘n aansteeklike siekte nie. Jy moet mos karfoefel om pregnant te word.

MISSUS CUNNINGHAM. What?  Car –fou – fil?  What is that?

PENELOPE.  Hanky panky my dear, hanky panky.

MISSUS CUNNINGHAM.  (bloos en kyk weg).  ‘I … I  …’

PENELOPE.  Tjàà ou sussie, ek weet van jou en Gideon.

MISSUS CUNNINGHAM.  ‘What?  How?’

PENELOPE.  Ek sien vir julle deur my badkamer venster.  Ek kan mos sien as julle twee die stoute skoene aantrek.

MISSUS CUNNINGHAM.  How on earth, how on earth can you see us through your bathroom window, Penelope?

PENELOPE.  Moenie daai stokkie-lyfie van jou so onskuldig hou nie.

MISSUS CUNNINGHAM.   The window is much too high for you to see through, and you are quite short and plumpy.

PENELOPE.  Ek kan baie goed deur my badkamer se venster sien, veral as ek bo-op my tamatiekassie staan en my nek so ‘n bietjie rek.

MISSUS CUNNINGHAM.  But you are short and plumpy.

PENELOPE.  (vies).  Sê jy ek is vet?

MISSUS CUNNINGHAM.  ‘Well, I don’t know ….’

PENELOPE.  Nee, jy weet baie goed.  En Sue gaan jou nek opdraai as sy uitvind jy is pregnant.

MISSUS CUNNINGHAM.  ‘Sue?  Oh dear oh dear oh dear.’

PENELOPE.  Tjàà … HA KA GEE KAA.

MISSUS CUNNINGHAM.  What?  What are you talking about?

PENELOPE.  As jy pregnant is, gaan Sue die blou donnerweer uit jou uit klap.

MISSUS CUNNINGHAM.  Blaauw?  Blaauw?

PENELOPE.  En daarná gaan sy jou gat by die agterdeur uitskop.

MISSUS CUNNINGHAM.  ‘She won’t dare.  She won’t kick me out of my own house.’

PENELOPE.  En as sy klaar is met jou, gaan sy daardie Gideon se los gat ook by die agterdeur uitskop.

MISSUS CUNNINGHAM.  ‘She would’nt dare!  Nobody skops my Gideon’s gat.’

PENELOPE.  (lag).  Daai Sue is ‘n ander een as sy eers kwaad word.

MISSUS CUNNINGHAM. (raak bang, huilerig).  ‘I… I…’

PENELOPE.  Sy gaan julle tjànk aftrap, altwee van julle.

MISSUS CUNNINGHAM. (snik, af).  ‘I… I feel like tjanking now.’

PENELOPE.  Jy moenie nou tjànk nie, jy moet bang wees.

MISSUS CUNNINGHAM.  ‘I… I am scared of that Afrikaner woman.’

Agtergrond-musiek oor radio : O hoor jy die magtige dreuning..

PENELOPE.  Màààr hoekôôm? (rek hom uit).

MISSUS CUNNINGHAM.  (in Afrikaans, swaar aksent).  Want sy is bigger as ek.

PENELOPE.  (grynslag).  En sterker ook.

MISSUS CUNNINGHAM.  I know …

PENELOPE.  En slimmer ..

MISSUS CUNNINGHAM.  (‘n bestawwende blik in die rigting van Penelope).  ‘Don’t push it Penelope.’

PENELOPE.  En weet jy hoekom daai Afrikaner vroue groter en sterker en slimmer is as julle Engelse?

MISSUS CUNNINGHAM.  No.

PENELOPE.  Want hulle moes kaalvoet oor die Drakensberge trek om weg te kom van julle klomp kolonialiste af.

KOEKS.  Kolonialiste?  Jy klink nou soos Jakoppie, Penelope.  Egte Afrikaner nasionalis.

PENELOPE.  Ek sê maar net.  (beduie na Cunningham).  Sy is nie ‘n Afrikaner nie, sy sal nooit verstaan nie.

MISSUS CUNNINGHAM.  I understand more than you think.

KOEKS.  Van kolonialisme en imperialisme, ja, Missus Cunningham, maar jy verstaan ons Afrianers minder as ons kommunistiese blêddie regering.

PENELOPE.  Jy en Jakoppie hamer of dieselfde politieke aambeeldjie, nê Koeks.

KOEKS.  Oor die politiek ja, oor ander goed verskil ons soos dag en nag.

PENELOPE.  Soos?

KOEKS.  Soos Gideon.  Sy oriëntasie is anders as ons sin.

PENELOPE.  Politieke oriëntasie?

KOEKS.  Dit ook.

PENELOPE.  Ek sou ook nie daai Gideon vertrou nie.

KOEKS.   Hoekom nie Penelope?

PENELOPE.  Stille waters diepe grond, onder draai die duiwel rond.

KOEKS.  Jy moet nie so maklik van duiwels praat nie, Penelope.

PENELOPE.  Ek sê nie Gideon is ‘n duiwel nie Koeks, ek sê maar net daar is baie duiwels in die omtrek.

KOEKS.  Soos?

PENELOPE.  Soos die duiwels wat die belastingbetalers se geld steel, daar draai baie duiwels in die regering rond.

MISSUS CUNNINGHAM.  (lakonies)The devil is in the detail.

KOEKS.  Wat bedoel sy?

PENELOPE.  Weetie.

MISSUS CUNNINGHAM.  I mean, details count Koeks.  (Dan in Afrikaans, met ‘n baie swaar Engelse aksent).  As jy vir JAKOB wil vang, sal jy baie weight moet verloor.

KOEKS.  Sê sy ek is vet?

PENELOPE.  Sy sê nie jy is vet nie Koeks, net dat jy bietjie gewig moet verloor as jy vir Jakob wil vang.

KOEKS.   (verontwaardig).  Ek kan baie maklik gewig verloor Penelope, maar ek hou nie van verloor nie.

SUE.  Moenie nou Annie Martelgat speel nie Koeks.  Jy sal iets moet doen.

KOEKS.  Wat moet ek doen Sue-tjie, sê my wat ek moet doen.

SUE.  Daar is baie maniere om ‘n man te vang..

KOEKS.  Soos hoe?

SUE.  Jy moet vir hom ‘n nessie skep, ‘n veilige hawe, amper soos Orania, dan kom kuier hy by jou in jou tuintjie.

KOEKS.  (hmm..).  Veral as dit ‘n mooi Afrikaanse tuintjie is.  Jakob sal daarvan hou .. miskien moet ek meer Afrikaanse blomme in my tuintjie plant.

SUE.  Jy moet Jakob se aster wees, Koeks.

PENELOPE.  En elke keer wanneer Jakob by sy aster uitkom, moet hy regop staan.

KOEKS.  Jakob regop.  (Sug).  Ek wens partykeer hy wil net meer paraat wees as hy my sien.

SUE.  Hy moet so lekker in jou tuintjie kuier dat hy nooit weer na ander tuintjies sal kyk nie.

KOEKS.  Dit kan werk.

SUE.   As hy kom kuier, hang jy potrette van Barry Hertzog en president Blackie Swart en PW Botha teen die muur.

KOEKS.   Ek weet nie of dit so ‘n goeie idee is nie.  Net-nou kyk hy meer vir die potrette as wat hy vir my kyk.

PENELOPE.  Nee man, hy moenie vir PW-hulle kyk nie, jy wil hê Jakob moet regop staan, nie verlep nie.

SUE.  Dan haal hy sy oog van die bal af?

PENELOPE.  Tja.. dit kan nogal ongemaklik wees as die Groot Krokkodil die hele tyd vir jou oor jou skouer loer as jy besig is.

SUE.  Besig is met wat, Penelope?

PENELOPE.  (giggel).  Besig is met jy weet wat!

KOEKS.  Ek vang nie die grappie nie.  Besig is met wat?

SUE.  Boekevat Koeks, as jy besig is met boekevat.

PENELOPE.   Tja… PW Botha het gesorg dat selfs seks ‘n militêre maneuver word.

*

SUE.  Die onsekerheid maak my klaar, Koeks.  Ek kan wragtag nou nie meer wag dat Gideon moet aankondig wie die mooiste tuintjie kompetisie gewen het nie.

KOEKS.  (mymerend).  Jy moenie so onseker wees nie Sue.  Die enigste sekerheid wat ons in die ou lewe het, is onsekerheid is.

SUE.  Maar Gideontjie kan nie onseker wees oor my nie Koeks, ek is dan so seker oor hom.

KOEKS.  Wel, jy dra sy bybie, so dit is redelik seker dat die koël deur die kerk is.

SUE.  Verby die dominee se swart toga, reguit in die kansel in.

KOEKS.  Jy moenie nou begin godsdiens praat nie Sue, daar is ernstiger dinge wat gebeur.

SUE.  Soos?

KOEKS.  Soos die mooiste tuintjie kompetisie.  Jy moenie dink Gideon gaan jou kies net omdat julle twee saam geslaap het en daar nou ‘n broodjie in die oond is nie.

SUE.  (effens bekommerd).  Ek is ‘n blond, en Gideon het sulke mooi sagte swart hare.

KOEKS.  Julle bybie gaan soos ‘n foxterrier lyk.

SUE.  Moenie so sê nie Koeks, asseblief, ek wil so graag ‘n mooi bybie hê.

KOEKS.  Moenie nou Martie Martelgat speel nie, Sue.  Wat weet jy regtig van die man af?

SUE.  Ek hou van sy stories.

KOEKS.  Is hy ‘n storieverteller?

SUE.  Ja, toe ek hom vra oor Missus Cunningham toe sê hy vir my hulle twee het net saam na die deurnagdiens van die SABC geluister.  Niks het gebeur nie.

KOEKS.  Dis nou ‘n storie, ek dink hy lieg.

SUE.  Lieg?

KOEKS.  Ja, hy lieg.

SUE.  Hoe weet jy hy lieg?

KOEKS.  Want niemand luister meer na die SABC nie, dit is net ‘n klomp rassistiese propaganda.

SUE.  Jy’s reg, niemand luister of kyk meer na hulle nie.

Agtergrond-musiek, Johannes Kerkorrel, Sit dit af, sit dit af.

KOEKS.  Sit dit af, sit dit af.

SUE.  (mismoedig).  Ag, hoe mis ek vir Johannes, ek hoop maar hy is in die hemel.

KOEKS.  Hy is, en daar maak hy steeds sy musiek.

SUE.  Gideon hou ook van musiek.

KOEKS.  Waar kom Gideon vandaan Sue?  Voordat hy hier na Gordonsbaai toe gekom het?

SUE.  Van Potchefstroom af,  Wes Transvaal.

KOEKS.  Potchefstroom?

SUE.  Ja, sy bynaam was die disselboom van Potchefstroom.

KOEKS.  Ek wonder hoekom?

SUE.  (giggel).  Ek weet hoekom.

*

KOEKS.  En nou vind ons uit Jakob is gay, moet voete van klei.  Net soos FW en Pik en Roelf is Jakob verlei deur baie beloftetjies, mooi gebakte praatjies en nuttelose versekeringe dat sy regte nie vertrap sal word nie.

PENELOPE.  Jakob staan nie meer so regop nie.

SUE.  Ek dink nie dat Gideontjie teen Jakob sal stem nie, veral nou dat hy weet hoe graag Jakob die mooiste tuintjie kompetisie wil wen nie.

PENELOPE.  Veral nie nadat die twee van hulle nou vir dieselfde span bat nie.

KOEKS.  Hulle kan nie vir die selfde span bat nie, Penelope.  Jakob speel dan nie eers krieket nie.

SUE.  Miskien speel hulle saam bofbal.

PENELOPE.  (stouterig).  Of mofbal.

KOEKS.  Ek dink Jakob was ‘n lid van die Broeders.  Hy was ‘n enigste kind, weet jy.

SUE.  Hoekom dink jy so?

KOEKS.  Hy skimp gereeld dat hy in sy jong dae lid was van ‘n geheime organisasie.

SUE.  Jakob.  Jakoppie?  In your dreams bybie.

KOEKS.  Ek dink Jakob kon ‘n lid van die Broederbond gewees het.  Kyk net hoe glad kam hy sy hare.  En sy safaripak is altyd netjies gestryk.  Hy trek sy langkouse op tot onder sy knieknoppe.

SUE.  (spottend).  Geheime organisasie?   Hy dink seker aan die dae toe hy diaken was.

KOEKS.  Sy ouma en oupa was lede van die Genootskap van Regte Afrikaners.

SUE.  En hy was die enigste kind?  Hy en sy pa en sy ma was seker ook lede van die drie susterkerke, een in elke kerk.

KOEKS.  Sies Sue.  Hoe kan jy so lelik wees met Jakoppie?

PENELOPE.  Dit is tyd dat Jakob en sy trawante hulle rŭe begin reguit maak teen hierdie kommunistiese regering van ons.

SUE.  Die enigste geheime ding wat Jakob nog ooit in sy lewe bygewoon het, was die Kinderkrans- dans.  En die enigste keer wanneer hy sy rug reguit maak, is as hy sien Gideon kyk vir hom.

KOEKS.  Ek het vir Jakoppie gesien op daai Kinderkransdans – hy dans asof hy deur die weerlig raakgeslaan is.

SUE.  Sies Sue, jy is erger as Xantippe.

SUE.  Ek spot bietjie met hom, maar ek dink nie jy moet die ou onderskat nie.  Ons gaan manne soos hy nodig kry vir die komende stryd.  Wie is Xantippe?

KOEKS.  Sokrates se ongeduldige vrou.  Praat julle van die mooiste tuintjie kompetisie?

PENELOPE.  Dit ook.

KOEKS.  Waarvan dan?

SUE.  Die apartheidskruis wat Afrikaners in onse gemoedens ronddra.  En op ons gesigte, so asof vernedering deel geword het van ons DNA.

KOEKS.  Nou praat jy diep dinge, Sue-tjie.

PENELOPE.  Ons mense wat Afrikaans praat is moeg om muishonde te wees.  Ons taal en kultuur word vermoor en ons staan rond en doen niks daaraan nie.

SUE.  Ek stem.  Ons het nie leiers nie, niemand praat daaroor nie.  Ons skryf briewe aan die Beeld en die Burger en dan dink ons mense neem notisie van ons onderdrukking.

PENELOPE.  Dan is ons verbaas as daar niks gebeur nie.

KOEKS.  Eers die Engelse, nou die ANC-SAKP.

SUE.  Die nuwe bourgeoisie – verdomde geldstelers.

KOEKS.  Sê hulle Sue, sê hulle.

PENELOPE.  Diewe.

KOEKS.  Net soos Gidoen.  Hy dink hy het ‘n godgegewe reg om te maak wat hy wil omdat hy die enigste beoordeelaar is.

PENELOPE.  Hy dink hy gaan as beoordeelaar regeer tot die wederkoms.

KOEKS.  ‘n Arrogante, korrupte man.

PENELOPE.  Sê hulle, Koeks, sê hulle.

SUE.  Sies, julle twee laat my nou sleg voel.  Ek het gevoelens gehad vir Gideon.

KOEKS.  Afrikaners het eens op ‘n tyd gevoelens gehad vir hierdie land.  Eens ons geknelde land, toe ‘n offerland, ons gelofteland, nou ‘n verdomde verdoemde land.

PENELOPE.  Sue-tjie, kom oor daar slegte gevoelietjie van jou.  Dit is tyd dat jy jou koppie oplig en jou mondjie oopmaak, staan op vir jou regte, moenie dat Gideon of enige iemand jou sensor nie – niemand gaan jou weer onderdruk nie.  Daai tyd is verby.

*

Derde bedryf

Tuinkompetisie funksie, die groot aankondiging.  Tafel met plastiese blomme, trofee (so kitch as kan kom), ‘n biltong-hamper (vir tweede prys), stoele, almal begin saamdrom vir aankondiging oor wie die wenner gaan wees.  In die hoek sit ‘n ou Franse omie, hoed oor die oë, niemand gee aandag aan hom nie. Koeks, Jakob, Penelope & Sue sit saam by een tafel, drink tee, so nou en dan gooi Koeks bietjie obey by.

KOEKS.  Dit is tyd vir die groot aankondiging julle.  Vanaand gaan ons sien wie vanjaar se mooiste tuintjie kompetisie gaan wen.

PENELOPE.  Ek kan nie meer wag nie.

SUE.  Nou gaan die poppe dans.

PENELOPE.  Meer soos die pôpô wat die fên gaan straaik.

JAKOB.  Praat Afrikaans, Penelope, nie Frengels nie.  Sê liewer die gwano gaan spat!

PENELOPE.  Sies Sue.

KOEKS.  Sê hulle Sue, sê hulle.

SUE.  Ek kan aan ‘n suiwer Afrikaanse woord vir ghano dink as ek moet.

KOEKS.  Wie van julle wil tee hê, met so bietjie obey by?  (Gooi tee, sit dan so bietjie obey by).

PENELOPE.  Het jy so enetjie bygegooi?  (Koeks knik instemmend).  Waarvoor staan obey in elk geval?

SUE.  Old brein sherry?

PENELOPE.  Bruin, bruin?  Is dit dan nou ‘n rassistiese drankie?

KOEKS.  Nee Penelope, old brein sherry, vir jou kop, jou intellek, jou brein.  Hoe meer jy drink, hoe slimmer word jy.

JAKOB.  Vanaand word die apie uit die mou gelaat.

PENELOPE.  Meer soos Sue-tjie se broodjie uit die oond.

SUE.  Los my broodjie uit, Penelope.

KOEKS.  Hier kom ‘n ding.

JAKOB.  (op, kyk rond).  Hoe laat kondig hulle die wenner aan?

KOEKS.  Sodra almal in die kompleks hier is.

JAKOB.  (ongeduldig).  Dit kan ure vat.  Die Franse omie wie se blomme almal dood is, loop so stadig met sy loopraam, hy sal eers môre-aand hier aankom.

PENELOPE.  Hy het paddaboutjies, dis hoekom hy so stadig loop.

KOEKS.  (wys met haar duim).  Nee, daar sit hy, in die hoek, met die hoed op sy kop.

SUE.  (kyk na ou Franse oom)Bon soir messieur mister De La Fontaine.  (hy reageer nie, lig net sy kierie open klap met hom op die loopraam, oë verskuil).

JAKOB.  Hy praat seker net Frans.

KOEKS.  Nee, as hy ‘n paar happe in het, praat hy sommer Engels ook.

JAKOB.  En Afrikaans?  My pa het altyd gesê as jy in Suid-Afrika wil bly, moet jy Afrikaans praat.

KOEKS.  Nee Jakob, hy drink nie sòò baie nie.

MISSUS CUNNINGHAM. (kom in, vriendelik, groot glimlag op haar gesig).  Good evening ladies.

JAKOB.  (brommend).  Blêddie kakie.

PENELOPE.  Hallo Mevrou Cunningham.

MISSUS CUNNINGHAM.  (draai na Sue en Koeks toe, wys vinger na Jakob).  What is he saying?

SUE.  He says good evening.

MISSUS CUNNINGHAM.   What is a kakkie?

PENELOPE.  Kakie Missus Cunnigham, kàààkie.

JAKOB.  (moedswillig, vyandig).  Dis mos Suid-Afrika diê, dis tyd dat jy Afrikaans leer praat.

KOEKS.  He is saying welcome here Missus Cunningham, welcome to the Mooiste Afrikaanse tuintjie kompetisie aankondiging.

MISSUS CUNNIGHAM.  He said something about South Africa?

SUE.  Miskien is dit omdat hy ‘n patriot is.

MISSUS CUNNINGHAM.  A patriot?  What has that got to do with the mooiste tuintjie competition?

JAKOB.  Net Afrikaners praat Afrikaans, en net Afrikaanse blomme en tuine behoort vir die mooiste tuintjie kompetisie te kwalifiseer.

PENELOPE.  Ek praat ook Afrikaans, Jakob, ek is ook ‘n Afrikaner.

JAKOB  (kyk na Penelope).  Tjaa.. ek reken jy is reg.  Almal wat Afrikaans praat, is Afrikaners.  Ons is almal so.

PENELOPE.  As almal wat Afrikaans praat Afrikaners is, is alle Afrikaners mos broers?  En susters?  Selfs ons mense wat van Distrik Ses af kom.

JAKOB.  Almal, Penelope, almal.

SUE.  Jakob is ‘n broer.  ‘n Regop Afrikaner boer.

KOEKS (giggel).  Hy is miskien ‘n broer Sue, maar hy ook ‘n broeder.

SUE.  Alle broeders is Afrikaners, maar nie alle Afrikaners is broeders nie.

KOEKS.  So ons is nie almal sò nie?

Musiek oor die transistor radio; Afrikaners is plesierig.

GIDEON.  (die beoordeelaar, kom in, strikdas vir die geleentheid, trofee, sertifikaat en koevertjie in die hand).  Naànd almal.

SUE.  Naand Gideon.

KOEKS.  Jy’s laat Gideon, ons sit almal al hier op hete kole en wag om te hoor wie die mooiste tuintjie kompetisie gewen het.

GIDEON.  (ruk hom op).  Wel Koeks, dit is nou nie of ek net die hele jaar rondsit vir die mooiste tuintjie kompetisie nie, daar is baie dinge om te doen.  Dit is ‘n groot verantwoordelikheid om beoordeelaar te wees.

PENELOPE.  Dit sal help as jy nie so baie rondkuier nie Gideon, ons weet waarmee jy besig was.

GIDEON.  Wat bedoel jy?

PENELOPE.  Stemwerwing Gideon.  Ons weet jy was besig om stemwerwing te doen.  Is dit waar dat jy T-hemde en kospakkies aan van die mense hier in die kompleks uitgedeel het.

GIDEON.  Dit is maar net toevallig – ek het baie kospakkies gehad.

KOEKS.  Het jy die levy-gelde gebruik om kospakkies te koop?

SUE.  Sy hande was in die body corporate se fiskus.

JAKOB.   Beheerliggaam Sue, nie body corporate nie.

GIDEON.  (verdedigend).  Wel, ek is nie die enigste een wat stemme gewerf het nie.  En ek mag mos my eie tuintjie inskryf.

KOEKS.  Dis nie dat jy stemme gewerf het nie Gideon, dit is hoe jy die stemme werf.

GIDEON.  Wat bedoel jy Koeks?

KOEKS.  Sê jy vir my, Gideon.  Lyk my jy weet waar elke vlooi in elke kooi in hierdie kompleks is.

SUE.  Sê hom Koeks, sê hom.

GIDEON.  (ongemaklik).   Dis nie waar nie.  Ek moet nou gaan, want ek moet die aankondiging maak.

KOEKS.  Moet nou nie Ansie Martelgat speel nie Gideon.  Kom hiersò.

SUE.  (agter Gideon aan).  As ek uitvind jy het by daai Missus Cunningham geslaap Gideon, gaan ek jou nek omdraai.

GIDEON.  Saggies Sue, net-nou hoor die ander mense ons.

SUE.   Ek gee nie om as hulle hoor nie.  Ek gaan jou nek omdraai Gideon, ek gaan daai disselboom van Potchefstroom knoop sodat jy nooit weer kan rondloop nie.

GIDEON.  (Keer vir sy wickets).  Asseblief nie, Sue.

SUE.  Daardie Jakob regoppie van jou gaan plat op die aarde lê.

GIDEON.  Ek het nie rondgeloop nie.

SUE.  Nee, jy het rondgeslaap.  Ek gaan daai vonkie uit jou stronkie haal ou maat, watch my.

KOEKS.  Jy beter vir jou korthare keer, Gideontjie.

GIDEON.  Ek is onskuldig, ek het maar net gedoen wat ander mense van my verwag het.

SUE.  Ek sien wie jy is, Gideon.  Diep in jou binneste is jy maar oppervlakkig.

JAKOB.  Klink soos FW en Roelf Meyer by CODESA.  Hulle het ook maar net gedoen wat die ANC van hulle vewag het.

PENELOPE.  Bly liewers stil, Gideon.  Jy praat te veel.

SUE.  Stilte is altyd goed vir slimmes, Gideon, mèèr so vir dommes.

GIDEON.  Ek was baie dom vir iemand wat so slim is soos ek.

SUE.  Dis beter vir ‘n slim man om stil te bly, as vir ‘n domme soos jy om sy mond oop te maak.

GIDEON.  Maar Sue, ek het nie bedoel Missus Cunningham moet pregnant word nie.

SUE.  Dis nie wat my pla nie Gideon.  Maar toe maak jy jou onnosele mond oop om haar te beïndruk.

KOEKS.  En ek het gehoor jy het geld ook gevat Gideon, dat mense jou omgekoop het.

GIDEON.  (verbaas seergemaak).  Wie?  Ek?

KOEKS.  Ja, dit is wat ek gehoor het.

JAKOB.  Ja, almal koop vir jou aandete by die Sleazy Oyster.

GIDEON.  Maar dis nie omkopery nie, dis net die aanvaarding van ‘n gunsie.

JAKOB.  Dit is.  Jy is net so korrup soos hierdie kommunistiese regering van ons.

KOEKS.  Almal het by jou fonteitjie gedrink Gideon, omdat hulle almal gedink het hulle kan iets uit jou kry.

GIDEON.  Moenie my met ‘n fontein vergelyk nie.  Ek het maar net gunsies gedoen.

JAKOB.  Jy is ‘n fontein Gideon, net ‘n droë een.

GIDEON.  Ek is nie ‘n fontein nie.

JAKOB.  Jy was ons fontein van die lewe, Gideon, ons fontein in die woestyn.

OU FRANSE OMIE.  (ontwaak so ‘n bietjie).  Fontein?  Fontein?

JAKOB.  Almal van ons het by jou fonteintjie water gedrink.

SUE.  (effens bitter).  Toe kies jy die Engelse vrou, Gideon.

PENELOPE.  Sies Gideon, dis egter as verraad, dis plagiaat!

JAKOB.    En daarmee sê jy toe vir die res van ons – van my fonteintjie drink julle nooit weer nie.

OU FRANSE OMIE.  (word half wakker, sit hand bakoor).  Fontein! Fontein!

KOEKS.  (probeer keer)No, Mr De La Fontaine.  It’s Afrikaans, we are speaking about a fontein, not about you.

OU FRANSE OMIE.  (raak opgewonde).  Fontein!  Fontein.  Ce’st moi!  (dis ek)(hy wys vinger na homself, spring orent, gooi die loopraam dat hy dáàr trek).

SUE.  (benoud).  Keer hom Gideon!

JAKOB.  Wat nou?

OU FRANSE OMIE.  (storm die tafel met die trofee en sertifikaat en koevertjie met die geld).  Fontein!  C’est moi!

GIDEON.  Keer hom!

PENELOPE.  Hy dink hy het gewen!

JAKOB.  Die ou bôkker!

KOEKS.  Sê hom Jakoppie, sê hom.

SUE.  Keer hom!  Hy dink hy’t gewen.

GIDEON.  Idioot.  Ek het nog nie eers die aankondiging gedoen nie.

OU FRANSE OMIE.  ( Omie te rats, systap hulle soos ‘n Franse agterspeler met flair, gryp die trofee en die sertifikaat en koevertjie met die geld, hou alles triomfantelik bokant sy kop)(Missus Cunningham begin hande klap).  Le champion, c’est moi!

Musiek: We are the champions, Freddy Mercury/Queen.

JAKOB.  Gee terug die trofee!

OU FRANSE OMIE.  (swaai sy kierdie gevaarlik).   Non!  Non! Je suis le champion!

PENELOPE.  (probeer ook keer, ou Fransie omie mik na die deur).  Nee!

SUE.  Kyk sy paddaboudjies!

KOEKS.  Die ou bokker dink hy het gewen!

GIDEON.   Keer hom!

JAKOB.  Ek dog julle sê die Fransman is doof.

PENELOPE.  Hy is net doof as hy nugter is.

JAKOB.  Ek word doof as ek dronk is.

MISSUS CUNNINGHAM.  Stop him!

OUR FRANSE OMIE.  (kierie swiep deur die lug, soos ‘n swaardvegter van ouds)Le Champion!

MISSUS CUNNINGHAM.  Oh my golly!  Now what do we do?

SUE.  Hou op om so ‘n Antjie Martelgat te wees, Missus Cunningham.  Doen iets!

MISSUS CUNNINGHAM.  Stop him!  Stop him!  Help!  Help!

JAKOB.  Sy’s useless, wat moet sy nou doen?  Keer hom!

SUE.  Te laat, ons is te laat!

OU FRANSE OMIE.  (dans rond, trofee in die lug)Je suis le champion!  Je suis le champion!  (Uit by die deur, Gideon agterna).

PENELOPE.  Haai Jakob, as ek jou nie beter geken het nie, sou ek sweer jy is jaloers op Missus Cunningham.

JAKOB.  (amper in trane).  Sy het my Gideontjie by my afgevry!

KOEKS.  Shame.  Jou Jakob Regoppie is heeltemal verlep.

PENELOPE.  Tjaa Jakob… en nou sit jy nog sonder die Mooiste Afrikaanse tuintjie kompetisie titel ook.

SUE.  En ek?  Ek sit met my agterent in die as, al wat gaan oorbly is ek en my foxterrier beibie.

(Spelers bek-af, Franse omie vort met die trofee, musiek speel hom agterná.)

*

Gordyn

*