Slingervel
Belinda van Aswegen

Mossieman en Geronkie die Donkie sit en gesels onder die grootste vyeboom in die Vrystaat, net anderkant die pragtige dorpie Senekal, kort duskant Brandfort.

“Mossieman,” vra Geronkie, “is dit waar dat Vrystaters die slimste ouens in die hele wêreld is?”

“Natuurlik is dit waar Geronkie, ja,” antwoord Mossieman guitig, terwyl hy ʼn lekker striksvy met sy skaapskêr afskil.  ʺDie ouens in die Vrystaat is besonder slim. En gaaf. En beleefd. En sommer oorvriendelik ook.”

“Laat ek hoor,” sệ Geronkie, “jy het nou my belangstelling geprikkel.”

“Nou ja, dan moet ons wikkel,” vertel Mossieman. ”In die ou dae was daar nie baie water in die Vrystaat nie, ook nie baie melk nie. Toe leer ons maar die beeste om net poeiermelk te produseer en ons het dit maar so vir die babatjies gegee.”

“Maar dis sleg, Mossieman! Daardie arme babas kan mos nie net poeiermelk drink nie!” simpatiseer Geronkie.

“Nee, dit is darem nie heeltemal sòo sleg nie,” knik Mossieman instemmend. “Ons het nooit nodig gehad om die babas se doeke om te ruil nie. Ons het hulle sommer afgestof!”

“Afgestof?”

“Ja, met ʼn verestoffer.”

“Ag nee, Mossieman, nou jok jy darem. Niemand stof babas met verestoffer af nie.”

“Die Vrystaatse boere was nie net èffens slim nie,” vertel Mossieman lustig verder, “hulle was sommer bàie slim. So slim dat  hulle piesangs met ʼn zip gekweek het.”

“’n Zip? Wat is ʼn zip, Mossieman? Praat Afrikaans man, nie Frengels nie.”

“ʼn Ritssluiter.”

“Maar waarom ʼn ritssluiter?” vra Geronkie verwonderd.

“Wel, die Vrystaters was honger en ons kon die piesangs met ʼn ritssluiter baie vinniger afskil as gewone piesangs” sệ Geronkie, terwyl hy ʼn appel met sy skaapskêr middeldeur sny.

“Maar dit is nie al nie,“ borduur Mossieman verder. ʺDie Vrystaatse boere het waatlemoene gekweek met handvatsels aan.”

“Ag-nee, Mossieman,” sê Geronkie agterdogtig, “nou jòk jy darem dat die rook trek! In die Bybel staan dit duidelik dat jy nie mag jok nie!‘

“Nee, dis is min of meer waar! Die waatlemoene het handvatsels gekry, sodat ons hulle makliker kon dra. Ons het ook turksvye gekweek sonder dorings.”

“Turksvye? Of striksvye.”

“Dit was maklik!  Ons het net die vye uit die turke gehaal en so geëet dat die dorings ons nie steek nie.“

“Vertel weer van die melk, Mossieman,“ vra Geronkie half-mismoedig, half-nuuskierig. “Jy kan mos nie ʼn koei  melk wat net poeiermelk produseer nie.”

“Dit is baie maklik, man! In die Vrystaat het die koeie slingers aan!”

“Praat jy nie nou van hulle sterte nie ?”

“O, is dit wat hulle daai handvatsels noem? Ons het hulle sommer slingervelle genoem.”

“Mossieman, jy jok darem nou verskriklik!”

“Nee, nie regtig so baie nie, Geronkie,” sê Mossieman lakonies. “Die waarheid maak seer en ek is nie ʼn ou wat baie lus is vir pyn nie.”

Geronkie knik sedig sy kop. “Dis waar wat jy sê, Mossieman, Vrystaters is regtig die slimste mense in die hele wêreld. Veral as dit kom by liegstories uitdink.”

*