Hemelkarretjie
Belinda van Aswegen

Die hemelkarretjie

“Hoe kom kinders in die hemel, Mossieman?” vra Geronkie die donkie eendag vir sy beste vriend, terwyl hulle roomys sit en eet onder ʼn groot ou wilgeboom langs die Sandrivier in die pragtige Vrystaat. Die hemel het nog altyd vir Geronkie groot bekoring ingehou en fasineer, hoofsaaklik omdat hy bekommerd is dat sy twee groot donkie-ore nie in die hemel sal inpas nie. Geronkie se ore is nogal lank, en die een is langer as die ander flenter een, en as die een vorentoe staan, lê die ander een agtertoe. Geronkie was glad nie seker of altwee sy lang weerbarstige ore gelyk in die hemel sal inpas nie en hy altyd gewonder of daar genoeg spasie vir donkies ook in die hemel is.

“Hulle ry met ʼn hemelkarretjie,” antwoord Mossieman alwetend en vou die boonste bladsy van sy Bybel toe. Hy weet nie altyd hoe om Geronkie se moeilike vrae te antwoord nie, maar hy dink makliker aan slim antwoorde as hy roomys eet.

“ʼn Hemelkarretjie? Nog nooit daarvan gehoor nie,” frons Geronkie en hy vat terloops-skelm ʼn gulsige hap van Mossieman se roomys toe hy nie kyk nie. Mossieman is egter nie so dom nie en hy weet Geronkie hap sy roomys, omdat Geronkie groot donkietande het wat merke op die roomys los.

“Luister nou mooi. Die hemelkarretjie vertrek van Virginia se stasie af reguit hemel toe, Geronkie. Die karretjie is maklik om te sien, want hy is goudgeel met groot blou ligte wat in die donker kan flikker. Elke keer as die karretjie hemel toe ry, laai hulle hom vol kindertjies om te sorg dat niemand agterbly nie.”

“Maar ek is ‘n donkie, Mossieman, met groot knieknoppe, nie ‘n kindertjie nie! Kan donkies met flenter-ore ook hemel toe gaan?”

Mossieman peins diep en hy vat nog ‘n hap aan sy roomys om hom beter te laat dink.  “Jaa..,” mymer hy, “donkies kan ook hemel toe gaan, mits hulle nie ander donkies se wortels steel en eet nie.”

“Hoe groot is die hemelkarretjie, Mossieman?” wonder Geronkie benoud, want hy is bang sy ore pas nie in die karretjie in nie. Of sy bene òf sy knieknoppe nie, want Geronkie het vier bene en hulle is baie lank. En hy het hoewe – donkie-hoewe. Sê nou net sy bene en knieknoppe en sy ore pas nie gelyk in die karretjie nie?

‘Nèè-wat Geronkie, jy hoef nie bekommerd te wees nie, daar is genoeg spasie in die hemelkarretjie vir àl die kinders en diere in die Vrystaat.  Almal pas is en niemand sal agterbly nie, daar is genoeg spasie vir almal.”

“Het die hemelkarretjie ʼn toeter?”

“Ja, ‘n groot silwer toeter en ‘n lugdraad en vier ronde groen wiele. Met blou ligte.”

“Maar Mossieman, het die hemelkarretjie plek vir hemelbesems?”

“Dit hang af hoe lank die karretjie moet wag, Geronkie, maar kort voor lank maak hulle plek vir al die hemelbesems ook, maak nie saak hoe lank hulle is nie of hoe kort hulle moet wag nie.”

“Wat van hemelwesens?” wil Geronkie versigtig weet.

Mossieman dink mooi en diep en ingedagte oor die hemelwesens. “Ek dink, Geronkie, dat die kindertjies wat met die hemelkarretjie hemel toe ry, hemelwesens word. Dit is mos waarom hulle hemel toe gaan.”

Geronkie is baie beïndruk met Mossieman se wyse antwoord en hy wikkel sy twee groot donkie-ore van plesier. “Ek wil ook eendag met daardie hemelkarretjie hemel toe gaan, Mossieman!” sê hy rammetjie-uitnek. “Dit klink vir my te lekker – ek kan nie wag om saam met al die hemelbesems ‘n hemelwesen te word nie.”

“Dit is reg so, Geronkie,” antwoord die wyse Mossieman, “maar dan moet jy jou Bybel lees, en elke aand jou gebedjie opsê, nie ander mense seermaak of te na kom nie en mooi luister na die tien gebooie van die Bybel.”

Mossieman kon sommer sien dat Geronkie aarsel en baie onseker van homself lyk oor die Bybel-storie. “Maar Mossieman,” stamel Geronkie moedeloos, “ek ken nie my aand se gebedjie uit my kop uit nie. Ek sukkel so bietjie, en nou is ek bang dat ek nie eendag met die hemelkarretjie kan ry nie.”

“Ag nee wat Geronkie, dit is glad nie so erg nie.  Kom ons sê ons gebedjie saam op, dan maak ons seker dat jy eendag met die hemelkarretjie kan ry.” Geronkie die donkie skud sy groot ore reg en toe sê hy en Mossieman hul gebedjie saam op –

Liewe Jesus wat in die hemel is

Ons is hier op aarde

Ons prys u naam

Dankie vir ons brood vandag

Vergewe asseblief ons sondes

En vergewe mense wat teen diere en teen ander mense sondig

Liewe Jesus

Beskerm ons asseblief elke dag

En vou u hande om ons

Amen

*

  • Henning van Aswegen