Vissies swem
Die Visse leer swem in die Vrystaat  –                                    Belinda van Aswegen

 

In die jaar net nà die Boere-oorlog was dit baie droog in die Vrystaat. Omdat die Vrystaat die mooiste provinsie in Suid-Afrika is, is die damme gewoonlik vol en die boere se lande vol mielies, maar net nà die Boere-oorlog was daar nie juis baie water nie. Die droogte en die damme sonder water het dit baie moeilik vir die vissies in die Vrystaat gemaak om te leer swem.

“Dit was daardie jare ʼn skande dat die klein vissies so gesukkel het om te swem,” (vertel Mossieman). “Die Boere moes iets doen, want baie van die visse wat nie behoorlik kon swem nie, het sommer verdrink. Veral die jong vissies.”

“Wat het die Boere toe gedoen, Mossieman?” vra Geronkie nuuskierig, terwyl hy so ‘n paar vlinderslag-bewegings met sy voorpote maak. “Het die boere gebid vir reën?”

“Ja, en die Here het reën gestuur, maar nie te baie nie. Daar was net genoeg sodat die mielies en die koring op die lande kon groei en die mense die water kon drink.”

“Wat het die mense toe gedoen?” vra Geronkie grootoog, “ek bedoel nou om die klein vissies te help?”

“Daardie jare was die water nie baie diep nie. Die jong vissies moes maar op die wal staan en daar leer swem.”

“Wie het hulle leer swem?” verneem Geronkie verwonderd.

“Die ouer visse.”

“En wie het die ouer visse leer swem?”

Mossieman dink so ʼn bietjie en krap sy kop met sy verepoot. “Oumas en oupas.”

“Ek weet darem nie so mooi nie, Mossieman,” sê Geronkie wantrouig. “‘Is jy seker?”

Mossieman dink so ʼn bietjie en tuur die verte in, om te dink waar sy hulp vandaan gaan kom om die storie verder te vertel.

“Die ouma en oupa visse het ʼn swemskool begin.”

“Maar, Mossieman, as die ouma en oupa visse nie eers mooi kon swem nie, hoe het hulle geweet om die jongetjies te leer?”

“Die ouma en oupa visse het die jong vissies daar op die wal in die swemskool leer swem, so sonder water. Daar was nie eintlik baie water in die Vrystaat beskikbaar nie en hulle moes bietjie improviseer.”

“So, die jong vissies het swemlesse gekry?” vra Geronkie agterdogtig en hy maak weer so ʼn paar denkbeeldige rugslagbewegings met sy voorpote.

“Ja,” vertel Mossieman ongestoord verder, “die jong vissies het elke dag swem geoefen dat die stof so staan.”

“En toe hulle klaar geleer het om te swem?”

“Toe hou hulle ʼn groot kompetisie, ʼn swemgala, daar op die wal. Die jong vissies wou vir al die ouer visse wys wat hulle by die swemskool geleer het, hulle wou so ʼn bietjie afwys.”

“Wat het gebeur, Mossieman?”

“Wel, al die jong vissies het in ‘n ry op die wal gestaan, elkeen met sy swembril op. Party van die jong vissies moes snorkels dra, wat hulle kon nie so goed soos die ander visse swem nie.”

“Toe staan al die vissies op die wal met hulle swembrille en snorkels op?”

Geronkie loer onderlangs na Mossieman, nie seker of hy hièrdie storie moet glo nie.  Mossieman het al baie liegstories vertel, maar hierdie een klink of dit amper waar kan wees.

“Ja,” antwoord Mossieman besadig, ‘die jong vissies was baie entoesiasties om aan die gala deel te neem, omdat hulle medaljes en trofees kon wen.”

“Gedorie, Mossieman! Wat gebeur toe?”

“Wel, toe klap die wegspringskoot en al die vissies op die wal begin swem vir al wat hulle werd is. Hulle het so woes geswem dat daar ʼn hele stofwolk ontstaan het. Die boere het die groot stofwolk so bekyk en gedink hulle kry reen.”

“En toe?”

“Wel, nadat al die stof gaan lê het, het al die ouer visse hande geklap en gejuig. Daar was groot applous vir die jong swemmers. Daar was van die jong vissies wat goue medaljes gekry het, so mooi het hulle amper geswem. Een vissie het selfs ʼn goue trofee gekry.”

“Mossieman, nou jok jy darem dat dit klap!”

“Stroesnjannies,” sê Mossieman besadig en hy lag guitig in sy mou. “Daardie jong vissies het so mooi geswem daar op die wal, dink net hoe mooi en vinnig hulle eendag gaan swem as hulle regtig in die water kom.”

*