Oliemys
Ollie olifant

 

Mys die muis was ‘n slim en sterk muis wat elke dag dapper in die Vrystaatse oerwoude rondgestap het. Mys was nie net die slimste nie, maar ook die mooiste muis in die hele Vrystaat, met twee goot ore soos ʼn seekoei en sierlike geel maanhare ʼn leeumannetjie. Mys het heeldag in die Bloembos rondgeloop en slim planne beraam om vir Ollie olifant op sy plek te sit, want Mys die muis het nie baie van Ollie gehou nie.

Olifant was ʼn bietjie van ‘n boelie en elke keer as Ollie in aantog is, moes die ander diere  van die bos benoud skarrel om uit sy pad te kom. Olifant was só groot en kwaai dat al die diere van die bos weggehardloop het wanneer hy nader kom. Almal was bang vir die tamaaie olifant met sy geniepsige slurp.

“HAAROOOOOMMPP!!” trompet Ollie luid deur sy slurp. Die diere in die Vrystaat was baie bang dat Olifant hulle met sy lang slurp brandboude sou gee. Die aarde het gedreun en al die diere moes agter bome en bosse en plante skuiling gesoek, te bang om ʼn ooglid te roer. Dan het hulle grootoog geloer hoe Olifant windmakerig verbystap, stert al waaiend en swaaiend en sy slurp hoog in die lug.

“HAROOOOOMMPP!! HAROOOOOMMPP!!”

“Ons moet hom ʼn les leer,” sê Mys die muis eendag vir sy boesemvriende, Jakkals en Wolf. “Daardie olifant is gans te grootdoenerig en baie arrogant, ons moet sy ego bietjie krenk.” Jakkals en Wolf was maar skrikkerig vir Olifant en het nie baie vertroue in Mys se planne gehad nie. Daarvoor het hulle al te veel die gelag betaal as Mys se planne skeefloop. Olifant het al ʼn paar keer vir Jakkals en Wolf met sy geniepsige slurp op hulle boude gepiets, wat opsigself  ʼn slegte ding is nie omdat die twee vabonde van die stoutste diere in die hele Vrystaat is.

“Mys, jy praat net groot. Olifant is groot en sterk en jy is klein en wit met ʼn krom stertjie. Jy is nogal lelik ook. Hoe gaan jy daardie grote olifant ʼn dure les leer?”

“Ek is miskien lelik,” mymer Mys die muis, “maar ek is baie slim. Het julle al van die Vrystaatse toutrek-kampioenskappe gehoor?”

“Wat? Mys, daar bestaan nie so-iets nie. Wat bedoel jy?”

“Daar gaan ‘n gròòt toutrek-kompetisie plaasvind en die wenner kan ‘n hele kruiwa vol maroelas wen.”

“Mys,” sê Jakkals en Wolf verbaas, “is jy van jou sinne beroof? Niemand eet maroelas behalwe olifante nie en domastrante bobbejane nie!”

“Aha!’ roep Mys uit. “Nou begin julle twee karnallies verstaan. Gaan haal vir my ʼn lááng sterk tou en bring die tou hier na die rivier toe. Toe-toe, wikkel julle!” Jakkals en Wolf draf fluks weg hardewarewinkel toe om die tou te gaan koop en Mys gaan sit onder die boom en eet lustig aan  ʼn stukkie cheddar kaas.

“Mys,” vra die ander diere, wat al gewoond was aan die muis se poetse en manewales, “wat voer jy nou weer in die mou?”

“Het julle gehoor van die Vrystaatse toutrek-kampioenskappy wat ek organiseer? Groot pryse te wen, baie geld en baie maroelas!”

“Mys, nou is jy stuitig! Net olifante eet maroelas. En domastrante bobbejane!”

“Aha!” sê Mys, terwyl hy vir Jakkals en Wolf wag om die lááng tou te bring. “Vandag gaan julle ‘n ding sien! Vandag leer ek vir olifant ʼn dure les.”

Versigtig vat Mys die muis die groot sterk tou en bind die een kant aan die grootste en dikste boom in die hele Vrystaat. Hy draai die tou sommer tien keer stewig om die boom en maak ʼn groot vissermansknoop.

“Reg,” knipoog Mys onnutsig vir Jakkals en Wolf. “Jakkals, staan jy hierdie kant en trek die tou en Wolf staan jy dáárdie kant en trek die tou. Maak of julle hard oefen vir die kampioenskappe.” Net toe kom Olifant daar verby en hy sien die petalje. Oliefant kyk lank na Jakkals en Wolf wat maak of hulle teen mekaar toutrek. Al die diere van die bos sit in ʼn kringetjie en hou hulle dop. So nou en dan klap hulle selfs vir Jakkals en Wolf hande.

“Wat doen julle?” vra Ollie olifant barstig. Mys die muis, wat net vir hierdie oomblik gewag het, staan gretig nader om te verduidelik. “Nee meneer olifant, jy het seker gehoor van die groot Vrystaatse toutrek-kampioenskappe wat gaan plaasvind. My vriende Jakkals en Wolf oefen so lank, kyk hoe sweet hulle. Baie geld en baie maroelas om te wen!”

“Maroelas,” sê Olifant gretig en hy lek sy lippe gulsig met sy slurp af. “Hoeveel maroelas?”

“Sommer ʼn kruiwa vol, meneer olifant,” grynslag Mys die muis en hy vryf sy hande saam. Honderde maroelas, soveel as wat jy kan eet.”

“Wat moet ek doen om die eerste prys te wen?” vra Olifant ongeduldig. Hy droom aan al die lekker maroelas wat hy gaan eet en lek sy groot lippe klip-klap af.

Mys beduie skelm vir die ander diere om nader te kom.

“Sien jy hierdie tou, olifant?”

“Ja, ek sien hom.”

“Nou ja, om die groot prys te wen moet jy altwee kante van die tou trek! Jy slaan net ysterklou in die grond en trek vir ʼn vale!”

“Aág, dis maklik,” sê Olifant vol selfvertroue.

“Ja, dit is maklik. Reg so,” lag Mys. “Jy moet altwee kante van die tou trek, die een punt met jou slurp en die ander punt met jou stert. Ek het die tou net om die boom gedraai sodat jy nie moet gly nie.”

“Maar dit lyk te maklik,” sê Ollie olifant grootdoenerig en dink aan al die sappige maroelas wat hy gaan wen.

“Reg, staan net so, olifant” beduie Mys die Muis. “Dan bind ek solank die een kant van die tou om jou stert, sodat jy die anderkant met jou groot sterk slurp kan trek. Olifant staan windmakerig reg en Mys bind die een punt van die tou om olifant se stert en gee vir hom die anderkant van die tou aan. Ollie olifant draai sy slurp stewig om die tou – nou is hy gereed vir die groot trek.

“Een, twee, drie, trék! Mys laat sak sy wysvinger en Olifant begin trek vir al wat hy werd is. Olifant kap sy hakke in die grond in en laat los ʼn allemintige brul en hy trek en trek asof sy lewe daarvan afhang.

Niks gebeur nie. Olifant trek so hard dat die rook by sy groot ore uitkom.

“Trek olifant, trek!” skree die diere en hulle jil van plesier.

Olifant swoeg en sweet en trek vir die vale. Hoe harder Ollie olfant aan die een kant van die tou trek, hoe stywer word die knoop anderkant om sy stert.

“Ag-nee, olifant,” sê Mys terwyl hy een van die lekker maroelas afskil om te eet. “Jy moet harder trek. Trek jong, trek!”

Olifant trek en trek en swoeg en sweet, maar die tou word net stywer en die grootste boom in die Vrystaat beweeg nie ʼn duim nie. Elke keer as hy met sy slurp trek, trek sy stert aan die anderkant net so hard terug.

Mys die muis en die diere lag te lekker vir Olifant. Náderhand gaan een uur verby, toe twee ure.  Olifant trek met mening, maar die grootste boom in die Vrystaat staan doodstil en Olifant se stert word al hoe seerder van al die trekkery.

“Trek, Olifant, trek!” skree die diere plesierig en smul te lekker aan al die maroelas wat Mys vir hulle uitdeel.

Teen sononder trek Olifant, wat toe al lekker moeg en flou is, nog so ʼn bietjie moedeloos aan die tou. Hy is later pootuit, maar nou en dan trek hy darem nog so ʼn bietjie. Al die diere van die bos lê onder die bome vir olifant en kyk, van hulle is naderhand so uitgeput van al die kykkery dat hulle sommer net daar aan die slaap raak.

Laatmiddag stap Mys nader, met ʼn  baie klein ou maroelatjie in sy poot.

“Ag Olifant, jammer man. Dit lyk nie of die toutrekkery vir jou werk nie. Jy moet nou maar ophou trek en eers bietjie rus. Jy lyk vir my heeltemal vodde. Ek dink jy sal nog baie moet oefen voor jy sterk genoeg is om die Vrystaat se toutrek-kampioenskappe te wen.”

Uitegeput laat los olifant die lááng tou en sak moedeloos op sy hurke neer.

“Ag, eina my rug is seer,” kla Olifant futloos en gaan sit kop onderstebo onder onder die groot ou Vrystaatse boom. “En my stert is ook seer,” huil hy.

“Toemaar, Ollie,” sê Mys vriendelik en gaan sit langs hom. “Hier is ‘n klein sappige maroelatjie as troosprys vir jou, ʼn asynlappie vir jou voorkop en ‘n fraai klein snoetpoetsertjie om jou neus mee te blaas.”

“Baie dankie, Mys, ek waardeer dit.”

“Alles reg, Ollie. Jy kort net bietjie oefening, volgende jaar kan jy weer probeer, miskien word jy dan die kampioen.”

Mys die muis sit sy arm vertroostend om Ollie olifant se skouer en saam-saam sit hulle na die pragtige Vrystaatse sonsondergang en kyk.

“Maar Olifant, ek het darem so ʼn  bietjie goeie nuus vir jou,” kondig Mys die muis voor al die diere-toeskouers aan. “Jy het vir ʼn rukkie groot pret en plesier aan die diere van die Vrystaat verskaf met jou manewales om jou eie stert te trek. Die diere het toe ʼn  vergadering gehou en besluit jy is nou een van ons. Niemand is meer bang vir jou nie en jy is nou een van die Vrystaat se dieregesin. Daarom het ons almal besluit om jou te herdoop, van net olifant na Ollie olifant. Jy sien Ollie, die naam Ollie klink net beter as olifant.  Ollie olifant is ‘n lekker ronde naam, ʼn lekker troetelnaampie om by jou mollige lyfie te pas.”

Ollie olifant kyk om hom rond en sien al die diere van die Vrystaat wat vir hom glimlag en hande klap. Mys die muis se mooi gebaar maak hom Ollie skoon aangedaan en hy pik ʼn traan met sy nuwe snoetpoetsertjie weg. “Rêrig, Mys? Baie dankie julle almal, vir my mooi nuwe naam. Ek is baie dankbaar om nou een van die diere van die Vrystaat te wees en ek belowe om niemand ooit weer skrik te maak nie. En Mys, al die diere kan van nou af elke dag gratis op my rug rondry om sien hoe asemrowend mooi die Vrystaatse vlaktes is.”

‘Séla’ lag Mys die muis in sy mou, terwyl hy alte lekker aan nog ʼn sappige maroelatjie kou.

*

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Henning van Aswegen