Lapfvoet

DIE LAPVOET-GRASVOET ORKES

“Mossieman, kan jy ons bietjie help met ons kadet-orkes asseblief,’ vra Geronkie die donkie een middag laat in die warm Vrystaatse somer. “Ons sukkel so bietjie.”

Mossieman krap sy mossie-kuif met sy pootjie plat en onderlangs na Geronkie waar hy min of meer op aandag staan.

“Wie is nou die ‘ons’ wat so sukkel, Geronkie? Wie is julle?”

“Ons is ons donkies, Mossieman. Ons is kadette en ons het ʼn kadet-orkes wat moet masjeer en musiek speel.”

“En wat is julle donkie-orkes se naam, Geronkie,” vra Mossieman onnutsig.

Ons het nog nie ʼn naam nie, Mossieman, maar ek dink ons sal die Stronkie Donkie-orkes wees,” sê Geronkie ernstig. “Of miskien die Donkie stronkie-orkes. Ons het nog nie besluit nie, ons moet eers ʼn donkie-vergadering hou.”

“Waar kom die stronkie vandaan, Geronkie?” wil Mossieman moedswillig weet.

“Ons is Vrystaters,” sê Geronkie trots en hy flap sy flenter donkie-ore. “In die Vrystaat is daar baie mielies en as ons klaar die mielies geëet het, bly daar net die stronkies oor. Dis waar ons naam vandaan kom, van die mieliestronkies af.” Geronkie glimlag van oor tot oor, baie in sy noppies met sy slim antwoord.

“Goed so Geronkie, maar wat is die probleem met die “Donkie Stronkie-orkes?”

Geronkie vryf bietjie skamerig met sy donkie-poot oor sy linker oor en hy loer rond om te sien of die ander diere hom kan hoor. “Wel Mossieman,” fluister hy saggies, “ons weet nie lekker waar links en waar regs nie.  Ons kan nie lekker masjeer nie.”

‘Dit moet ek sien,’ lag Mossieman vir homself. “Kom Geronkie, kom wys my hoe julle klomp donkies in julle orkes masjeer. Demonstreer vir my.”

Geronkie die donkie, met Mossieman wat op sy rug sit, stap flink weg na die paradegrond toe, waar al die ander donkies op aandag staan en wag. Soos ʼn regte Potchefstroom-sammajoor gaan staan Geronkie reg voor die donkie-peleton en balk kliphard: “Aandag!”

Al die donkies spits hulle ore en swaai hul sterte gelyk van links na regs.  Almal kyk aandagtig na Geronkie die donkie en vir Mossieman wat op sy kop sit.

“Hierdie is my vriend Mossieman,” kondig Geronkie belangrik aan. ‘Hy is die slimste Mossie in die hele wêreld en hy gaan julle help om gelyk en in gelid te masjeer.”

Mossieman kyk die rye en rye donkies, wat so kiertsregop in gelid staan.  “Wel manne, ek bedoel donkies, wat presies is julle probleem met die masjeer-storie? Waarom sukkel julle so?”

Die donkie-kadette laat sak almal hulle ore, sò skaam is hulle. Nie een wil vir Mossieman in die oë kyk nie, hulle loer almal vir die grond en daar is doodse stilte op die paradegrond. Nee een kadet waag eers om op te kyk nie.

“Toe kadette, bieg!” sê Geronkie streng en loer na die ander donkies. “Uit met die waarheid. Wat gaan aan met julle dat julle so skeef en krom soos krappe masjeer?”

Uitendelik skraap een van die vaal donkies in die agterste ry al sy moed bymekaar en hy kom met die hele mandjie patats vorendag. “Ons.. ons” stamel hy, “ons weet nie wat links is en wat regs is nie, Geronkie.” Ons is deurmekaar. Ons weet nie waar ons links is nie, òf waar ons regs is nie.” Al die ander donkies loer verleë vir Mossieman en Geronkie en ‘n paar van hul kug saggies om nie te wys dat hulle bloos nie.

“Maar links is links en regs is regs,” roep Geronkie verbaas uit. “As ek links balk moet julle linkerpote voor wees en as ek regs balk, dan die tenoorgestelde een.”

“Maar Geronkie,” verduidelik die skaam agterste donkie weer, “ons het vier pote. As ons gelyk altwee pote aan die linkerkant voorsit, dan is twee pote vorentoe en twee agtertoe en dan val ons om!”

Mossieman lag so dat sy kuifie skoon deurmekaar raak. “Geronkie,” sê hy ondeund, “ek verstaan nie lekker nie. Sê vir die kadette hulle moet vir my demonstreer hoe val hulle om. Gee bietjie vir hulle opdrag om te masjeer, dan kyk ons wat gebeur.”

Geronkie is ook nie links nie en hy balk kliphard vir sy donkie-kadette: ”Aààààààààànnndag!” Al die donkies staan aandagtig op aandag en luister na Geronkie se bevele. “Links met driëe ommekèèèèèeer, links om!” Al die donkie-kadette draai links om. “Voorwàààààààrts, mars!”

Daar trek al die donkies gelyk in alle rigtings oor die paradegrond. “Links-regs, links-regs, links-regs,” skree Geronkie bevele en al die donkies sit gelyk hul linkerpote vorentoe. Maar hul regterpote bly agter en daar kantel al die donkies gelyk om. Die klomp kadet-donkies balk kliphard van die skrik, Geronkie flap sy ore uit frustrasie en Mossieman lê soos hy lag.

Verleë staan al die kadette op en stof hul broeke en ore af.

“Toemaar, toemaar,” sê Mossieman vertroosted toe hy klaar gelag het vir die spul donkies. “Ek weet wat om te doen. Geronkie, gaan kry vir my ʼn klomp lappe en grashalms en ʼn láááng tou.”

“Lappe en toue en grashalms,” herhaal Geronkie verbaas. “Wat wil jy daarmee doen ,Mossieman?”

‘Gaan haal dit net, Geronkie,” antwoord Mossieman, “en maak seker jy bring ʼn skêr om die toue te sny. Julle klomp donkies, kom staan almal hier in ʼn ry, linkerpote voor.” Al die donkies gaan staan geduldig, gedienstig en gedwëe in gelid, almal met hul linkerpote vorentoe.

Nà ʼn rukkie kom Geronkie terug met die lappe en die grasse en die toue. Mossieman vat so stukkie lap in sy een poot, en ʼn snyseltjie tou in sy ander poot. Versigtig bind hy die stukkie lap om die eerste donke se linkerpoot. Toe vat hy ʼn pol gras en tou en bind dit om dieselfde donkie se regterpoot. Sò maak Mossieman – hy knoop lap aan die linkerpote van die kadette en gras aan die regterpote. Geronkie help vir Mossieman en kort voor lank het al die donkie-kadette op die paradegrond met hulle lappe en grasse om die pote.

‘So ja,’ sug Mossieman tevrede toe hy klaar is, nou het almal lappe en grasse om hulle pote. “Geronkie, sê vir al die donkies hulle moet weer in gelid op die paradegrond gaan staan.”

Toe al die donkies weer mooi op aandag staan, sê Mossieman vir hulle om nou mooi te luister. “Die lappe is om julle linkerpote, en die grasse regs. As ek sê ‘lapvoet’, moet julle linkerpote vorentoe gaan, en as ek sê ‘grasvoet’ julle regterpote. Verstaan almal?”

Al die donkie-kadette knik instemmend en loer verwonderd na hulle pote.

“Is julle gereed?”

Almal knik hulle koppe en flap hulle ore.

“Goed, hier gaan ons. Voorwàààààààrts, mars!”

“Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet” en daar trek al die donkies mooi in gelid, al om die paradegrond, op die maat van die orkes se musiek. Geronkie is sò beïndruk met al die donkies wat so mooi masjeer, dat hy sommer met applous uitbars.

“Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet, Lapvoet-grasvoet” gee Mossieman bevel  en die donkie-kadette loop net te oulik vir woorde. Almal in gelid, almal gelyk, om en om die paradegrond. Die Donkie Stronkie-orkes maak ‘n kakafoniese geraas en speel vir die vale. Die kadette masjeer dat die stof sommer sò in wolke staan.

Geronkie is aangedaan en kry ʼn traantjie in sy oog van dankerbaarheid. “Baie dankie, Mossieman! Dankie dat jy ons klomp donkies gehelp het – nou is ʼn ordentlike kadet-orkes. Die Donkie Stronkie-orkes gaan nou beroemd word,” sê Geronkie opgewonde, “ons kan selfs in die buiteland gaan toer.”

“Dis reg so, Geronkie,” sê Mossieman terwyl hy sy pote tevrede afstof, “daar is net een ding wat julle moet doen noudat julle so beroemd geword het.”

“Enigiets, Mossieman! Ons sal enigiets doen wat jy sê, want jy het ons gehelp om beroemd te raak.”

Mossieman glimlag en dink so ʼn bietjie. “Ek dink, Geronkie, ek dink die Donkie Stronkie -orkes moet sy naam verander.  Julle nuwe naam moet die Lapvoet-grasvoet orkes wees, dan sal julle klomp donkies nooit weer vergeet hoe om te masjeer nie.”

“Dit is reg so, Mossieman! Jy is reg, dankie! Ons gaan dadelik ons naam verander na die Lapvoet-Grasvoet-orkes toe. Dan kan ons tydens ons toer in die buiteland altyd ons beste voetjie voorsit.”

“Fluit fluit, my storie is uit,” sug Mossieman tevrede toe die applous bedaar het. Toe stap hy hy stert in die lug van die grinnekende donkies op die paradegrond weg om ʼn welverdiende uiltjie te gaan knip.

*

*Hierdie storie is deur my ma, Babs van Aswegen, as kind saans met bedtoegaan-tyd aan my vertel. Sy het haar verkneuter aan haar skoolmaats in die Oos Kaap wat so gesukkel het om in gelid en op tyd te masjeer.