Ysbeer
Mossieman sit op die kop van ‘n rare Vrystaatse ysbeer

 

“Mossieman,,” sê Geronkie die donkie eendag terwyl hulle op die wal van die magtige Sandrivier in die Vrystaat sit en visvang, “weet jy waarom daar nie ysbere in die Vrystaat is nie?”

Mossieman krap so bietjie met sy linker-veerpoot agter sy regter-oor en dink ʼn rukkie diep na. Hy het nog ʼn ysbeer in ‘n plaasdam in die Vrystaat gesien nie, nie eers in die middel van die winter nie en ook nie in Bethlehem se yskoue dam nie.

“Nee, Geronkie,” sug hy gelate, “ek weet regtig nie. Waarom is daar nie ysbere in die Vrystaat nie.”

“Want hulle is bang vir my.”

“Vir jou?” Mossieman klap sy veerpote op sy maag soos hy lag. “Jy is dan ʼn donkie.  Ysbere is mos nie bang vir donkies nie. Kyk hoe lank is jou flenter ore, jy het ʼn groot maag en tande wat in alle windrigtings staan. Niemand is bang vir donkies nie, veral nie ysbere nie.”

Geronkie lek sy lippe af en grynslag. “Dis waar, Mossieman. Ysbere is bang vir my, sommer baie bang.”

Mossieman kyk Geronkie skeef aan. “Waarom sal hulle bang vir jou wees?”

“Omdat ek gevaarlik is,” sê Geronkie en hy maak of hy soos ʼn leeu brul. Al wat uit sy mond uitkom, is ʼn grom wat klink soos iets tussen ʼn grinnik en ʼn geroes-proes.

“Vertel Geronkie, hoe het dit gebeur dat die ysbere in die Vrystaat bang is vir jou?”

“Lank gelede het ek eendag deur die Bloembos geloop,” vertel Geronkie ernstig, “toe ek ewe skielik ʼn vreeslike geskree hoor. Daar, onder ʼn boom, sien ek ʼn pragtige meisie wat huil en snik. Sy was baie treurig en ek kon sommer sien sy is baie bang. Haar rok was geskeur en haar een arm was vol bloed. In haar ander hand het sy ʼn knopkiere gehad en voor haar het ʼn yslike ysbeer gestaan. Hy was so groot, dat jy net tot by skouers kon sien, sy kop was daar bo in die wolke.”

“Geronkie,” sê Mossieman skepties, “vertel jy nie nou weer een van jou stories nie?”

“Mossieman, dit is ‘n ware liegstorie, laat ek nou verder vertel. Ek sien toe die ysbeer is baie kwaai, spoeg het by sy mond uitgekom, hy het vreeslik gegrom en hy het so ʼn wilde uitdrukking in sy een oog gehad. Ek het geweet ek moet onmiddellik iets doen, anders gaan daardie groot ysbeer die pragtige meisie opvreet. Daar was nie ʼn oomblik te verspeel nie, ek moes haar red uit die kloue van daardie lelike ongedierte. Dit was tyd vir dapperheid en ek is baie dapper.”

“Hoeveel was julle Geronkie,” vra Mossieman onnutsig, “of was dit net jy man-alleen?

“Nee, dit was net ek alleen. Ek was baie paraat en baie braaf.”

Geronkie gaan staan so skeef teen die wind om te beduie hoe hy die ysbeer benader het.

“Ek was slaggereed en ek het albei my pote voor my gehou om die ysbeer op sy neus te klits.” Geronkie swaai sy pote wat hy soos  bokser in die lug rond en nou en dan hak hy af en slaan ‘n barshou deur die lug. Mossieman moet net koes, anders klits Geronkie hom ook teen die kop.

“Stadig het ek nader gestap, treetjie vir treetjie, stil soos ʼn muis, maar gevaarlik ʼn Vrystaatse cheetah. Ek het geweet dat die ysbeer my nie moet raaksien nie, anders was dit klaarpraat met my en die pragtige meisie. Ek het die ysbeer stilletjies en vernuftig bekruip, tot ek reg agter hom gestaan het. Hy het van niks geweet nie en het net gegrom en sy groot bek oopgemaak sodat almal sy slagtande kon sien. Dit was verskriklike slagtande, langer as ‘n renoster se horing en tweemaal so dik.”

“Ag-nee Geronkie,” sê Mossieman skepties, “nou vat jy kanse.”

“Sowaar, ek het net tande gesien en toe, ewe skielik, draai die ysbeer om en kyk na my.  Sy gesig was reg voor my en hy het so hard gegrom dat my ore getuit het. Sy groot pote het gevaarlik deur die lug gekap. Hy het sulke lang, skerp naels gehad en ek kon sy pienk  kleintongetjie agter in sy bek sien.”

Geronkie vee die sweet van sy voorkop af, meegevoer deur sy eie storie.  “Ek besluit toe om daai ysbeer ʼn les te leer was hy nooit in sy lewe sal vergeet nie. ʼn Tamaai les wat sommer vir al die ysbere in die Vrystaat sal geld, ʼn les wat hy sal onthou selfs nadat hy dood is. ʼn Dure les.”

“Wat doen jy toe, Geronkie?”

Geronkie kry so ʼn genoeglike uitdrukking in sy oë soos hy weer die groot geveg herleef.  “Ek doen toe wat enige donkie sou doen – ek steek toe altwee my pote gelyk in daardie ysbeer se bek. Toe gryp ek sy pienk tong stewig vas en toe knoop ek sy tong, sommer so twee knope.”

“Mapstieks,” sê Mossieman, “twee knope? Twee knope in die ysbeer se tong!”

“Ja,” sê Geronkie trots, “twee knope. Sy tong is nogal skurf en sy asem ruik glad nie lekker nie. Daardie ysbeer was so verbaas, sy oë het sommer wasig geword, sy ore het geflap. Ek kon die vrees in sy oë sien, sy broek het gebewe. Hy het ophou grom en toe begin tjank soos ʼn klein hondjie. Toe hardloop hy weg, stert tussen die bene.”

“En die pragtige meisie, vra Mossieman geammuseerd, ”wat het van haar geword?

“Sy het my ‘n soentjie kom gee,” sê Geronkie skamerig. “Ek was haar held en al die diere in die bos het vir my hande geklap.”

“En die ysbeer?”

“Nee, daardie ysbeer het weggehardloop, niemand het hom ooit weer gesien nie. Ek dink hy het die storie aan al die ander ysbere gaan vertel en tot vandag toe het nie een ysbeer weer sy voet in die Vrystaat gesit nie.

‘Jinne Geronkie!  Dis indrukwekkend – jy is ‘n yster ou maat.”

“Jaaa..” sug Geronkie behaaglik, “daardie ysbere is nou baie bang dat ek hul tonge gaan knoop as ek hulle sien. Hulle loop sommer sulke wye draaie om my as hulle my net hoor aankom.”

Mossieman lag te lekker. “Sulke karnallies! Geronkie, jy het het hulle ʼn duur les geleer.  Ysbere sal dit ooit weer in die Vrystaat waag nie, jy het hulle mooi op hul plek gesit. Daai ysbere is darem regte bangbroeke as jy hulle tonge knoop.”

*