Drakie
Diro die Draak

“Mossieman, waar kom al die kinders in die Vrystaat vandaan?”

“Kinders? Vrystaat? Wat bedoel jy Geronkie?”, vra Mossieman wat rustig deur die Volksblad sit en lees. Die Volksblad is die belangrikste koerant in die hele wêreld omdat almal wat in die Vrystaat woon, en hulle kinders, hom lees. Daar is selfs mense buite die grense van die Vrystaat wat die Volksblad lees om op hoogte te bly van nuusgebeure en wêreldsake.

‘Ek bedoel, hier is so baie kinders in die Vrystaat, duisende van hulle. Waar kom hulle almal vandaan?’

Stadig sit Mossieman sy koerant neer en hy peins so ʼn bietjie oor Geronkie se vraag.  Mossieman was goed met dink, hy kon die hele dag hoog in die takke van ʼn Vrystaatse wilgeboom sit en dink. Al die diere van die Bloembos kon elke dag sien hoe ernstig Mossieman sit en dink het, omdat sy oë meeste van die tyd toe was. Party diere het selfs gedink dat Mossieman ʼn beroemde filosoof was en dat hy die mooiste stories in die wêreld kan vertel. Mossieman het altyd op sy boomtak gesit en dink… en partykeer het hy maar net op sy boomtak gesit.

“Wel,” begin Mossieman sy storie, “lank gelede was daar ʼn draak wat in Sjina gewoon het. Al die drake in die wêreld kom van Sjina af. Daardie draak was een van die grootste drake ooit, met groen oë, ʼn lang geel stert en rooi vuur wat by sy bek uitkom wanneer  hy praat. Die draak het gou verveeld geraak en omdat hy baie groot treë kon neem, besluit hy eendag om ʼn lang ent te gaan stap. Hy was nuuskierig en hy wou sien hoe ander lande in Europe en Afrika lyk.

“Wat was die groot draak se naam, Mossieman?” vra Geronkie die donkie versigtig.

Mossieman skuif sy neusknyp-brilletjie so effens op sy neus rond en dink baie diep.  “Diro,” antwoord hy. “Die draak se naam was Diro.”

“Diro die draak het eers deur Europa gestap en toe al met die Nyl rivier af deur Egipte, deur Soedan en Uganda en Tanzanië. Van daar af het Diro deur Zambië gestap en rondom Botswana totdat hy uiteindelik in Bloemfontein in die pragtige Vrystaat beland het. Die Vrystaat was die mooiste plek wat hy nog ooit gesien het, met koppies en groen weivelde en mielielande.  Diro was sò beïndruk met die Vrystaat se goudmyn-skagte en die magtige waters van die blouer-as-blou Sandrivier, dat hy besluit het om vir altyd in die Vrystaat te bly.”

“Diro die grote draak was egter bietjie eensaam, omdat daar was nie baie ander drake van Sjina af wat in die pragtige Vrystaat gebly het nie. Op ʼn dag stap Diro langs die magtige Sandrivier af, toe hy ‘n pragtige prinses sien wat haar lang blonde hare in die rivier se water gewas het. Die prinses was ook baie eensaam en toe sy die groot sterk draak sien, was sy dadelik verlief.  Alhoewel Diro die draak groot en sterk was, was hy goedhartig en baie bedagsaam teenoor ander mense en diere. Boonop het hy goeie maniere gehad en nooit ander mense, of drakies, seergemaak nie.”

“Diro die Draak en die pragtige prinses het getrou en hulle was baie lief vir mekaar.  Hulle het sommer honderde kinders gehad en al die kinders het in die pragtige Vrystaat gebly waar hulle baie gelukkig was. Toe die kinders groot word, het die prinses en die draak eendag net verdwyn en al die kinders het toe in die pragtige Vrystaat agtergebly.”

“Waarheen het die draak en die prinses heen verdwyn, Mossieman?”

“Ek dink Diro die draak en die pragtige prinses is terug Sjina toe.”

“Maar waarom, Mossieman? Waarom moes hulle terug Sjina toe gaan?”

Mossieman krap so bietjie met sy veerpoot agter sy oor en hy dink lank en diep oor die antwoord. “Wel, Geronkie, die mense in Sjina, en daar is nogal baie van hulle, kon nie Afrikaans praat nie. En Diro die draak en die pragtige prinses is Sjina toe om al daai Sjinesies Afrikaans te gaan leer praat.

Geronkie krap sy twee groot ore en dink so ‘n bietjie oor Mossieman se storie.

“Is dit jou storie oor waar al die kinders van die Vrystaat vandaan kom? Regtig Mossieman?”

“Ja,” beaam Mossieman rustig en tel weer sy Volksblad op om verder te lees. “Dit is waar al die kinders van die Vrystaat vandaan kom. Dit is waarom al die kinders in die Vrystaat so mooi is soos prinsesse en so sterk soos drake.”

“En so slim soos professore ook?”

“Baie slim, Geronkie,” lag Mossieman.  “Amper so slim soos mossies wat stories vertel.”

*