Lama

Lama sonder drama

“Geronkie, was jy al in Suid-Amerika?”

Mossieman loer skuinsweg na sy donkie-kameraad waar hulle langs die magtige Sandrivier sit en visvang. Dit is Vrydagmiddag in die Vrystaat en behalwe vir visvang en mielies braai, gebeur daar nie veel ander dinge nie. Bokant Mossieman en Geronkie se koppe sing twee geel sonbesies in ʼn wilgeboom hul harte uit, maar verder is dit doodstil langs die kronkelende blou rivier.

“Nee Mossieman, ek was nog nooit in Suid-Amerika nie. Ek hoor dit is baie warm in die Amasone en dat almal Spaans praat, behalwe vir die Brasiliane wat Portugees praat. En ek hoor daar is baie berge, en piranhas en lamas.”

“Weet jy hoe lyk ʼn lama, Geronkie,” vra Mossieman onnutsig.

“Nie eintlik nie, ek dink hulle het baie wit wol en lang nekke. Ek het eenkeer van ʼn lama in ʼn liedjie gehoor, maar ek persoonlik het nog nooit een van naderby gesien nie.”

“Wat was die liedjie, Geronkie?” vra Mossieman nuuskierig. “Kan jy nog onthou?”

Geronkie dink so ‘n bietjie aan die liedjie. “Ja, ek onthou vaagweg.” Toe trek hy in vollebors los. “Dààààr kom die Alabama, die Alabama kom oor die sèèè…  – dààààr kom die Alabama, met ‘n lama, dààààr kom die lama oor die sèèè…“

“Nee Geronkie,” lag Mossieman, “ek dink nie jy het die woorde heeltemal reg nie. Die Alabama het wel oor die see gekom, maar ek dink daar was ʼn lama op die Alabama nie.”

“Maar ek het dan ʼn lama op die Ark gesien, Mossieman! Daar was ʼn prentjie in die kinderbybel. Trouens, ek dink daar was twee lamas op die ark.”

“Miskien, Geronkie, miskien,” antwoord Mossieman geduldig. “Maar die Ark was baie groter as die Alabama.”

“Miskien het ek ʼn lama op die plaas in die Vrystaat gesien,” wonder Geronkie voort. “As ek nou reg onthou. Die lama het altyd daar rondgeloop, met ʼn leiband om sy nek. Daar was ʼn oemfaan op die plaas vir die lama kos gegee het, en water.”

“ʼn Oemfaan?” vra Mossieman nuuskierig. “Wat het die lama nogal geëet?”

“Wel, dit was in die Vrystaat. Die mense en diere in die Vrystaat eet meesal mielies en melktert, nou en dan koeksisters. Met boeretroos.”

“Wat was die oemfana se naam,” wil Mossieman weet.

“Hy het nie juis ‘n naam gehad nie, Mossieman. Ons het hom sommer die oemfana met die lama genoem.”

“Onnutsig Geronkie, baie onnutsig van jou,” sê Mossieman droog.

Geronkie tel sommer vinnig spoed op met sy stories oor die lamas. “Eendag loop ons deur die hyperama, toe sien ons ʼn dama, aan haar leiband was ʼn lama,” borduur hy voort.

“Bedoel jy ʼn dama of ‘n dame, Geronkie?”

Geronkie frons en dink diep. “Wel, as die lama langs haar loop, dan noem ons haar ‘n dama. ‘n Dama met haar lama. En as ʼn dama saam met haar lama loop, veral oor berge en dale, dan noem ons dit ʼn panorama.”

Mossieman krap sy kop met sy veerpoot oor Geronkie se storie. Geronkie is nou goed aan die gang en vertel lekker verder.

“Ek het ook gehoor van ‘n lama daar in Pretoria wat universiteit toe wou gaan omdat ʼn  akteur wou word.”

“’n Akteur? Ag-nee man, Geronkie! Nou vertel jy ‘n lààng storie. Waar op aarde het jy gehoor van ʼn lama wat universiteit toe wou gaan? Ek dink jy vat ʼn kans.”

“Nee, Mossieman, dit is ʼn ware liegstorie hierdie. Die lama het universiteit toe gegaan om drama te swot. Jy weet, soos akteurs en aktrises wat vol drama is.”

“Rêrig, Geronkie?”

“Ja, die lama het saam met die ander studente klas gedraf en alles. By die drama departement van die universiteit. Maar daar was net een klein probleempie met die lama,” skud Geronkie sy kop besorg.

“En wat was dit, Geronkie?”

“Wel, die lama was nie baie slim nie,” lamenteer hy.

” ʼn Dom lama?” vra Mossieman nuuskierig.

“Ja, die lama was nogal dof en dit het maar moeilik gegaan met sy eksamens en toetse.  Eintlik het die baie sleg gegaan, wat die lama het nooit een van sy toetse of eksamens deurgekom nie. Hy het sommer al sy eksamens gedop en hy het nooit graad gevang nie.”

“Ag, fooitog,” betuig Mossieman se meegevoel, “die arme lama.”

“Ja,” skud Geronkie sy kop meelewend saam, “van toe af staan daardie lama in Pretoria bekend as die lama sonder drama.”

“Ai-tog, Geronkie,” sug Mossieman vir die storie. “Kom ons drink ʼn koppie boeretroos en sing weer daai liedjie –

“Dààààr kom die Alabama, die Alabama kom oor die sèèè…  – dààààr kom die Alabama, met ʼn lama, dààààr kom die lama oor die sèèè… “

*