Kanaalapies
Die twee kanaalapies –  Vinkel en Koljander

Mossieman se rooi strikdas is sy trots – elke oggend het Mossieman sy strikdassie mooi rangskik en versigtig reguit getrek, voordat hy die dag se sake in sy kantoor op ‘n tak in ‘n groot ou Vrystaatse vyeboom aangepak het.

Voëltjies en diere het elke dag van heinde en verre gekom om na Mossieman se raad te luister, wyse raad en advies oor wêreldsake en ook plaaslike Vrystaatse sake wat Mossieman elke dag, gratis en verniet uitgedeel het. Mossieman was baie wys en die enigste mossie in die hele Vrystaat wat al die geheime van die heelal geken het.

Eendag kom daar eendag twee kanaalapies van Virginia se wêreld af om Mossieman se raad te vra oor ʼn netelige sakie. Die twee kanaalapies, mannetjie en wyfie, was al baie lank getroud, omtrent ʼn leeftyd lank. Nie een van die twee kon nie meer goed hoor òf sien nie, omdat hulle begin oud word het. Hulle was einde ten rade en het ʼn vêr ent langs die Sandrivier af gestap, amper ʼn dagreis te perd vêr, om by die wyse Mossieman te kom advies vra.

Mossieman het die twee kanaalapies, wat die hele tyd hande vasgehou het omdat hulle lief was vir mekaar, op die tak in sy kantoor laat sit en ewe formeel sy strikdas en onderbaadjie reggetrek. “Nou ja julle twee, laat ek hoor wat die probleem is. Maar sê eers vir my, wat is julle name?”

Die twee kanaalapies kyk selfbewus na mekaar, nie heeltemal seker om hulle vir Mossieman moet vertrou en hom van hulle groot geheim moet vertel nie. Uiteindelik skep die mannetjie-kanaalapie al sy moed bymekaar en maak keel skoon. “My naam is Vinkel en my vroutjie se naam is Koljander. Ons kom uit ʼn baie goeie familie kanaalapies van die wêreld net langs die Willem Pretorius-wildreservaat af.”

“Ek ken Virginia goed,” sê Mossieman slim, “dit is die mooiste ou dorpie daar langs die magtige Sandrivier. As ek reg onthou, loop die rivier daar na die wildreservaat se kant toe. Maar vertel my nog so ʼn biejie van julleself.”

“Um .. Mossieman, ons is al baie lank getroud en baie lief vir mekaar,” vertel Koljander.  “Maar ons word nou oud en ons knieknoppe kráák so ʼn bietjie. Ons geheue is ook nie meer wat dit was nie en ons oë word al hoe swakker. Ons kan nie goed onthou nie en ons kan nie meer so vêr sien nie. Lank gelede was ons vêrsiende, maar nou raak ons al hoe meer bysiende.”

Mossieman luister aandagtig na die twee kanaalapies se storie en hy skud sy kop meelewend heen en weer, op en af, heen en weer, op en af…  Hy het in al sy jare as raadgewer van die diere in die Bloembos nog nooit so ʼn treurige storie gehoor nie en hy dink baie diep oor die twee kanaalapies se probleem.

“Wat doen julle twee as julle nou moet uitgaan? Sê nou net julle vertrek van julle huis af en julle gaan winkel toe of kerk toe of gaan kyk rugby op die Vrystaatse stadion? Wat doen julle dan?”

“Wel, Mossieman, jy weet dat ons baie getroue ondersteuners is van die beroemde Vrystaatse rugbyspan, die Cheetahs. Ons hou baie van die Cheetahs omdat hulle so gereeld elke dertig jaar die  Curriebeker wen. So, as ons gaan rugby kyk, dan tref ons voorsorgmaatreëls. Ons is baie versigtig.”

“Voorsorgmaatreëls?  Wat se voorsorgmaatreëls?”

Die twee kanaalapies kyk skamerig na mekaar. “Om weer veilig by die huis te kom nà die wedstryd.”

“En wat doen julle?” vra Mossieman nuuskierig.

“Ons .. ons .. wel, Mossieman, ek onthou ons name en sy onthou waar ons bly. So kom ons na die tyd weer veilig by die huis aan. Maar partykeer raak ons deurmekaar, dan vergeet sy waar ons bly en ek vergeet wie ons is. Partykeer vergeet sy selfs my naam. En haar eie naam.”

Mossieman skud sy kop simpatiek en kyk rond na al die ander diere van die bos wat nuuskierig sit en luister na die storie van die twee kanaalapies. Hulle het nog nooit so ʼn  interessante storie gehoor nie.

“En? En wat is julle probleem nou?”

“Wel, Mossieman, omdat ons Vrystaatse kanaalapies is, speel ons ook gereeld rugby en ons skop elke dag die rugbybal vir mekaar. Partykeer skop ons die bal hoog, partykeer laag en partykeer skop ons die bal baie vêr.” Vinkel sug diep. “Sommer ʼn myl vêr.”

“Soos dryfings?” vra Mossieman. “Kyk julle wie die bal die verste kan skop?”

“Ja, Mossieman. Maar nou het daar ʼn vreeslike ding gebeur.”

Vertel my maar,” sug Mossieman geduldig, “dan probeer ek julle help.”

Die twee kanaalapies frons gelyktydig en kyk met groot oë na Mossieman. “Ons het besluit dat elke keer as ons dryfings speel, een van ons moet onthou waar die bal is en die ander een moet mooi kyk waar die bal land, sodat hy nie wegraak nie.”

“En toe?”

“Ons speel toe verlede Saterdag weer dryfings” vertel Vinkel, “en ons skop die bal vir mekaar. Vir ure lank. Toe skop ek een keer die bal tè hoog en vêr en toe raak die bal weg.”

Mossieman kyk na die kanaalapie se vrou, wat sy oë vermy en skamerig afkyk grond toe. “Kan jy onthou hoe lyk die plek waar die die bal is?”

“Ja,” antwoord die Koljander skamerig, “die bal is in die kanaal. Die bal het in die kanaal geval en die water in die kanaal het die bal laat wegspoel.”

Mossieman krap sy kop. “So, jy onthou presies hoe dit lyk toe die rugbybal in die kanaal geval het?”

“Ja, dit is ‘n baie mooi kanaal, met blomme en struike en pragtige populierbosse met takke wat so in die water hang, en die wind suis so saggies en mooi deur die populierbos se takke, dit is te mooi om te hoor. In die takke van die populierbos is daar baie mossies wat net soos jy lyk, en vinke, en bosduiwe en klein tintinkies.”

“Maar wat is dan julle probleem?” wil Mossieman by die kanaalapies weet.

“Wel Mossieman,” sug Frieda, “ek is jammer … ek onthou nie meer so goed nie … ek het vergeet waar die kanaal is. Nou is ons rugbybal weg.”

“Toemaar,” troos Mossieman, “dink daaraan dat ʼn klein seuntjie aan die ander kant van die kanaal eendag daardie rugbybal in die hande gaan kry. Dit gaan vir ʼn groot geskenk wees – dink net hoe bly hy gaan wees oor ʼn nuwe rugbybal.”

“Haai, Mossieman,” sê die twee kanaalapies opgewonde, “jy is reg! Ons gaan daardie seuntjie se hartjie sommer baie bly maak as hy ʼn nuwe rugbybal kry.”

“En weet julle twee wat? Julle kan miskien nie meer mooi sien nie en nie meer mooi onthou nie, maar julle twee kan nog steeds hoor! Dink daaraan. Julle twee kan nog steeds elke dag mekaar se stemme hoor.”

Die twee kanaalapies skud hul koppe instemmed. “Ons voel baie gelukkig omdat ons ʼn persentjie vir ʼn seuntjie al langs die kanaal afgestuur het.  Baie dankie, Mossieman!”

“Wag so ‘n bietjie, nie so haastig nie, julle twee kanaalapies. Omdat julle nie meer kan onthou waar die kanaal is nie, kan ons julle mos nie meer kanaalapies noem nie. Van nou af is julle name net apies, regte, egte Vrystaatse apies.”

“Dit is reg so, Mossieman,” stem die twee kanaalapies gemoedelik in. “Die aap is uit die mou! “Van nou af is ons net gewone Vrystaatse apies.” En daar stap die twee apies tevrede, stert-in-stert, al langs die magtige Sandrivier af, terug Virginia toe.

*