Mys & Krok
Mys die muis eet krokodille vir ontbyt (Belinda van Aswegen)

 

Eendag op ʼn reëndag was daar ʼn dapper muis wat in die bos in die Vrystaat gaan stap het. Sy naam was Mys die muis en die meeste van sy spierkrag het tussen sy ore gelê. Dit is waarom sy ore so groot was.

Toe Mys nog so stap, lê daar ewe skielik ʼn reuse krokodil in sy pad. Die krokodil was groot en lelik met baie skerp tande, en hy het ʼn allemintige lang stert gehad wat hy  onheilspelled rondgeswaai. ‘Nou moet ek vinnig slim wees,’ dink Mys die muis en maak sy bek wawyd-groot oop om ʼn allemintige brul te brul.

‘HHHAAARRRGGG!’

Mys die muis loer so onderlangs na Krokodil, wat hom met groot oë aangaap. Krokodil was so ʼn bietjie beïndruk met Mys se gebrul, maar nie baie nie. ‘Ek sal iets moet doen,’ dink Mys, ‘anders gaan hierdie groot krokodil my sowaar opvreet.’ Naby Mys het daar ʼn klomp ou blouwildebeesbene op die grond gelê en niks doen nie. Vinnig gryp Mys een van die grootste blouwildebeesbene maak kamstig of hy daaraan knaag en eet.

‘HHHAAARRRGGG!’

“Dit was nou lekker !” sê Mys en vee sy bekkie met sy sneesdoekie af. “Ek wens ek kan nog ʼn krokodil in die hande kry om te eet! Die vorige een was baie lekker!”

Krokodil sluk amper sy eie ore in van skrik en bangbroekgeid. Met ʼn benoude tjank en sy stert styf tussen sy benoude boude vasgeknyp, verdwyn krokodil verskrik die bosse in.

Mys die muis slaak ʼn sug van verligting toe hy Krokodil sien weghardloop en vee die sweet van sy voorkop af. Toe begin hy te lekker lag vir sy eie slimmigheid. Hy het vir Krokodil behoorlik skrik op die lyf te gejaag.  Mys die Muis lag nog so, toe gewaar hy vir die stoute Bobby bobbejaan hier bokant hom in die boom.

Bobby bobbejaan kyk Mys soò aan en sê meerderwaardig: “Jy is ʼn skelm muis, Mys. Ek weet wat jy gedoen het! Jy het daardie arme krokodil die skrik op die lyf gejaag! Jy het  gemaak of jy ʼn ander krokodil vir ontbyt opgevreet het en nou dink daai krokodilletjie dat hy volgende op die spyskaart is. Hy is nou baie bang vir jou. Sies man, Mys, jy maak nie mooi nie.”

“Man, bobbejaan, hou jou neus uit my sake uit,” sê Mys die muis vies. “Jy gaan haal nou net die bobbejaan agter die bult. As ek nie ‘n plan gemaak het nie, het daai krokodil my sekerlik opgeëet. Ek moès hom om die bos lei. Hy sou jou ook sommer opgevreet het, jou dom bobbejaan.”

“Neee-wat,” koggel Bobby bobbejaan astrant,” ek glo nie daai storie nie. Ek gaan vir krokodil vertel  wat jy gedoen het en dan gaan hy jou kom vang.”

“Jy moet jou bobbejaanstreke los, Bobby,” piep Mys die muis, maar daar trek bobbejaan al klaar agter die krokodil aan om te gaan skindernuus oordra.

Bobbejaan kry vir Krokodil waar hy bewerig agter ʼn ruie populierbeem wegkruip vir Mys die muis. Hy is baie bly dat Muis hom nie gevang het nie, maar hy bewe nog steeds ‘n bietjie van angs en spanning.

“Krokkie,” sê Bobbejaan vir die krokodil, “daai muis het jou netnou met ʼn lekker slap riem gevang. Hy lag lekker vir jou domheid. Hy het jou om die bos gelei.”

“Wat bedoel jy?”, vra Krokodil en loer benoude-boude agter die populierboom uit.

“Dink jy regtig dat ʼn muis ‘n krokodil kan opeët? Hy hou jou vir die gek, man!”

“Jy is reg!” roep Krokodil verontwaardig uit. “Muis het my met ʼn slap riem gevang! Ek is ʼn  regte botterkop!”

“Ja, ja, jy is ʼn regte botterkop!” vryf Bobby bobbejaan sout in krokkie se wonde.

“Kom ons gaan vang daai muis!” jil Krokodil. Bobbejaan spring op Krokodil se rug om saam te ry en te kyk wat gebeur en daar gaat hulle.

Maar Mys is ʼn uitgeslape muis en hy sien vir Krokodil, met Bobby bobbejaan op sy rug, van vêr af aankom. “Nou moet ek vinnig nog ʼn plan maak,” dink Mys op sy pote en hy draai sy rug op die twee wat aankom.

Net toe die Krokodil naby kom, draai Mys die muis doodluiters om en sê vir Bobby bobbejaan:

“Waar was jy die hele tyd, jou dom bobbejaan? Ek het vir jou gesê ek is nog honger en dat jy nog ʼn krokodil moet bring sodat ek hom kan opeet. Hoekom draai jy so lank en hoekom bring jy so ʼn maer krokodil hier aan? Ek is honger man! Kon jy nie ʼn vetter krokodil in die hande kry nie?”

Krokodil skrik hom boeglam! Sy oë rek so groot soos pierings en hy huil sommer krokodiltrane, so bang is hy vir Mys die muis. Krokodil spring verskrik om en gee vir die lastige bobbejaan ʼn stewige klap met sy stert dat hy daar trek. Toe storm die krokkie  vreesbevange die bosse in. Jy sien net stof staan, so vinnig hardloop Krokodil om weg te kom van die wreedaardige Mys die muis af.

Bobbejaan skrik sò groot van Krokodil se stert-hou dat hy amper bobbejaanstuipe kry. Hy probeer vergeefs vir Mys die muis in die lang gras wegkruip, want hy weet hoe gevaarlik Mys is as hy eers die dag behoorlik kwaad raak.

Muis kyk na Bobby bobbejaan waar hy kop onderstebo in die gras lê en huil, en lag tog te lekker. Bobby bobbejaan het ʼn groot eina waar Krokodil hom met sy stert raakgeslaan het, die haal lê sommer  so blou oor sy boude.

“Bokkapater!” lag Mys die muis en stap stert in die lug weg. “Laat dit vir jou ʼn les wees, jou nuttelose bobbejaan. Vir jou en jou niksnut-vriendjie Krokkie krokodil.”

“Wat is my les, Mys, wat moet ek leer? Ek is jammer, Mys.”

“As jy nie sterk is nie, Bobby, moet jy maar slim wees. Slim soos ʼn Vrystaat-muis.”

*

 

= + = + = + = + = + =