Yellow sub

Virginia se geel duikboot

‘Mossieman en Geronkie die donkie beraam ‘n skitterende plan om mieliediewe in die Vrystaat te vang – hulle gaan ‘n geel duikboot gebruik.’  

Mossieman en Geronkie sit eendag langs die magtige Sandrivier net buite Virginia en gesels oor diewe wat mielies steel. Daar is baie mielies in die Vrystaat, meer as die skape, maar minder as aartappels en skaapappeltjies. Mens sien orals in die Vrystaat tussen die mynhope mielielande – die mielies staan hoog en droog en geil en groen en wag vir oestyd – te pragtig vir woorde.

“Mossieman,” vertel Geronkie, “die boere kla by my dat diewe besig is om hulle mielies op die plase te steel. Dink jy nie ons moet iets doen om hulle te help nie?”

“Soos wat?” vra Mossieman nuuskierig en hy gooi nog ʼn mieliestronk op die braaivleisvuur. In die Vrystaat braai almal mielies want hulle proe so lekker met ʼn bietjie bokbotter en seesout. Mieliebraai is deel van die tradisie en kultuur van die Vrystaat en jy moet besonder vernuftig wees om ʼn mielie behoorlik te braai, sodat die botter aan die bokant nie in jou mond smelt nie.

“Ek dink ons moet hulle voorlê en hulle vang as hulle die mielies steel,” mymer Geronkie.  “ʼn Dief is ʼn  dief en hy moet gevang word. Dan moet hy tronk toe gaan.”

“Klink na ʼn goeie plan,” sê Mossieman ingedagte, “maar hoe gaan ons daardie diewe vang? Diewe is dom, maar hulle kan nogal skelm soos politici wees. Daarom moet ons slim wees.”

“Ons bekruip hulle van die magtige Sandrivier se kant af, tussen die riete en likkewane deur. Dan gewaar hulle ons nie en ons vang hulle.”

“Van die rivier se kant af? Is jy nou laf, Geronkie? Hulle gaan ons mos sien! Ons moet ʼn beter wegkruip plek kry, sodat die mieliediewe ons nie kan uitken nie.”

Geronkie dink so bietjie diep en hy krap met sy poot oor sy mossie-kuif. “Ek dink ons moet ʼn duikboot kry. ʼn Mooi geel duikboot, soos die Beatles.”

Mossieman loer na Geronkie en sy ogies trek sulke fyn skrefies. “Waar op aarde gaan ons ʼn geel duikboot vandaan kry? En jy is buitendien nie baie nootvas nie, Geronkie.”

“Ek het een daar in Aldam gesien – daardie groot dam net sò anderkant Virginia op pad Bethlehem toe.”

“En dan?” vra Mossieman skepties, “wat doen ons dan met die duikboot?”

“Ons koop die duikboot by die kaptein, dan ry ons hom van die dam af, so al met die Sandrivier langs. Dan sit ons twee binne-in die duikboot, soos paddamanne en diepsee-duikers. Niemand kan ons sien nie en ons kan lekker op die mieliediewe spioeneer.”

“Geronkie,” sê Mossieman pedanties, “duikbote ry nie, hulle vaar.”

“Vaar?”

“Ja, hulle vaar, soos aardjie na sy vaartjie.”

“Reg so, ons vaar met die duikboot van die Aldam af, al met die magtige Sandrivier af, onderdeur die Harmonie-brug, tot in Virginia.”

“Ai, Geronkie, ek weet nie of dit gaan werk nie. Hoeveel kos die duikboot?”

“Nie baie nie, ek sal bel en uitvind.”

Geronkie haal sy selfoon uit sy knapsak uit en skakel met ʼn hooflynoproep deur die sentrale, Bloemfontein toe. Bloemfontein is die hoofstad van die Vrystaat, ʼn vreeslike groot plek, met baie mense en diere en cheetahs wat in die strate rondloop. “Mossieman,” sê Geronkie tevrede toe hy klaar oor sy selfoon gepraat het, “die ouens in Bloemfontein sê hulle stuur sommer die duikboot vir ons, omdat ons diewe daarmee wil vang. Die duikboot is verniet en gratis, hy sal more hier wees.”

Die volgende oggend vroeg wag Geronkie en Mossieman by Virginia se diepsee-hawe (net langs die stasie), op die koms van die duikboot. “Daar’s hy!” roep Geronkie opgewonde toe hy die duikboot sien en wys na die water. “Sien jy, Mossieman, sien jy?”

Mossieman kyk en kyk, maar al wat hy sien is ʼn geel stok wat bokant die water uitsteek.

“Ek sien niks, net ʼn geel stok wat bokant die water uitsteek.”

“Die duikboot is onder die water, Mossieman. Dit is die perdeskoop wat jy sien!”

“Perdeskoop?”

“Ja, om mee te sien! Die perdeskoop steek bokant die water uit en dan sit jy binne-in die duikboot en loer wat bokant die water aangaan.”

“Bedoel jy nie periskoop nie, Geronkie? Periskoop.”

“Dis mos wat ek gesê het, perdeskoop.”

“Kom ons klim in die duikboot,” sê Mossieman, “dan kyk ons hoe lyk dit onder die water.”

Geronkie en Mossieman klouter vinnig in die duikboot en loer deur die periskoop . “Kyk, Mossieman, ons kan alles bokant die water sien. Kom ons parkeer die duikboot langs die mielielande en dan hou ons die diewe dop en dan vang ons hulle.”

Nie lank nie, of Geronkie en Mossieman sien die mieliediewe deur die periskoop. “Daar’s hulle,” balk Geronkie opgewonde, “kom ons vang hulle.”

“Geronkie, hoe kan ons hulle vang? Ons sit dan onder die water in die duikboot. Die diewe is op die wal, in die mielielande. Ons is onder die water, naby die bodem.”

“Jy is reg, Mossieman,” sê Geronkie mismoedig, “maar ek het ʼn plan! Ons bel net die boer en sê vir hom die diewe is besig om sy mielies te steel.” Gou-gou bel Mossieman die boer op sy selfoon en kort voor lank kom die boer en die polisie daar aan en vang al die mieliediewe op heter daad in die mielieland.

“So ja,” sê Geronkie die donkie tevrede, nadat al die mieliediewe in die tjoekie toegesluit is. “Nou is al die diewe in die tronk, pens en pootjies, in die tjoekie.” Hy vryf met sy poot oor sy donkie-ore en sug behaaglik uit sy magie.

“So vang mens mieliediewe in die Vrystaat, Geronkie” lag Mossieman uitbundig, “met ʼn geel duikboot.”

“Dit was pret, Mossieman! Kom ons vaar nog so ʼn paar keer met die duikboot op en af in die magtige Sandrivier.”

“Waarom, Geronkie?”

“Om die visse skrik te maak, Mossieman! Wat anders?”

*