Antjie Somers
Antjè Sòmers

Antjè Sòmers

“Boo-hoo!”

“Ag-nee, Mossieman, moet my nie bangmaak nie!’ pleit Geronkie die donkie benoude boude. Ek is bang vir die donker.”

“Booooooooo!”

“Mossieman, ek is bang genoeg. Moet my asseblief nie nog banger maak nie, kyk hoe bewe my broek en my ore!”

Mossieman lag onnutsig in sy vere vir Geronkie se ongemaklikheid. “Ek hoef jou nie bang te maak nie, Geronkie,” terg hy, “ek kry net vir Antjè Sòmers om jou die skrik op die lyf te jaag.”

“Antjè Sòmers!  Wie is Antjè Sòmers? Mossieman? Geronkie loer bangerig oor sy skouer.  Dit is amper skemer in die Bloembos en die windjie waai koud deur die bome se onrustige blare. Alles is mistig en koud en donker – nie eers die maan skyn in die hemel nie en selfs die sterre kruip skelm agter die swart wolke weg.

“Antjè Sòmers is amper soos die tokkelossie,” fluister Mossieman sameswerend en loer benoud om hom rond. “Net erger. Sy jaag kinders wat alleen nà donker rondloop, veral op warm somer aande.”

“Is dit hoekom haar naam ‘Somers is? Omdat sy in die somer kinders steel?” Geronkie word al hoe banger en sy onderlip bewe so bietjie. “Wat doen sy met die kinders wat sy steel?”

“Antjè Sòmers?”

“Ja.”

“Sy eet hulle op!”

“Ag-nee, Mossieman, nou maak jy my net bang.”

Mossieman loer weer so bietjie om hom rond. “Antjè Sòmers vang die kinders dan eet sy hulle op. Maar,” fluister hy geheimsinnig, “sy het net een tand.”

‘Eina!’ kla Geronkie verskrik. Net die gedagte gee hom koue rillings. “Net een tand? Hoe op aarde eet sy met net een tand?”

“Baie stadig,” fluister Mossieman, “sy eet die kinders langtand. Sy knaag so bietjie aan hulle.”

“Dit klink angswekkend. Wat doen Antjè Sòmers nog?” vra Geronkie senuagtig, terwyl hy angstig in die bos rondloer. Hy verbeel hom dat hy allerhande bewegings sien, skaduwees, geeste en spokie en… een van die skaduwees lyk net soos Antjè Sòmers.

“Wel,” fluister Mossieman saggies, “sy gebruik ʼn knypie sout en peper om die kinders te eet. En om alles te kroon, dra sy vroueklere as ʼn vermomming.”

“Waarom, Mossieman?”

“Want kinders is partykeer net effens stout, dan kan jy hulle nie heeltemal opeet nie. Jy moet bietjie sout en peper by hulle gooi voordat jy hulle eet, net soos Antjè Sòmers!”

Geronkie raak sommer baie bang en hy soek ʼn plek om weg te kruip. ‘Enige plek in die Bloembos sal ‘n goeie wegkruip-plek wees,’ dink hy, ‘tussen die bome en struike, net solank Antjè Sòmers hom nie in die hande kry nie.’

“Sê nou haar sout en peper is klaar, Mossieman, wat doen sy dan?”

Mossieman lag so bietjie stouterig in sy vere. Hy verkneuter hom as hy sien hoe bang Geronkie die donkie vir Antjè Sòmers is.

“Dan maak sy sous.”

“Sous?”

“Lekker sous, met geursel. Dan eet sy die kinders met ʼn bietjie sous op.”

“Waarom, Mossieman?”

“Want sous laat die kinders beter proe!”

“Mossieman, ek is nou baie bang,” prewel Geronkie, “dink jy Antjè Sòmers sal my ook kom vang?”

“Nee wat, Geronkie. Antjè Sòmers vang net stout kinders, nie soet donkies nie. Sy steek hulle onder haar vroueklere weg, totdat hulle reg is om te eet.”

Geronkie is baie verlig en kom stadig uit sy skuilplek agter die struike uit. “Ek is veilig, want ek is baie soet,” waag hy. “Ek dink nie Antjè Sòmers sal my nou meer kom vang en eet nie.”

‘Ek sal nie so seker wees as ek jy is nie,’ vryf Mossieman sout in Geronkie se denkbeeldige wonde. “‘Ek het gehoor Antjè Sòmers eet nie net stout kinders nie, sy eet stout donkies ook! Net soos jy!”

“Mossieman, jy moet my help. Net-nou kom Antjè Sòmers my haal om op te eet. Wat moet ek doen?”

Mossieman loer versigtig om hom rond. “Kyk daar, Geronkie, agter die bos, ek dink ek sien vir Antjè agter die bos!”

“Wat moet ek doen, Mossieman?” pleit Geronkie en sy onderlippie bewe van angs. “Ek is nou banger vir haar as die duiwel vir ʼn slypsteen. “Wat moet ek doen? Help my!”

‘Ek weet, Geronkie. Steek jou lang donkie-ore onder ʼn hoed weg, dan sal Antjè Sòmers mos nie weet dat dit jy is nie.’

‘Goeie plan,’ grinnik Geronkie verlig dat jy net donkie-tande sien. Vinnig druk Geronkie sy ore onder sy hoed plat en sit sy donker bril op. “So ja,’ sug hy tevrede, “nou is ek ingognito. Niemand weet nou wie ek is nie. Nou sal Antjè Sòmers my nooit as te nimmer kom vang nie!”

*