Visse

Dit is somer in die Vrystaat en die son skyn warm op Mossieman en Geronkie die donkie se rûe waar hulle langs Bloemfontein se dam sit en maak of hulle visvang.

Konstabel Abel kom daar verby en hy kyk agterdogtig na Mossieman en Geronkie.

ʺMôre, konstabel Abel,“ groet Mossieman en Geronkie gemaak-beleefd, terwyl Mossieman ʼn botteltjie agter sy rug wegsteek.

Konstabel Abel ken Mossieman baie goed, sedert hy  ʼn klein kannetjie wat die dominee se perskes gesteel het. (Mossieman het die perskes gesteel, nie konstabel Abel nie).

“Mossieman!” sê konstabel Abel kwaai, “wat is in daardie bottel?”

“Watter bottel, konstabel Abel?” vra Mossieman onskuldig en glimlag of botter nie in sy mond kan smelt nie.

“Daardie een wat jy agter jou rug probeer wegsteek!” Konstabel Abel loer kwaai onderdeur sy ruie wenkbroue na Mossieman.

“Nee, konstabel Abel, sê Mossieman onskuldig, “daar is niks agter my rug nie.”

“Mossieman,” sê konstabel Abel kwaai, “jy moenie nou hier staan en jok nie; ek sluit jou sommer in die tronk toe!”

“Nee, regtig, konstabel, ek doen niks nie,” sê Mossieman vroom. In die Bybel staan dat jy nie mag jok nie, en Mossieman wil nie eers ʼn witleuentjie vertel nie. Hy is in elk geval nie altyd seker wat die verskil is ʼn wit leuentjie en ander kleur leuentjies nie.

“Mossieman, dit wil vir my voorkom asof jy is besig om vissies uit die dam te steel!”

“Nee, konstabel Abel,” sê Mossieman asof botter nie in sy vrome mond kan smelt nie. Versigtig haal hy die bottel vissies agter sy rug uit. “Nie ek nie. Hierdie vissies is my troetelvissies. Ek bring hulle elke dag hier na die dam toe om bietjie te kom swem vir ontspanning en dan vat ek hulle weer saam met my huis toe.”

“Mossieman,” sê konstabel Abel kwaai, “jy is mos nou besig om my heuning om die mond te smeer. Ek dink jy jok!”

“Nee, konstabel, dit is min of meer die waarheid! Dit ís rêrig my troetelvissies hierdie. Ek bring hulle dam toe om te swem, net soos jy elke dag jou hond vat om te gaan stap. Ek gee vir hulle swemlesse.”

Konstabel Abel skud sy kop skepties heen en weer. “Mossieman, ek glo nie jou storie nie. Ek gaan jou nou arresteer en tronk toe vat.”

“Haai regtig, konstabel! Ek praat die reine halwe waarheid. My troetelvissies het elkeen ʼn eie naam. Daar is Ogies, Vinne, Skulpie, Seegras, Graatjie, Kiewe en Haai. Regtig konstabel, hulle het elkeen hul eie naam. Hulle kom nader as ek vir hulle fluit.”

“Jy staan nou vir my en jok, Mossieman! Ek het in my lang loopbaan as konstabel in die Vrystaat nog nooit van troetelvissies gehoor nie. Ek het ook nog nooit gehoor dat jy ʼn vis moet leer swem nie.”

“Konstabel Abel,” verduidelik Mossieman, “kom staan nader, dan wys ek jou. Kyk mooi, ek sit die vissies net hier in die dam, dan maak hulle litte los en swem so bietjie in die rondte. Net-nou kom hulle terug en dan sit ek hulle weer in die bottel en ons gaan huis toe.”

“Nou goed,” stem konstabel Abel baie agterdogtig in. “Kom ons kyk. Sit nou die vissies in die water, sodat ons kan sien. Kom ons kyk of jy die waarheid praat, Mossieman.”

Mossieman sit nonchalant al die vissies in die water en hulle swem lekker rond en toe verdwyn en toe, woerts-warts, verdwyn hulle. Konstabel Abel staar stip na die water, maar hy sien niks nie.

Na ʼn rukkie vra konstabel Abel ongeduldig: “Hoe lank vat dit, Mossieman? Wanneer kom die vissies terug?”

“Hoe lank vat wát, konstabel?” vra Mossieman vroom en hy knip sy oë onskuldig. Geronkie die donkie staan langs Mossieman en hy probeer hard om nie te lag nie. Hy staan nietemin gereed om enige tyd weg te hardloop.

“Hoe lank vat dit vir die vissies om terug te kom?”

“Watter vissies, konstabel?” vra Mossieman en hy maak kamtig om hy in die dam rondsoek, maar die vissies is nêrens te sien nie. Geronkie begin lag en hy en Mossieman stap fluit-fluit weg.

“Mossieman!” skree konstabel Abel kwaai agter hom aan, “kom terug hierheen! Jy het vir my gejok!”

“Nooit nie, konstabel Abel! Ek dink die vissies het hulle wind-uit geskrik, net-nou toe jy so kwaai was. Daarom is hulle almal nou weg!”

“Mossieman, kom hier! Nou gaan ek jou arresteer!” Konstabel Abel is sò kwaad dat rook by sy ore uitkom. Hy swaai sy konstabel-stokkie woes heen-en-weer en hy spring op en af, so kwaad is hy.

ʺMaar waarvoor wil jy my arresteer, konstabel Abel? Waar is jou bewyse?” skree Mossieman en hy begin hardloop so hard as wat hy kan om weg te kom.

ʺKonstabel Abel!” roep Geronkie die donkie oor sy skouer terwyl hy en Mossieman weghardloop, ʺdie vissies het so groot geskrik dat hulle almal verdrink het! Ons sal begrafnis moet hou!”

*