Appelliefie diefie

Die appelliefie-diefie

Die koning van die Vrystaat het die mooiste appelliefie-boord in die hele wêreld gehad.  Die appelliefies wat aan die appelliefie-bos in die koning se vrugteboord gegroei het, was die soetste en sappigste en geelste appelliefies in die hele Vrystaat. Die koning se onderdane het van die appelliefie-bos geweet – hulle oupagrooitjies het die storie van die lekker appelliefies vir hul oumas en oupas vertel en so het die kleinkinders daarvan tehore gekom. Wat die koning se onderdane nie geweet het nie, was dat die koning ʼn beeldskone dogter gehad het, wie baie mooi klavier kon speel en mooi kon dans. Die koning het vir niemand vertel hoe mooi die prinses was nie, omdat hy baie bang was dat elke jan-rap en sy maat met sy dogter sou wou trou, net omdat sy mooi was. Die koning het hom voorgeneem dat net die slimste onderdaan in die hele koningkryk met sy pragtige dogter sou kon trou, en dan moes die onderdaan nog ʼn baie groot uitdaging oorkom.

Die koning het ʼn probleem gehad waarvoor hy ʼn oplossing moes kry, want iemand was besig om van sy geliefde appelliefies uit sy boord te steel. Die koning was baie kwaad daaroor en hy het hom voorgeneem om die skuldige appelliefie-dief vas te trek. ‘Niemand het die reg om my appelliefies te steel nie,’ brom hy, ‘ek sal die maaifoedie sommer gou-gou vang en hom laat boet vir sy sondes.’

Die koning het lank en hard probeer om die appelliefie-dief te vang, maar sonder sukses.  Elke oggend het die koning baie vroeg opgestaan en dan in sy appelliefie-boord gaan waghou, om te kyk of hy nie dief kon vang nie. Terwyl die koning daar gesit het, het niemand van die appelliefies gesteel nie, maar sodra die koning moeg geword het en teruggegaan het na sy kasteel toe, het daar maar weer van die appelliefies verdwyn.

Toe besluit die koning dat die appelliefie-diefie seker die appelliefies in die aand steel, wanneer niemand kyk nie. Daarom het die koning elke aand met ʼn kers in die appelliefie-boord gaan sit om die dief te vang. Maar elke keer as die koning aan die slaap raak, het daar weer van die appelliefies verdwyn. ‘Ek het hier met ʼn baie slim dief te doen,’ het die koning gedink, ‘ek sal ʼn baie slim plan moet uitdink om die dief te vang.’

Die koning besluit toe om ʼn beloning uit te loof vir enige onderdaan of dienskneg wat die appelliefie-diefie op heter daad betrap. Die koning het ʼn groot samekoms gereël en almal wat in die koningkryk woon, toegespreek. “Ek gee nie om wie die appelliefie-dief vang nie,” het die koning aan sy onderdane gesê, “solank iemand hom net vang, sodat ek die dief in die tronk kan sit.” As beloning, het die koning belowe, kan die onderdaan of dienskneg wat die appelliefie-diefie vang, met sy dogter trou.

Om al sy onderdane en diensknegte om die bos te lui, het die koning vir almal vertel dat sy dogter besonder lelik was en ook nie baie slim nie, hoofsaaklik omdat sy nogal lui was. Die prinses het ʼn kort humeur gehad en sy het gereeld op die diere en diensknegte en onderdane van die koning geskree. Niks daarvan was waar nie en die koning het gedink dat kansvatters gou-gou moed sou opgee, as hulle onder die indruk verkeer dat die prinses nogal lelik is.

Maar een van die koning se onderdane met die naam Tiro, het nie moed opgegee nie. Hy het gehoor dat die koning baie graag wil uitvind wie elke dag sy appelliefies steel en hy enige iemand wat die skelm dief kon vang, ryklik sal beloon deur hom met sy dogter te laat trou. Tiro het nie omgegee dat die prinses lelik was nie, hy het lankal reeds by die diensknegte uitgevind dat sy pragting kon sing en baie mooi klavier kon speel. Solank die koning se dogter edel van imbors was, met ʼn mooi karakter, en lief is vir diere en hulle nie seermaak nie, was dit goed genoeg vir hom. Elke meisie is op haar eie manier beeldskoon, het Tiro vir homself gesê, sy sou vir hom mooi wees en hy sou haar op sy hande dra, omdat sy ʼn prinses was.

Tiro het elke aand, nadat al die diensknegte en onderdane gaan slaap het, stelling in die koning se appelliefieboord ingeneem. Aand na aand het Tiro in die boord gesit en wag vir die dief om toe te slaan. Hy het baie vaak geword, maar nooit geslaap nie, en natgereën, en in die koue windjie gesit en wag en wag ..  vyf nagte lank. Tiro was ʼn slimkop, met groot breë skouers – hy sou nie dat ʼn windjie hom van stryk af bring nie. Nag nà nag het Tiro geduldig in die boord geskuil en op die appelliefie-dief gewag.

Op die oggend van die sesde dag, toe Tiro al baie moeg en amper moedeloos was, hoor hy ewe skielik ʼn gefladder van vlerke in die appelliefie-bos. Dit was baie vroeg in die oggend, net voor dagbreek en die dou het nog op die appelliefie-bos se blare gelê en blink. Soetjies het Tiro opgestaan en nadergesluip, totdat hy duidelik kon sien hoe ʼn pragtige leliewit tortelduif op een van die appelliefie-bome sit en die appelliefies een vir een bymekaarmaak.

“Nou het ek jou,” het Tiro gefluister en agter die boom uitgekom om die wit tortelduifie aan haar vlerk te gryp. Die tortelduifie het ʼn klomp appelliefies in haar kieste gebêre en probeer wegvlieg, maar Tiro het haar stewig in sy greep gehad en vasgehou.

“Los my, asseblief,” het die tortelduifie benoud gekoer, “ek maak net kos vir my kinders bymekaar.” Maar Tiro wou nie los nie en het haar stewig vasgehou.

“Jy weet mos jy mag nie in die koning se tuin kom vrugte pluk nie,” sê Tiro streng. “Jy moet eers toestemming kry om dit te doen.”

“Ek is jammer,” soebat die tortelduifie, “ek maak maar net kos vir my kinders bymekaar.”

Tiro het die tortelduifie jammer gekry en stadig sy greep gelos. “Hoeveel kinders het jy?”

“Net twee,” antwoord die tortelduifie, “net twee klein baba tortelduifies. Ek moet elke dag vir hulle kos vat, anders word hulle honger.”

“Wel,” sê Tiro streng, “hierdie vrugteboorde behoort aan die koning.  Enige een wat van die koning steel, moet tronk toe gaan.”

“Ek is jammer,” soebat die tortelduifie, “ek sal dit nooit weer doen nie. Ek belowe ek sal nooit weer na die koning se vrugteboorde toe kom nie. Ek sal in my lewe nooit weer ietsie steel nie.”

“Goed,” sê Tiro, “ek glo jou. Ek sal jou laat gaan, maar jy moet by jou belofte hou om nooit weer iets te steel nie. Belowe jy?”

“Ek belowe,” sê die duifie plegtig en toe Tiro laat haar gaan. “Baie dankie, baie dankie,” sê die tortelduifie en toe vlieg sy ʼn laaste keer uit die koning se vrugteboord uit.

Die volgende dag het Tiro na die kasteel toe gegaan, waar hy deur die koning te woord gestaan is. Tiro het vir die koning die hele storie vertel, ook van die tortelduifie se belofte om nooit weer sy appelliefies te steel nie. Die koning het geduldig na Tiro se storie geluister en hy kon dadelik sien dat Tiro ʼn goeie en goedhartige jong man was. Tiro het die probleem opgelos en daarmee was die koning baie in sy noppies. Hy het toe die prinses laat roep en aan haar vertel hoe bedagsaam Tiro met die tortelduifie was. Toe hy die pragtige prinses sien, was Tiro se asem skoon weggeslaan. Hy kon nie glo hom mooi en pragtig die prinses was nie – en sy kon boonop baie mooi sing en dans.

Die koning het sy seën gegee sodat Tiro en die pragtige prinses kon trou. Tiro het ʼn prins geword en op die dag van die troue het sy prinses vir hom ʼn pragtige liedjie gesing.  Terwyl die prinses nog so op haar klavier vir al die gaste by die troue speel en sing, hoor sy en Tiro ewe skielik ʼn pragtige klokhelder koer-koer bo in die kerktoring.

Toe Tiro en sy prinses opkyk, sien hulle ʼn pragtige wit tortelduif, wat na hulle kyk en liggies met haar vlerke fladder. Net om dankie te sê.

*

 

*