Mossieman

Mossieman lees sy koerant

Die magtige Vrystaters

“Geronkie,” sê Mossieman gemaak-ernstig terwyl hulle ʼn groot Vrystaatse moerbeiboom sit en turksvye eet, “ek lees nou net in my koerant dat Vrystaters die taaiste manne in die hele Suid-Afrika is.”

“Watter koerant, Mossieman?”

“Die Volksblad natuurlik, die grootste Afrikaanse dagkoerant in die hele Vrystaat.”

“Vertel maar die storie, Mossieman,” antwoord Geronkie die donkie met ʼn sug.  Geronkie is Mossieman se beste vriend en hy moet maar elke dag van sy lewe na Mossieman se stories luister. Geronkie weet goed dat Mossieman liegstories so mooi kan vertel dat dit net soos die waarheid klink.

“Het jy geweet, Geronkie, in die ou dae was daar nie warm water in die Vrystaat nie.”

“Nie eers in die winter nie?” vra Geronkie verbaas.

“Veral nie in die winter nie.”

“Waarom, Mossieman? Dit word darem lekker koud in die Vrystaat.”

“Wel, eintlik is dit net sissies wat in baddens bad en in die Vrystaat was daar tot onlangs nie baddens nie. Dit staan hier in die koerant, daarom moet dit waar wees.”

“Maar wat het julle dan in die ou dae in die Vrystaat gedoen as julle wou bad? vra Geronkie ietwat onseker.

“In die plaasdam geswem, natuurlik.  Dit was net so goed soos bad, net effens beter.”

“In die somer of in die winter?”

“In die winter, Geronkie. Ons het voor skool gou afgehardloop daar na die plaasdam toe om te bad. Ons het sommer die ys op die plaasdam met ons elmboë stukkend gekap. Dan swem ons ‘n paar lengtes voor skool, vlinderslag, net om op te warm vir die dag wat voorlê.”

“Het julle darem gewas? Ek bedoel, julle hare en agter julle nat ore?”

“Bedoel jy met seep? Ag-nee man, Geronkie, daar was nie sulke goed in die Vrystaat nie, ons het sommer met Omo gewas.”

“Met Omo?”

“Ja Geronkie, dit skuim so lekker, ons het ons hare ook daarmee gewas. Daardie jare het ons met leeuvelle afgedroog en dan is ons reg vir ontbyt, voor ons skool toe gaan.”

“Wat het julle vir ontbyt geëet?”

“Sommer untjies en ʼn paar skaapappeltjies. Die skaapappeltjies wat ons nie geeët het nie, het ons vir ons ketties se skietgoed.”

“Het die kinders in die Vrystaat dan ketties gehad?” vra Geronkie beïndruk.

“Ja,” antwoord Mossieman luilekker,” ons het ketties gebruik, omdat ons onse kleilatte by die huis moes los om skool toe te gaan.”

“Het julle skoolklere gedra, Mossieman?” wonder Geronkie bewonderend.

“Ja, sulke mooi grys skoolklere met grys kouse en swart skoene. Ek onthou daardie Vrystaatse skoolkouse, hulle wou nooit bo bly nie en het die hele tyd afgesak tot op ons skoene as ons rugby speel.’

“Mapstieks! Wat doen julle toe.”

“Jong,” sê Mossieman ongeêrg terwyl hy aan ʼn mielie pik, “ons het duimdrukkers gebruik om ons kouse bo te hou. Jy slaan hulle sommer so in jou been in, met die agterkant van jou poot, dan sak jou kouse nie meer af nie.’

“Jitte Mossieman! Wat se soort sport het julle gespeel?”

“Bedoel jy behalwe rugby?”

“Ja, behalwe rugby. Almal weet Vrystaat is die best rugbyspan in die hele wêreld.”

“Wel, ons het giffie gespeel, en kennetjie. En toppe. Of mekaar met ertjieroere gekiet.”

“Vertel my eers waarom Vrystaat so ʼn goeie rugbyspan is.”

“Ons noem hull die Cheetahs, Geronkie. Hulle is beroemd, dat die mense ʼn paar verdwaalde katte daar in die Kruger-wildtuin, ook na hulle vernoem het. Elke oggend voor skool oefen die kinders hulle rugbyskoppe met golfballe. Hulle skop die golfballe sommer kaalvoet vir mekaar bo-oor die skool se dak.”

“Wat van sokker en tennis en so aan, Mossieman?”

“Nee-man, Geronkie, a-nee-a. Seuntjies in die Vrystaat speel net rugby. Hulle oefen met mieliesakke op hulle rue.”

“Maar Mossieman, die mieliesakke is mos baie swaar, hulle is dan vol mielies.”

“Ja Geronkie, maar jy moet sien hoe vinnig hardloop daai laaities as hulle nie meer met die mieliesakke op hulle rue hoef te speel nie.”

Geronkie lag van oor tot oor. “Wat is giffie, Mossieman?”

“Giffie speel ons met stukkies ronde lood, met ʼn gaatjie in die middel soos ʼn oliebol.”

“Waar kry julle die lood?”

“Uit sinkers.”

“Soos die vissermanne se sinkers?”

“Ja, en hengelaars. Ons het hulle sinkers gesmelt om die giffies mee te maak.”

“En dan?”

“Gooi jy die giffie om in ʼn gaatjie in die grond te beland, amper soos ʼn slootjie.”

“En kenntjie.”

Mossieman dink so ʼn bietjie, want kennetjie is ‘n ingewikkelde speletjie wat die Voortrekkers en die boere gespeel het.

“Geronkie, so maak mens. Jy kry ‘n lang stokkie en ‘n kort stokkie en dan maak jy twee spanne. Dan maak jy ‘n slootjie in die grond en jy skiet die kort stokkie met die lang stokkie. Dan vang die kinders die kort stokkie.”

“Ai Mossieman,” sug Geronkie, “ek wens darem ek is ʼn Vrystater.”

“Maar jy is ʼn Vrystater, Geronkie, jy is. Jy is mos in die Vrystaat gebore, net soos die beste en taaiste donkies in die land. Enigiemand wie se ma of pa of ouma of oupa in die Vrystaat gebore is, is ook Vrystaters.”

“En ek is die mooiste donkie in die hele Vrystaat oog nog,” voeg Geronkie trots by.

*