AvoAvo is ʼn spanjoel-hondjie met ʼn sagte rooibruin pels, lang ore en groot bruin oë. Wanneer sy nie stout is nie, is sy die soetste hond in die hele wêreld. Avo is die vriendelikste hond ooit en as sy opgewonde raak, swaai haar stert van oor tot oor.

Elke Sondag het Avo saam met haar huismense Gordonsbaai se kerk toe gegaan en mooi na die preek van dominee Jannie geluister. Meeste van die tyd het Avo onder die kerkbank tussen haar nooi se bene geslaap en net wakker geword as die dominee van die diere in die Bybel praat. Van al die dierestories in die Bybel het Avo die meeste van die storie van Jona en die groot vis gehou. Avo was baie bang dat so ʼn groot vis haar so vang, daarom was sy die gehoorsaamste hondjie in die hele wêreld en het sy stil en op haar plek na die dominee se preek geluister.

Die kerk was vir Avo tog te mooi en sy het alles met belangstelling bekyk: die geel en blou en groen geruite vensters, die diakens wat die rooi fluweel kollekte-sakkies ronddra sodat almal geld kan ingooi en die koor se mooi gesange. Avo het baie daarvan gehou as die kerkklok lui en die gemeentelede amen-sing aan die einde van die diens. Avo was ʼn gereelde kerkganger en sy het naderhand al die mense in die kerk geken. Daar was die waardige dominee Jannie met sy wit das, die grys oompie met sy groot maag wat altyd heel voor sit, tannie Hilda wat altyd kollekte in diaken Nelie se kollekte-sakkie gooi en dan weer kleingeld neem en die Vrystater wat die kerkorretljie laat dreun. Tannie Hilda dink niemand sien haar nie, maar ek sien haar, dink Avo stilletjies.

Eendag, toe Avo nog so onder die kerkbank lê en luister na dominee Jannie se preek, voel sy iemand trek aan haar linkeroor. Avo het nie daarvan gehou dat iemand haar ore trek nie, dit kielie haar te veel. Dadelik het sy haar een oog oopgemaak om te loer wie aan haar oor trek.

Deur een skrefiesoog sien Avo vir Mys die kerkmuis voor haar staan, manhaftig en braaf, met sy hande op sy sye.

“Haai, brakkie!” sê Mys vies, “wat is jou naam en wat doen jy hier in my kerk?”

Avo kyk verbaas na die manhaftige mannetjie wat so kordaat voor hom staan. ‘So ʼn  karnallie,” dink Avo, “ek wonder of hy weet hoe klein hy is.”

“Ek wil slaap,” gaap Avo en draai ongeërg op haar sy. “Los my uit.” Die kerk se vloer is lekker warm en Avo lê rustig en luister na die dominee se preek oor Jona en die groot vis. Avo se een oor lê plat op haar kop en haar ander oor staan regop om te luister – sy het lankal agtergekom dat ʼn goeie begryper soos sy net ‘n halwe oor nodig het.

Net toe Avo weer rustig begin insluimer, trek iemand aan haar ander oor.

‘Wat nou weer?’ wonder Avo ergerlik.

“Haai, brakkie, hoekom slaap jy in my kerk?” hoor sy Mys se klein stemmetjie piep.

Avo maak stadig haar een oog oop en hou die ander een toe. In tye soos hierdie is dit onnodig om altwee oë oop te maak, jy mors net energie.

‘Ek slaap, los my uit!’ mor Avo vies.

Mys die kerkmuis staan manhaftig nader en trek weer aan Avo se oor. “Luister hondjie, jy slaap nie in my kerk nie. Hier moet jy wakker en kiertsregop bly.”

“Sê wie?”

“Sê ek,” antwoord Mys astrant. “Ek is die dominee se assistent en ek maak seker niemand slaap in die kerk nie.  Ek is kerkmuis en ek woon in Gordonsbaai se mooiste kerk.”

“Ek is ʼn hond,” sê Avo vakerig en keer met haar poot ʼn weg. “Ek kan mos slaap waar ek wil.”

“Nie in my kerk nie, woefie!” Mys die kerkmuis trek heldhaftig Avo se een oor en met sy ander poot begin hy Avo se stert trek.

Avo maak hierdie keer altwee haar oë oop en loer met haar een oog na die stout Kerkmuis. Met haar ander oog sien sy hoe diaken Nelie in die gangetjie afkom met die rooi fluweel kollekte-sakkie. ‘Die sakkie lyk nogal diep,’ dink Avo, ‘seker dat mense geld kan insit en niks weer kan uithaal nie.’

“Haai!” sê Mys en trek weer aan Avo se stert.

“Kerkmuis!,” grom Avo, nou sommer lekker vies. “As jy my nie nou uitlos dat ek kan slaap nie, gaan ek jou iets vreesliks aandoen. Ek wil slaap, los my nou uit, japsnoet! Hoor jy my?”

Mys die muis luister glad nie en trek hierdie keer aan Avo se stert.

‘Klingel, klingel!’ hoor Avo hoe die diaken Nelie met haar kollekte-sakkie in die gangetjie afkom.

“Mys, ek waarsku jou nou vir die laaste keer, los my uit! Ek gaan jou tjank aftrap!”

Mys lag vermakerig en steek weer sy pootjie uit om aan Avo se oor te trek.

Voor Muis boe of ba kon sê, gryp Avo vir Mys die kerkmuis aan sy stert en gooi hom tjoef-tjaf binne in diaken Nelie se kollekte-sakkie.

“Help! Help!” piep Mys verskrik, maar die sakkie is so diep en donker dat niemand hom hoor nie.  Die orreltjie het ook intussen begin kliphard speel, sodat niemand vir Mys die kerkmuis onder in die sakke kon hoor nie. Diaken Nelie wis van niks en gaan rustig voort om die kollekte in die kerk op te neem. Arme Mys sit onder in die kollekte-sakkie vas, en so nou en dan land ʼn muntstuk op sy kop.

“Help!” skree hy binne in die sakkie, maar niemand hoor hom nie. Avo staan doodluiters op en gaap lank en lekker, heerlik uitgeslaap. Stadig loop sy in die gangetjie af na die voordeur toe om solank vir haar nooi Belinda te wag totdat die gemeentelede amen sing en die diens verby is.

Ewe skielik hoor Avo ʼn onaardse gegil binne in die kerk, ʼn vreeslike kreet iewers tussen  ʼn kat se gemaauw en ʼn kanonskoot. Skielik kom tannie Hilletjie soos ʼn weerligstaal by die deur van die kerk uitgehardloop. Sy hardloop vreesbevange die straat af, jy sien net rokspante en kerkhoede en gesangeboeke in alle rigtings trek. Al die gemeentelede kom agterna uit die kerk om die petalje te aanskou, party lag en ander fluister ondeund vir mekaar.

“Maar wat het dan nou gebeur?” ʼn nuuskierige gemeentlid vir dominee Jannie wat verbaas buite die kerkdeur staan.

“Ek weet nie wat verkeerd geloop het nie, broer,” sê dominee Jannie verbaas. “Al wat ek weet, is dat tannie Hilletjie deur al die jare vyf sent in die kollekte-sakkie sit, dan vat sy vir haar bietjie kleingeld terug. Ek weet regtig nie wat vandag met tannie Hilletjie gebeur het nie, maar ek moet vir julle sê, broers en susters, ek het nog nooit so ʼn onaardse kreet in die kerk gehoor nie.”

Die diaken draai vervaart na dominee Jannie toe en vryf oor sy bleskop. “Ek wonder wat was onder in daardie kollekte-sakkie, dominee? ʼn Spinnekop?”

“Ek weet nie,” skud dominee Jannie sy kop. “Wanneer laas het julle vir Mys die kerkmuis gesien?”

Avo die slim kerkhond staan by die deur van die kerk en lag lekker in haar halsband in.  ‘Yip,’ dink sy tevrede en maak haar oë salig toe, ‘dit sal daai kerkmuis leer om my oggendslapie te onderbreek. Al was dit nou in die kerk.’

*