paradysvoel.png

Die paradysvoël.

“Mossieman,” vra Geronkie die donkie met ʼn fronsie tussen sy oë, “wie of wat is die mooiste dier of voël wat jy ooit in jou lewe gesien het.”

“Gedorie, Geronkie, daar is so baie. Laat ek bietjie dink.”

“Nee, Mossieman, dit gaan te lank vat en jy gaan jou brein ooreis. Sê sommer nou.”

“Die paradysvoël.”

“Nog nooit van hom of haar gehoor nie,” mor Geronkie skepties.

“Die paradysvoël is die mooiste voël wat ooit in die hemel of op aarde gewoon het,” vertel Mossieman rustig voort. “In die Bybel staan dat God die hemel en die aarde gemaak het, en al die diere wat daarin is.”

“Gedorie!” sê Geronkie verwonderd. “Sluit dit die voëls wat daar bo in wolke sweef, ook in?”

“Ja, al die voëls Geronkie. “Mossies, valke, arende, kwikstertjies, paradysvoëls, uile, vinke, kraaie en ʼn hele klomp ander voëls wie se name ek nie kan onthou nie.”

“Hoe lyk ʼn paradysvoël, Mossieman?” vra Geronkie nuuskierig.

Mossieman frons dat sy wenkbroue so skeef staan en hy dink so ʼn bietjie. “Paradysvoëls het die pragtigste vlerke, die mooiste oë, ʼn trotse bors van blou en geel en rooi en groen en swierige stertvere. Dit is die mooiste voël van al die voëls.”

“Vertel nog Mossieman,” sê Geronkie gretig.

“Elke keer wanneer ʼn paradysvoël deur die bos stap, staan al die diere verwonderd en kyk. Die paradysvoël is statig en elegant en hy stap altyd alleen deur die bos.”

Mossieman en Geronkie sit nog so en gesels, toe stap daar ewe skielik ʼn paradysvoël voor hulle verby. Hulle is stom verbaas en nie een van die twee kan ʼn woord kan uitkry nie.

“Geronkie,” fluister Mossieman, “kyk hoe mooi loop hy.”

“Ek sien,” fluister Mossieman saggies terug, “maar weet jy wat wonder ek nou?”

“Wat wonder jy, Mossieman?”

“Waarom stap die paradysvoël die hele tyd, ek het hom nog nooit sien vlieg nie. Hy loop altyd rustig deur die bos, maar ek het hom nog nooit in die lug sien vlieg nie.”

“Kom ons vra hom.”

“Het jy al ooit ʼn paradysvoël sien vlieg?”

“Nog nooit nie, Mossieman. Ek het dan skaars geweet hoe lyk ʼn paradysvoël.”

“Kom ons vra hom.”

“Mossieman,” sê Geronkie beteuterd, “vra jy hom, ek is te skaam.”

Mossieman maak sy keel skoon en staan nader. “Paradysvoël,” vra Mossieman, “waarom loop jy altyd deur die bos en vlieg jy nooit nie?

Die paradysvoël laat sak sy kop skaam en loer onder sy mooi wenkbroue uit vir Mossieman en Geronkie.

“Wel Mossieman,” sê die paradysvoël sag, “ek wil nie eintlik sê nie.”

“Maar waarom nie?”

Pardadysvoël laat sak sy oë en hy kyk af grond toe. “Want ek voel bietjie treurig daaroor.”

“Maar Paradysvoël, daar moet tog ʼn rede wees.”

“Goed, ek sal julle vertel” sê Paradysvoël skamerig, “maar dit is ʼn groot geheim. Julle mag niemand vertel nie.” Hy loer om hom rond asof hy bang is dat die ander diere hom hoor.

“Toemaar Paradysvoël, jy kan maar vertel, ons sal jou geheim met niemand deel nie.”

“Wel,” sê die paradysvoël huiwerig, “ek …… ons …… ons …. paradysvoëls kan nie eintlik vlieg nie.”

Geronkie en Mossieman is stomgeslaan en nie een van twee kry ʼn woord uit nie.  Paradysvoël pink stilletjies ʼn traan weg en Mossieman sit sy poot beskermend om sy skouers, terwyl Geronkie vir hom ʼn pienk snoetpoetsertjie aangee.

“Toemaar, Paradysvoël, moenie huil nie.  Ek en Geronkie sal jou help. Ons sal jou leer vlieg.”

“Rêrig?”  Paradysvoël pink nog ʼn traan weg en blaas sy neus met sy poetsertjie.

“Ja,” sê Mossieman, “ek kan baie goed vlieg want ek is ʼn mossie. ʼn Groot en sterk Vrystaatse mossie. Geronkie kan nie eintlik vlieg nie, want hy is ʼn donkie. Ons sal jou leer vlieg, ons sal help.”

“Baie dankie, Mossieman, as ek eers kan vlieg hoef ek nooit weer vir die ander voëls ʼn verleentheid te wees nie.”

“Paradysvoël, jy hoef nie skaam te wees nie, jy is dan die mooiste voël in die hele wêreld!”

“Ja, maar dit alles help niks as jy nie kan vlieg nie.”

“Paradysvoël, kom Saterdag-oggend tien uur hier na die bos toe, dan leer ons jou vlieg.”

“Dankie Geronkie en Mossieman! Sien julle Saterdag! Ek sien uit na my vlieglesse,” sê die Paradysvoël verlig. Flink stap hy met sy pronkerige vere in die paadjie af.

Die diere van die Bloembos het gou-gou van die storie te hore gekom en die nuus dat die Paradysvoël vlieglesse gaan kry, het soos ʼn veldbrand deur die Bloembos versprei.  Saterdag-oggend dou voor dag, toe Paradysvoël vir sy vlieglesse opdaag, is daar honderde diere wat rondsit en wag vir die groot oomblik. Almal wil sien hoe Mossieman en Geronkie die Donkie vir paradysvoël leer vlieg.

“Paradysvoël,” vra Mossieman vernaam, “is jy gereed vir jou vliegles?”

“Ja Mossieman, ek is. Maar daar is net een probleem.”

“Nou wat nou?”

“Mossieman,’ sê Paradysvoël skaam, “ek dink ek het hoogtevrees.”

“Nonsens, Paradysvoël. Voëls het nie hoogtevrees nie. Hoe dink jy vleig al die ander voëls so hoog in die wolke rond?”

“Ek weet nie, Mossieman, maar ek is ‘n bietjie bang.” Paradysvoël kyk senuagtig om hom rond. Al die diere sit angstig en wag dat die vliegles aan die gang moet kom.

“Vlieg, paradysvoël, vlieg!” skree die diere. Hulle wil graag sien wat gaan gebeur.

“Wat moet ek doen, Mossieman,” vra Paradysvoël beangs.

“Moenie bekommerd wees nie, Paradysvoël,” sê Mossieman rustig, “ons gaan eers op die grond begin vlieg. Later, as jy alles reg doen, sal ons in die lug vlieg.”

“Reg so, Mossieman, ek is gereed.”

“Stap een. Paradysvoël, plant jou pote stewig op die aarde.”

“Pote plat op die aarde, reg so.”

“Stap twee, lig jou kop op en kyk in die wolke in.”

‘Kop is opgelig,” antwoord Paradysvoël dapper.

“Kop in die wolke.”

“Kop in die wolke.”

“Pote op die aarde, kop in die wolke.”

“Pote op die aarde, kop in die wolke.”

“Stap Drie, flap jou vlerke!”

“Wat? skree Paradysvoël benoud.

“Flap jou vlerke, vinnig!”

“Flap my vlerke, flap my vlerke vinnig …… “ prewel die paradysvoël, “flap my vlerke!”

Voor jy kon sê bokmakierie, styg Paradysvoël stadig op. Hy flap sy vlerke so vinnig soos hy kan en hy beur met alle mag vorentoe. Al die diere van die bos juig en skree en klap kliphard pote.

“Flap jou vlerke!” skree Geronkie.

“Flap jou vlerke!” skree al die diere agterna.

“Help, Mossieman!” skree Paradysvoël benoud, terwyl hy al hoe hoër en hoër opstyg.

“Nee-wat,” roep Mossieman terug, “jy het nie hulp nodig nie Paradysvoël, flap net jou vlerke!”

Paradysvoël styg al hoe verder op, naderhand is hy bo-oor die boomtoppe en daar vlieg hy weg, die wolke in

Die diere van die Bloembos juig en skree toe hulle sien hoe die paradysvoël oor die boomtoppe die verte in verdwyn. Geronkie en Mossieman ‘high five,’ mekaar, hoog in hulle noppies dat hulle vir Paradysvoël leer vlieg het. Die diere van die bos bring vir hulle elkeen ʼn stomende beker boeretroos en ʼn sny melktert, om hulle geluk te wens.

“Mossieman?”

“Ja, Geronkie?”

“Noudat ons vir Paradysvoël leer vlieg het, dink jy dat ek ʼn vlieënier kan word.”

“Nee, Geronkie, ek dink nie dat jy ʼn vlieënier kan word nie,” sug Mossieman.

“Waarom nie? vra Geronkie teleurgesteld, terwyl hy ʼn paar vliegbewegings met sy pote maak.

“Want jy is ʼn donkie, Geronkie. Donkies kan nog nie vlieg nie.”

*

+ ^ + ^