elephant-1454633_640

‘Mossieman, weet jy dalk wie die koning van die diere is?’

Dit was somer in die Vrystaat en die meeste diere is met vakansie see toe. Dit beteken dat dit baie stil is in die Bloembos met min dinge om te doen – die meeste diere het maar hul tyd verwyl met die Volksblad lees, kennetjie of giffie speel en nou en dan het hulle ʼn albaster rondgerol.

Geronkie die donkie loer nuuskierig na Mossieman waar hy op sy gunsteling tak van ʼn groot ou moerbeiboom in die Bloembos sit en die Volksblad lees. Die Volksblad is die grootste Afrikaanse dagblad in die Vrystaat en ook die beste koerant in die hele wereld.  Almal in die Vrystaat lees die Volksblad.

“Ollie olifant,” antwoord Mossieman sonder om op te kyk van sy leeswerk af. “‘Ek dink Ollie oliefant is die koning van die diere.” Die koerant is interessant en Mossieman onthou dat hy erens gelees het, dat Leeu dink dat hy koning van die diere is. Mossieman dink ook dat hy êrens by iemand gehoor dat daar somtyds selfs stories in die koerant verskyn wat waar is.

Geronkie skuif ongemaklik rond en loer na Mossieman waar hy hoog in die takke sit en lees. “Mossieman, is jy seker dit is Ollie olifant?”

“Natuurlik is dit Ollie olifant,” sê Mossieman slim, terwyl hy aandagtig lees; weervoorspelling, plaaslike en internasionale nuus, kerksake, landbounuus, sportnuus, hoofberig en sommer die hoofartikel ook.

“Maar hoe weet jy dat Ollie olifant die koning van die diere is, Mossieman?” vra Geronkie en hy loer effens benoud in die bos rond om te kyk of hy nie vir Leeu sien nie.  Mossieman lees met groot konsentrasie voort in sy koerant – hy is glad nie bang vir ʼn leeu nie.

“Ek het gehoor dat Leeu dink dat hy die koning van die diere is,” fluister Geronkie saggies. Hy kyk versigtig rond of hy nie vir Leeu gewaar nie.

Luilekker-stadig vou Mossieman sy koerant toe en kyk vir Geronkie. “Ek weet hoe ons kan uitvind, Geronkie,’ se hy. Gaan roep jy vir Ollie olifant en dan roep ek vir Leeu en dan kyk ons wie regtig die koning van die diere is.”

“Hoe dink jy gaan ons dit doen? Ek is regtig bang vir Leeu, want netnou byt hy my.”  Geronkie se broek bewe so ʼn bietjie en sy flenter ore staan sommer kiertsregop van benoudheid. Hy wil nie met Leeu moeilikheid soek nie.

“Gaan roep jy vir Ollie en ek gaan roep vir Leeu. Leeu sal niks aan jou doen as Ollie Olifant by is nie.”

“Reg so, Mossieman,’ sê Geronkie bangerig en loop om vir Olie olifant te gaan roep. Toe Geronkie en Ollie olifant na ʼn rukkie terugkom, wag Mossieman en Leeu reeds vir hulle onder die groot moerbeiboom.

“Goed, kom ons begin met die kompetisie,” sê Mossieman formeel en maak sy keel skoon. “Leeu, staan jy daar in die een hoek en Olifant, kom staan jy hier langs my.”

Leeu en Ollie Olifant staan elkeen in hul eie hoek, gereed vir aksie. Al die diere van die bos kom nuuskierig nader om te sien wat gebeur. Dit is nie elke dag dat ʼn leeu en ʼn olifant met mekaar kragte meet nie.

“Elkeen van julle kry een kans om die ander een op sy boud te piets. Die een wat die hardste skree en huil, verloor die kompetisie. Akkoord?”

Leeu en Ollie olifant knik hulle koppe gretig, reg vir die kompetisie.

“Leeu, jy is eerste,’ sê Mossieman gebiedend, want hy is die skeidsregter en hy blaas op sy fluitjie.

“Wat moet ek doen, Mossieman?” vra Leeu benoud. “Wat moet ek doen om te bewys dat ek die grootste en sterkste en vernaamste dier in die bos is, die koning van die diere?”

Mossieman grinnik ondeund en loer vir die res van die diere van die bos wat die hele kompetisie sit en dophou. “Jy moet vir Ollie op sy boud piets en dan hoor ons hoe hard skree hy. Dan gee ons vir Ollie olifant ‘n kans om jou op jou boud te piets en dan hoor ons weer hoe hard jy skree. Die een wat die hardste skree en die meeste tjank, is die verloorder en die ander een is die wenner, die koning van die diere. Akkoord?”

“Reg so,” sê Leeu en hy maak sy naels teen die naaste boomstamp skerp. Al die diere van die Bloembos lag en gesels, opgewonde oor die kompetisie en om te sien wie gaan wen, Leeu of Olifant.

“Ek is reg,’ sê Ollie olifant en hy swaai sy tamaai slurp so ʼn paar keer deur die lug.

“Reg, Leeu, staan nader, jy is eerste,” sê Mossieman. “Ek gaan op my fluitjie blaas en my rooi vlaggie swaai, dan moet jy vir Ollie op sy boud piets.”

“PRRRrrrrrrttttttttt!” blaas Mossieman op sy fluitjie en swaai sy rooi vlaggie. Leeu probeer so al wat hy kan vir Ollie olifant op sy boud piets, maar Leeu se bene is kort. Ollie olifant is groot en hoog en Leeu kan nie bykom nie.

“Ek kan nie bykom nie, ek kan nie bykom nie,” brul Leeu van frustrasie. Hy spring op en af om Olifant se boud met sy kloue en naels by te kom, maar Ollie se boude is buite sy bereik.

“Spring, Leeu, spring!” jil die diere van die bos. “Jy moet bokspring. Spring!

Leeu probeer so al wat hy kan, maar Ollie olifant is te groot en te hoog en Leeu kan glad nie bykom nie. Leeu spring en spring en spring, totdat hy uitgeput op die naat van sy rug op die gras gaan lê. Leeu is doodmoeg en sommer moedeloos. “Bring vir my bietjie water asseblief,” vra hy hygend. Die diere van die bos lag te lekker vir Leeu wat so voos op die gras lê, bene in die lug.

Geronkie die donkie, wat Mossieman se assistent-skeidsregter is, staan nader aan Leeu waar hy moeg lê en hyg. Geronkie is glad nie meer bang vir Leeu nie, want Leeu lyk vir hom te vodde om enige-iemand of enige dier te byt. “Leeu, ons het nie nou water om vir jou te gee nie, maar hier is ʼn bietjie boeretroos as lafenis.”

Leeu gaan lê weer onder die koelteboom, met ʼn asynlappie op sy voorkop en drink sy boeretroos met ʼn strooitjie.

Mossieman die skeidsregter staan vernaam nader en kyk so na Leeu waar hy lê en hyg.  ‘Wil jy weer probeer, Leeu?’ vra hy onnutsig.

“Nee, Mossieman,’ sug Leeu mismoedig, ‘ek is uitgeput, stukkend en baie moeg.’

‘Staan op Leeu,’ probeer weer!’

‘Neeeewat,’ sê Leeu, ‘my gees is gewillig, maar my vlees is vodde.’

‘Nou goed, nou is dit Ollie olifant se beurt,’ sê Mossieman. Al die diere van die bos kyk na Olifant wat rustig eenkant staan en gras eet. So nou en dan swaai Olifant sy tamaai slurp gevaarlik in die rondte en die diere van die bos moet net koes, anders piets hy hulle ook raak.

Uiteindelik staan Ollie Olifant nader en swiep-swiep met sy slurp om op te warm vir die groot oomblik. Die diere van die bos help vir Leeu orent en laat hom langs die grote Olifant staan.

“Ollie, is jy gereed?”

“Reg soos ʼn roer,” brul Ollie en hy swiep-swiep met sy enorme slurp deur die lug.

“Leeu, is jy gereed?”

‘Jaaa, ek dink so,’ kreun Leeu en hy staan bangerig nader. Al die diere van die bos kyk aandagtig vir Leeu en Ollie olifant. “Kyk hoe bewe Leeu,’ fluister Mys die muis vir Geronkie die donkie en Poffie pofadder, wat langs hom sit om die petalje dop te hou.

Mossieman blaas op sy fluitjie en swaai sy rooi vlaggie.

“Dit is nou wat jy benoude boude noem,’ fluister Geronkie terug.

“PRRRrrrrrrttttttttt!”

Olie Olifant swaai sy magtige slurp net een keer en raps vir Leeu vierkantig op altwee sy boude. Vir die diere van die bos klink dit soos ʼn geweerskoot – BAM ! Olifant se slurp swiep deur die lug en klap soos ʼn sweep op Leeu se boude! BAM!

Leeu se gesig vertrek van die pyn en sy stert krul sommer twee keer in die rondte. Voor hy kan keer, piets Ollie olifant hom nog ʼn keer op sy seer boude.  BAM! BAM !

Leeu skree soos ‘n klein varkie en hou sy boude vas. “Piets hom Ollie, piets hom! kraai die diere van die bos en hul krul van die lag. “Piets hom weer! Nog ʼn keer.”

BAM! BAM! Eina-eina! BAM! BARM! Eina-eina!”

Leeu kry nie eers kans om te brul nie. Elke keer as hy sy bek probeer oopmaak, kry hy nog ʼn sweepslag op sy boude.

“Eina! Eina! huil hy en hy steek sy krulstert tussen sy bene weg. “Oe eina!”

Ollie olifant lig weer sy magtige slurp om Leeu ʼn laaste keer op sy boude te piets, maar Leeu sien Ollie se magtige slurp aankom en hardloop stert-tussen-die-bene, in die bos in.

“Piets hom weer, Ollie, piets hom weer,” skaterlag en sing die diere van die bos. Van Leeu is daar niks te sien nie, net ʼn stofstrepie wat tussen die bome in verdwyn.

Mossieman blaas op sy fluitjie en swaai vir ʼn laaste keer sy rooi vlaggie om aan te dui dat die kompetisie tussen Leeu en Ollie olifant verby is. Ollie loshande die oorwinnaar en dus die nuwe koning van die diere.

Toe die diere van die Bloembos ophou lag en gesels, maak Mossieman keel skoon om ʼn belangrike aankondiging te maak. “Vandag het ons gesien wie die koning van die diere is en dit is Ollie olifant, omdat die tjankbalie van ʼn leeutjie weggehardloop het. Van nou af, Ollie, is jy die regte koning van die diere! Baie geluk!”

En Leeu? Van daardie dag af is Leeu maar net nog ʼn katjie wat in die Bloembos ronddwaal. Sonder huis of haard, alleen slaap hy maar so onder die bome en langs die magtige Sandrivier se kabbelende waters.

“Wat dink julle gaan nou van Leeu word? vra Mys die muis vir Geronkie die donkie en Mossieman toe hulle terug deur die bos huistoe stap.

“Nee-wat,” grinnik Geronkie lakonies terwyl hy aan ʼn lekker sappige mielie knaag. “Ek dink nie Leeu is meer katjie van die baan nie. Hy gaan nie weer terugkom nie. Ollie olifant is nou koning van die diere, want vandag het hy Leeu se tjank behoorlik afgetrap.”

Van daardie dag af is daar rus en vrede in die Vrystaat en in die diere, ʼn welbehae.

*