Hannibal

Hannibal die hoenderhaan

Hannibal die hoenderhaan was oppad see toe, vir sy jaarlikse vakansie. Soos dit ʼn ordentlike Vrystaatse hoenderhaan betaam, het hy twee van sy beste vriende, Mossieman en Geronkie die donkie, saamgeneem vir goeie geselskap.

Hannibal het lank na die vakansie uitgesien en was sommer vroeg die oggend met sonsopkoms op Virginia se stasie, gereed om op die trein te spring. Hy was moeg na ʼn lang jaar op die plaaswerf in die middel van die Vrystaat en hy wou by die see uitspan, ʼn paar goeie Afrikaanse boeke lees en ʼn bietjie sonbrand opdoen.

Die trein het fluks voortgestoom deur die pragtige Vrystaat en bo-oor die Groot Karoo – en kort voor lank was Hannibal, Mossieman en Geronkie by Gordonsbaai se pragtige see.

Hannibal het lekker in die branders geswem, ʼn bietjie branderplank gery en heerlik in die son gebak. Mossieman en Geronkie wou egter nie eintlik saam branderplank ry nie, omdat hulle effens skaam was. Mossieman het gedink sy bene is te kort en Geronkie, nou ja, Geronkie het gedink dat hy snaaks op ʼn branderplank sou lyk, of dat sy swembroek sou af val.

Nà die see-vakansie, op pad terug Vrystaat toe, stoom Hannibal se trein by Oudtshoorn in die Karoo by ʼn paar volstruisplase verby. Hannibal was ʼn Vrystaatse plaashoender en hy het in sy lewe nog nooit volstruise gesien nie. Hy het gedink dit is besondere groot hoenders met mooi stertvere en lang nekke.

“Gedorie!” sê Hannibal verbaas aan Mossieman en Geronkie, wat langs hom sit in die kompartement sit, “ek het in my lewe nog nooit sulke groot hoenders gesien nie! Kyk hulle reiernekke.”

Ja,” sê Mossieman besadig en loer so deur sy knypbrilletjie oor sy koerant na die volstruise. “Dit is nogal besonderse groot hoenders daai.” Hannibal is diep beïndruk en staar verstom na die volstuise se imposante nekke, groot pote, ronde oë en geel bekke.

“Stop die trein!” roep Hannibal skielik vir die kondukteur. “Hokaai! Ek wil na daardie groot hoenders gaan kyk.” Blitsvinning spring Hannibal uit die trein uit, hardloop gou-gou na die volstruiskamp en gryp een van die volstruiseiers op een van die volstruisneste naby die draad. Die volstruiswyfie is kwaad en jaag vir Hannibal, maar Hannibal was in die Vrystaat se junior atletiekspan en hy hardloop vir al wat hy werd is, terug trein toe met die volstruiseier onder sy vlerk.

Uitasem val Hannibal op sy sitplek neer. “Eish, manne! Kyk net hierdie tamaaie eier,” sê hy vir Mossieman en Geronkie op die trein. “Dit is ʼn bielie nê!”

“Hannibal,” waarsku Mossieman besadig, “jy moet jou nou nie haantjie hou nie, los daardie volstuiseier uit. Jy soek net moeilikheid. Gaan sit hom terug op die volstuise se nes.”

“Nee-wat,” sê Hannibal, “ek wil maar net hierdie groot hoendereier aan daardie hennetjies op die plaas gaan wys.”

Uiteindelik kom Hannibal, Mossieman en Geronkie weer na hul lang vakansie op die plaas aan, doodmoeg na al die swemmery in die see en die treinrit. Vermakerig vat Hannibal die groot volstruiseier en stap na die hoenderhenne wat in rye sit en eiers lê.  Die henne is baie bly om Hannibal weer te sien, hy is immers dié haan onder die henne, maar hulle kyk hom agterdogtig aan toe hy die groot volstruiseier voor hulle neersit. Die henne se oë rek so groot dat party van hulle sommer twee eiers gelyk lê. Hulle kekkel opgewonde-aanmekaar soos hulle die groot nuwe eier bespreek. Elke hennetjie het ʼn  eiertjie oor die saak te lê, almal kekkel kliphard.

“Kyk,” sê Hannibal vir die henne wat grootoog luister, “ek wil julle nou nie bangmaak of skrikmaak nie. Ek neem julle ook nie kwalik oor die grootte van die eiers wat julle voorheen geproduseer het nie. Ek wil maar net sê dat daar ander plase in die Karoo is waar daar ook eiers gelê word. Produksie-standaarde is baie hoog en daar word hard op daardie Karoo-plase gewerk om groot eiers te lê. Ek bring net vir julle hierdie eier om vir julle ʼn voorbeeld te wys wat op ander plase gedoen word.”

Die henne kyk verskrik na die groot volstuiseier, almal se oë wawyd groot geskrik. Senuweeagtig loer al die hennetjies na Hannibal.

“Nou weet julle wat om te doen en wat van julle verwag word,” sê Hannibal entoesiasties. “Julle kan baie groter hoendereiers lê, amper net so groot soos hierdie een.  As julle dit doen, sal geen haan ooit weer daarna kraai nie.”

Windmakerig stap Hannibal weg, volstruiseier onder die arm en sonbril op sy neus. Die hennetjies kekkel angstig onderlangs en hulle kyk Hannibal verskrik agterna, terwyl hy so wegloop.

“Waarheen gaan jy nou?” roep die Mossieman en Geronkie agter Hannibal aan. “Kom terug.”

“Ek gaan nou hierdie groot eier sommer self uitbroei,” sê Hannibal braaf. “Ek kan nie wag om te sien hoe die kuiken lyk nie.”

Ja, Hannibal,” sê Mossieman, terwyl hy sy pluiskuil regtrek, “elke haan is koning op sy eie mishoop.”

Toe Hannibal buite sig is, stamp een hennetjie aan haar maatjie-hen wat langs haar in die hoenderhok lê. “Dis darem snaaks nê, die hane kraai altyd harder as die henne wat die eiers lê.”

“Toemaar,” troos haar maatjie gerusstellend, “ek dink nie Hannibal gaan terugkom hier na die hennekok toe nie.”

“Waarom nie?”

“Wel, Hannibaal is ʼn Vrystaatse hoenderhaan, nie ʼn hennetjie nie. Hy gaan nogal sukkel om daardie eier op sy eie uit te broei. En as hy terugkom hier na ons hok toe om te kla, gaan ek hom persoonlik met een van my eie hoendereiers gooi.”

*