Tollie

Tollie – die drie-ton bulletjie

“As jy nie sterk is nie, moet jy slim wees,” vertel die wyse Mossieman eendag aan al die diere wat in ʼn kring om hom sit om na sy stories te luister. “In die meeste dele van die land is dit so, maar weet julle wat? In die Vrystaat is daar baie ouens wat sterk èn slim is.”

“Amper so sterk soos Simson?” vra sy boesemvriend Geronkie die donkie nuuskierig.

Mossieman lag. “Wel, nie heeltemal nie, Geronkie. Niemand was so sterk soos Simson nie. Maar daar is baie sterk boere wat in die Vrystaat bly, taai ouens, net soos Simson.”

“Soos wie, Mossieman?” vra die diere nuuskierig. Hulle het al baie stories van sterk boere in die pragtige Vrystaat gehoor en vandag nog glo hulle dat meeste van daardie stories waar is.

“Soos oom Koos.”

“Wie is oom Koos?” vra die diere in ʼn koor en hulle spits hul ore omdat hulle weet Mossieman maak gereed om ʼn sappige storie te vertel.

“Sit bietjie nader,” sê Mossieman en hy wink so effens met sy een geveerde poot. “Oom Koos was die sterkste Vrystater wat nog ooit gelewe het! Hy was so sterk dat hy ʼn ploegskaar met een hand deur sy mielielande getrek het. Hy was so sterk, dat hy sy eie stoel met een hand kon optel, terwyl hy nog op die stoel sit.”

“En met sy ander hand?” vra die diere nuuskierig.

“Wel,” vertel Mossieman verder, “hy kon nie sy ander hand gebruik nie, want sy ander hand was altyd besig.”

“Waarmee, Mossieman?” vra die diere in ʼn koor.

“Wel, in sy ander hand het hy altyd sy groot emalje koffiebeker gedra. Hy het nooit sy koffiebeker neergesit nie, selfs nie eers as hy bad nie, want binne-in sy koffiebeker was sy boeretroos. Oom Koos het nooit sonder sy beker boeretroos rondgeloop nie.”

“Mossieman, ons wonder nou,” verneem die diere, “waarom was oom Koos die sterkste Vrystater wat nog ooit gelewe het? Waarom sê jy so?”

Mossieman dink so bietjie en krap sy kop met sy elegante regterpoot. “Want… want oom Koos kon ʼn drie-ton bulletjie optel, sommer met sy een hand, terwyl hy sy beker boeretroos in sy ander hand vasgehou het. Hy kon terselfdertyd ook sommer sy boerebeskuit in sy boeretroos gedoop.”

“Regtig Mossieman? Jok jy nie nou vir ons nie?”

“Ek sal nou nie sê dit is die reine waarheid nie,” verduidelik Mossieman nadenkend, “maar dit is baie naby daaraan.”

“Maar Mossieman, dit is onmoontlik om ʼn drie-ton bulletjie op te tel!” stem al die diere saam. “Dit nogal met sy een hand! Drie ton is darem baie swaar! Hoe het oom Koos dit reggekry om die bul op te tel?” wil al die diere nuuskierig weet.

“Wel,” sê Mossieman, “toe die bulletjie gebore is, was hy ʼn baie klein ou kalfie. So klein dat hy in ʼn skoenboks ingepas het. Oom Koos het elke dag die ou klein kalfie opgetel en hom styf teen sy bors vasgedruk, elke dag van die kalfie se lewe. Dan het die outjie saggies gekoer en hom al hoe stywer teen oom Koos se groot sterk borskas vasgewoel. Oom Koos het elke aand die ou klein kalfie in sy skoenboks gesit met ʼn kombersie oor, sodat hy lekker warm kon slaap.”

“Mossieman, is jy seker die klein kalfie kon in ʼn skoenboks pas?” vra die diere en loer vir Mossieman.

“Wel, ja” vertel Mossieman verder, “toe die kalfie bietjie groter en swaarder word, het oom Koos die bul by die horings gepak en ʼn nuwe, groter skoenboks koop. En elke aand slaap die klein bulletjie snoesig warm met soete drome in die skoenboks, met sy donskombersie oor hom.”

“Maar Mossieman, het die bulletjie nie ouer geword nie en te swaar nie?”

“Ja,” vertel Mossieman verder, “maar oom Koos het hom elke dag opgetel en teen sy bors getroetel. Oom Koos het nie eintlik agtergekom dat die klein bulletjie al hoe groter en swaarder word nie.”

“Het die bulletjie ʼn naam gehad, Mossieman?’ vra die diere, nie seker om hulle Mossieman se storie moet glo nie.

Mossieman dink so bietjie na en krap sy verekop met sy linkerpoot. “Jaaaa… sy naam was Tollie. Dis reg, Tollie, die klein drie-ton bulletjie.”

“En toe Mossieman?”

“Wel, die bulletjie het naderhand een ton geweeg, maar oom Koos was baie lief vir Tollie en hom steeds elke dag bietjie gevryf en teen sy bors getroetel. Nou en dan het Tollie vir oom Koos ʼn groot, nat klapsoen gegee om vir oom Koos te wys hoe lief hy vir hom is.”

 “En toe?”

“Die bulletjie het met die jare al hoe groter en swaarder geword en naderhand twee ton geweeg, maar oom Koos het nie omgegee nie. Hy het elke dag getrou vir Tollie opgetel en getroetel, terwyl hy sy beker boeretroos met sy ander hand vasgehou het.”

“Het oom Koos nooit van sy boeretroos gemors nie, Mossieman?”

“Nee, oom Koos was baie sterk, hy het sy beker boeretroos in die een hand gehou en vir Tollie die klein bulletjie in die ander een, so asof hy hulle balanseer. Oom Koos het in al die jare wat hy die klein bulletjie elke dag opgetel het, nooit een druppel boeretroos op die grond gemors nie. Elke keer as oom Koos vir Tollie op die grond wou neersit, het Tollie hartseer gehuil, dan het oom Koos hom maar opgetel en getroos.”

“En toe, Mossieman?”

“Eendag het oom Koos agtergekom dat klein Tollie nou ʼn groot bul is, want hy weeg toe al oor die drie ton. Maar Tollie was al so gewoond dat oom Koos hom elke dag optel en saggies teen sy bors vasdruk, dat oom Koos nie sommer so daarmee kon ophou nie. As hy ophou, dat huil Tollie hartverskeurend.”

“Merkwaardig,” knik al die diere hulle koppe instemmend. “Wat ʼn wolhaarstorie.”

“As julle nou nog daar by oom Koos se plaas verbyloop, kan julle vir oom Koos daar sien, met Tollie die drie-ton bulletjie in sy een arm en sy beker boeretroos in sy ander een. Mens kan sommer sien oom Koos is nog baie lief vir Tollie, sy troetel bulletjie.”

“En Tollie die drie-ton bulletjie vir oom Koos,” lag al die diere in ʼn koor.

 *