Spinnekop 2

Spinne spinnekop kom eendag met ʼn groot hoofpyn by die doktor Proktor aan en gaan sit saam met die ander pasiënte in die wagkamer.  Spinne het nie net hoofpyn nie, sy het sommer ook oorpyn en neuspyn en … alles pyn. ‘Ek dink ek is besig om doof te word van al die oorpyn,’ bekommer Spinne haar en sy wonder hoe dit vir ʼn spinnekop voel om doof te wees.

Die was nie lank nie, toe doen Spinne spinnekop presies dieselfde as al die ander pasiënte in die wagkamer – sy wag haar byna dood. Die wagkamer is vol, want almal ʼn skeet of ʼn seerplek of iets wat êrens pyn. “Die lotjie lyk maar yl,” dink Spinne terwyl sy hulle sò sit en kyk. “Ek dink meeste van hulle het sommer iepiekonders of ansittery.  Hulle lyk nie vir my rêrig siek nie.”

“Kom vul asseblief die vorm in voordat julle die dokter sien,” sê die verpleegster en loer streng onder haar kuifie krul-hare uit. In haar ‘n wit uniform, bruin skoene aan en wit driehoek-hoedjie op haar kop, lyk sy baie belangrik en formidabel. Sy het nogal ‘n naambordjie ook aan. ‘Ag, jinnetjie,’ dink Spinne benoud en sy krimp sommer ineen van vrees. Sy lyk so kwaai, ek hoop nie sy kry my alleen in die spreekkamer beet nie. Sy lyk of sy my sommer ‘n inspuiting sal gee sonder dat ek eers siek is. Al wat ek het, is ʼn bietjie oorpyn.’

Spinne vat die groot swart pen en vul ewe getrou die vorm in. Naam : Spinne Spinnekop.  Adres: Die asblik, langs mevrou Papenfus se agterdeur. Ouderdom: agt. Telefoonnommer: ook agt. Toe sy klaar is, neem Spinne spinnekop die vorm terug na die kwaai verpleegster agter die lessenaar en gee dit met ʼn bewerige pootjie vir haar. Sy kyk vir Spinnie op en af, op en af, van hoek tot kant. Spinne kan sommer sien dat die verpleegster nie rêrig dink sy is siek nie.

“Hoe oud is jy?” vra sy nors en frons vir Spinne.

“Agt, verpleegster.”

“Wat is jou telefoonnommer?”

“Ook agt, verpleegster.”

“Waarom is die twee dieselfde?” vra sy streng en loer vir Spinne onder haar ruie wenkbroue deur.

“Omdat ek agt pote het, verpleegster. Omdat it is die enigste nommer wat ek uit my kop uit ken.”

“O,” sê die verpleegster verbaas, “dis dan reg so. Wat makeer jou?”

“Ek het oorpyn,” beduie Spinne spinnekop met haar een poot na haar oor langs haar kop toe. “Ek dink ek is besig om doof te word.”

“Stap deur, die dokter sal jou nou sien.”

Spinne stap deur die spreekkamer en klim op die ondersoektafel. Doktor Proktor kyk  haar so op en af en druk sy stetoskoop teen Spinne se bors. “Klink goed,” sê doktor Proktor effens verstrooid, “jou hart klop nog. Dit is goeie nuus, Spinne, want dit beteken jy lewe nog.”

“Dokter, ek het oorpyn,” sê Spinne benoud, “nie hartpyn nie.”

“O! Wat is die oorsaak van jou oorpyn, Spinne,” vra Doktor Proktor ernstig, terwyl hy die stetoskoop teen sy eie bors hou en aandagtig luister.

“Mevrou Papenfus, doktor.”

“Mevrou Papenfus? Hoe so? Het sy op jou kop gestaan?”

“Nee, dokter,” sê Spinne en sy vat so aan haar ore. “Elke keer as sy my by die agterdeur sien, skree sy kliphard.”

“Wat kom maak sy by die agterdeur, Spinne?”

“Sy kom soek na my. Sy wil my byt.”

“Dink jy nie sy wil maar net die vuilgoed kom weggooi nie. Dan gil sy elke keer as sy jou sien?”

“Maar, doktor, sy skree al te vreeslik! Oorverdownd. Ek is baie bang vir haar.”

“Ek dink sy skree omdat sy bang is vir jou. Hoe skree sy?”

Spinne trek haar asem diep in haar longe in en maak haar bekkie wawyd oop.

“AAAAAARRGGGGGGHHHHHHH!”

“Dit klink verskriklik,” sê doktor Proktor en druk sy stetoskoop teen sy eie oor. “Maak weer so dat ek presies kan hoor.”

“AAAAAARRGGGGGGHHHHHHH!”

‘Reg so, dit is genoeg Spinne. Weet jy hoekom sy so hard skree dat jy oorpyn kry?”

“Nee doktor, maar ek wens sy wil ophou skree.”

“Sy skree omdat sy bang is vir jou Spinne. Sy dink jy gaan haar byt.”

“Maar doktor Proktor, dit is nie waar dat ek vir haar wil byt nie. Ek dink sy wil my byt.”

“Wel Spinne, dit is waarom sy so skree. Sy is baie bang vir jou.”

“Dis nie waar nie, doktor. Ek weet sy wil my byt want sy skree so ʼn vreeslike oorlogskreet. Net soos Simson van die Bybel. Ek is seker sy wil my hap!’

“Waarum dink jy mevrou Papenfus wil jou byt Spinne? Verbeel jy nie maar jou net so nie?’

“Nee, dit is waar, doktor! Elke oggend as mevrou Papenfus by die agterdeur uitkom, het sy klaar haar tande uitgehaal om my te byt. Dan sien sy my en sy begin haar oorlogskreet skree. Dit maak my vreeslik bang en dan kry ek oorpyn van al die geskree.”

“Toemaar Spinne, ek het net die ding vir jou.” Doktor Proktor loop na sy kas toe en haar ʼn paar oorfone uit. “Hierso Spinne, sit die oorfone op jou kop. Ek belowe jy gaan mevrou Papenfus nooit weer hoor skree nie.”

Spinne spinnekop kyk aandagtig na die mooi rooi en swart oorfone, in haar noppies opdat hulle so mooi is, rooi en swart. Versigtig pas Spinne die oorfone op haar kop, skuif hulle reg en kyk in doktor Proktor se spieël. Sy lyk sò spoggerig met die oorfone op haar kop dat sy rondtrap soos ʼn pronkerige pou. Spinnie draai haar kop links, dan regs, baie in haar noppies omdat sy so mooi lyk. Sy verkyk haar aan haarself.

“Baie dankie, doktor Proktor, kan ek die oorfone maar op my kop hou?”

“Natuurlik Spinne. Mooi loop.” Doktor Proktor is baie in sy noppies met sy goeie werk en hy glimlag sommer van lekkerkry.

Spinne spinnekop stap spoggerig by die spreekkamer uit, baie in haar noppies met haar nuwe hooftooisel. ‘Mevrou Papenfus kan nou maar haar oorlogskreet skree. Sy gaan my nooit weer bangmaak nie en ek gaan nooit weer oorpyn kry nie,’ dink sy hoog in haar skik. En ek kan al my musiek speel en my danspassies in vrede uitvoer, sonder dat my ore ooit weer pyn.”

*