Paddy

Dit is nie lekker as ʼn paddatjie doof is nie.  ʼn Dowe paddatjie kan niks hoor nie, al is sy ore groot genoeg om sy leesbril vas te hou. Daar was lank gelede so  ʼn klein groen paddatjie wat in die riete, naby ʼn groot ou populierboom langs die pragtige Sandrivier in die Vrystaat gebly het. Die paddatjie was klein, maar getrein en hy het baie energie gehad vir sò ʼn klein groen paddatjie. Hy was  ʼn bedrywige, onnutsige klein mannetjie vol energie, wat nooit wou stilsit nie en alewig na muskiete en muggies gesoek om te eet.

Die paddatjie se ma en sy maatjies moes altyd maar vinger- en potetaal gebruik om met die paddatjie te praat. Vingertaal is tekens wat die een paddatjie vir  ʼn ander paddatjie met sy vingers en hande wys, dan verstaan die paddatjie wat gesê word. Vingertaal en potetaal is amper soos gebaretaal, maar die paddatjies het net gebaretaal gebruik as hulle kwaad is vir mekaar.

Elke jaar, net nà die somerreëns in die Vrystaat, is daar baie muggies en goggas vir die paddatjies om te eet. Die paddatjies het dan doodstil op hulle paddastoele gesit en wag vir  ʼn goggatjie of muggie om verby te vlieg, dan het hulle vinnig die goggatjie gegaps en opgeët. Die paddatjies het nogal vinnig geët, omdat hulle geweet het dat daar nie genoeg goggatjies en muggies vir almal was nie, en dat die goggatjies en muggies op ʼn stadium gaan opraak van al die etery.

Die groen paddatjie en sy maatjies het nog eendag so gesit en eet, toe is al die muggies ewe skielik op, gedaan. Daar was nie ‘n enkele muggie in die Vrystaat oor nie en die paddatjies het gou-gou besef dat hulle kos opraak. Hulle was nogal mismoedig daaroor en het mistroostig hul lot by mekaar bekla. Ewe skielik sien die klein dowe groen paddatjie die aaste muggie heel bo in die grootste en langste populierboom in die hele bos raak. Stadig maar seker begin die klein paddatjie om die reuse boom uit te klim, op pad boëntoe om die laaste muggie te vang en te eet. Die boom was verskriklik hoog en die klein paddatjie het hoogtevrees gehad, maar hy was baie honger en besluit toe om braaf te wees en hoër op in die boom te klim. Hy kon darem nie die laaste kans verby laat gaan om die laaste sappige muggie te gaps nie.

Toe die paddatjie se maatjies sien wat hy doen, was hulle baie benoud en bang dat hy sou afval. Die klein paddatjie was miskien doof, maar hy was so rats soos ʼn kat, so slim soos Mossieman en so taai soos ʼn Vrystaatse ratel.

“Klim af, klim af!” skree hulle vir hom en beduie bekommerd met hulle pote vir hom. “Klim af!” skree hulle en swaai hulle arms op en af, “jy gaan seerkry, dit is baie gevaarlik!”

Maar die klein paddatjie is stokdoof en hy hoor niks. Hy klim net hoër en hoër in die reuse boom op, so hoog dat hy naderhand hoogtevrees begin kry. Hy kan die sappige muggie daar bo op die op die heel boontste tak van die reuse boom sien sit – stadig maar seker klim hy nader en nader.

“Klim af! Klim af! skree sy maatjies benoud op die grond weer vir hom en swaai hulle arms in die rondte om hom te waarsku. Die klein paddatjie is kwarteldoof en hoor niks nie, maar hy kyk so nou en dan bangerig af grond toe. Daar doer onder op die grond sien hy hoe sy maatjies hulle arms op en af swaai en skree vir die vale.

‘Ai, hulle is darem oulik,’ dink hy, ‘kyk hoe ondersteun hulle my en moedig hulle my aan om hoër te klim, al bewe my broek so bietjie.’ Hy kyk weer boëntoe en sien dat die muggie nog daar is. Toe kyk hy weer af na waar almal vir hom staan en skree. ‘Ek wens ek kan hoor hoe hulle my aanmoedig,’ dink die paddatjie trots, ‘ek sou regtig nie so hoog kon klim sonder hulle ondersteuning nie. Hulle skree definitief OP, OP, OP!’ Hy klim pootjie vir pootjie nog hoër en hoër die groot boom in, opsoek na die muggie doer daarbo. Elke keer as hy afkyk grond toe, sien hy sy maters daaronder skree en arms swaai en beduie soos wat hulle hom aanmoedig. Hy verbeel hom hy sien selfs ʼn bloedrooi brandweerwa met ʼn lang geel leer daar onder, maar hy is nie seker nie.

Uiteindelik kom die klein paddatjie heel bo in die boom en hy gryp die muggie en hy gaps hom op en hy smul te lekker. Toe hy klaar die muggie gegaps het, sien hy daar sit nog tien ander muggies bo in die boom en gryp hulle vinnig en druk hulle woerts-warts binne in sy knapsak. ‘Vir my maatjies,’ dinkie die klein paddatjie, ‘ek is seker hulle is ook honger. Toe hy klaar is, draai hy om en begin stadig afklim na die grond toe. Hy sien hoe al sy maats skree en gil, maar hy hoor nie ‘n dooie woord terwyl hy so afklim nie. Hoe nader hy aan die grond kom, hoe beter kan hy sy maatjies en die groot rooi brandweerwa sien. Toe hy weer veilige met sy pootjies op die grond is, staan sy maatjies verwonderd en die brandweermanne angstig nader om te hoor hoe dit met hom gaan.

“Baie baie dankie,” sê die klein paddatjie, “dankie almal, dat julle my so aangemoedig het. Sonder julle aanmoediging en ondersteuning sou ek dit nooit gemaak het nie, baie dankie! Ek voel soos  ʼn held!”

“Klein paddatjie,” sê sy maters, “ons het jou nie aangemoedig nie, ons was bang jy val af en ons het geskree dat jy moet terugkom. Ons het geskree AF! AF! AF! Jy het ons byna ʼn hartaanval gegee.”

“O,” sê die klein paddatjie verwonderd, “ek dog julle skree vir my dat ek hoër en hoër moet klim om die muggie te vang, nie dat ek moet terugkom aarde toe nie. Julle swaai dan julle arms op en af.  Ek dog julle skree OP! OP! OP!”

“Ons het geskree dat jy moet terugkom, maar jy het jou doof gehou en toe klim jy net elke keer hoër en hoër in die boom op.”

“Wel, dankie manne, as dit nie vir julle was nie, sou ek baie bang gewees het en glad nie so hoog geklim het nie. Te danke aan julle, het ek ‘n lekker sappige muggie gevang en geëet. Dit wys julle net, dit help partykeer om so doof soos ʼn kwartel te wees.”

“O ja, manne, voort ek vergeet,” sê die klein paddatjie en hy haal sy knapsak vol muggies uit. “Hier is vir julle elkeen ʼn persentjie gebring, ʼn smulseltjie muggies. Lekker eet, manne, geniet dit!”

*