farmer-3881994_640

Vrystaatse boere is daarvoor bekend dat hulle loshande die beste boere in die hele wêreld is. Vrystaatse boere is baie kreatief en hulle kom altyd met die beste boerdery-idees en produkte vorendag, soos boeretroos, boerbeskuit, melkkos, melktert en koeksisters. Volgens die Volksblad, die grootste Afrikaanse dagkoerant in die hele Vrystaat, boer die beste boere daar met mielies, koring, skape, katoba-druiwe, likkewane, ysbere, koggelmanders en tiere.

Die meeste likkewane waarmee die Vrystaatse boere boer, is heel mak. Die boere gebruik die likkewane vir hul velle en teel met hulle, totdat die likkewane gereed is om te vervel. Die boere het gou agtergekom dat likkewane koddige diertjies is – hulle hou van rivierwater en hul sterte swaai woes heen en weer as hulle opgewonde raak. Wanneer hulle oor-opgewonde raak, skud en swaai en ruk die likkewane so van die lag, dat hulle outomaties vervel. Dan gryp die boere die likkewane se velle en maak deftige likkewaanskoene daarvan.

Hoewel daar nie baie ysbere in die Vrystaat is nie, is die paar wat daar op die plase bly, baie slim. Die boere het met die jare geleer om die ysbere nog slimmer te maak, deur vir hulle allerhande toertjies te leer, soos om met ʼn ploeg en skaar te werk. Dit is nogal moelik om ʼn ploeg en skaar te trek, maar die ysbere het met die regte opleiding, gou die kunsie onder die knie gekry en baie van die landerye in die Vrystaat omgeploeg. As mens deesdae deur die Vrystaat ry, veral in die omgewing tussen Ruigtevlei en Driekuil, sien jy dikwels ysbere wat op die boere se lande werk. Die ysbere is na al die jare al so bedrewe met die plaasimplemente en boerderytegnieke, dat van hulle ook die saai- en oeswerk op die plase behartig.

Die koggelmanders is egter ʼn ander storie. Vroër jare het die boere in die Vrystaat gedink dat koggelmanders net klein miervretertjies is, maar later het die boere besef dat die koggelmanders baie slim en taalvaardig is. Net soos honde, kan koggelmanders ʼn paar Afrikaanse woorde verstaan en selfs ʼn paar sinne praat, met werkwoorde in. Omdat die boere hard op hul lande werk, is hulle ook nie altyd by die plaashuis om die telefoon te antwoord nie. Dit is net hier waar die koggelmanders handig te pas kom om telefone te beantwoord en boodskappe af te neem as die boere nie tuis is nie. Van die meer ervare koggelmanders vra gewoonlik vir ʼn inbeller om bietjie aan te hou, sodat hulle net gou die boer op die lande kan gaan roep.

Die beste boere naby Ruigtevlei boer met tiere, veral tiere wat groot en sterk is. Van die tiere is ʼn handvol, maar die meeste werk mooi saam met die boere as dit melktyd is. Die tiere is net so bedrewe soos die melkkoeie en hulle gaan staan sommer saam met die koeie mooi in rye op stal, as dit melktyd is. Alhoewel dit effens moeiliker is om ʼn tier te melk as ʼn koei, is van die boere in die Vrystaat van mening dat tiermelk lekkerder is as koeimelk. Tiermelk maak jou ook baie slimmer as koeimelk.

Tiermelk is nogal sterk ook, so sterk dat jy dit vir die ysbere kan gee om te drink as hulle op die mielielande staan en werk. Die tiermelk het ‘n manier om die ysbere sterker te maak as wat hulle regtig is, en meer luidrugtig. Dit maak hulle ook slimmer as wat hulle regtig is. Van die ysbere naby Ruigtevlei gooi sommer self hul ploegskare oor die skouer en stap huistoe wanneer hulle laatmiddag klaar gewerk het, omdat hulle weet dat die huistoe-gaan tyd is. In die Vrystaat is huistoe-gaan tyd, chaila-tyd, want dit is soos die Vrytaters wat in die myne en op die plase werk, praat.

Een laat herfsmiddag het een van die mooi boervroue van Ruigtevlei se omgewing haar man op die trappie van hul plaashuis sien sit en huil. Die boer se treurige trane en snikke kon tot op die volgende plaas gehoor word – hy was nou behoorlik droewig.

“Wat is fout, my man,” vra die boervrou simpatiek, terwyl sy ʼn sneesdoekie aan haar boer aanbied. Sy wou nie hê dat daar trane op sy nuwe Cheetah-trui moet val nie, want Vrystaters huil nie voor hul eie rugbytruie nie. “Waarom sit jy so op die stoep krokkodiltrane en huil?”

Vrystaatse boere gebruik ook nie gewone sneesdoekies nie, in die Vrystaat word sneesdoekies van cheetah-velle gemaak. Toe die boer klaar sy cheetah-vel sneesdoekie gebruik het, vertel hy mistroostig dat hy laatmiddag sy koggelmandertjie afgestuur het mielielande toe, om die ysbere te gaan roep. Die koggelmandertjie moes die ysbere en tiere inlig dat dit chaila-tyd is en dat hulle moet terugkom plaashuis toe, omdat dit melktyd was en ook tyd vir aandete.

“Maar toe raak een van die tiere kwaad toe ons hom wou melk en hy eet die koggelmandertjie net daar op,” vertel die boer treurig. “Tiere kan nogal baie gemeen wees as jy hulle wil melk.”

“Ag, ek is jammer, my man,” troos die mooi boervrou simpatiek en gee nog ʼn cheetah-vel snesie aan. ‘”Hier is nog ʼn snesie, om jou krokodiltrane mee af te droog.”

“Ek huil nie krokkodiltrane nie,” pink die fris plaasboer ʼn laaste traan weg. “Daar is nie krokkodille in die Vrystaat nie. Dit is likkewaantrane.”

“Wat gaan jy nou doen, my man? Noudat die arme koggelmandertjie oorlede is?”

Bedeesd trek die boer sy beker stomende boeretroos nader en doop ʼn dompeltjie boerbeskuit daarin. “Ek het geen keuse nie, daar is geen uitweg nie, geen lig aan die einde van die donker tonnel nie,” my vrou, “sug die boer. “Ek sal maar een van daardie likkewane aan sy stert vang en hom moet afrig en oplei. Hy sal die koggelmandertjie se plek moet inneem en van nou af die telefone in die Vrystaat beantwoord.”

“Klink vir my reg, ou man, wat in die Vrystaat, maak ʼn boer altyd ʼn plan.”

*