HoppieHoppie

Hoppie die harlekyn

Die sirkus is baie gewild in die Vrystaat en toer elke jaar van dorp na dorp, sodat al die kinders die wilde diere en narre en harlekyne kan sien. Die wilde diere in die sirkus was nie vir die kinders in die Vrystaat ongewoon of vreemd nie, omdat baie kinders daar leeus, tiere, krokodille en olifante by die huis as troeteldiere aanhou.

In die sirkus was daar ʼn harlekyn wat nie baie gelag het nie. Sy naam was Hoppie en hy was die treurigste harlekyn in die hele wêreld. Elke keer as die narre en grapmakers en harlekyne in die sirkus skaterlag vir hul eie kaperjolle en grappe, het Hoppie verdrietig gehuil. Hoppie was ook nie baie groot nie en al die ander harlekyne het luidrugtiger gelag as hy. Hoppie was oor die algemeen maar ʼn treurige harlekyntjie en sy mondjie het ondertoe gepruil as hy snik en huil. Elke keer as die trane oor Hoppie se harlekyngesig rol, het daar spoortjies op sy harlekynmasker gevorm en dan het sy trane op die grond geval.

Die diere in die sirkus en die ander narre het vir Hoppie baie jammer gekry en hom probeer troos, sodat hy nie so alleen en treurig moet wees nie.

“Toemaar Hoppie,’ het hulle getroos en hul arms beskermend om Hoppie se skouers gevou, “alles sal regkom. Moenie huil nie en moenie so treur nie, alles sal regkom.”

“Ek dink nie so nie,” het Hoppie deur sy sneesdoekie gesnik. “Ek is baie treurig, ek sit op moedverloor se vlakte. Al die mense dink ek is ʼn nar, ʼn grapkas.”

“Maar waarom, Hoppie, hoekom is jy so treurig?” vra die diere simpatiek en dra vir Hoppie nog sneesdoekies aan. Hoppie het gereeld gesnees en hy het baie sneesdoekies gebruik.

“Ek is so treurig omdat almal vir my lag,” sê Hoppie en hy slaan sy oë van die berge af tot op die grond. “Niemand neem my ernstig op nie, almal lag vir my en wys vingers na my.”

“Maar dit is mos ʼn goeie ding as mense lag, Hoppie. Jy is baie talentvol, en as jy mense kan laat lag, is dit moes goed vir almal. Jy maak mense gelukkig as jy huil.”

Hoppie skud sy kop mismoedig. “Elke keer as mense lag, wil ek huil. Wanneer mense huil, dan wil ek lag. Ek weet nie wat verkeerd is met my nie, ek is agterstevoor-om gebore.”

“Nee, Hoppie,” troos die diere, “mense het ʼn bietjie plesier in hulle lewens nodig en jy laat hulle lag. Die mense het groot bewondering vir jou, want jy laat hulle lag as hulle mismoedig is.”

“Maar wat van my?” vra Hoppie mistroostig. Nog een van sy baie trane val voor hom in die stowwerige grond. “Waarom is ek dan so mislik, wanneer ander mense gelukkig en opgewek is?”

Oupa Uil maak keel skoon om iets te sê. Hy was die oudste en slimste van al die diere in die sirkus. As Oupa Uil sy mond oopmaak om iets te sê, bly al die ander diere in die sirkus onmiddellik stil, om te luister wat die wyse ou uil kwytraak.

“Dit is ʼn harlekyn se werk om ander mense se sorge en laste op sy skouers te neem, Hoppie” vermaan Oupa Uil ernstig. “Dit is wat harlekyne en narre doen, hulle neem jou sorge en bekommernisse weg. Hulle bring bietjie lag en sonskyn in jou lewe in en sorg dat jy weer glimlag. Dit is waarom mense sirkus toe kom as die parlement toe is.”

‘Dit is seker waarom ek so swaarmoedig is,” sug Hoppie en hy kry homself baie jammer.  Stadig vryf hy oor sy moeë oë en pik sydelings ʼn traan met sy sneesdoekie weg. “Dit is moeilik om lighartig te wees as jy swaarmoedig is. Dit maak my sommer weemoedig.”

“Harlekyne se werk is baie moeilik, Hoppie,” gaandie wyse Oupa Uil voort. “Harlekyne soos jy moet baie talent hê om ander mense se sorge en pyne weg te neem, sodat hulle weer bietjie in die lewe kan lag en gesels. Die lewe is nie maklik vir harlekyne nie, hulle is baie spesiale mense.”

‘Dit is waar,” snik Hoppie, “ons het dure lesse geleer en ons dra ʼn sware las. Ons neem al die ander mense se pyne en bekommernisse en sorge op ons skouers. Dit is waarom ons rûe so krom is. Dit is van al die swaar dra, al aan die een kant.”

“Dit is waar, Hoppie,” beaam Oupa Uil saam. “Dit is waarom harlekyne huil as ander mense lag en hoekom hoekom hulle so treur as ander mense fees vier.”

“Wat moet ek dan doen, oupa Uil,” vra Hoppie mistroostig. “Ek is heeltemal in sak en as, afgemat en pootuit. Wat kan ek doen om nie so beteuterd te voel nie?”

Oupa Uil skud sy vere reg en kyk na Hoppie. “Die antwoord is maklik Hoppie, jy moet net begin lag en glimlag en vriendelik wees met al die sirkusgangers, dan sal jou mismoedigheid en treurigheid sommer weggaan.”

“Maar, oupa Uil,” snik Hoppie die harlekyn, “ek kan nie lag en gesels en glimlag en gelukkig wees nie. Ek kan net nie.”

“Waarom nie, Hoppie?”

“Want as ek lag, dan huil die mense, en as ek sing en dans kruip mense weg, en as ek jubel word hulle hartseer. Ek wil nie hê dat almal ongelukkig moet wees nie. Ek wil hê dat hulle gelukkig moet wees, daarom treur ek nou maar namens hulle.”

Toe neem Hoppie sy verwaarloosde ou tassie, en sy treurige ou blou hoedjie met die flenter-rante en sy uitgeputte brakkie, Misoes en sy krom kierie en hy stap vir ʼn laaste keer uit die sirkustent uit, op pad stasie toe. “Ek gaan nou maar die trein neem na nêrens toe,” sug hy. “Ek gaan nie terugkom sirkus toe nie. Die sirkus maak my net ongelukkig en moedeloos. My hartjie is baie seer.”

“Maar waarnatoe gaan jy, Hoppie?” vra oupa Uil besorg en kyk bekommerd na al die ander sirkusdiere. Omdat daar so min tyd is, het hulle het dan nie eers vir Hoppie die harlekyn ʼn akskeidspartytjie met boeretroos en melktert gehou nie. Een van die sirkusolifante het darem vir Hoppie ʼn akseidsgeskenkie gebring, ʼn pakkie pienk sneesdoekies, wat hy darem vir Hoppie gee.

“Ek gaan aftree,” sê Hoppie hartseer. “Ek wil nie meer ʼn harlekyn wees nie.”

‘Waar gaan jy bly, Hoppie” wil van die sirkusdiere weet, “sal jy darem skryf of ʼn riemtelegram stuur ?”

“Ek belowe om te skryf. Ek is nou oppad stasie toe,” sê Hoppie met ‘n skalkse glimlaggie oor sy skouer. “Ek gaan met die trein ry, die trein na Matjiesfontein, daar vêr in die Karoo. Tata almal.”

Twee maande later kom Geronkie die donkie van die poskantoor se kant af aangedraf met ʼn brief in sy bek. “Goeie nuus! oupa Uil,” balk hy al van ver af, “ons het ʼn brief van Hoppie die harlekyn af gekry. Van Matjiesfontein af, daar vêr in die Karoo.”

Al die diere van die Vrystaat maak ʼn ronde kringetjie om oupa Uil, angstig dat hy die brief moet oopmaak en lees. Oupa Uil sit sy knypbrilletjie op die punt van sy neus en lees aandagtig. “Goeie nuus,” verklaar hy plegtig nadat hy gelees het, “dit gaan baie goed met Hoppie die daar vêr in die Karoo. Hy het veilig in Matjiesfontein aangekom en die mense van die dorp het hom sommer onmiddellik as burgermeester aangestel. Hulle het ook nie ʼn posmeester gehad nie en het Hoppie terselfdertyd as die posmeester aangestel. Die skooltjie daar het  op Matjiesfontein het ʼn onderwyser gehad nie, toe word Hoppie ook aangestel as die skoolmeester. En omdat hy met die trein in Matjiesfontein arriveer het, is hy nou ook die stasiemeester.”

“Daar bly net een ding oor om te doen, manne,” se Geronkie opgewonde, toe oupa Uil Hoppie se brief neersit. “Stasie toe, ons gaan almal stasie toe. Dan wag ons vir die trein en ons gaan vir Hoppie die harlekyn kuier!”

“Hoe gaan ons daar kom, Geronkie?” jil die diere van plesier in ʼn koor.

“Ons ry met die trein, manne, die trein na Matjiesfontein.”

*