Dwergie

Die nors klein dwergie

‘n Nors klein dwergie het in ‘n groot donker bos langs die magtige Sandrivier  in die pragtige Vrystaat gewoon. Die dwergie was nie net nors en lelik nie, hy was ook kwaai, onbeskof en kort van draad. Die dwergie het al die ander mense en diere wat in die bos gewoon het, se lewens versuur met sy swak maniere. Hy was sommer gemeen en stout en sy dwergie-hoed het skeef op sy kop gesit.

Dit was laat in die somer, amper herfs, toe daar eendag ‘n pragtige jong meisie in die huisie langs die nors dwergie ingetrek. Haar naam was Appeliefie en sy het die hele dag geglimlag en gesing. Appeliefie was baie lief vir diere en sy het elke oggend vir die voëltjies en eekhorings broodkrummels gegee om te eet.

 Elke oggend, net nadat sy opgestaan het, het Appeliefie voor haar huis gestaan en sing : “Dankie Liewe Jesus vir kos en klere en ‘n pragtige dag!”

 Kort voor lank staan die nors klein dwergie voor haar deur en klop kliphard met sy kierie.  Doef, doef, doef!  “Maak oop,” skree die dwergie, terwyl die stoom by sy lelike ore uitkom so kwaad is hy. “Ek wil met jou praat, omdat jy so ’n geraas maak!”

 “Maar ek raas nie,” sê die pragtige jongmeisie vir die nors klein dwergie.  “Ek sing en dans en lag en gesels, omdat ek so gelukkig is. My naam is Appeliefie,” stel sy haarself voor, maar die nors klein dwergie stel nie eers belang nie.

“Wel, hou op geraas maak,” sê hy, terwyl hy sy kierie dreigend rondswaai. “En nog ‘n ding,” sê die nors klein dwergie, “daar is nie so ‘n ding soos ‘n Liewe Jesus nie!  Hou op om dit te sing!” en hy stap dikmond daar weg.

Die volgende oggend vroeg het Appeliefie weer op haar voorstoep gestaan en sing. Sy het besluit om haar nie aan die nors klein dwergie te steur nie.  “Dankie Liewe Jesus vir ons kos en klere en ‘n pragtige dag!  Dankie, dankie,” sing sy.

“Bly stil!“ skree die dwergie langsaan, “Daar is nie ‘n ding soos ‘n liewe Jesus nie!”

So gaan dit vir maande aan en aan. Elke oggend staan Appeliefie op haar stoep en sing en dan skree die nors dwergie terug.

Twee maande later, in die middel van die koue Vrystaatse winter, staan Appeliefie weer op haar stoep en roep: “Help my asselbief, Liewe Jesus, ek het nie kos en klere nie en vandag is dit baie koud. Help my asseblief!”

“HA !” skree die nors klein dwergie vermakering,” ek het dit geweet! Ek het jou mos gesê, daar is nie so iets soos ‘n Liewe Jesus nie! Niemand gaan jou help nie, bly stil!“

Maar Appeliefie laat haar nie sommer so van stryk bring nie. Sy gaan staan op die stoep en sing: “Help my asseblief, Liewe Jesus, ek het nie kos en klere nie en vandag is dit baie koud, help my asseblief!”

Die volgende oggend toe Appeliefie opstaan, skyn die winter sonnetjie en dit is lekker warm buite. Op haar stoep het daar twee groot papiersakke vol kos en brood en vrugte en baie sjokolade en warm klere. Appeliefie slaan haar hande saam en sy lag en dans – baie bly oor die groot geskenk op haar stoep.

Appeliefie staan op die puntjie van haar toontjies en gooi haar hande in die lug: “Dankie, Liewe Jesus, vir die lekker kos en pragtige klere!  Dankie, dankie, baie dankie!”

 “HA!” skree die nors dwergie uit sy huis langsaan. “DIT WAS ÉK, DIT WAS ÉK! Dit was ék wat die kos en die klere gaan koop het en op jou stoep neergesit het! Sien jy, daar ìs nie so ‘n iets soos ‘n Liewe Jesus nie! Dit was ek! Dit was ek!”

Appeliefie kyk die nors klein dwergie op en af en gaan staan weer voor op die stoep.  Toe sing sy met haar mooi stem :

“Dankie, dankie, Liewe Jesus, dat jy vir my kos en klere gestuur het! Baie dankie! Baie dankie dat jy die nors klein dwergie daarvoor laat betaal het!”

Toe die nors klein dwergie dit hoor, word hy nog kwater en die rook trek behoorlik uit sy ore uit. Hy swaai sy kierie heen en weer van die kwaadgeid en slaan homself met sy kierie op sy kop. Appeliefie en die voëltjies en eekhoringkies lag en dans en gesels en gaan sit op haar stoep om al die kos wat die nors dwergie gekoop het, op te eet.

*